‘n Vrou is die naweek op ‘n plaas naby Gravelotte in Limpopo doodgeskiet.
Kol. Ronel Otto sê Melinda Bam (30) en haar vriend het in die bed gelê toe drie of vier mans die kamer binnegestap het. Die voorval het Saterdagoggend net ná 01:00 plaasgevind.
Die aanvallers het die vrou doodgeskiet, terwyl die man in die been en lies gewond is.
Otto sê vier tot vyf kinders was ook ten tyde van die aanval in die huis. Hulle het hulself in ‘n kamer toegesluit en is ongedeerd.
Die aanvallers het selfone en kontant gesteel.
“Die polisie ondersoek nog die motief vir die skietery. Niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie,” het die polisiewoordvoerder gesê.
