‘Vermeende’ stropers doodgeskiet

Drie vermeende renosterstropers is doodgeskiet ná ‘n konfrontasie met wildbewaarders in die Krugerwildtuin, het die Valke Donderdag gesê.

Kaptein Paul Ramaloko het gesê die wildbewaarders het omstreeks 18:00 Woensdagaand ‘n skoot hoor afgaan.

Hulle het op drie Mosambiekers in hul 20’s afgekom en ‘n skietery het uitgebreek.

Die wildbewaarders is nie in die voorval gewond nie, het Ramaloko gesê.

‘n Jaggeweer en ammunisie is op die toneel gevind.

Ramaloko het gesê die wildbewaarders kon geen dooie of beseerde renosters in die gebied vind nie, maar hulle bly steeds op die uitkyk.

Rusland, SA skep platinum-handelsblok

Rusland en Suid-Afrika, wat saam sowat 80 persent van die wêreld se reserwes van die platinumgroep metale beheer, beplan om ‘n handelsblok te skep soortgelyk aan OPUL om die vloei van uitvoere te beheer.

“Ons doel is om ons aksies te koördineer om ooreenkomstig die markte uit te brei vir die realisering van hierdie metale,” het die Russiese minister van Natuurlike Hulpbronne Sergey Donskoy gister gesê in ‘n onderhoud by die Brics-spitsberaad van die leiers van Brasilië, Rusland, Indië en Suid-Afrika in Durban.

“Die prys hang af van die struktuur van die mark en ons sal die struktuur van die mark bepaal.”

Ander platinumprodusente sal genooi word om by die blok aan te sluit, wat soortgelyk sal wees aan die Organisasie van Petroleum Uitvoer Lande, het Donskoy gesê.

Die doel sal wees om nuwe markte te ontgin eerder as om uitvoere te beperk, het hy gesê.

“Daar sal ‘n vergadering in die somer wees om meganismes in detail te bespreek.”

Die vyfde Brics-beraad word in Durban gehou.

Die Suid-Afrikaanse miljardêr Patrice Motsepe is aangestel as die voorsitter van die nuutgestigte Brics-sakeraad, berig die Sowetan.

Die Black Management Forum (BMF) het die aanstelling verwelkom.

Nicholas Maweni, besturende direkteur van die BMF, het aan die koerant gesê die raad sal verskeie sakekwessies hanteer.

Vier ander lede van die raad is verteenwoordigers van die ander Brics-lande – Brasilië, Rusland, Indië en China.

“Die raad sal ons ‘n geleentheid gee om ‘n sakeliggaam te hê wat ekonomiese geleenthede sal uitwys en kwessie waardeur elke land in die gesig gestaar word. Elke lidland sal marktoegang tot sy Brics-vennote verskaf,” het Maweni gesê.

Indiese juwelier wil SA se goudbedryf help

‘n Groot juweliersmaatskappy in Indië, kan moontlik in Suid-Afrika begin sake doen en mense oplei in juweliersontwerp.

Die voorsitter van die Shree Ganesh Juweliershuis in Kolkata in Indië, Nilesh Paruk, woon die Brics-beraad in Durban by en sê hulle bekyk moontlikhede in die mynbedryf in Suid-Afrika. Paruk sê Indië voer die meeste van sy goud vanaf Suid-Afrika in en invoere het verlede jaar 60-miljard dollar beloop.

Hy sê dié land het tot onlangs nie die infrastruktuur gehad om sy eie goud te verwerk nie.

Paruk sê hulle gaan kantore open in Suid-Afrika, Ghana en Botswana, en hoop dat hulle die regering hul tegemoet sal kom met ‘n goeie prys vir dié onverwerkte edelmetaal.

Menslike weefsel in vleis gevind

Wetenskaplikes het spore van menslike weefsel in vleis bedoel vir openbare verbruik gevind, maar dit hou “geen bedreiging” vir die verbruikers wat dit eet in nie.

Dit is ook bevind dat slegs 15% van die vleis wat verkoop word korrek gemerk is, wat beteken dat 85% van die vleis in die mark is twyfelagtig. Die bevindings is Dinsdag in die parlement tydens ‘n inligtingsessie oor vleisinspeksies weergegee.

Die Universiteit van Stellenbosch se wetenskaplike Louw Hoffman het gesê dat sy span in ‘n ​​mikrobiese voedselanalise, ‘n “snapshot”, soms menslike DNS in die vleismonsters opgetel het. Hy het gesê dit is egter nie ‘n aanduiding van risiko nie.

“As ek in ‘n fabriek rondloop, en die monster wat ek lukraak gekies het om te toets is ‘n monster van vleis waar die persoon in sy neus gekrap het en dan aan die vleis geraak het, sal ek ‘n heeltemal verskillende mikrobiese lesing kry,” het hy gesê .

Hoffman het gesê die produkte wat ondersoek is, is meestal worsies en maalvleis, en 95 van 139 produkte wat geïnspekteer is, is verkeerd gemerk.

Maar Hoffman het gesê dat al is die vleis verkeerd gemerk, is daar geen gesondheidsrisiko’s aan verbruikers nie.

SA-soldate in SAR verraai!

Die eerste Suid-Afrikaanse soldate in die Sentraal-Afrikaanse Republiek is nie doodgeskiet deur die rebelle nie, maar deur muitende regeringsmagte in opstand teen president Francois Bozize.

Verslae het intussen na vore gekom oor hoe noukeurig georkestreerde aanvalle beplan en uitgevoer is deur SAR-regeringsoldate op die Suid-Afrikaanse troepe, hul sogenaamde bondgenote wat vir die afgelope ses jaar opleiding en toerusting aan hul eweknieë verskaf het.

Die R1-miljard opleidingsmissie, volgens na DefenceWeb, was bedoel om die vaardighede van 1300 SAR-soldate te slyp, en het die verskaffing van wapens en ammunisie ingesluit.

Dit is hierdie wapens wat teen die Suid-Afrikaners gebruik is deur die muiters van SAR.

SANW-woordvoerder, brigadier-generaal Xolani Mabanga het Dinsdag geweier om kommentaar te lewer.

“Ons sal nie reageer op hierdie inligting of hierdie bewerings nie,” het hy gesê.

The Times verstaan ​​dat wisselvallige lone aan SAR-soldate bygedra het tot spanning binne die weermag.

Suid-Afrikaanse militêre bevelvoerders, in ‘n klaarblyklike massiewe opbou van militêre slaankrag, het ‘n reuse-Ilyushin-76 uit Pretoria se Waterklooflugmagbasis verlede nag laat opstyg. Die Russiese maatskappy wat gebaseer is in Afrika, is op pad na Entebbe in Uganda, waar, volgens SANW bronne, ‘n opbou van magte aan die gang is.

‘n Senior beampte het gesê dat die slaankrag sal helikopters en troepe insluit.

‘n Militêre mediese fasiliteit word volgens bronne  in Uganda beplan.

Dit is die ergste dodetal vir Suid-Afrika sedert die Angolese grensoorlog, het die SA Nasionale Weermagunie gesê.

Pikkie Greeff van die Unie het gesê: “Ons troepe, wat aan ons gedetailleerde rekenskap gegee het van wat gebeur het, is woedend … hulle is belieg vanaf die aanvang van hul ontplooiing in Januarie Toe hulle daar aankom, is hulle meegedeel dat hulle nie daar is vir opleiding of die beskerming van militêre bates nie.

“Hulle was onder streng instruksies om Suid-Afrikaanse bates, toerusting, eiendom en Suid-Afrikaners te beskerm en te beveilig.”

Greeff het gesê dat dit nodig is om dadelik vas te stel aan wie die bates behoort het en waarom dit nodig was om die beskerming van die elite troepe te eis. “Die manier waarop hierdie troepe deur SAR-magte aangeval is, toon daar was iets strategiese omtrent hulle. Ons troepe is doelbewus aangeval en dit blyk met opleiding en wapens wat deur ons verskaf is.”

Greeff het gesê: “Die publiek is belieg … nie net oor wat ons troepe daar doen nie, maar ook oor hoe hulle gesterf het. Dit is ‘n blatante toesmeerdery … die president skuld die gesinne en die land antwoorde. “

Hospitale in SAR verlate, rebelle neem beheer

Hospitale in die Sentraal-Afrikaanse Republiek (SAR) is sonder mediese personeel en burgers verkies om in hul huise te bly, selfs al is hulle gewond, het die hulporganisasie Medecins Sans Frontieres (MSF) Dinsdag gesê.

Dit volg nadat die selferkende president van die land die grondwet nietig verklaar het.

Ná die militêre staatsgreep deur die Seleka-rebellekoalisie het MSF die meeste groot hospitale in die hoofstad Bangui besoek. Hulle het gevind dat daar “geen mediese personeel is nie (en) selfs nie eers ‘n skoonmaker nie”.

Altesaam 70 gewonde mense het Sondag by ‘n militêre hospitaal vir behandeling gewag ná gevegte die naweek waarin 13 Suid-Afrikaanse soldate hul lewens verloor het. Teen Maandag het tientalle beseerdes nog vir hulp gewag, het Sylvain Groulx, ‘n lid van MSF in Bangui, gesê.

Die beseerdes sluit burgerlikes sowel as soldate in.

Hy het bygevoeg dat dit moeilik was om te bepaal hoeveel burgerlikes dood is “omdat die meeste mense nie hospitaal toe gaan nie weens ‘n gebrek aan veiligheid. Daar is ook nie openbare vervoer nie en dit is slegs die Seleka-mense wat op straat is,” het hy gesê.

Die Seleka-rebelle het oor die naweek beheer van Bangui en die presidensiële paleis oorgeneem. Hulle het ook televisie- en radiostasies beset, terwyl die voormalige president, Francois Bozize, na Kameroen gevlug het.

Die rebelle beskuldig Bozize daarvan dat hy ‘n vredesooreenkoms wat in 2007 aangegaan is, oortree het.

Name bekend van gesneuwelde soldate in SAR

Die 13 Suid-Afrikaanse soldate wat dood is in gevegte met rebelle in die Sentraal-Afrikaanse Republiek (SAR) is Dinsdag deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) bekendgemaak.

Volgens die SANW is korporaals Mokgadi Darius Seakamela en Ntebaleng Andrew Mogorosi en onderkorporaals Daniel Sello Molara en Lukas Mohapi Tsheke onder Sondag se slagoffers.

Die soldate wat dood is, is:

Lesego Maxwell Hertzog,

Zamani Jim Mxhosana,

Xolani Dlamini,

Vusumzi Joseph Ngaleka,

Karabo Edwin Matsheka,

Khomotso Paul Msenga,

Maleisane Samuel Thulo,

Motsamai William Bojane,

Thabiso Anthon Phirimana.

“Die SANW wil ook bekendmaak dat die lid wat as vermis aangemeld was lewend gevind en gesond is,” het die SANW in ‘n verklaring gesê.

Brit doodgeskop in rugby-onderonsie

‘n Britse man van die Verenigde Koninkryk is dood  toe ‘n woordewisseling in geweld ontaard het buite die Absa-stadion in Durban, het die polisie gesê.

Die voorval het ná die wedstryd tussen die Rebels en die Sharks plaasgevind.

“‘n Stryery het tussen ‘n groep mense ontstaan. Ons weet nie wat die geveg veroorsaak het nie,” het lt.kol. Vincent Mdunge

Daar was ‘n vuisgeveg, wat die dood van ‘n man veroorsaak het.

“Die 28-jarige man is met geslaan en geskop. Hy het weens sy beserings gesterf.”

Die polisie het gesê hulle is in verbinding met die ambassade.

Die Durban-Sentraal-polisie ondersoek ‘n saak van moord en verklarings word afgeneem van getuies, het Mdungane gesê.

Niemand is in hegtenis geneem nie.

Die Sharks (Pty) Ltd. het in ‘n verklaring gesê nooddienspersoneel by die stadion het probeer om die geveg te stop.

“Ons het ons eie interne ondersoek gedoen en is tevrede dat ons gekontrakteerde diensverskaffers, Fidelity Security en ER24, alles moontlik gedoen het om die geveg te stop,” het Brian van Zyl, uitvoerende hoof, gesê.

Bankrot IDASA sluit deure

Idasa het “met leedwese”, die sluiting van hulle “gerespekteerde organisasie” aangekondig. Die raad het die “onvermydelikheid van die veranderende omstandighede” as rede aangevoer vir die sluiting. Die organisasie is bankrot.

‘n Aansoek sal op 2 April by die Noord Gauteng Hoërhof vir die likwidasie van Idasa aangehoor word. Dit sal gebeur tensy aansienlike onmiddellike bykomende finansiële steun gevind kan word.

Elke poging is gemaak oor die afgelope drie jaar om Idasa te hervorm om aan te pas by die huidige ekonomiese en sosio-politieke omstandighede, maar die organisasie wat die oorgawe van FW de Klerk geprys en help bestuur het, het nie meer die finansiële ondersteuning wat nodig is om sy werk voort te sit op ‘n volhoubare wyse of sy skulde te betaal nie.

In Idasa se bestaan van 27 jaar het heelwat Westerse lande en die diplomatieke en skenkergemeenskappe wat hul multikulturele visie van demokratiese samelewings in Afrika deel, bygedra tot die organisasie.

Idasa het ‘n kritieke rol gespeel in politieke gebeure van die afgelope twee dekades, om by te dra tot die sosio-ekonomiese ellende waarin talle kleiner groepe in Afrika verkeer met hul eensydige “verdieping van demokrasie” in Suid-Afrika en elders.

In 1992 het Ivor Jenkins vanuit IDASA die “Conservative Dialogue Programme” (CDP) geloods. Dit was die plan om te verhoed dat die NP en die ANC-SAKP se onderhandelingsproses in die wiele gery word deur ‘n sterk Afrikaner-opposisie.

In die loodskomitee was daar, naas regse figure, ook Jürgen Kögl en dr. F. Van Zyl Slabbert. Jenkins, Transvaalse direkteur van die Institute for Democratic Alternatives in SA (IDASA) en Van Zyl Slabbert, voormalige leier van die PFP, het die organisasie op die been gebring te midde van onderhandelinge met die ANC.

Prof. Abraham Viljoen, tweelingbroer van genl. Constand Viljoen, is deur IDASA aangestel as die koördineerder van die projek, wat rojaal deur die Nederlandse en die Kanadese regerings gefinansier is. Beide regerings is sterk aan die Britse regering verbind, deur sakebelange en die Gemenebes.

Viljoen was ‘n professor in Kerkgeskiedenis aan UNISA maar het bedank om PFP (later DP)- kandidaat in Waterkloof te word. Toe hy verslaan is, is hy by IDASA opgeneem, terwyl hy enersyds aktief in die DP-politiek gebly het en andersyds met Afrikaners in landbou-organisasies bly skakel het.

Brics beskuldig van neo-kolonialisme

China se Ontwikkelingsbank gaan sowat 45 miljard rand aan Transnet leen om Suid-Afrika se verouderende spoorweë op te gradeer.

Die nuusagentskap Reuters berig dat ‘n amptelike aankondiging oor die transaksie by die BRICS-beraad in Durban gedoen sal word.

Transnet vervoer produkte soos steenkool en ystererts vir uitvoer na die grootste hawens. Die maatskappy beplan om tot 300 miljard rand oor sewe jaar te belê om sy spoorweë en hawens uit te brei en uitvoere ‘n hupstoot te gee.

Die BRICS-lande is daarvan beskuldig dat hulle besig is om Afrika tussen hulle te verdeel. Dit was die boodskap van die meer as 200 afgevaardigdes van nie-regeringsorganisasies wat ‘n konferensie in Durban bywoon.

‘n Direkteur van GroundWork, Bobby Peek, sê die BRICS-lande doen niks anders as die voormalige koloniale magte nie.