Idasa het “met leedwese”, die sluiting van hulle “gerespekteerde organisasie” aangekondig. Die raad het die “onvermydelikheid van die veranderende omstandighede” as rede aangevoer vir die sluiting. Die organisasie is bankrot.
‘n Aansoek sal op 2 April by die Noord Gauteng Hoërhof vir die likwidasie van Idasa aangehoor word. Dit sal gebeur tensy aansienlike onmiddellike bykomende finansiële steun gevind kan word.
Elke poging is gemaak oor die afgelope drie jaar om Idasa te hervorm om aan te pas by die huidige ekonomiese en sosio-politieke omstandighede, maar die organisasie wat die oorgawe van FW de Klerk geprys en help bestuur het, het nie meer die finansiële ondersteuning wat nodig is om sy werk voort te sit op ‘n volhoubare wyse of sy skulde te betaal nie.
In Idasa se bestaan van 27 jaar het heelwat Westerse lande en die diplomatieke en skenkergemeenskappe wat hul multikulturele visie van demokratiese samelewings in Afrika deel, bygedra tot die organisasie.
Idasa het ‘n kritieke rol gespeel in politieke gebeure van die afgelope twee dekades, om by te dra tot die sosio-ekonomiese ellende waarin talle kleiner groepe in Afrika verkeer met hul eensydige “verdieping van demokrasie” in Suid-Afrika en elders.
In 1992 het Ivor Jenkins vanuit IDASA die “Conservative Dialogue Programme” (CDP) geloods. Dit was die plan om te verhoed dat die NP en die ANC-SAKP se onderhandelingsproses in die wiele gery word deur ‘n sterk Afrikaner-opposisie.
In die loodskomitee was daar, naas regse figure, ook Jürgen Kögl en dr. F. Van Zyl Slabbert. Jenkins, Transvaalse direkteur van die Institute for Democratic Alternatives in SA (IDASA) en Van Zyl Slabbert, voormalige leier van die PFP, het die organisasie op die been gebring te midde van onderhandelinge met die ANC.
Prof. Abraham Viljoen, tweelingbroer van genl. Constand Viljoen, is deur IDASA aangestel as die koördineerder van die projek, wat rojaal deur die Nederlandse en die Kanadese regerings gefinansier is. Beide regerings is sterk aan die Britse regering verbind, deur sakebelange en die Gemenebes.
Viljoen was ‘n professor in Kerkgeskiedenis aan UNISA maar het bedank om PFP (later DP)- kandidaat in Waterkloof te word. Toe hy verslaan is, is hy by IDASA opgeneem, terwyl hy enersyds aktief in die DP-politiek gebly het en andersyds met Afrikaners in landbou-organisasies bly skakel het.
