‘Die heks is dood’ topverkoper op Amazon

“Ding Dong! The Witch is Dead,” soos vertolk deur Judy Garland in The Wizard of Oz, was Dinsdag die gewildste liedjie op Amazon se aanlynverkope in Brittanje.

Dié lied het op topverkopers gehaal ‘n dag na die dood van die voormalige premier, Margaret Thatcher.

‘n Ander weergawe van die liedjie, gesing deur die jazz-legende Ella Fitzgerald, is die vierde meeste afgelaai, en is ook die meeste op iTunes in Brittanje afgelaai.

Dié lied word as ‘n draakstekery oor die afsterwe van die 87-jarige Thatcher gesien.

Thatcher, die eerste vroulike premier van Brittanje, wat destyds ‘n hoogs omstrede figuur was, is Maandag aan ‘n beroerte oorlede.

DA prys Hani se stryd teen apartheid

Chris Hani, die SAKP-leier, het gelewe en gesterf vir dit waarin hy glo, het die DA Woensdag gesê.

Mmusi Maimane, woordvoerder van die Demokratiese Alliansie, het by die 20ste herdenking van Hani se dood gesê hy was ‘n inspirerende persoon.

“Ongeag sy ideologiese neigings kan ons almal erken dat hy ‘n beginselvaste en vasbeslote leier was,” het Maimane gesê.

“Hy het geleef en gesterf vir dit waarin hy glo en het ‘n groot bydrae gemaak in die geveg teen apartheid. Hiervoor verdien hy om geprys te word.”

“Ons kan net hoop dat die volle waarheid oor sy sluipmoord uiteindelik sal uitkom in die belang van versoening,” het Maimane gesê.

Hani is op 10 April 1993 buite sy huis in Boksburg deur die Poolse immigrant Janusz Walus doodgeskiet met ‘n vuurwapen wat deur Clive Derby-Lewis verskaf is.

Die land kan dankbaarheid betoon deur ‘n verbintenis tot die gemeenskap, het pres. Jacob Zuma tydens ‘n kransleggingseremonie ter herdenking van Hani se dood by die Thomas Titus Nkobi-gedenkpark in Elspark, oos van Johannesburg, gesê.

“Ons moet vinnig werk om die soort samelewing te skep waarvoor kameraad Chris gelewe en gesterf het,” het Zuma gesê.

“Ons moet kameraad Chris se nagedagtenis herdenk deur ‘n beter lewe vir almal te skep, waarin hy geglo het.”

Zuma het gesê dis onmoontlik om in slegs 20 jaar algehele verandering te bring.

Die skade wat deur apartheid veroorsaak is, sal nog lank in die land sigbaar wees, het hy gesê.

“Ek dink dis ‘n fout om te sê ons kan nie apartheid blameer vir wat nou in die land gebeur nie, om die minste te sê.

“Ons hoef nie te sê presies wat apartheid gedoen het nie. Die feit is die land is twee in een; jy gaan na enige stad en daar is ‘n pragtige deel, en plakkers aan die ander kant. Dit is nie die begin van ‘n demokrasie nie, en ons kan nie ophou om die mense wat dit veroorsaak het, te blameer nie,” het Zuma gesê.

Afrikaans verloor ‘n groot gees

Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se Taalkommissie onder leiding van Tom McLachlan het hulde gebring aan een van Afrikaans se groot taalkundiges, die bekende prof. F.F. Odendal, wat op Saterdag 6 April in Kaapstad oorlede is.

Baie mense sal die naam F.F. Odendal herken omdat dit al so lank prominent op die omslag van die wyd gebruikte Verklarende handwoordeboek van die Afrikaanse taal, ofte wel die HAT, pryk. Hy was trouens van 1971 tot 2005 die hoofredakteur van hierdie gewilde Afrikaanse handwoordeboek.

Prof. Odendal was egter nie net ‘n leksikograaf van formaat nie. Hy was ook dekades lank lid, en later voorsitter, van die Taalkommissie, die liggaam wat verantwoordelik is vir die opstel van die Afrikaanse woordelys en spelreëls. In 1984 het die Taalkommissie onder sy voorsitterskap ook die vertalende Lys klassieke eiename gepubliseer.

Honderde studente van die destydse Randse Afrikaanse Universiteit sal hom ook onthou as uitnemende dosent. Hy was trouens die eerste hoogleraar in Afrikaanse taalkunde aan die RAU.

Hy het ook 25 jaar lank gedien in die destydse komitee vir taaladvies van die SAUK, waar hy ‘n onmisbare bydrae gelewer het, onder meer tot nuutskepping.

Sy nalatenskap op soveel terreine van die Afrikaanse taalkunde is enorm, en die Taalkommissie eer sy nagedagtenis en sy nalatenskap.

Afrikaans het ‘n groot gees verloor, het voorsitter McLachlan gesê.

Swart aanbieder sê AWB-klag is nie aandagsoekery nie

‘n Politieke ontleder het haar humeur verloor nadat sy beskuldig is daarvan dat sy ‘n insident met die AWB vir ‘n publisiteitsfoefie wil gebruik.

Liepollo Pheko het ‘n klag van intimidasie gelê, ‘n hele drie jaar na ‘n onderonsie in ‘n televisie-ateljee, het eNCA Dinsdag berig.

In April 2010 Pheko en die Afrikaner Weerstandsbeweging se sekretaris-generaal Andre Visagie ‘n debat oor rasseverhoudinge in post-apartheid Suid-Afrika gehou op die stel van Africa 360.

Visagie het sy humeur verloor omdat sy hom nie wou laat praat nie, sy mikrofoon uitgeruk en van die stel af gestorm. Hy het omgedraai, na haar gestap en gesê: “… en jy sal nie waag, sal jy nie waag om my te onderbreek nie… “.

Aanbieder Chris Maroleng het ingegryp, waartydens hy die nou beroemde brabbelsin “do not touch me on my studio” geuiter het. Dié sin het tot ‘n spottery gelei.

Visagie het aan Pheko gesê: “Ek is nie klaar met jou nie.” Pheko het gesê dat sy die aanklag uit beginsel gelê het.

“Die drie jaar vir my is byna onbelangrik. Dit is die beginsel.” Sy dit doen vir haar kinders, het sy bygevoeg.

Sy het ontsteld geraak toe sy gevra word of sy besig is om publisiteit te soek vir haar “platform” op die Gauteng radiostasie Power FM.

“Hoekom op aarde sou ek iets so pynlik as ‘n goedkoop publisiteitsfoefie doen? … Dit het niks te doen met Power FM nie.”

Hou Hani se weduwee Mbeki verantwoordelik?

Die weduwee van die vermoorde Chris Hani, Limpho Hani, sê twintig jaar na die sluipmoordaanval op haar man, is sy nog steeds op soek na die waarheid sodat sy berusting kan kry.

Hani wat ten tye van sy dood die sekretaris-generaal van die ANC was, is in 1993 voor sy huis doodgeskiet. ‘n Poolse immigrant, Januz Waluz en ‘n parlementslid vir die Konserwatiewe Party, Clive Derby-Lewis, dien lewenslange tronkstraf vir die moord uit.

Derby-Lewis het reeds om verskoning gevra aan Hani se weduwee en weer vir mediese parool aansoek gedoen. Dit is onlangs geweier.

Limpho Hani sê getuienis voor die Waarheid- en Versoeningskommissie dui daarop dat meer mense by Hani se dood betrokke was.

Sy sê sy kan nie die moordenaars vergewe voordat hulle nie die volle waarheid bekendmaak nie.

In die hitte van die stryd tussen Mbeki en Jacob Zuma in 2007, is ‘n lied by SAKP-konferensies gesing wat soos ‘n veldbrand in die Zuma-kamp versprei het. “Thabo Mbeki siyabuza ubani owabulala uChris Hani Simthanda”, wat beteken “Thabo Mbeki, vertel ons wie Chris Hani vermoor het”.

Afleidings dat die voormalige president het iets te doen gehad het met die moord of kennis oor die voorval dra, wat hy nie deel nie, is gemaak.

In die 2009-verkiesingsveldtog, het die SAKP T-hemde gedruk om lede vir die ANC te werf, wat verkondig “Doen dit vir Chris”. Dit was ‘n baie gesogte item onder lede.

Die SAKP hou egter niks daarvan dat Hani se dood deur ander gebruik word nie, soos byvoorbeeld die ANC-jeugliga, wat Hani se naam en beeld gebruik het om hul eie agenda te bevorder.

Geskorsde ANC-jeugliga president Julius Malema het graag T-hemde aangetrek met Hani as ‘n verklaring van die militantheid en as ‘n subliminale boodskap teen die huidige ANC-en SAKP-leierskap.

Malema se keuse het doelbewus ‘n korrelasie tussen sy eie dissiplinêre probleme en Hani se legendariese gevegte met die ANC-leierskap in ballingskap probeer skep.

Malema-saak verdwyn skielik van hofrol

Die saak van minagting van die hof teen Julius Malema is Dinsdag van die hofrol verwyder.

Die voormalige leier van die ANC-jeugliga was veronderstel om in die Pretoriase hooggeregshof te verskyn. Besonderhede oor hoekom die saak van die hofrol verwyder is, is nie dadelik bekend gemaak nie.

Die kurators van Malema se boedel het ‘n aansoek ingedien om hom te laat vervolg vir minagting van die hof nadat Malema in gebreke gebly het om al sy bates te verklaar.

Cloete Murray en Aviwe Ndyamara is aan die begin van Maart as kurators van Malema se boedel aangestel, en moes verseker dat hy al sy bates aan die hof verklaar. Malema het ingestem om dit te doen, maar het nie sy belofte gestand gedoen nie.

Malema se regsverteenwoordiger, Tumi Mokwena, het gesê sy kliënt sal die aansoek teëstaan. As hy skuldig bevind word kan hy ‘n boete van R500 000, tronkstraf, of ‘n opgeskorte vonnis opgelê word.

Voëlgriep weer in Oudtshoorn ontdek

Die uitvoer van volstruisvleis in die Klein Karoo het ‘n terugslag gekry met ‘n verbod wat waarskynlik ingestel kan word nadat ‘n voëlgriepvirus op ‘n plaas naby Oudtshoorn voorgekom het, berig Landbou.com.

Die Volstruissakekamer (VBK) het verlede week gesê hy hoop uitvoere kan binnekort hervat word ná ‘n uitbreking van H5N2 in April 2011 tot die verbod gelei het.

Gerrit van Rensburg, Wes-Kaapse minister van landbou, het in ‘n verklaring gesê die patogeniese samestelling van die virus en die oorsprong is tans onbekend, maar monsters word tans hiervoor getoets.

Van Rensburg het vroeër aangekondig dat die monsters positief getoets het vir ‘n stam van die virus.

Ondersoek word ook ingestel om die bron van die infeksie vas te stel. ‘n Woordvoerder vir die ministerie, Wouter Kriel sê die omliggende plase sal ook onder kwarantyn geplaas word.

Uhuru Kenyatta ingehuldig

Die nuwe president van Kenia, Uhuru Kenyatta, het duisende ondersteuners toegespreek na sy inhuldiging in Nairobi. Kenyatta is deur die Internasionale Misdaadhof uitgewys vir misdade teen die mensdom.

Hy ontken dat hy etniese geweld vyf jaar gelede aangemoedig het. In sy toespraak het Kenyatta onderneem om eenheid in Kenia te bewerkstellig.

President Jacob Zuma, Goodluck Jonathan van Nigerië en Robert Mugabe van Zimbabwe was van die staatshoofde wat die inhuldiging bygewoon het.

Suid-Afrika sal sy samewerking aan Kenia se president Uhuru Kenyatta en sy adjunk William Ruto bied in weerwil van die aanklagte teen hulle. Albei leiers word tans in die Internasionale Strafhof in Den Haag aangekla van misdade teen die mensdom.

Volgens die aanklagte het hulle vyf jaar gelede verkiesingsgeweld in Kenia aangemoedig. President Jacob Zuma sê hulle is onskuldig tot hulle skuldig bevind word en boonop is hulle demokraties deur die Keniane verkies.

Aanklaers in Zimbabwe het intussen nuwe aanklagte gelê teen die prominente menseregte-prokureur, Beatrice Mtetwa. Sy is verlede maand in hegtenis geneem vir regsverydeling ‘n dag ná die referendum oor Zimbabwe se grondwet.

Sy is tydens ‘n klopjag by die eerste minister, Morgan Tsvangirai se kantore in hegtenis geneem.

Sy het die polisie na bewering kokkerotte genoem en word nou van die mishandeling van die polisie aangekla. Haar aanvanklike saak word op 27 Mei aangehoor.

 

Polisie beseer tydens ‘blydskap’ oor Thatcher-afsterwe

Ses Britse polisiebeamptes is beseer toe hulle probeer het om mense by ‘n straatbyeenkoms uitmekaar te jaag wat die dood van die voormalige premier, Margaret Thatcher, “gevier” het.

Een van die beamptes is ernstig beseer.

Die voorval in Bristol in die suidweste van Engeland het by een van verskeie sulke geleenthede in die land gebeur wat deur teenstanders van die sogenaamde Ystervrou gehou is.

Sowat 200 partytjiegangers in Bristol het volgens die polisie geweier om ‘n partytjie te verlaat en oproerig geraak.

“Bottels en blikkies is na die beamptes gegooi en ses van hulle het beserings opgedoen,” het hoofinsp. Mark Jackson gesê.

“‘n Polisievoertuig is beskadig en een persoon is vir openbare geweld in hegtenis geneem. ‘n Paar klein brande is in asblikke gestig en die brandweer is ontbied.”

Een van die beamptes is steeds in die hospitaal met ‘n besering wat nie “lewensgevaarlik is nie, maar nietemin ernstig,” het ‘n woordvoerder vir die polisie gesê.

Straatpartytjies is ook in Glasgow in Skotland en in die Londense woonbuurt Brixton gehou.

Pallo Jordan, oud-kabinetsminister en lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee, was blykbaar ook verheug oor die nuus dat die voormalige Britse premier Margaret Thatcher oorlede is.

Jordan het gesê hy gaan nie ‘n “traan oor haar stort nie,” berig Eyewitness News.

Jordan het gesê sy was deel van ‘n regse alliansie met die voormalige Amerikaanse president Ronald Reagan wat voorheen na die ANC verwys het as ‘n terroriste-organisasie.

“Margaret Thatcher sal natuurlik onthou word as ‘n figuur in die Britse geskiedenis, maar sy sal ook onthou word as ‘n stoere bondgenoot van die apartheidsregime. Ek gaan nie trane stort oor haar nie.”

Dit is nie bekend of Jordan wel trane stort oor die maatskaplike ongeregtigheid in Indië nie, waar ‘n kastestelsel steeds daagliks teen miljoene mense diskrimineer.

Noorse student in Kaapstad verkrag

‘n Noorweegse uitruilstudent is die naweek op Seinheuwel in Kaapstad verkrag, het ‘n koerant Dinsdag berig.

“Dit was ongeveer eenuur [Saterdagoggend]. Die vrou en haar vriend was in hulle motor toe hulle deur twee gewapende mans oorval is wat die vrou se vriend vasgebind het,” het Andre Traut, woordvoerder van die polisie, aan die Cape Times gesê.

Hy het gesê die mans het hulle besittings afgeneem en toe die vrou, wat in haar twintigs is, verkrag.

Hulle het toe met die paartjie na Kampsbaai gery, waar hulle hulle in die motor agtergelaat het.

Niemand is in verband met die voorval in hegtenis geneem nie, en die paartjie help om identiteitsfoto’s van die mans saam te stel. ‘n Saak van roof en verkragting word ondersoek.

Andre van Zyl, woordvoerder van Table Mountain Watch, het aan die koerant gesê dis die eerste aanval van sy soort in twee jaar.

“Daar was ander aanvalle, maar op stappers… Dis ‘n ernstige geval en verskil heelwat van diefstal uit motors wat soms hier plaasvind,” het hy gesê.

‘n Poging van Stad Kaapstad om die straat om 22:00 te sluit was nie gewild onder inwoners nie, het hy gesê.