Resies vir hulpbronne in SAR

Terwyl talle vrae opduik oor Suid-Afrika se militêre betrokkenheid in die oorloggeteisterde Sentraal-Afrikaanse Republiek, het dit na vore gekom dat maatskappye met skakels na invloedryke politici en sakemanne gretig is om olie en minerale in die streek te ontgin.

Ten minste een maatskappy, Divine Inspiration Group Oil wat besit word deur invloedryke sakevrou Andrea Brown is tans bedrywig in die SAR.

Brown, wat die enigste direkteur van die maatskappy is, is ‘n belangrike sakevennoot met Encha Group, ‘n beleggingsmaatskappy wat gestig is deur Tiego Moseneke, die broer van die huidige adjunk-hoofregter Dikgang Moseneke. Sy het ook opgetree as ‘n konsultant en met die regering gewerk in die opstel van SEB-wetgewing.

Dertien Suid-Afrikaanse soldate is dood en 27 gewond oor die naweek in die hoofstad, Bangui, om rebelle te verhoed om die land se omstrede president, Francois Bozize te ontsetel. Die rebelle het intussen die hoofstad oorgeneem en Bozize is landuit.

Troepe op die grond beweer dat baie gedood is om Suid-Afrikaanse kommersiële belange te verdedig.

Ander maatskappye wat oliebelange in die naburige Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) het, wat strek tot by die suidelike streek van die SAR, is Caprikat en Foxwhelp, wat besit word deur Jacob Zuma se neef, Khulubuse Zuma. Beide van hierdie maatskappye is in die Maagde-eilande geregistreer.

Nie een van hierdie individue kon gister vir kommentaar bereik word nie.

Presidensiële woordvoerder Mac Maharaj het gister gesê hy het “geen aanduiding” nog van Zuma oor die “wat die volgende stap in die SAR sal wees nie”.

Ten spyte van swak ekonomiese groei, beskik die SAR oor ‘n oorvloed van onontwikkelde minerale hulpbronne, en mynboumaatskappye van regoor die wêreld stel daarin belang. Die hulpbronne sluit in koper, grafiet, ilmeniet, ystererts, ligniet, mangaan, monasiet, kwarts, rutiel, sout, tin en uraan, volgens die Amerikaanse Geologiese Opname.

Op sy webwerf, het Divine Inspiration Group Oil verklaar dat ‘n ooreenkoms onderteken is om ‘n olie-veld te ontgin wat strek van die suid-weste van die land tot in die naburige Demokratiese Republiek van die Kongo onder presidensiële dekreet.

So vroeg as 2007 het dit begin as ‘n Suid-Afrikaanse en Kongolese inisiatief wat daarop gemik is om geleenthede in die DRK en die SAR te ontgin.

Khulubuse Zuma se maatskappye het ooreenkomste onderteken vir die beheer van minerale regte op dieselfde ondergrondse oliebron toegeken deur die DRK se President Joseph Kabila.

Khulubuse het die regte vir Caprikat, terwyl Michael Hulley, Zuma se spesiale raadgewer en sakevennoot van Khulubuse, die regte vir Foxwhelp het.

Die maatskappye het na berig word ‘n totaal van $6 miljoen betaal vir die regte.

Rotbendes val Kapenaars aan

Yslike rotte wat in groepe aanval is besig om die inwoners van ‘n Kaapse losieshuis te terroriseer, het die Cape Argus Woensdag berig.

Lundi Galanda, van die Dura-losieshuis in Langa op die Kaapse Vlakte, het aan die koerant gesê sy kan snags hoor hoe die rotte aan die voordeur krap.

“Hulle oë skyn soos die hoofligte van ‘n motor. Die rotte is nes vampiere want hulle verskyn slegs in die aand. Hulle het reeds hul pad deur ‘n metaaldeur oopgeknaag…daar is niks wat die goed kan keer nie,” het Galanda gesê.

Die rotte het glo reeds deur die deksels van boontjiebotter-houers en plastiekhouers gebyt.

Galanda woon saam met sewe ander gesinne in die gebou.

Eunice Phatiwa (65), ‘n gemeenskapsleier in Langa, woon reeds die afgelope 40 jaar in die losieshuis.

“Die rotprobleem het oor die jare vererger en hulle is nie meer bang vir ons nie. Hulle begin elke aand omstreeks 20:00 met hul aanvalle. Wanneer ons slaap trek ons die komberse oor ons koppe, selfs in die somer,” het Phatiwe gesê.

“Hulle byt ons in die gesig, kop en aan ons voete…die rotte weet wat hulle wil hê…hulle is doelbewus in hul bewegings, net soos mense.”

Die Stad Kaapstad het onlangs aangekondig dat R530 843 begroot is om van die stad se rotplaag in die stad ontslae te raak.

Dié aankondiging het gevolg kort na ‘n twiet van die Wes-Kaape premier, Helen Zille, wat vertel het van ‘n rot wat haar aan haar toon in die tuin gebyt het.

‘Vermeende’ stropers doodgeskiet

Drie vermeende renosterstropers is doodgeskiet ná ‘n konfrontasie met wildbewaarders in die Krugerwildtuin, het die Valke Donderdag gesê.

Kaptein Paul Ramaloko het gesê die wildbewaarders het omstreeks 18:00 Woensdagaand ‘n skoot hoor afgaan.

Hulle het op drie Mosambiekers in hul 20’s afgekom en ‘n skietery het uitgebreek.

Die wildbewaarders is nie in die voorval gewond nie, het Ramaloko gesê.

‘n Jaggeweer en ammunisie is op die toneel gevind.

Ramaloko het gesê die wildbewaarders kon geen dooie of beseerde renosters in die gebied vind nie, maar hulle bly steeds op die uitkyk.

Rusland, SA skep platinum-handelsblok

Rusland en Suid-Afrika, wat saam sowat 80 persent van die wêreld se reserwes van die platinumgroep metale beheer, beplan om ‘n handelsblok te skep soortgelyk aan OPUL om die vloei van uitvoere te beheer.

“Ons doel is om ons aksies te koördineer om ooreenkomstig die markte uit te brei vir die realisering van hierdie metale,” het die Russiese minister van Natuurlike Hulpbronne Sergey Donskoy gister gesê in ‘n onderhoud by die Brics-spitsberaad van die leiers van Brasilië, Rusland, Indië en Suid-Afrika in Durban.

“Die prys hang af van die struktuur van die mark en ons sal die struktuur van die mark bepaal.”

Ander platinumprodusente sal genooi word om by die blok aan te sluit, wat soortgelyk sal wees aan die Organisasie van Petroleum Uitvoer Lande, het Donskoy gesê.

Die doel sal wees om nuwe markte te ontgin eerder as om uitvoere te beperk, het hy gesê.

“Daar sal ‘n vergadering in die somer wees om meganismes in detail te bespreek.”

Die vyfde Brics-beraad word in Durban gehou.

Die Suid-Afrikaanse miljardêr Patrice Motsepe is aangestel as die voorsitter van die nuutgestigte Brics-sakeraad, berig die Sowetan.

Die Black Management Forum (BMF) het die aanstelling verwelkom.

Nicholas Maweni, besturende direkteur van die BMF, het aan die koerant gesê die raad sal verskeie sakekwessies hanteer.

Vier ander lede van die raad is verteenwoordigers van die ander Brics-lande – Brasilië, Rusland, Indië en China.

“Die raad sal ons ‘n geleentheid gee om ‘n sakeliggaam te hê wat ekonomiese geleenthede sal uitwys en kwessie waardeur elke land in die gesig gestaar word. Elke lidland sal marktoegang tot sy Brics-vennote verskaf,” het Maweni gesê.

Indiese juwelier wil SA se goudbedryf help

‘n Groot juweliersmaatskappy in Indië, kan moontlik in Suid-Afrika begin sake doen en mense oplei in juweliersontwerp.

Die voorsitter van die Shree Ganesh Juweliershuis in Kolkata in Indië, Nilesh Paruk, woon die Brics-beraad in Durban by en sê hulle bekyk moontlikhede in die mynbedryf in Suid-Afrika. Paruk sê Indië voer die meeste van sy goud vanaf Suid-Afrika in en invoere het verlede jaar 60-miljard dollar beloop.

Hy sê dié land het tot onlangs nie die infrastruktuur gehad om sy eie goud te verwerk nie.

Paruk sê hulle gaan kantore open in Suid-Afrika, Ghana en Botswana, en hoop dat hulle die regering hul tegemoet sal kom met ‘n goeie prys vir dié onverwerkte edelmetaal.

Menslike weefsel in vleis gevind

Wetenskaplikes het spore van menslike weefsel in vleis bedoel vir openbare verbruik gevind, maar dit hou “geen bedreiging” vir die verbruikers wat dit eet in nie.

Dit is ook bevind dat slegs 15% van die vleis wat verkoop word korrek gemerk is, wat beteken dat 85% van die vleis in die mark is twyfelagtig. Die bevindings is Dinsdag in die parlement tydens ‘n inligtingsessie oor vleisinspeksies weergegee.

Die Universiteit van Stellenbosch se wetenskaplike Louw Hoffman het gesê dat sy span in ‘n ​​mikrobiese voedselanalise, ‘n “snapshot”, soms menslike DNS in die vleismonsters opgetel het. Hy het gesê dit is egter nie ‘n aanduiding van risiko nie.

“As ek in ‘n fabriek rondloop, en die monster wat ek lukraak gekies het om te toets is ‘n monster van vleis waar die persoon in sy neus gekrap het en dan aan die vleis geraak het, sal ek ‘n heeltemal verskillende mikrobiese lesing kry,” het hy gesê .

Hoffman het gesê die produkte wat ondersoek is, is meestal worsies en maalvleis, en 95 van 139 produkte wat geïnspekteer is, is verkeerd gemerk.

Maar Hoffman het gesê dat al is die vleis verkeerd gemerk, is daar geen gesondheidsrisiko’s aan verbruikers nie.

SA-soldate in SAR verraai!

Die eerste Suid-Afrikaanse soldate in die Sentraal-Afrikaanse Republiek is nie doodgeskiet deur die rebelle nie, maar deur muitende regeringsmagte in opstand teen president Francois Bozize.

Verslae het intussen na vore gekom oor hoe noukeurig georkestreerde aanvalle beplan en uitgevoer is deur SAR-regeringsoldate op die Suid-Afrikaanse troepe, hul sogenaamde bondgenote wat vir die afgelope ses jaar opleiding en toerusting aan hul eweknieë verskaf het.

Die R1-miljard opleidingsmissie, volgens na DefenceWeb, was bedoel om die vaardighede van 1300 SAR-soldate te slyp, en het die verskaffing van wapens en ammunisie ingesluit.

Dit is hierdie wapens wat teen die Suid-Afrikaners gebruik is deur die muiters van SAR.

SANW-woordvoerder, brigadier-generaal Xolani Mabanga het Dinsdag geweier om kommentaar te lewer.

“Ons sal nie reageer op hierdie inligting of hierdie bewerings nie,” het hy gesê.

The Times verstaan ​​dat wisselvallige lone aan SAR-soldate bygedra het tot spanning binne die weermag.

Suid-Afrikaanse militêre bevelvoerders, in ‘n klaarblyklike massiewe opbou van militêre slaankrag, het ‘n reuse-Ilyushin-76 uit Pretoria se Waterklooflugmagbasis verlede nag laat opstyg. Die Russiese maatskappy wat gebaseer is in Afrika, is op pad na Entebbe in Uganda, waar, volgens SANW bronne, ‘n opbou van magte aan die gang is.

‘n Senior beampte het gesê dat die slaankrag sal helikopters en troepe insluit.

‘n Militêre mediese fasiliteit word volgens bronne  in Uganda beplan.

Dit is die ergste dodetal vir Suid-Afrika sedert die Angolese grensoorlog, het die SA Nasionale Weermagunie gesê.

Pikkie Greeff van die Unie het gesê: “Ons troepe, wat aan ons gedetailleerde rekenskap gegee het van wat gebeur het, is woedend … hulle is belieg vanaf die aanvang van hul ontplooiing in Januarie Toe hulle daar aankom, is hulle meegedeel dat hulle nie daar is vir opleiding of die beskerming van militêre bates nie.

“Hulle was onder streng instruksies om Suid-Afrikaanse bates, toerusting, eiendom en Suid-Afrikaners te beskerm en te beveilig.”

Greeff het gesê dat dit nodig is om dadelik vas te stel aan wie die bates behoort het en waarom dit nodig was om die beskerming van die elite troepe te eis. “Die manier waarop hierdie troepe deur SAR-magte aangeval is, toon daar was iets strategiese omtrent hulle. Ons troepe is doelbewus aangeval en dit blyk met opleiding en wapens wat deur ons verskaf is.”

Greeff het gesê: “Die publiek is belieg … nie net oor wat ons troepe daar doen nie, maar ook oor hoe hulle gesterf het. Dit is ‘n blatante toesmeerdery … die president skuld die gesinne en die land antwoorde. “

Hospitale in SAR verlate, rebelle neem beheer

Hospitale in die Sentraal-Afrikaanse Republiek (SAR) is sonder mediese personeel en burgers verkies om in hul huise te bly, selfs al is hulle gewond, het die hulporganisasie Medecins Sans Frontieres (MSF) Dinsdag gesê.

Dit volg nadat die selferkende president van die land die grondwet nietig verklaar het.

Ná die militêre staatsgreep deur die Seleka-rebellekoalisie het MSF die meeste groot hospitale in die hoofstad Bangui besoek. Hulle het gevind dat daar “geen mediese personeel is nie (en) selfs nie eers ‘n skoonmaker nie”.

Altesaam 70 gewonde mense het Sondag by ‘n militêre hospitaal vir behandeling gewag ná gevegte die naweek waarin 13 Suid-Afrikaanse soldate hul lewens verloor het. Teen Maandag het tientalle beseerdes nog vir hulp gewag, het Sylvain Groulx, ‘n lid van MSF in Bangui, gesê.

Die beseerdes sluit burgerlikes sowel as soldate in.

Hy het bygevoeg dat dit moeilik was om te bepaal hoeveel burgerlikes dood is “omdat die meeste mense nie hospitaal toe gaan nie weens ‘n gebrek aan veiligheid. Daar is ook nie openbare vervoer nie en dit is slegs die Seleka-mense wat op straat is,” het hy gesê.

Die Seleka-rebelle het oor die naweek beheer van Bangui en die presidensiële paleis oorgeneem. Hulle het ook televisie- en radiostasies beset, terwyl die voormalige president, Francois Bozize, na Kameroen gevlug het.

Die rebelle beskuldig Bozize daarvan dat hy ‘n vredesooreenkoms wat in 2007 aangegaan is, oortree het.

Name bekend van gesneuwelde soldate in SAR

Die 13 Suid-Afrikaanse soldate wat dood is in gevegte met rebelle in die Sentraal-Afrikaanse Republiek (SAR) is Dinsdag deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) bekendgemaak.

Volgens die SANW is korporaals Mokgadi Darius Seakamela en Ntebaleng Andrew Mogorosi en onderkorporaals Daniel Sello Molara en Lukas Mohapi Tsheke onder Sondag se slagoffers.

Die soldate wat dood is, is:

Lesego Maxwell Hertzog,

Zamani Jim Mxhosana,

Xolani Dlamini,

Vusumzi Joseph Ngaleka,

Karabo Edwin Matsheka,

Khomotso Paul Msenga,

Maleisane Samuel Thulo,

Motsamai William Bojane,

Thabiso Anthon Phirimana.

“Die SANW wil ook bekendmaak dat die lid wat as vermis aangemeld was lewend gevind en gesond is,” het die SANW in ‘n verklaring gesê.

Brit doodgeskop in rugby-onderonsie

‘n Britse man van die Verenigde Koninkryk is dood  toe ‘n woordewisseling in geweld ontaard het buite die Absa-stadion in Durban, het die polisie gesê.

Die voorval het ná die wedstryd tussen die Rebels en die Sharks plaasgevind.

“‘n Stryery het tussen ‘n groep mense ontstaan. Ons weet nie wat die geveg veroorsaak het nie,” het lt.kol. Vincent Mdunge

Daar was ‘n vuisgeveg, wat die dood van ‘n man veroorsaak het.

“Die 28-jarige man is met geslaan en geskop. Hy het weens sy beserings gesterf.”

Die polisie het gesê hulle is in verbinding met die ambassade.

Die Durban-Sentraal-polisie ondersoek ‘n saak van moord en verklarings word afgeneem van getuies, het Mdungane gesê.

Niemand is in hegtenis geneem nie.

Die Sharks (Pty) Ltd. het in ‘n verklaring gesê nooddienspersoneel by die stadion het probeer om die geveg te stop.

“Ons het ons eie interne ondersoek gedoen en is tevrede dat ons gekontrakteerde diensverskaffers, Fidelity Security en ER24, alles moontlik gedoen het om die geveg te stop,” het Brian van Zyl, uitvoerende hoof, gesê.