Druk op polisie weens dood in aanhouding, RA

Die familie van die Mosambiekse taxibestuurder, Mido Macia, het President Jacob Zuma gevra om in te gryp in die ondersoek na sy dood in polisie-aanhouding in Daveyton aan die Oosrand.

Macia is verlede week in aahouding in die polisieselle dood nadat hy na bewering vroeër agter ‘n polisievangwa vasgemaak en gesleep is. Agt polisiebeamptes wat by sy dood betrek word, is in hegtenis geneem. Hulle sal vandag in die plaaslike landdroshof verskyn.

Die DA het gevra vir ‘n kommissie van ondersoek na polisiewreedheid na die voorval. ‘n Familielid van Macia, Hilton Sithole, sê President Zuma moet ingryp en aan die polisiebeamptes sê dat Macia nie ‘n hond was nie. Sy sê Zuma moet seker maak dat geregtigheid geskied.

Die DA het ook ‘n beroep gedoen vir ‘n regterlike kommissie van ondersoek na polisiewreedheid. ‘n Aantal DA leiers het Daveyton aan die Oosrand gister besoek na Macia se gewelddadige dood.

Die DA LP, Dianne Kohler-Barnard, sê polisiewreedheid moet gestaak word. Sy het ‘n brief aan die President gestuur om te vra vir ‘n kommissie van ondersoek om die oorsake van polisiewreedheid te ondersoek. Sy sê Suid-Afrika het ‘n professionele polisiediens nodig wat misdadigers vang, en nie onskuldige mense doodmaak nie.

Intussen is sowat 1500 bevorderings in die Suid-Afrikaanse polisiediens teruggehou na ‘n hofbeslissing teen regstellende aksie. Die Arbeidhof in Gauteng het beslis dat geen bevorderings in werking kan tree voordat alle regsgedinge teen die polisie se regstellende aksie plan in die hof aangehoor is nie.

Die vakbond Solidariteit het ‘n versoekskrif ingedien wat die hof vra om die plan ongeldig te verklaar. Die adjunk-uitvoerende hoof van Solidariteit, Dirk Hermann, sê baie wit mense wat voldoen aan die vereistes vir bevordering, word nie bevorder nie.

Slegs nege persent van beskikbare poste vir luitenante en majoors is aan wit mense toegeken.

Ramaphosa vra Christene om ‘morele kompas’ te wees

Cyril Ramaphosa, adjunk-president van die ANC, het ‘n beroep op Christene gedoen om Suid-Afrika se morele kompas te wees teen oortedings soos verkragting, het City Press Sondag berig.

“Daar is geen beter agente as Christene en die kerk om die morele waardes en morele gewete van ons land op te bou nie,” het Ramaphosa Saterdag volgens die koerant by die Pentecostal Holiness Church gesê.

“[Die verantwoordelikheid] rus op ons as Christene. Ons moet sê hierdie is ‘n sonde. Hierdie is ‘n oorteding. Verkragting is ‘n sonde en dis ‘n oorteding.

“Ons as Christene is die mense wat moet opstaan en sê: ‘Korrupsie, ons sal dit nooit aanvaar nie, want dis ‘n sonde. Dis ‘n oorteding’.”

Die koerant het berig dat Ramaphosa gesê het Christene moet op die voorpunt wees in die stryd teen die mishandeling van vroue.

“Ons moet ook die morele kompas van ons land wees wanneer dit kom by respek vir vroue en aksie teen verkragters,” het hy gesê.

SA wil handel in renosterhoring wettig

Suid-Afrika oorweeg die wettiging van handel in renosterhoring en het Vietnam as ‘n moontlike handelsvennoot geïdentifiseer. Vietnam is een van die lande wat diep betrokke is in die handel.

Die regering se plan sal by die komende konferensie oor die Konvensie in Internasionale Handel in Bedreigde Spesies, of CITES, bespreek word,  het die minister van Omgewingsake, Edna Molewa gesê. Haar departement sal volgende maand se konferensie by COP16 in Bangkok bywoon.

Handel in renosterhoring is tans beperk onder die CITES-verdrag en renosterhoring kan slegs uitgevoer word as ‘n trofee.

“Ons wil graag [by die ondertekenaar-lande] hoor of hulle gereed sou wees om te stem vir handel.”

Die wettiging van handel is nie op die agenda vir volgende maand se vergadering nie en indien Suid-Afrika besluit om te druk vir die wettiging van handel in renosterhoring, sal dit eers by die COP17-vergadering oor drie jaar tyd besluit word.

Steven Broad, uitvoerende direkteur van Traffic International, het verlede week in ‘n telekonferensie gesê: “Die mark in Vietnam is baie volatiel. Dit word gedryf deur aggressiewe bemarking. Wettiging maak net nie sin nie.”

Herman Els, van die SA Jagters-en Wildbewaringsvereniging, het gesê die opheffing van die handelsverbod sal die swartmarkpryse van renosterhoring onder druk plaas.

“Ons het R3.5 miljard se renosterhoring in voorraad en elke jaar is daar tussen 200 en 300 renosters wat aan natuurlike oorsake sterf,” het hy gesê.

Deur die verkoop van die horing van die renoster op ‘n veiling twee of drie keer ‘n jaar fondse kan gegenereer word vir bewaring.

Die Departement van Omgewingsake het onlangs ‘n studie onderneem, die Rhino Issue Management verslag, wat aan die kabinet voorgelê is Woensdag.

Oscar Pistorius haal die voorblad van TIME

Die Paralimpiese atleet Oscar Pistorius wat van moord aangekla word, is op die Maart-uitgawe van die tydskrif Time wat Vrydag in die Verenigde State, Asië en die suidelike Stille Oseaan beskikbaar is.

Op die voorblad staan Pistorius hemploos in ‘n oefenbroek met sy ikoniese lemme. Die woorde “Man. Superman. Gunman.” is oor sy foto gedruk.

Volgens die tydskrif se webwerf is daar ‘n artikel van ses bladsye, getiteld: “Oscar Pistorius and South Africa’s culture of violence”.

Pistorius word daarvan beskuldig dat hy sy vriendin, Reeva Steenkamp, op Valentynsdag in sy huis vermoor het. Hy het die aanklag ten sterkste betwis. Die ster-atleet is verlede week borgtog van R1 miljoen toegestaan.

In ‘n beëdigde verklaring wat hy as deel van sy borgtogaansoek ingedien het, het Pistorius gesê hy het gedink daar is ‘n inbreker in die huis toe hy die skote afgevuur het.

‘Die Raadsplan’ rassisties sê MRK

Die inhoud van die boek, getiteld, Die Raadsplan, deur die Living Hope Ministries en sy stigter, past. Willie Smit, kom neer op haatspraak, het die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) gesê.

“[Die kommissie] het bevind dat die publikasie aanstootlik is en neerkom op haatspraak,” het Isaac Mangena, woordvoerder, gesê.

Die SAMRK het in 2010 ‘n klag ontvang oor die Vrystaatse kerk en sy pastoor wat ‘n rassistiese boek, getiteld, Die Raadsplan gepubliseer het.

Die klaer het gesê die boek, die kerk en sy pastoor het die wit ras op ‘n manier uitgebeeld dat hulle deur God aangewys is om verhewe te wees bo ander rasse en dié rasse te regeer.

Die boek is in verskeie Christelike boekwinkels beskikbaar.

Mangena het gesê die kommissie het bevind dat sommige dele van die boek bevestig die klaer se bewerings.

Die pastoor en sy kerk glo hulle het hul reg op vryheid van uitdrukking en geloof uitgeoefen om die boek te skryf en die uitlatings te maak.

Die kommissie het bevind dat die publikasie diskrimineer teen ander rasse en neerkom op haatspraak.

Verder is aanbeveel dat die Film-en-publikasieraad (FPR) stappe doen om die boek uit alle openbare verspreidingskanale te onttrek. Die kommissie het verder gesê hy steun ook toepaslike administratiewe en ander sanksies ingevolge die Wet op Rolprente en Publikasies.

Die kommissie het ook gesê die Instituut vir Rasseverhoudings by die Universiteit van die Vrystaat, in samewerking met die raad van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke, moet werksessies oor rassverhoudinge aan die kerk en die pastoor verskaf.

‘n Verslag oor die vordering wat in ses maand bereik is, moet ook by die kommissie ingehandig word.

NERSA-besluit gaan ekonomie knou

Die Vryheidsfront Plus het met afkeur kennis geneem van die besluit van NERSA om ‘n 8% verhoging in die elektrisiteitsprys, vir die volgende vyf jaar, goed te keur. “Hierdie 8% is 8% te veel. Soos die ekonomie tans daaruit sien blyk dit dat hierdie kragskok nie geabsorbeer sal word nie en sal dit ‘n algehele negatiewe impak op die ekonomiese stabiliteit van die land hê. Die middelklas word op ‘n direkte en indirekte basis reeds so swaar belas dat ‘n 8% elektrisiteitsprys verhoging net meer swaarkry gaan meebring en bydra tot die langsame verarming van die middelklas,” het adv.Anton Alberts, die parlementêre woordvoerder van die Vryheidsfront Plus vir Ekonomiese Aangeleenthede in reaksie op NERSA se aankondiging gesê.

“Die VF Plus bevraagteken ook NERSA se vermoeë om onbevange besluite te neem. Dit blyk dat Eskom net by NERSA se kantore hoef op te daag en goedkeuring word verleen om kragpryse te verhoog. Die feit dat NERSA nie goedkeuring verleen het vir 16%, soos Eskom aanvanklik gevra het nie, word verwelkom, maar NERSA moes die domino effek wat dit op die breër eknomiese aktiwiteite en –groei gaan hê, ernstiger oorweeg en nie so ‘n groot prysstyging goedgekeur het nie,” het adv. Anton Alberts gesê.

Dood in aanhouding van taxi-bestuurder maak opslae

Die Parlement se Portefeuljekomitee oor die Polisie het gevra vir die onmiddellike skorsing van polisielede wat betrek word by die dood van ‘n taxibestuurder.

Die voorval het wêreldwyd opslae gemaak en is internasionaal veroordeel. Die taxibestuurder is as die 27-jarige Mosambieker, Mido Macia geïdentifiseer.

Hy is deur polisielede van Daveyton aan die Oos-Rand gekonfronteer nadat hy oënskynlik die verkeer met sy voertuig ontwrig het. Videomateriaal toon hoe die polisie hom agter die vangwa aansleep.

Hy is later in polisie-aanhouding dood. Die komitee sê hy is geskok en ontsteld dat die polisie wat veronderstel is om die publiek te beskerm, in staat kan wees tot sulke dade.

Hy het die Onafhanklike Polisie- Ondersoekdirektoraat gevra om geen steen onaangeroerd te laat in sy ondersoek nie. Amnestie Internasionaal het ook gevra dat diegene wat daarvoor verantwoordelik is, vervolg word.

Italië se komediant laat politieke krisis verdiep

Die politieke krisis in Italië het verdiep, nadat twee partyleiers die moontlikheid verwerp het om ‘n regering te vorm en ‘n nuwe verkiesing af te weer.

Die populistiese leier van die Vyfster-beweging, Beppe Grillo het toenadering van die sentrum-linkse leier Pier Luigi Bersani met beledigings verwerp, terwyl Bersani se junior koalisie-vennnoot Nichi Vendola ‘n regeringsalliansie met die sentrum-regse groepering onder leiding van Silvio Berlusconi verwerp het.

Grillo se party het teen alle verwagtinge in deur derde te eindig, vir ‘n opskudding gesorg.

Die voortslepende onsekerheid in die Eurogebied se derde grootste ekonomie het markte aanvanklik skerp laat daal, maar teen gister was daar weer bestendigheid.

Grillo het die skynbaar onmoontlike vermag deur alleen op sosiale media – en die groot geld nie – staat te maak om die korrupsie in die politieke klas in Italië aan die kaak te stel. Sy byeenkomste is deur honderde duisende jong Italianers met tersiêre opleiding ondersteun. Grillo is ‘n komediant van beroep.

Onderwysers vlug uit skool na intimidasie

Geen klas is die afgelope week by die Wongalethu-hoërskool in Mdantsane in die Oos-Kaap gegee nie, volgens ‘n berig Donderdag.

Dispatch Online het berig dat onderwysers verlede week tydens ‘n protesoptog uit die skool gevlug het uit vrees vir intimidasie deur leerders.

Gr. 12-leerders het met ‘n protesaksie begin omdat hulle enigste wiskunde-onderwyser na ‘n nabygeleë skool gestuur is, en hulle dring daarop aan dat hy heraangestel word.

“Ons is bekommerd dat ons oor net ‘n paar maande met eksamens moet begin en ons kan dalk druip want ons het nie ‘n wiskunde-onderwyser nie,” het Lukhanyo Booi, hoof van die leerders se raad van verteenwoordigers, gesê.

“Ons is genoodsaak om ons onderwyser ná skool te ontmoet vir lesse in groepe van 10 tot 15. Dit put ons en ook hom uit.”

Leerders het die Mdantsane-polisiestasie en die Mdantsane-landdroshof genader vir ‘n permit om Maandag te betoog, omdat hulle hul griewe by die hoofkantoor van die provinsiale onderwysdepartement wou afgee. Hulle kon egter nie vervoer na die departement se kantoor kry nie.

‘n Vergadering is intussen met onderwysers, die skool se beheerliggaam, die leerders en hul ouers belê deur Sihle Mnguni, distriksdirekteur van die onderwysdepartement se kantoor in Mdantsane.

“Dit was meer ‘n luistersessie as ‘n vergadering, daarom kan ek nog nie besonderhede bekend maak nie, maar ons sal weer met hulle vergader,” het Mnguni volgens die publikasie gesê.

Xingwana en haar brouspul die deur gewys

Lulu Xingwana, die omstrede minister van vroue, kinders en gestremdes, en haar hele afvaardiging is Woensdag die deur gewys in die parlement in Kaapstad, het Beeld berig.

Xingwana se departement is in Desember uitstel gegun om terug te rapporteer oor ‘n omkeerstrategie, maar die dokumente wat LP’s veronderstel was om te ontvang ter voorbereiding vir die sessie, is eers Dinsdagaand afgelewer.

Boonop was die verslag ‘n deurmekaarspul, het baie LP’s gesê.

Liezel van der Merwe, IVP-LP, het gesê: “Die dokumente is so deurmekaar ek weet nie of ek kom of gaan nie.”

LP’s is volgens parlementêre reëls veronderstel om sulke dokumente minstens 48 uur voor ‘n sessie te ontvang sodat hulle die nodige vrae kan voorberei en ingeligte besluite kan neem.

Ontstoke LP’s, baie van hulle ANC-lede, het Xingwana en haar afvaardiging teruggestuur om hul brouwerk reg te stel en gevra dat haar departement opgeskort moet word en sy afgedank noet word.

Xingwana het namens haar departement om verskoning gevra, en gevra of sy ‘n voorlopige verslag kan indien.

“Hierdie is onaanvaarbaar, maar die departement het so hard gewerk.”

Die departement het in sy kort bestaan meer as ‘n half miljard rand ontvang en “daar is niks om daarvoor te wys nie, buiten uitspattige partytjies, buitelandse reise en ontwerpersmeubels”, het LP’s gekla.

“Geld wat die departement ontvang het, is vermors en nou gaan dit selfs meer geld kos om dit weer op die been te bring,” het ‘n opposisielid gesê.

Intussen het die minister ook om verskoning gevra vir haar uitlatings oor Afrikaner-mans, wat dié week ‘n hewige reaksie ontlok het.

“Dit het vir my duidelik geword dat my kommentaar sommige lede van ons gemeenskap ontstel het.

“Ek wil, gevolglik, daardie kommentaar terugtrek en onvoorwaardelik om verskoning vra aan hulle,” het sy gesê.

Dié verskoning volg ná Xingwana aan die Australiese Uitsaaikorporasie (ABC) gesê het jong Afrikanermans word grootgemaak om te glo dat hulle vroue en kinders “besit”.

“Jong Afrikanermans word grootgemaak in die Calvinistiese geloof en glo hulle besit ‘n vrou, hulle besit ‘n kind, hulle besit alles, en daarom kan hulle daardie lewe neem, want hulle besit dit,” het sy gesê.

“Ons het ook kulturele verskille in ons eie gemeenskappe waar ons vroue het wat gedwing word om te trou en ons hanteer al daardie sake.”

ABC het ‘n onderhoud met Xingwana gevoer oor die dood van die Paralimpiese kampioen Oscar Pistorius se meisie, Reeva Steenkamp.

Die insetsel, wat Maandag uitgesaai is, fokus op vuurwapengeweld in Suid-Afrika.

“Ek sal hom vra om die waarheid te praat. Ek sal hom vra om vroue te respekteer,” het Xingwana gesê.

“Ek sal hom vra om ontslae te raak van sy vuurwapens. Want ek glo as hy nie vuurwapens in sy huis gehad het nie, sou Reeva Steenkamp vandag gelewe het.”

Xingwana se uitlatings is skerp gekritiseer.

“Hierdie minister het bo enige twyfel bewys dat sy nie geskik is om ‘n amp te hê in ‘n konstitusionele demokrasie nie,” het Jan Bosman, sekretaris van die Afrikanerbond, in ‘n verklaring aangevoer.

Ook AfriForum het Dinsdag gesê hy oorweeg dit om ‘n klagte teen Xingwana by die gelykheidshof te lê oor haar uitlatings.

Isaac Mangena, MRK-woordvoerder, het gesê die kommissie het drie klagtes van mense ontvang wat meen Xingwana se woorde is rassisties en diskriminerend. Die MRK ondersoek die klagtes.