‘Die Raadsplan’ rassisties sê MRK

Die inhoud van die boek, getiteld, Die Raadsplan, deur die Living Hope Ministries en sy stigter, past. Willie Smit, kom neer op haatspraak, het die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) gesê.

“[Die kommissie] het bevind dat die publikasie aanstootlik is en neerkom op haatspraak,” het Isaac Mangena, woordvoerder, gesê.

Die SAMRK het in 2010 ‘n klag ontvang oor die Vrystaatse kerk en sy pastoor wat ‘n rassistiese boek, getiteld, Die Raadsplan gepubliseer het.

Die klaer het gesê die boek, die kerk en sy pastoor het die wit ras op ‘n manier uitgebeeld dat hulle deur God aangewys is om verhewe te wees bo ander rasse en dié rasse te regeer.

Die boek is in verskeie Christelike boekwinkels beskikbaar.

Mangena het gesê die kommissie het bevind dat sommige dele van die boek bevestig die klaer se bewerings.

Die pastoor en sy kerk glo hulle het hul reg op vryheid van uitdrukking en geloof uitgeoefen om die boek te skryf en die uitlatings te maak.

Die kommissie het bevind dat die publikasie diskrimineer teen ander rasse en neerkom op haatspraak.

Verder is aanbeveel dat die Film-en-publikasieraad (FPR) stappe doen om die boek uit alle openbare verspreidingskanale te onttrek. Die kommissie het verder gesê hy steun ook toepaslike administratiewe en ander sanksies ingevolge die Wet op Rolprente en Publikasies.

Die kommissie het ook gesê die Instituut vir Rasseverhoudings by die Universiteit van die Vrystaat, in samewerking met die raad van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke, moet werksessies oor rassverhoudinge aan die kerk en die pastoor verskaf.

‘n Verslag oor die vordering wat in ses maand bereik is, moet ook by die kommissie ingehandig word.

Maak 'n opvolg-bydrae