Die Parlement se Portefeuljekomitee oor die Polisie het gevra vir die onmiddellike skorsing van polisielede wat betrek word by die dood van ‘n taxibestuurder.
Die voorval het wêreldwyd opslae gemaak en is internasionaal veroordeel. Die taxibestuurder is as die 27-jarige Mosambieker, Mido Macia geïdentifiseer.
Hy is deur polisielede van Daveyton aan die Oos-Rand gekonfronteer nadat hy oënskynlik die verkeer met sy voertuig ontwrig het. Videomateriaal toon hoe die polisie hom agter die vangwa aansleep.
Hy is later in polisie-aanhouding dood. Die komitee sê hy is geskok en ontsteld dat die polisie wat veronderstel is om die publiek te beskerm, in staat kan wees tot sulke dade.
Hy het die Onafhanklike Polisie- Ondersoekdirektoraat gevra om geen steen onaangeroerd te laat in sy ondersoek nie. Amnestie Internasionaal het ook gevra dat diegene wat daarvoor verantwoordelik is, vervolg word.
