Gaan kuier vir ouma, of dis tronk toe!

‘n Chinese wet het Maandag in werking getree wat boetes of tronkstraf vir kinders inhou wat nie hul ouers besoek nie.

‘n Dogter van ‘n Chinese bejaarde vrou is beveel om haar ma  ten minste een keer elke twee maande te besoek. Dit was die eerste vervolging onder die nuwe wet die bejaardes te beskerm.

Die wet is uitgevaardig te midde van stygende kommer dat China se vinnige ontwikkeling sy tradisionele uitgebreide families onder druk plaas weens ‘n toenemende aantal “leë nes” huise.

Verslae oor bejaardes wat verwaarloos of mishandel word deur hulle kinders het die land geskok.

‘n Egpaar van Wuxi, in die oostelike provinsie Jiangsu, het ingestem om te sorg vir die bejaarde vrou, maar het haar nog nie besoek nie, want sy woon by seun.

Die hof in Beitang-distrik het besluit dat die egpaar die moeder móét besoek, ten minste een keer elke twee maande, en op ten minste twee van China se nasionale vakansiedae.

Dit het ook gesê die egpaar kan vergoeding betaal as hulle haar nie besoek nie.

Die wet op die beskerming van die regte en belange van die Bejaarde sê dat familielede hul familie ouer as 60 “dikwels” moet besoek, maar gee nie ‘n presiese definisie van die term nie.

Kenners het kommer uitgespreek dat die nuwe wet moeilik sal wees om af te dwing en China se webgebruikers spot daarmee as ‘n “belediging vir die volk”.

Die wet is in Desember gewysig na gereelde verslae van bejaarde ouers wat deur hul kinders verwaarloos word. Dit sê kinders van ouers ouer as 60 moet toesien dat daar daagliks aan hulle finansiële en geestelike behoeftes voldoen word.

Alhoewel respek vir die bejaardes diep ingeburger is in die Chinese gemeenskap, het drie dekades van markhervorming China se tradisionele uitgebreide familie onder druk geplaas, en daar is min bekostigbare alternatiewe, soos aftree-oorde.

Meer as 14% van China se bevolking, of 194 miljoen is ouer as 60, volgens die jongste syfers.

Die VN beraam dat, teen 2050, sal 30% van die Chinese 60 of ouer wees. Die wêreldwye gemiddeld is 20%.

Brug en ID-slimkaarte vir Mandeladag

Die uitreiking van die ID-slimkaarte en die opening van ‘n nuwe brug is slegs ‘n paar geleenthede wat vir Mandela-dag beplan word, het die kabinet Dinsdag aangekondig.

Mandela-dag word jaarliks op oudpres. Nelson Mandela se verjaardag op 18 Julie gevier.

Die voormalige staatshoof sal vanjaar sy 95ste verjaardag vier.

“In hierdie moeilike tyd, laat ons liefde en begrip wys en Madiba trots maak,” het Phumla Williams, waarnemende kabinetwoordvoerder, gesê.

Mandela is steeds in ‘n kritieke toestand in die Medikliniek se Harthospitaal. Hy word sedert verlede maand vir ‘n herhalende longinfeksie behandel.

Williams het gesê die uitreiking van die nuwe ID-kaarte sal op 18 Julie begin.

Die kabinet het Dinsdag ‘n beroep op Suid-Afrikaners gedoen om op 18 Julie 67 minute van hul tyd op te offer om “hul gemeenskappe en Suid-Afrika vir goed te verander”.

Die kabinet het gesê vanjaar se tema is: “Neem aksie; inspireer verandering; maak elke dag ‘n Mandela-dag”, met die fokus op voedselsekuriteit, behuising en letterkunde.

FW de Klerk ‘sterk goed aan’

Oudpresident FW de Klerk se operasie Dinsdag om ‘n pasaangeër te kry was suksesvol, het die FW de Klerk-stigting in ‘n verklaring gesê.

Die stigting het Suid-Afrikaners vir hul goeie wense en boodskappe van ondersteuning bedank, en gesê die familie is ook dankbaar teenoor die “uitstekende mediese span” by die Panorama-hospitaal in Kaapstad waar die 77-jarige die intervensie ondergaan het.

President Jacob Zuma het De Klerk ook spoedige beterskap toegewens.

“Ons stuur goeie wense aan die voormalige president. Kom ons hou hom en sy familie in ons gebede,” het Zuma Dinsdag in ‘n verklaring gesê.

De Klerk moes in Junie 2006 ‘n operasie ondergaan om twee kwaadaardige nodusse van sy kolon te verwyder.

Kort na dié operasie het hy ‘n longinfeksie ontwikkel, maar het ten volle herstel.

Hof sê Mandela-grafte moet na Qunu

Oudpresident Nelson Mandela se kleinseun, Mandla Mandela, het tot drieuur vanmiddag tyd om die oorskot van drie van Madiba se kinders vanaf Mvezo na Qunu in die Oos-Kaap te verskuif.

Die Oos-Kaapse hooggeregshof sal na verwagting vandag in die saak beslis. Sestien lede van die Mandela-familie, asook Madiba se vrou, Graca Machel, het Vrydag ‘n hofbevel teen Mandela bekom om die oorskot na die oorspronklike grafte op Qunu terug te neem.

Mandela se regsverteenwoordigers voer aan dat die tussentydse bevel verwerp behoort te word, maar die Mandela-familie wil dit bekragtig hê.

Intussen kan Mandela ook strafregtelik aangekla word van grafskending nadat ‘n dossier hieroor geopen is. Die polisie wil egter nie bekend maak wie die klagte gelê het nie.

Aanval eis 16 in Egipte

‘n Groep ongeïdentifiseerde mans het Woensdagoggend 16 mense in Kaïro doodgemaak en sowat 200 beseer in ‘n aanval op ‘n saamtrek ter ondersteuning van die Egiptiese president, Mohamed Morsi,” het amptenare van die gesondheidsministerie gesê.

Die aanval het plaasgevind te midde van Morsi se weiering om gehoor te gee aan die eise van duisende betogers dat hy as leier van die land bedank.

Morsi weier ook om gehoor te gee aan ‘n ultimatum deur die weermag, wat hom 48 uur tyd gee om die onrus in sy land op te los, en sê hy beskou dit as ‘n poging van die weermag om ‘n staatsgreep uit te voer.

Pres. Zuma se program druk

President Jacob Zuma het Woensdag ‘n vol skedule. Hy sal eers ‘n vergadering in die oggend met die Nasionale Beplanningskommissie bywoon om die inwerkingstelling van die Nasionale Ontwikkelingsplan te bespreek.

In die middag sal hy as voorsitter van die vergadering van die Presidensiële Infrastruktuur Koördineringskomitee optree. Dit het betrekking op die Nasionale Infrastruktuur Plan wat verlede jaar deur die regering aanvaar is en wat ten doel het om die land se ekonomie deur die bou van hawens, paaie en spoorweë te versterk.

Na raming is R827 miljard vir die projek oor die volgende drie jaar opsy gesit.

President Zuma sal moet bemiddel tussen die Minister van Openbare Werke, Malusi Gigaba en die Minister van Finansies, Pravin Gordhan. Gigaba vra dat die Swart Ekonomiese Bemagtigingsbeleid van ondernemings onder staatsbesit verander word om swart sakeondernemings verder te bevoordeel in die tender-proses.

Michelle Obama: Withuis is ‘n tronk

Michelle Obama:se onlangse besoek aan die gevangenis op Robbeneiland moes ‘n blywende indruk gelaat het. Sy het pas haar eie lewe in die Withuis beskryf as soos om in ‘n tronk te woon.

Die Amerikaanse Eerste Dame, Michelle Obama het Dinsdag die lewe in die Withuis as soos om in ‘n “baie mooi gevangenis” te leef, beskryf.

Obama se kommentaar het gekom tydens haar gesprek met die voormalige Eerste Dame Laura Bush by die Afrikaanse Eerste Damespberiaad n Tanzanië tydens ‘n onderhoud met die joernalis Cokie Roberts.

Roberts het opgemerk dat Martha Washington, die eerste Eerste Dame, die lewe in die rol as soortgelyk aan ‘n staatsgevangene beskryf het.

Obama het gesê sy is lief vir haar werk en het gevind dat dit bevrydend in sommige opsigte is, maar beperk in ander.

“Daar is ‘n paar gevangenispelemente daaraan het sy geskerts. “Maar dit is ‘n baie mooi tronk.”

Voormalige Eerste  Dame Laura Bush het die gehoor daaraan herinner dat Obama ‘n sjef tot  haar beskikking het.

“Mens kan nie kla nie,”  het Michelle Obama toegegee. “Maar daar is beslis elemente wat beperkend is.”

‘Dokter’ swendelaar vasgetrek

Ongeveer R120 000 mediese voorraad is Donderdag gevind by ‘n man wat homself voorgedoen het as ‘n geregistreerde dokter.

‘n Man wat homself voorgedoen het as ‘n geregistreerde dokter in Pretoria-Noord is Donderdagmiddag gearresteer met die besit van mediese voorraad waarvoor hy nie ‘n permit gehad het nie.

Volgens Marius Freysen, voorsitter van die Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) van Pretoria-Noord, was die GPF en die polisie vir ‘n geruime tyd op dié man se spoor.

Freysen het gesê dat hy Donderdagmiddag die beweerde dokter se voertuig in Gerrit Maritzstraat buite ‘n winkel opgemerk het. Freysen het voor die man se voertuig parkeer en die polisie sowel as Soshanguve se K9-eenheid ontbied.

Toe die man uit die winkel gestap het, is hy dadelik op die toneel gearresteer.

Die honde-eenheid het ongeveer R120 000 se mediese voorraad in sy kar gevind het. Volgens Freysen het die ampules, gevul met onder andere adrenalien, reeds in 2004 verval.

Volgens Pretoria-Noord se polisie woordvoerder, Konstabel Maanda Singo, word die saak ondersoek en die verdagte het Maandag in Pretoria-Noord se landdroshof verskyn.

Freysen het aan Rekord gesê dat die Valke moontlik by die saak betrek sal word omdat die waarde van die medikasie meer as R100 000 was.

DA-jeugleier se hut afgebrand

‘n Jeugleier van die Demokratiese Alliansie kruip weg nadat sy plakkershut die afgelope naweek in Kaapstad aan die brand gesteek is, berig die Daily Voice.

Die 23-jarige Luzuko Mngqibisa het volgens die berig vroeg Saterdagoggend uit sy brandende plakkershut gevlug.

Hy het ‘n draagbare spoeltoilet, rommel en ‘n brief voor sy huis gevind.

“Ons wil jou nie doodmaak nie, jy is nog jonk, maar as jy nie ons mense uitlos nie gaan jy doodgeskiet word… So jou [Helen] Zille moet jou hier wegvat voor ons jou kry,” lui die brief.

Mngqibisa het aan die koerant gesê hy vermoed ANC-lede is verantwoordelik vir die aanval omdat lede onlangs betoog het oor draagbare toilette.

Die polisie het bevestig dat ‘n saak van brandstigting ondersoek word.

Zille het gereël dat hy vir sy eie veiligheid by ‘n onbekende plek tuisgaan.

Mandela-kinders takel mekaar oor geld

Nelson Mandela se kinders is hard aan die baklei oor die inkomste wat hul naam aan hulle mag verseker, en dit terwyl die oud-president nog nie sy laaste asem uitgeblaas het nie.

‘n Lid van die Mandela-familie het Maandag aan die Dispatch-koerant gesê Mandla Mandela sal uit die familie “uitgesluit” word as oudpres. Mandela sterf.

“Hy het in 2011 die oorskot van Madiba se kinders van Qunu na Mvezo gesteel omdat hy geweet het dat Mandela saam met sy kinders begrawe wil word en dat dit sy diamantveld sal wees,” het die familielid aan die koerant gesê.

Mandla Mandela, die amptelike hoof van die Madiba-stam en ‘n ANC-LP, het die oorskot van drie familielede in Qunu laat opgrawe en hulle twee jaar gelede weer in Mvezo begrawe. Mandla het Sondag in ‘n verklaring gesê hy is “ongelukkig verplig” om hom tot die hof te wend. “Die manier hoe ons hierdie saak hanteer is teenstrydig met ons gebruike en ‘n diep teleurstelling vir my oupa en sy voorvaders,” het Mandla gesê.

Die hofgeding sou Maandag in die Oos-Kaapse hooggeregshof in Mthata hervat het.

‘n Dringende interdik is Vrydag aan 16 lede van die Mandela-familie, gelei deur Mandela se oudste dogter Makaziwe (60), toegestaan wat Mandla verplig het om die oorskot na Qunu terug te bring.

Die drie familielede wie se oorskot geskuif is, is Mandela se oudste seun en Mandla se pa Makgato Mandela wat in 2005 oorlede is; Mandela se eerste dogter Makaziwe wat as ‘n baba in 1948 gesterf het; en Mandela se tweede seun Madiba Thembekile wat in 1969 in ‘n motorongeluk oorlede is.

Mandela, wat steeds in ‘n kritieke toestand in ‘n Pretoriase hospitaal is, het vroeër aangedui dat hy saam met sy familie in Qunu begrawe wil word.

Mandla voer egter aan dat Mvezo, waar hy ‘n multi-miljoenrandse hotel oprig, die geboorteplek van die Mandelas is en dat dit van geskiedkundige belang is.