Ongeveer 22 gevangenes is die afgelope vier maande in Mosambiek oorlede, meeste van hulle weens ‘n tekort aan mediese hulp. Mosambiek se staatsbeheerde koerant berig dat Francisco Mathe, bestuurder van die Tjimoio-gevangenis in die Manica-provinsie, sê meeste van die oorledenes is aangehoudenes wat nog nie skuldig bevind is aan enige misdaad nie.
Die meeste slagoffers is dood weens malaria, tuberkulose en MIV/Vigs-verwante siektes. Twee het selfmoord gepleeg.
Mahte sê die gevangenes het wel mediese hulp benodig, maar dat die owerheid bang was dat hulle sou ontsnap indien hulle verskuif sou word.
Oorvol tronke is dikwels ‘n probleem in Afrika-lande suid van die Sahara en dit dra by tot die verspreiding van aansteeklike siektes, soos tuberkulose. Die Tjimoio-gevangenis huisves 991 mense, terwyl sy kapasiteit slegs ‘n paar honderd is.
‘n Verslag wat Zambië se Menseregtekommissie in April uitgereik het, toon aan dat een uit elke sewe gevangenes in Mosambiek ernstig siek is.
Dié verslag wyt die sterfgevalle aan onhigiëniese sanitasie en oorvol tronke.

ANC president Jacob Zuma het kerkleiers vies gemaak met sy stelling dat God sal toesien dat die ANC vir ewig regeer. Zuma het in Khayelitsha gesê dat selfs God verwag dat die ANC die land moet regeer omdat dit die enigste organisasie is wat deur kerkleiers geseën is toe dit tot stand gekom het.
'n Derde van antimalaria medisyne wat in Ghana, Kenia, Nigerië, Rwanda, Tanzanië en Oeganda verkoop word, slaag nie basiese kwaliteitstoetse nie. Substandaardantimalaria medisyne veroorsaak 200 000 sterftes wat vermy kon word elke jaar.
Spanning is stadig maar seker besig om op te laai nadat Georgië Rusland daarvan beskuldig het dat hulle 'n onbemande vliegtuig oor Abkhasië, 'n wegbreekgebied van Georgië, afgeskiet het verlede maand. 'n Georgiese minister het gister aan die media in Brussel gesê dat hulle nou defnitief 'n oorlog moet verhoed.
'n Topamptenaar van die departement van landbou is in die Transvaalse Hooggeregshof in Pretoria aan moord skuldig bevind. David Linley Sonkosi het sy vrou Pumla Mkatali doodgeslaan ná 'n beweerde verhouding met 'n ander man deur haar kop en lyf herhaaldelik teen die vloer te stamp en deur haar met 'n leergordel te slaan.