Menseregte in Zimzanië

Die mite dat Suid-Afrika in 1994 ‘n liberale demokrasie met gewaarborgde menseregte ontvang het, het die afgelope weke dermate uigerafel dat ‘n mens dom of naïef – of albei – moet wees om nog daarin te glo.

Ek was oor die laaste week of twee al twee keer op Witbank om die saak rondom die vervolging van Willem Ratte en nege ander Afrikanermans te volg. Nie net is hulle op gefabriseerde klagtes in hegtenis geneem nie, maar is in ‘n tipiese Afrikatronk aangehou.

Volgens een van hulle is daar verhoorafwagtendes in die tronk op Witbank waarvan die regstelsel reeds “vergeet” het. Van hulle is reeds tien jaar daar en weet nie meer wat van hul sake geword het nie.

Ons het gesien hoe ‘n wond wat die bejaarde Clive Derby-Lewis van sy boeie opgedoen het weens gebrek aan mediese sorg in die gevangenis uiteindelik in gangreen ontwikkel het. Slegs hofbevele het hom in staat gestel om mediese sorg in ‘n privaat hospitaal te ontvang.

In die tronk op Witbank is daar insgelyks swart gevangenes met meswonde wat mediese behandeling geweier word of wat eenvoudig toegelaat word om te vergaan. Of hulle uiteindelik sterf, gaan die owerheid nie aan nie.

Die horde liberale skreeuers wat destyds in die ou Suid-Afrika gal gebraak het oor die regte van gevangenes, aangeklaagdes of verhoorafwagtendes, het tjoepstil geword.

In hospitale word oumense nie versorg nie of pasiënte wat dringende mediese behandeling nodig het, word toegelaat om dood te gaan, soos in die Johannesburgse algemene hospitaal gebeur het.

Voeg hierby die sistemiese rassediskriminasie wat daar teen blankes in die land gepleeg word en ‘n mens moet erken: daar is geen verskil tussen Suid-Afrika en Zimbabwe (of enige ander Afrikaland sonder wet en orde) nie. Daar is al soveel name verander dat Suid-Afrika maar gerus ook tot “Zimzanië” herdoop kan word, synde ‘n samevoeging van “Zimbabwe” en “Azanië”. Die Limpopogrens is in elk geval al lankal afgeskaf en die ineenvloeiing van die twee lande se bevolkings en morele waardes is reeds voltrek.

Trouens, na my mening is daar besig om tans ‘n misdaad teen die mensdom in Zimzanië gepleeg te word. Afgesien van vergrype deur die polisie en die gevangenisowerheid, ervaar ons ‘n stelsel van etniese verdrukking en diskriminasie wat deur die volkereg verbied word. Transformasie is so radikaal en ekstremisties dat ‘n mens dit kwalik nog met die onskuldig klinkende Afrikaanse term “regstellende aksie” kan benoem. Dit hoort eerder tuis in die geselskap van Stalin se reeks politieke suiwerings en massamoorde, die Nazi’s se vervolging van Jode of Pol Pot se revolusie in Kambodja wat insgelyks op volksmoord uitgeloop het.

Die onbeskryflike geweld wat daar elke dag in ons land woed, is die regstreekse uitvloeisel van rassehaat en aanhitsing deur ANC-politici soos die afgestorwe Peter Mokaba en die huidige Julius Malema. Selfs Mandela, die ikoon van die internasionale liberalisme, het hom ook reeds aan oproepe tot volksmoord op blankes en Afrikaners skuldig gemaak.

Die hele stelsel is van A tot Z verrot, korrup en krimineel. Daarom is dit elkeen se plig om dit te beveg op die manier wat hy of sy kan. Iewers in die nabye toekoms sal almal wat aandadig aan die instandhouding van Zimzanië en sy menseregtevergrype was, vir misdade teen die mensdom vervolg moet word. Dit sluit ook die klas van ideologiese apologete en propagandiste in wat hul leuens en propaganda via die ANC-beheerde massamedia uitsaai. Hulle is ewe aandadig as die polisieman wat in uniform moord of roof op burgerlikes pleeg, of die president wat sy handtekening op ‘n stuk anti-blanke, rassistiese wetgewing plaas.
Ook in Afrikanergeledere verkeer daar duisende meelopers en medepligtiges aan die totalitêre stelsel wat ons tans teister. Met hulle sal daar eweneens gehandel moet word, want hulle is op die keper beskou niks minder as oorlogsmisdadigers en menseregte-oortreders nie. Die Afrikanerpolisieman wat klakkeloos bevele van sy ANC-base uitvoer of die tronkbewaarder wat meedoen aan die onregte en vergrype van die ANC-goelag, is ewe skuldig as die argitekte van transformasie en verdrukking wat oor ons heers.

Die onbekende boer van Rustenburg wat die ANC tans in die internasionale strafhof in Den Haag vervolg, het die regte idee. Tewens, ek het reeds my en PRAAG se steun hiervoor aan sy prokureur toegesê. Maar elkeen van ons moet betrokke raak by die stryd. Ons moet gedurig die buitelandse ambassades, Amnestie Internasionaal, die Rooikruis en ander internasionale organisasies inlig oor die massiewe menseregtevergrype wat in Zimzanië aan die gang is.

Die gevolge van hierdie oortredings kan gesien word in die blanke plakkerskampe wat oral in Gauteng en elders verrys het. Ook in die afgelope tyd het ek twee maal besoek afgelê by die Kroningsparkgemeenskap in Krugersdorp waar ongeveer 250 Afrikaners ‘n voormalige karavaanpark beset. Die ANC-munisipaliteit ontsê hulle die mees basiese dienste en beskerming, waaronder elektrisiteit. Nie net is hul krag nege maande gelede sonder rede afgesny nie, maar selfs die kabels is verwyder om dit vir hulle onmoontlik te maak om ooit weer aan die kragnetwerk te koppel.

Die verskynsel van blanke en Afrikanerarmoede is regstreeks aan “transformasie” en die owerheid se rassistiese arbeidswette en -regulasies te wyte. Die Afrikaanse skole het tot onlangs ‘n matriekslaagsyfer van 98% gehad, dus is die meeste van ons mense geletterd, opgelei en in staat om te werk. Die rede waarom hulle in werkloosheid en armoede verval, is suiwer weens regstellende aksie, wat ook wederregtelik en in stryd met internasionale norme deur die korporatiewe sektor toegepas word.

In die VSA was daar reeds ‘n hele aantal uitsprake van hul hoogste hof, die Hooggeregshof, waarin regstellende aksie as ‘n vorm van anti-blanke diskriminasie verbied is. Internasionale konvensies verbied diskriminasie teen nasionale minderhede of rassegroepe soos die Afrikaners of blanke Suid-Afrikaners.

Die staat is reeds besig om te misluk en die hospitale, skole, gevangenisse, polisiediens, munisipaliteite en ander instellings stort in duie terwyl die mees weerlose mense daaronder ly.

In Oos-Europa het kommunisme misluk. Maar in Suid-Afrika het liberalisme van die Amerikaanse, Britse en Wes-Europese tipe met sy rassistiese bevoordeling van gekleurdes insgelyks skipbreuk gely.

Soos Solsjenitsin en die Franse “nuwe filosowe” van die sewentigerjare, stry ons vandag teen totalitêre denke en ‘n stelsel wat sulke denke beliggaam. Dit is ‘n intellektuele, ideologiese en uiteindelik fisieke stryd.

Daar bestaan vandag geen beter organisasie in die land as PRAAG om daardie stryd suksesvol te voer en uiteindelik verandering in ons land te bewerkstellig nie. Ons het ‘n plan om die Afrikaner en ander groepe in die land vanuit hierdie dwingelandy te bevry. Hoe gouer u deel daarvan word, hoe gouer kan ons ‘n einde aan die huidige ellende maak.

86 купитьлобановский александр игоревич

Jansen behoort hom in swart denke te verdiep

Prof. Jonathan Jansen se uitspraak dat die land op ‘n “rassevulkaan” sit, is juis in dié sin dat ras die grondslag van alle regeringsbeleid geword het. Ook Ferial Haffajee van City Press meen in Rapport: “Dit is ook vreemd dat mense wat voordeel getrek het uit apartheid – die grootste kwotastelsel van die 20ste eeu – nou so vreeslik daarteen gekant kan wees.”

Dus, apartheid wat blankes bevoordeel het, was boos. Maar apartheid wat swartes, bruines en Indiërs bevoordeel, is goed en daaroor moet ons nie kla nie. As Jansen praat van woede onder die wit jeug, bedoel hy ook eintlik dat ons jongmense nie onderdanig genoeg is om hul tweedeklasburgerskap te aanvaar nie.

Te midde van die gereelde propaganda-uitsendings van die SAUK-TV was daar Sondagaand insgelyks ‘n ellelange uitsending oor die swart rassesolidariteit van die tagtigerjare toe die Afro-Amerikaners die VSA se buitelandse beleid jeens Suid-Afrika met behulp van betogings en druk deur die media verander het. Ondanks president Ronald Reagan se veto, is sanksies teen Suid-Afrika gewettig.

Pleks van sy nuutgevonde insigte oor “die wit jeug se woede” aan ons te kommunikeer, behoort prof. Jansen hom eerder te verdiep in sy eie swart denke, oftewel die swart beweging van die afgelope honderd jaar, sedert W.E.B. Dubois in Amerika op die toneel verskyn het. By gebrek aan ‘n kulturele en talige nasionalisme van die Europese of Afrikanertipe, verlaat swartmense hulle op rassenasionalisme.

Ek het al hoeveel keer in politieke vergaderings van die ANC en hul geesgenote gesit waar die begrip “nie-rassigheid” as ‘n sinoniem vir “onder swart oorheersing” gebruik word.

Afrikaners het geen invloed op honderd jaar se swart denke in Afrika, Amerika, die Karibbiese eilande en elders nie. Transformase, rassekwotas en sistemiese anti-wit diskriminasie is die logiese uitvloeisel van daardie filosofie.

Al wat vir ons oorbly is, hetsy emigrasie, hetsy ‘n eie grondgebied of volkstaat wat nie aan die “nuwe, goeie apartheid” onderworpe sal wees nie. Plaas- en huisaanvalle dring insgelyks daardie keuse aan ons op.

Dus aan me Haffajee wil ek sê: Ons aanvaar julle goeie apartheid, gee ons net die tuisland wat ons toekom.

Hierdie rubriek verskyn ook vandag in ‘n verkorte weergawe in Beeld.

архитектурное освещение типыАлександр Фильчаков прокурор

Ratte, Derby-Lewis: dis nes Zimbabwe!

Enigeen wat nog ‘n laaste, flou illusie gekoester het dat Suid-Afrika iets met Westerse demokrasieë in gemeen sou hê, is die afgelope paar dae wreed ontnugter. Sowel die mishandeling van Clive Derby-Lewis as die summiere inhegtenisname van WIllem Ratte en nege ander kon net sowel in Zimbabwe plaasgevind het.

Nie net word die bejaarde Derby-Lewis, ‘n voormalige parlementslid van Suid-Afrika, parool geweier nie, maar in die gevangenis is hy so mishandel en verwaarloos dat hy gangreen opgedoen het. In ‘n absurde, Idi Amin-agtige magsvertoon, het sy swart bewaarders selfs daarop aangedring om in die operasiesaal teenwoordig te wees waar dokters sy been probeer red het.

In die geval van oud-kmdt. Willem Ratte word daar ‘n klopjag op sy plaas en sweisakademie vir hawelose jongmense uitgevoer en links en regs b eskuldigings van “terrorisme” rondgeslinger. Koerante van Media 24, wat reeds tydens Eugene Terre’Blache se moord getoon het dat hulle enige vuige gerug op voorblaaie sal plaas, het gou-gou etikette soos “verregs” en “terroris” op Ratte en sy medeslagoffers van staatsgeweld geplak.

Mandela het 27 jaar lank op Robbeneilend en in Victor Verster deurgebring en as ‘n gesonde man daaruit gestap. Ná 17 jaar in die ANC se tronk kan Clive Derby-Lewis getuig dat Suid-Afrikaanse tronke deesdae goed met hul eweknieë in Zimbabwe en ander Afrikalande vergelyk waar gevangenes sonder mediese sorg en dikwels sonder kos moet krepeer.

Menseregteskendings het sinoniem met die ANC-bewind geraak. Terwyl Rapport my daarvan beskuldig het dat ek in Meimaand “met Sweedse neo-Nazi’s wou heul”, was die hoofdoel van my besoek aan daardie land juis om die Sweedse regering onder die indruk te bring dat ons menseregte in Suid-Afrika daagliks vertrap word.

Oud-genl. Johan van der Merwe, wie se boek Trou tot die dood toe onlangs deur Praag uitgegee is, het aangetoon dat daar jaarliks tussen 600 en 700 sterftes in aanhouding in ons land plaasvind, ‘n astronomies hoë syfer. Iemand soos Willem Ratte word, hetsy vanweë sy geskiedenis van suksesvolle militêre optrede teen die swart terreurbewegings van die verlede, hetsy weens dissidente idees, onnodig geteister en vervolg. Ek en u, liewe leser, kan volgende wees.

Kennelik is menseregte in Suid-Afrika net van toepassing op die ANC, sy ampsdraers en ondersteuners. Die ware toets vir ‘n liberale demokrasie is egter die staat se verdraagsaamheid teenoor diegene wat nié die regerende party of sy ideologie ondersteun nie. Suid-Afrika in sy huidige toestand druip hierdie toets jammerlik as ons gevalle soos Clive Derby-Lewis en Willem Ratte in ag neem.

Die ANC se politieke gevangenes van destyds was meesal veroordeelde moordenaars en terroriste wat onskuldige burgerlikes aangeval het, iets wat ‘n oortreding van die tweede protokol van die Geneefse konvensie was. In ‘n wesentlike sin was die politieke gevangenes van destyds ook oorlogsmisdadigers. Vandag word mense egter in die tronk aangehou of gearresteer bloot omdat hulle ideologies van die ANC verskil. Ook behoort sulke mense tot die verdrukte minderheid van Afrikaners wat deur wetgewing en die sogenaamde “transformasiebeleid” tot tweedeklasburgers in hul geboorteland gereduseer is.

Terwyl die ANC en sy destydse buitelandse ondersteuners soos die Anglikaanse Kerk en die Sweedse regering groot gewag gemaak het van politieke gevangenes – waaronder natuurlik Mandela, maar ook ander – word hedendaagse politieke gevangenes geïgnoreer deur sowel die media as internasionale instansies. Om vandag in ‘n ANC-tronk te beland, kan ‘n doodsvonnis wees omdat ‘n mens mediese sorg geweier word, asook natuurlik die gevaar van verkragting deur MIV-positiewe misdadigers.

Ons sal baie beter moet begin omsien  na ons politieke gevangenes en dissidente wat gedurig die gevaar loop om sonder rede in die tronk te beland. In ‘n wesentlike sin is hulle “gewetensgevangenes” volgens die definisie wat Amnestie Internasionaal in die sestigerjare geformuleer het: “…mans, vroue of kinders wat opgesluit word bloot weens die vreedsame uitdrukking van hul oortuigings of as gevolg van hul ras, geslag of ander persoonlike eienskappe”.

‘n Databasis van alle politieke gevangenes en die behandeling wat hulle in die ANC se tronke ontvang, sal dringend opgestel en wêreldwyd aan menseregte-organisasies gekommunikeer moet word. ‘n Man soos Clive Derby-Lewis wat onregverdiglik amnestie deur Tutu se lieg-en-biegkommissie geweier is en reeds sewentien jaar lank in die tronk krepeer, verdien ‘n internasionale veldtog vir sy vrylating, soortgelyk aan die Engelse se toentertydse  “Free Mandela”-veldtog.

Bowenal moet ons daarop voorbereid wees dat hierdie afskuwelike, totalitêre en rassistiese bewind sy mes vir elkeen van ons Afrikaners in het. Soos Solsjenitsin in die Goelag Argipel skryf: “Dis waar van vele dat die vernedering wat deur arrestasie vir hul persoonlike gevoelens en verbintenisse veroorsaak word, baie sterker as hul politieke oorrtuigings of vrees vir die tronk kan wees. Iemand wat nie in sy binneste voorbereid is op die gebruik van geweld teen hom nie is altyd swakker as die persoon wat die geweld pleeg.”

Soos Willem Ratte en sy studente vandeesweek ervaar het, gaan dit moed en inspirasie van ons verg om die aanslag teen ons die hoof te bied. Soos wat die leuens en hersenskimme oor “demokrasie” wat aan ons voorgehou is een vir een in duie stort, sal ons ons moet staal vir wat voorlê.

Maar elkeen wat nog in vryheid verkeer, sal moet help om die toestand vir hulle wat reeds in die ANC se tronke verkeer draagliker te maak. Soos wat die vierkant blou lug deur sy tralievenster vir die gevangene die droom van sy uiteindelike vryheid verteenwoordig, só moet elkeen van ons oortuig raak dat deur eendrag en harde werk almal van ons eendag daardie vryheid sal kan smaak.

Die tronkdeur van die Nuwe Suid-Afrika sal oplaas vir ons volk met ‘n geknars van sleutels in die slot oopgaan. Tot dan sal ons egter moet saamstaan en verwoed ons volksgenote in die regime se selle moet verdedig.

полиграф в суделобановский александр отзывы

Afrikaners het stede nodig

Dan RoodtHoewel ek Orania ’n interessante eksperiment in ekonomiese en kulturele ontwikkeling vind, verskil ek met Jaco Kleynhans dat Afrikaners die stede moet agterlaat.

Ons moet juis Pretoria en Johannesburg van die vreemdeling herower!

Albei stede beskik oor triljoene rande se infrastruktuur wat ons op ’n skinkbord aan Nigeriërs, Kongolese, Zimbabwiërs en ander nie-burgers oorhandig het.

Sonder om Orania as landelike idille en simbool gering te skat, waarom maak ons nie ’n plan vir ’n stedelike reconquista nie?

Blykbaar is daar reeds 700 000 arm Afrikaners landwyd wat in haglike omstandighede leef.

Waarom kan hierdie mense nie in die middestede van Pretoria en Johannesburg hervestig word en sodoende daardie ruimtes verafrikaans nie?

Kleynhans noem Israel “moeder van die Joodse volk” en model vir ons.

Maar Israel beskik oor twee groot stede, Tel Aviv en Jerusalem, wat onderskeidelik met Johannesburg en Pretoria vergelyk kan word.

Ek was onlangs in Israel op uitnodiging van die Joodse aktivis Avigdor Eskin en het vanuit die 25ste verdieping van ’n kantoorgebou in Tel Aviv foto’s van die stad se toringgeboue en snelweë geneem.

Maar wat my ook in Israel opgeval het, is hoe Hebreeus – ’n eens dooie taal – in die land as openbare taal gevestig is.

Afrikaans moet op soortgelyke wyse as die oorheersende taal in sekere stedelike gebiede uitgebou word.

Daarsonder sal ons taal wegkwyn tot ’n landelike dialek wat net in Orania gepraat en geskryf word.

Ook onlangs het ek Hillbrow besoek.

Hartseer was dit om jong Afrikanerdwelmslawe daar tussen die Nigeriese handelaars aan te tref en die verval van dié eertydse “Manhattan van Afrika” te aanskou.

Wie het die besluit geneem om al daardie geboue eenvoudig prys te gee?

Orania se groot bydrae tot Afrikanerpolitiek is die begrip “volkseie arbeid”, met Afrikaners wat alle soorte werk beoefen.

Indien ons dieselfde beleid in die stedelike gebiede begin toepas, met Afrikanersakemanne wat slegs Afrikaners in diens neem, sal ons van sowel Pretoria as Johannesburg stedelike Oranias kan maak.

Sonder stede sal Afrikaners en Afrikaans nie in die 21ste eeu oorleef nie.

Die meeste van ons is nie boere nie, maar verrig werk in die dienstesektor.

Ons regsgeleerdes, medici, opvoedkundiges, bankiers en IT-mense hou reeds Gauteng se dienste-ekonomie aan die gang.

Drie van die land se vier groot banke bedryf steeds hul hoofkantore in die Johannesburgse middestad.

Wat my die meeste in Israel beïndruk het, was die Joodse setlaars wat woonstelle of geboue in die Palestynse buurte van Oos-Jerusalem betrek het en daar die Israelse vlag op die geboue se dakke laat wapper.

Die dag as ons geboue in Pretoria en Johannesburg begin beset en die oranje-blanje-blou op die dakke hys, sal ek voel ons het weer ons wil om te oorleef teruggekry.

Om te vlug is nie meer ’n opsie nie.

русской банилобановский александр дети

Absa daag ons uit

Die nuus dat Absa minder wit rugbyspelers in die Curriebeker wil sien, is geensins ‘n verrassing nie. Hoewel die bank intussen by monde van sy adjunk-uitvoerendehoof, mnr. Louis von Zeuner, ontken het dat hy ten gunste van rassekwotas is, het Absa tog duidelik sy anti-wit sentiment na buite gekommunikeer.

Absa, wat deur Barclays van Brittanje beheer word, posisioneer hom reeds geruime tyd as ‘n swart bank. Deesdae is dit raar om blanke gesigte agter die toonbank van Absa-takke te gewaar en Afrikaans is insgeslyks afgeskaal tot slegs ‘n skaduwee van wat die taal eens by dié bank was. Dit het feitlik onmoontlik geword om diens in ons taal by Absa te ontvang, hoewel sy kitsbanke en internetdiens nog die taal as ‘n keuse aanbied.

Die les wat Absa vir ons oor die afgelope paar dae geleer het, geld vir meer as net rugbyspelers en –geesdriftiges: dis gerig aan elke Afrikaner in die land. Ook die Tweede Vryheidsoorlog van meer as ‘n eeu gelede is in ‘n hoë mate deur die Londense banke bepaal, wat Milner se oorlogsplanne geesdriftig gesteun het. In 1985 het Chase Manhattan die bewind van P.W. Botha ‘n gevoelige knou toegedien toe dié bank besluit het om nie Suid-Afrika se korttermynskuld om te rol nie.

Gedurende die twintigste eeu het die Afrikaner moedig geprobeer om eie finansiële instellings soos Volkskas, Trustbank en Saambou te skep, asook natuurlik Sanlam, maar al dié maatskappye het op verskillende wyses tot niet gegaan of het wesentlik hul rug op die Afrikaner gekeer en die ANC-bewind en sy anti-blanke, anti-Afrikanerideologie omhels.

Die feit dat die Afrikaner die politieke stryd in Suid-Afrika verloor het, is in ‘n hoë mate daaraan te danke dat hy op kritieke oomblikke van buitelandse kapitaal en buitelandse banke afhanklik was. Vandag kan die volkstaatprojek nie van die grond af kom nie, juis vanweë ‘n gebrek aan kapitaal.

Volgens my berekeninge verdien die groot vier banke in Suid-Afrika jaarliks ten minste twintig miljard rand uit die Afrikaner aan rentemarges en bankkostes. Die borggeld wat Absa goedgunstiglik aan rugby (en sokker!) beskikbaar stel, kom dus net so uit die gewone Afrikaner se sak. Veertig persent van Absa se kliënte bestaan uit Afrikaners; nietemin sien die bank hulle as ‘n lastige segment om van ontslae te raak.

Om teen Absa se onlangse anti-wit uitsprake te protesteer, is goed en wel. Maar ons probleem om uitgelewer te wees aan Afrikanervyandige finansiële instellings soos Absa en die res van die groot vier banke, word nie wesentlik hierdeur verbeter nie.

‘n Groot deel van ons huidige vryheidstryd wentel om ekonomiese emansipasie van die ANC-beheerde ekonomie. Omdat banke soos Absa in regeringsrekeninge belangstel, is hulle ideologies kop in een mus met die ANC. Trouens, die aanstelling van Maria Ramos, die vrou van Trevor Manuel en ‘n bekende ANC-lid, as hoof-uitvoerendebeampte van Absa spreek boekdele oor die bank se politieke standpunte en ideologie.

Praag is tans besig om na ekonomiese alternatiewe vir die Afrikaner te kyk en ons het reeds ‘n groep sakemanne en ekonome byeengebring om binne ons geïdentifiseerde volkstaatgebied, wat groot dele van Gauteng insluit, bedrywe en instellings te vestig wat aan ons mense werk kan verskaf en ons kapitaal uit die hande van vyandige instellings soos Absa kan losmaak.

Die ontluikende koöperatiewe bankbeweging onder Afrikaners moet deur alle belanghebbendes gesteun word. Tegnologiese insette sal egter moet kom, sodat dié jong lote met mag en mening in die formele banksektor sal kan begin meeding. Elders ter wêreld bestaan daar voorbeelde van suksesvolle koöperatiewe banke wat uiteindelik wêreldbekende handelsbanke kon troef.

Eers wanneer Afrikaners beheer oor Afrikanerkapitaal bekom het, sal ons volk sy lang gesogte ekonomiese vryheid kan bekom. Absa se uitsprake vandeesweek daag ons uit om ‘n Afrikanerbank(e) op te rig.

live american roulette online casinotopcargo развод

ANC se revolusie verloop volgens plan

‘n Mens kan nie anders as om ‘n bewondering vir die ANC en SAKP te hê om te sien hoe hul revolusie, wat jare lank in Moskou, Londen, Oos-Berlyn en ander stede beplan is, stap vir stap geïmplementeer word nie. Wie sou kon dink dat die blanke Afrikaanse skole uiteindelik gedwing gaan word om ook te staak soos die gebruik in die swart woonbuurte is? Maar die gedwonge sluiting van ons skole is maar een revolusionêre simptoom van vele.

Ander simptome van revolusionêre vordering deur die ANC/SAKP/Cosatu-alliansie is grondhervorming en boere wat binnekort vyftig persent van hul bates en inkomste met hul werkers sal moet deel, die verdieping van regstellende aksie en swart bemagtiging, die gebruik van geweldsmisdaad om ons mense te laat uitmoor en oorsee te verdryf, asook ‘n nasionale dienspligstelsel wat bedoel is om die vrugte van die revolusie met geweld te kan verdedig.

Daagliks staan ‘n mens verstom oor die ongelooflike naïwiteit van die destydse Afrikanerleierskap wat sonder slag of stoot die hele land en infrastruktuur aan ‘n revolusionêre bende ballinge vanuit Londen en Oos-Europa oorhandig het. Maar ook die gewone Afrikaner wat vandag skynbaar sy oë sluit vir die revolusie wat in radikalisme en intensiteit toeneem, ontken die werklikheid wat hom as’t ware elke dag oor die kop slaan. Soos die spreekwoordelike potpadda waarvan die water gaandeweg al hoe warmer word, sit almal en wag dat die volgende fase van die revolusie oor hulle spoel.

Wat moet nog gebeur vir mense om wakker te skrik? Moet daar Rooi Wagte soos tydens Mao se kulturele revolusie by elke skool opdaag – eintlik gebeur dit reeds – om ons kinders as kanonvoer vir die revolusie weg te voer? Moet plase een vir een beset word en die eienaars onder bestuur van die revolusionêre staat geplaas word? Moet die hamer en sekel op die sewe-uurnuus op TV gehys word? Eintlik is ons mense al so gekondisioneer en so gewoond aan die hamer en sekel dat hulle skaars agterkom hoeveel dit in die massamedia vertoon word.

Die huidige landwye staking van staatsdienswerkers wat binnekort deur Cosatu se lede in die privaatsektor aangevul gaan word, verteenwoordig nog ‘n klassieke simptoom van oplaaiende revolusionêre energie. Die linkse leiers van die vakbonde – Cosatu en ander se bande met die SAKP is oorbekend – kry tereg die indruk dat hul mag besig is om toe te neem. Hulle wil die meer gematigde elemente in die ANC dwing om groter salarisverhogings toe te staan, asook ‘n meer linkse beleid oor die algemeen toe te pas.

Die Afrikaner is met sy rug teen die muur. Ons sal moet besef dat die veranderingsproses, die “transformasie” (wat al jare lank ‘n eufemisme vir revolusie is), reeds veels te ver gevoer is. Onder die huidige omstandighede gaan ons nie kan oorleef nie. Die honderdduisende blanke en Afrikanerwerkloses, waarvan vele reeds in plakkerskampe woon, is die stille getuienis van die revolusie wat ons stuk vir stuk van ons ekonomiese kanse en menswaardigheid ontneem.

Die revolusionêre van die ANC/SAKP weet baie goed dat ons hulle vyand is. Hulle gebruik oor en oor die term “vyand”. Danksy sy leierloosheid, gebrek aan eerlike media en verskynsels soos Angus Buchan wat mense in godsdienstige euforie dompel, is die Afrikanervolk vandag so werklikheidsvreemd dat hy nie agterkom dat sy vyand besig is om hom stelselmatig te vernietig nie.

Die hoop beskaam egter nie dat mense deur die toenemende wanorde gaan agterkom dat “alles nie pluis is nie”. In die destydse kommunistiese Oos-Europa het ons gesien hoe mense se denkbeelde volledig deur die revolusionêre bepaal kan word wat die media, skole en universiteite beheer, maar dat gesonde verstand tog iewers die individu soos ‘n klein stemmetjie in sy agterkop begin pla.

Indien u vandag wonder waarom ons skole vir die eerste keer in die geskiedenis nie funksioneer nie en wat presies die betekenis van ‘n “algemene staking” in die geskiedenis van linkse revolusies is, dan is daardie stemmetjie in u agterkop besig om met u te praat.

Dit is so belangrik dat elkeen van ons wat aan die breinspoeling van die afgelope anderhalf dekade ontkom het en helder kan sien wat gebeur, met mekaar moet kommunikeer en ook moet organiseer om die aftakelingsproses te stuit.

Alvorens dit heeltemal te laat is.

игры девочкамАлександр Фильчаков прокурор

Kom ons veg vir vryheid

Hoe toegewyd is u aan die saak van Afrikanervryheid? Is u soos Nelson Mandela bereid om tronk toe gaan daarvoor? Sal u soos 4500 Boere en 27 000 vroue en kinders tydens die Tweede Vryheidsoorlog sterf daarvoor?

Ná my onlangse besoek aan Israel het ek ‘n brief daaroor aan ‘n vermaarde Afrikaanse akademikus geskryf. In antwoord vertel hy my van wat ‘n vorige Israelse minister, Salman, op 29 April 1960 net ná Sharpeville aan die koerantman Piet Cillié gesê het. Hy het gesê daar is net twee alternatiewe – Afrikanernasionalisme of swart nasionalisme. Daar is geen Suid-Afrikaners nie en die Engelse tel nie. Maar sal Afrikanernasionalisme dit haal? Salman het Cillié “vorsend aangekyk” en gesê: “My volk is ‘n toegewyde volk. Kan u sê dat u volk ook ‘n toegewyde volk is?”

Terwyl ek in Israel heen en weer tussen Tel Aviv en Jerusalem gereis het en oral baie vriendelik en goed ontvang is, het ek onder die indruk gekom dat die Israeli’s vandag steeds ‘n toegewyde volk is wat téén die wêreldmening in hul voorbestaan en soewereiniteit verdedig.

Maar net soos in 1960 moet ons vandag aan onsself vra: “Is die Afrikanervolk vandag ‘n toegewyde volk?” En dan die persoonlike vraag wat elkeen van ons aan hom- of haarself kan stel: “Is ek ‘n toegewyde Afrikaner wat vir vryheid werk of veg?”

In sy brief aan my skryf die Afrikaanse akademikus: “So dikwels kan ’n mens wel vra of dit nie aan toewyding by ons skort nie. Die bittereinders van die Tweede Vryheidsoorlog was so toegewyd, die GRA-mense en van die latere taalstryders en Afrikaner-nasionaliste, en deesdae mense soos jy – maar dikwels is ons net ’n rukkie lank geesdriftig.”

Dis vir my ‘n besondere pluimpie dat hierdie bekende en geliefde navorser, skrywer van tientalle boeke, my in sy brief by die groep van toegewyde Afrikaners inreken. Hoewel ek my geensins vir ‘n groot Afrikaner wil uitgee nie, kan ek tog op grond van iemand anders se deskundige oordeel vandag die vraag aan ander vra: “Is u ‘n toegewyde Afrikaner?” Want sonder toegewyde Afrikaners en mense wat vir vryheid sal opoffer, sal ons nooit weer vry wees nie.

Die Afrikaner het vandag alles om vry te wees: ons het geld, ons het kundigheid, ons is opgelei, ons het organisasievermoë en logistiek, ons besit grond. Al wat by ons ontbreek is die wíl om vry te wees. En natuurlik: die toewyding.

Wat ons te doen staan, is baie helder. Die nuwe Suid-Afrika stort feitlik vanself in duie, vanweë korrupsie, misdaad, instroming oor ons landsgrense, diskriminasie teen blankes en wat nog. Hierdie orde wankel reeds; al wat nodig is, is ‘n goeie stamp vir hom om tot ‘n val te kom.

In die eerste plek moet alle Afrikaners daarvan oortuig word dat die huidige stelsel nie meer legitiem is nie en vervang moet word. Daarvoor kan ons die tegnologie en veral die internet, die Praagwebwerf en Facebook, gebruik. Maar nogtans het ons geld daarvoor nodig.

Soveel kere was ek in die onlangse tyd al by ryk Afrikaners. Suksesvolle mense, met groot en duur motors, ‘n huis in die stad, ‘n huis by die see, dalk ‘n plaas, selfs woonstelle in die buiteland. Die man verdien een miljoen, selfs twee miljoen rand per maand. Maar as jy hom vir R1000 per maand vir ons stryd vra, dan moet hy eers bietjie gaan nadink. Dan vra jy hom vir R500 of nog minder. Maar selfs R50 per maand is vir hom te veel, want hy is tevrede om onder ‘n vreemde regering bloot geld te maak en die feit dat honderde duisende van sy volksgenote nie so gelukkig is nie en onder die ANC krepeer, skeel hom min.

So ‘n man is wel toegewyd aan homself, moontlik aan sy gesin, maar hy is geen toegewyde Afrikaner nie.

Ek wil u nou vra om saam met my te begin veg vir vryheid. Nooit sal ek aanvaar dat ons vir altyd onder ‘n vreemde regering moet dien en nie onsself kan regeer nie. Dis ‘n basiese mensereg, iets wat die meeste volke op aarde as ‘n gegewe beskou. Maar daardie fundamentele vryheid word van ons weerhou.

Word saam met my ‘n toegewyde Afrikaner. U kan baie doen, u kan min doen, maar doen iets! U kan R100 000 per maand bydra of u kan R10 bydra. Maar dra iets by! Moenie net ‘n passasier wees nie. Moenie net op die kantlyn staan en kyk hoe ons toegewyde Afrikaners dag vir dag ons almal se vryheid probeer herwin nie.

Daar is ‘n ou spreuk wat lui: ons veg een vir een, maar ons word sáám oorwin. Dis nie nodig dat alle Afrikaners of selfs die meerderheid vryheid nastreef nie. Maar ‘n beduidende groep sal wel toegewyd aan die saak van vryheid moet raak.

Is u een van hulle?

Raak betrokke!

Klik hier om by Praag aan te sluit.

free slots no download no registration with bonusтопкарго развод

Brink se hatige strydskriffie

Vandag is GRA-dag en ons almal vier die amptelike ontstaan van Afrikaans as kultuurtaal 135 jaar gelede toe die Genootskap van Regte Afrikaners gestig is. Van die begin af is daar ywerig letterkunde in Afrikaans voortgebring. Van 1994 af het die Afrikaanse letterkunde gekwyn en word dit gekenmeer deur ‘n ideologiese beheer van die staat soos in Sowjet-Rusland, met die groot uitgewers wat hoofsaaklik polities korrekte boeke, dikwels in geradbraakte Afrikaans, publiseer.

Op 14 Junie het ek die volgende brief op LitNet gepubliseer, in repliek op ‘n uiters bevooroordeelde resensie wat André P. Brink in Rapport oor my roman Moltrein geskryf het. Toevallig het ek nou weer daarop afgekom en vind dit gepas om dit vandag, ‘n dag waarop verskeie Afrikaanse organisasies mense aanmoedig om boeke in ons taal te koop, weer te publiseer.

André P Brink het op Sondag 6 Junie 2004 ’n bevooroordeelde tirade in plaas van ’n resensie oor my boek Moltrein geskryf. Ek kon glad nie my roman in sy uitbarsting herken nie.

Brink het nog altyd ’n erg moralistiese streep gehad. As hy hom reeds in sy mees onlangse roman, Anderkant die stilte, belaglik gemaak het met sy gepreek oor kolonialisme en die wreedheid van alle blanke Duitse mans, bereik hy hier nuwe hoogtes as hy my arme klavierspeler van “manlike chauvinisme” beskuldig op grond van een reël wat in sy skokkende glorie as bewysstuk uitgestal word. Brink gaan met my boek om soos die destydse Aksie Morele Standaarde met Leroux se Magersfontein gemaak het: hy het — lyk dit my — deur die hele boek geblaai op soek na, enersyds, lelike woorde en andersyds ’n gebrek aan politieke korrektheid.

Kennelik is dit gedoen om my roman te diskrediteer, om dit aan te bied as een of ander sensasionele katalogus van erotiese tonele wat hulself een na die ander onsamehangend afspeel. Wat my egter verbyster, is die infantiele en selfs vulgêre manier waarop Brink, wat homself daarop roem dat hy ’n kenner van letterkunde is, hierdie aspek benader. Dit is nie eens studentikoos nie; dit is net ordinêre swak smaak.

Brink het hom nou al meermale onderskei as iemand wat dit moelik vind om by die onderwerp te hou. As hy nie tydens ’n lesing oor Van Wyk Louw, soos verlede jaar by RAU, ’n hele kwartier aan Jackie Nagtegaal se kreatiewe taalgebruik afstaan of as ’t ware skuimend om die mond teen George W Bush lostrek nie, lei hy sy reeks stommiteite oor my roman in met ’n “storietjie oor die cockney, so ’n Andy Capp-mannetjie” wat ’n motor wil koop. ’n Mens sou ’n hele Freudiaanse analise kon doen oor Brink se verklaring dat hyself deur my boek, soos hy dit stel, “gefok” voel, sy dit dan sonder passie, maar ek wil vra: van wanneer af is “passie” ’n literêre maatstaf?

Beskik Brink oor enige maatstawwe behalwe sy manie oor “manlike chauvinisme” en ’n skoolvosserige vitterigheid oor my taalgebruik? Om darem te beweer dat ek “belangeloosheid gebruik wanneer ek ‘onbelangstellendheid’ bedoel” is gewoon verkeerd wanneer die vierde uitgawe van die HAT, Perskor 2000, altwee betekenisse van “belangeloos”, dws “sonder betaling, sonder eie voordeel”, maar ook “sonder belangstelling”, erken. Ek het reeds voorheen gedreig om Brink se Donkermaan weer ’n keer deur te lees weens die irritasie van sy vele anglisismes, om van die lukrake invoeging van Engelse woorde nie te praat nie, want dit lyk my ons letterkunde wat in die verlede darem debat oor ’n paar idees of beginsels toegelaat het, behels deesdae ’n heksejag oor mekaar se “skryffoute”.

Waaraan ’n mens jou nog meer verwonder, is dat Brink, die taalkundige libertyn en apologeet vir Nagtegaal se “loslit-, losmaag- en oopgulp-Afrikaans”, om Kas Landman se tipering te gebruik, nou skielik sy liniaal uitgehaal het om letterlik die lengte van my sinne te meet en selfs ’n verkeerde gebruik van die verlede tyd bespeur.

Maar uiteindelik weet ons albei waaroor dit gaan: dit is veel minder ’n kwessie van grammatika of gebrekkige passie as twee wêrelde in botsing. Jare lank is ek en ander eintlik verhoed om te skryf deur die groteske stereotipes en karikature van Afrikaners en apartheid wat deur Brink, Gordimer et al die wêreld ingestuur is. Soos Talleyrand gesê het, “Tout ce qui est exagéré est insignifiant” (Alles wat oordrewe is, is onbenullig.) Hierdie oordrewe geskrifte noem hulle “Sefefrikin Litritjur”. Dit wat Brink so ontstig in my boek, is juis die oneerbiedige hantering van al die politieke clichés wat by die jaart uit die koloniale woordverwerkers gestroom het. Oor en oor in Moltrein gebruik ek die term “apartheidsland”, byvoorbeeld, in ’n verestetisering van die woord en uiteindelike weerwraak van die kuns op die politiek. Omtrent elke sin in die boek is ironies, maar dit het Brink nie agtergekom nie.

Daar is ’n hele klomp verwysings, van die ooglopendes na Proust en Balzac tot die onaangekondigdes, maar tog nie minder blatant nie, soos byvoorbeeld die gedeeltes oor die passages wat leen by Walter Benjamin se Passagenwerk. Brink se hatige strydskriffie in Rapport maak geen melding daarvan nie. Uiteraard was Benjamin ook ’n Paryse balling, wat in 1940 op die Spaans-Franse grens selfmoord gepleeg het.

“Eendimensionele” voorstelling van Parys? Dan het Brink seker nog nie vir Berberowa of Nabokof oor die stad gelees nie, veral eersgenoemde se Le laquais et la putain.

Daar is ’n hele klomp idees in die boek, ook politieke idees. As Anton du Preez niks van politiek weet nie, is Brink se eie insigte op die amoebavlak. Onder andere sien die karakter die Suid-Afrikaanse revolusie van 1994 as die laaste stuiptrekking van die modernistiese gelykheidsideaal en wys op die paradoks van ’n oorname deur selferkende kommuniste hier by ons terwyl Europa hulle verwerp. Sover ek weet is die koppeling van Boerehaat en Jodehaat nie “holruggery” of “afgesaag” nie en sy siening van die Verligting as tegelyk rasioneel en irrasioneel, is nie net ’n eerste in Afrikaans nie, maar selfs binne ’n Europese konteks hoogs oorspronklik, al moet ek dit self sê.

Brink verraai, soos Gordimer, sy koloniale bewussyn as hy in gewyde terme na Houellebecq en Catherine Millet se onlangse werke verwys wat “gegrond is op ’n indrukwekkende filosofie.” Hulle is mos darem van “oorsee” en dus beter. Houellebecq is ’n kuriositeit en dikwels interessant, maar in sy uitbeelding van Westerse dekadensie het hy die klok gehoor lui, maar weet nie waar die bel hang nie. Ek verkies my eie sienings bo dié van Houellebecq.

Daar is ’n groot behoefte aan saaklike en insiggewende resensies om Afrikaanse romans vir ’n breë publiek toeganklik te maak. Op een stadium in die goeie ou dae het Brink dit tog in die einste Rapport reggekry.

Sy huidige styl pas egter meer by ’n kougomkouende tiener as by ’n afgetrede professor van Engelse letterkunde. Dit is iemand van sy leeftyd nie waardig nie.

* * *

Tot sover my stuk wat aan Rapport gestuur is. Hier volg nou verdere kommentaar wat nie direk op die resensie betrekking het nie, maar miskien tog wel daarmee verband hou:

Vir ’n geruime tyd reeds beskou ek prof André P Brink as irrelevant vir die openbare en intellektuele debat in Afrikaans. Iemand sê nou die dag vir my dat Brink en Gordimer “geteer het op die pornografie van apartheid.” Van Wyk Louw het gepraat van die “nuttige dollar” wat mens in die buiteland kon verdien deur Suid-Afrika af te kraak. Vir ’n lang tyd was dit net te maklik om nog ’n roman oor “liefde oor die kleurgrens heen” of “die hardvogtige mynbaas wat die werkers uitbuit” of “die selflose vryheidsvegter” of “die revolusie is op hande” of dergelike te skryf terwyl die hele problematiek van hierdie land geïgnoreer word.

Deesdae kan mens nog steeds fasiel wees, maar dit raak natuurlik moeiliker. Elke dag word ons deur die koerantvoorblaaie herinner watter gewelddadige chaos daar in Suid-Afrika heers, die Hobbesiaanse natuurstaat wat onder die mooiklinkende term “demokrasie” aangebied word. Die keiser is kaal, maar niemand durf dit sê nie.

Ongelukkig geld dieselfde naaktheid ook vir André P Brink, Nadine Gordimer et al. Vanaf Kennis van die aand het Brink sy hele oeuvre gewy aan die politiek korrekte verguising van sy eie mense. Omdat ek in Moltrein begin torring aan die stereotipes wat jare lank in die buiteland — in die media, maar ook in die letterkunde — oor ons versprei is, kan Brink reeds die gevaarligte sien flikker.

In ’n sekere sin bevind Brink, Gordimer et al hulself in dieselfde posisie as die kommunistiese skrywers wat tydens Stalin se bewind en daarna die Sowjet-Unie as ’n utopie opgehemel het en die Weste as ’n fascistiese diktatuur voorgestel het. Toe die krake in hierdie voorstelling eers begin verskyn, het hulle soos tiere baklei om die hele bankrot tradisie, asook hul eie boeke, van ondergang te red.

Miskien sou daar nog iewers vir Brink ’n plek gewees het as ’n soort doyen van die Afrikaanse letterkunde, gegewe sy internasionale bekendheid. Die feit dat hy egter nou vorendag kom met onbesonne ideologiese kritiek op enigiets wat nie met sy eie opvattinge strook nie, maak so ’n ererol eintlik onmoontlik. Trouens, vir die Afrikaanse letterkunde en denke om vooruitgang te maak, sal ons nie rondom André P Brink kan beweeg nie, maar bo-oor sy lyk, figuurlik gesproke.

Behalwe dat Brink se kleinlike moralismes en sjiek-radikalisme vir my afskuwelik is, koester ek, anders as hy teen my, geen wrok jeens die man nie. Soos Joan Hambidge egter iewers al vir Dirty Harry aangehaal het: Go ahead, make my day. Brink se klein provokasie mag my dalk net inspireer om finaal met die gemors wat die afgelope dekades deurgegaan het vir politieke prosa en die anti-apartheidsroman af te reken. Daar is destyds gepraat van “oopskryf”; dit is nou tyd vir afskryf.

Oor die afgelope tyd was daar eintlik te veel retoriek en etikettering, en te min werklike intellektuele argumentering in Afrikaans. Miskien is dit tyd om die hele debat rondom politiek en letterkunde weer in oënskou te neem, terwyl ons die Tendenzliteratur van Brink, Gordimer et al ontleed, om nie te praat van hul politieke en filosofiese idees — of gebrek daaraan — wat onder vernaamklinkende titels gebundel is nie. Nog nooit vantevore is soveel fasiliteit en domheid met soveel fanfare aangebied nie.

Sodra ek ’n paar dae grasie het, mag ek dalk ’n korterige opstel produseer rondom die tema van iets soos “Apartheidspornografie: die stereotipes van Brink, Gordimer et al.” Niks sal my groter plesier verskaf as om die hele benouende tradisie onder die soeklig te plaas, en die wortels daarvan in die Stalinistiese literatuurteorie bloot te lê nie.

Op ’n manier het die Berlynse muur nog nie in Suid-Afrika geval nie. Kom ons gryp ’n paar tienpondhamers en pak hierdie broodnodige werkie aan.

камины металлические дровяныелобановский александр харьков

Wat gee die nedia vir mediavryheid om?

In die onlangse debat oor mediavryheid in Suid-Afrika en die ANC se moontlik inkorting daarvan, is daar oor een kardinale kwessie geswyg, naamlik die rol van die media self. Beskik die Suid-Afrikaanse media, met hul geskiedenis van politieke en etniese propaganda – veral anti-Afrikaner-propaganda – oor enige morele kapitaal om beswaar teen groter regeringsbeheer oor die tradisionale media te maak?

Sinici sal sê dat, indien die media se inhoud onder beheer van ‘n ANC-komitee geplaas word, niemand die verskil sou agterkom nie. Volg die SAUK, asook die Avusa-, Independent- en Naspersgroepe nie reeds in meerdere of meerdere mate die ANC-ideologie slaafs na nie?

Die Suid-Afrikaanse media het nog nooit werklik vrye debat of ondersoekende joernalistiek beoefen nie. Afgesien van die geelpersskandale oor Joost of Steve wat dikwels die voorblaaie haal, is die meeste ander skandale wat op die lappe kom, afkomstig van die nasionale inligtingsdiens of selfs van buitelandse geheime dienste. Ons joernaliste verteenwoordig blote tusengangers in ‘n groter ideologiese en strategiese spel wat dikwels van buite ons landsgrense bepaal word.

Ook beskik die media hier te lande oor ‘n lang geskiedenis van etniese en politieke propaganda wat skaamteloos oor dekades gevoer is. Daar is min integriteit of verbintenis tot die waarheid. ‘n Goeie storie vir ‘n Suid-Afrikaanse joernalis is een waarin jy ‘n openbare figuur of ‘n lid van die publiek kan swartsmeer. Geweldsmisdaad, wat normaalweg sonder konteks aangebied word as iets so onvermydeliks soos reën of sonskyn, bied verdere sensasiemateriaal aan die media.

Belangrike kwessies word deur die media verswyg en joernaliste word soms verbied om oor bepaalde sake of persone te berig. Neem byvoorbeeld die begrippe “selfbeskikking” of “Afrikanervolkstaat” wat vir vele van ons mense brandende vraagstukke is, maar waaroor geen koerant of TV-kanaal vrye debat sal toelaat nie. Dit pas gewoon nie in by die Anglo-Amerikaanse “finale oplossing” wat sedert 1994 op ons van toepassing is nie. En ek gebruik hier doelbewus die term “finale oplossing” met sy konnotasies van volksmoord, want die eksistensiële aanslag op ons instellings, taal, kultuur, veiligheid en menswees wat ons vandag in dié land beleef, is niks minder as dit nie.

Spraakvryheid of die “audi alterem partem”-reël van Romeins-Hollandse reg, word as ‘n reël nie deur die hoofstroommedia in ons land eerbiedig nie. Merendeels is hul beriggewing, aanbieding en veral meningstukke eensydig, stiksienig en gedienstig aan die heersende orde.

Liberalisme is veronderstel om die heersende idee in ons land te wees, met sy implikasies van verdraagsaamheid en verskillende waarhede of sienings wat toegelaat moet word om vrylik geuiter te word. Die media doen egter sy bes om juis net een stereotipe siening van ons land en sy geskiedenis aan lesers en kykers op te dring: dié wat deur die ANC en SAKP se ideoloë vervaardig is. Dus is die enigste liberalisme waarvan daar in Suid-Afrika sprake is totalitêr van aard, waarby spraakvryheid en verdraagsaamheid geen rol speel nie.

Oor ‘n tydperk van maande en jare het koerante in die Nasionale Persgroep, asook die Afrikaanse TV-kanaal, KykNET, gepoog om my as “rassis” uit te skel en te stereotipeer. In pleitstukke wat tans voor die hof dien in die lastersaak wat ek teen Naspers aanhangig gemaak het, erken Die Burger dat die koerant my belaster het, maar vind dit terselfdertyd “in die openbare belang”. Naspers se uiteindelike doel is om my die swye op te lê en te sensureer, omdat ek na ongemaklike waarhede verwys en nie die eendimensionele aard van die openbare debat in ons land eerbiedig nie.

Daar was ‘n tyd, moontlik in die sestiger- en sewentigerjare, toe die Afrikaanse media en veral Naspers dalk ‘n soort spraakvryheid en sogenaamde demokratiese debat beoefen het, maar Die Burger en sy susterskoerante val vandag terug op die ou tradisie van propagandamondstukke vir ‘n ideologie te wees. In die verlede het hulle die Nasionale Party dikwels slaafs nagevolg. Al hul vyande was óf “ekstreem links” óf “verregs” en dié is met oorgawe verguis. Vír ‘n lang tyd het die Nasperskoerante hulself daarop toegelê om “die regse gevaar” onder Afrikaners in die vorm van die HNP, KP en Vryheidsfront hand en tand te beveg. Toe die linksomkeer in die vroeé negentigerjare kom, het die Nelson Mandela-persoonlikheidskultus, asook wat hulle as “demokrasie” beskou, die grondslag van ‘n nuwe propagandaveldtog geword.

Tot redelik onlangs is alle kritiek op die huidige bestel met sy korrupsie, geweld en minderheidsverdrukking as “verregse nostalgie oor apartheid” veroordeel. Rubriekskrywers en kommentators het eindelose ophemelings van “ons wonderlike grondwet” – waarvan feitlik elke klousule in terme van ras gekwalifiseer is – gepubliseer.

Die feit dat Suid-Afrika so korrup geraak het dat die polisiehoof vir korrupsie tronk toe gestuur word en radikale grondhervorming voor die deur lê, met nasionalisering wat by die 2012-kongres van die ANC ‘n besprekingspunt gaan wees, pla nie ons hoogheilige media nie. Wel ‘n ingryping in hul skyn-“onafhanklikheid”, want elkeen van die groot mediagroepe dien een of ander meester, al is dit bloot Mammon en die groter Anglo-Amerikaanse Ryk waarvan hulle die idees en waardes aan ons opdring.

Eintlik is dit ‘n geval van slim vang sy baas. Want wie is verantwoordelik vir die ineenstorting van die ou orde en die ANC se revolusionêre oorname van die weermag, polisie en staatsapparaat, anders as die Suid-Afrikaanse media? Jare lank is alles in die land in die naam van “apartheid” verguis en verdag gemaak. Die feit dat ons toe skoon water, elektrisiteit, werkende hospitale en munisipaliteite gehad het, het vir niks getel nie. Al waarvan die meeste joernaliste en redakteurs gedroom het, was van revolusie en sogenaamde “demokrasie” wat eintlik maar net ‘n ander woord vir ANC-oorheersing is.

Daar sou nooit sanksies vanuit die buiteland gewees het indien ten minste ‘n gedeelte van die plaaslike media nie jare lank met groot fanfare en baie onpatrioties ‘n vertekende beeld van ons land uitgestuur het nie. Dit geld veral die onliberale Engelse media wat in Afrikanerregering iets boos gesien het en wie se joernalistieke integriteit reeds met hul onredelike etniese haat jeens Afrikaners by die deur uitgewaai het. Die verwronge beeld van ons werklikheid waardeur Afrikaners gestereotipeer en as moordlustig en boos voorgestel is, terwyl swartes as lydende engeltjies geskilder is, is vandag steeds met ons.

Noudat, in die beroemde woorde van Pierre Vergniaud, “die revolusie sy kinders verorber” en die redaksiekantore self gevaar loop om onder revolusionêre beheer te kom, word daar luidkeels beswaar gemaak.

Persvryheid en meningsvryheid het in Suid-Afrika gesterf die dag toe die leuen geseëvier het. Gegewe die vele krisisse in die land, bestaan daar geen oop gesprek oor die oorsake daarvan of redelike alternatiewe nie. Want terwyl die media blou moord skree oor moontlike beheer deur die staat of die ANC, weet hulle aan watter kant hul brood gebotter is en dit is aan die kant van dieselfde ANC.

Ek moet sê dat ek persoonlik al hoe minder Suid-Afrikaanse koerante lees. Dag na dag en week na week is dit dieselfde onnosele en dikwels ongekunstelde menings wat aangebied word. Sapa is reeds ‘n vertakking van die ANC, want die mees absurde mediaverklarings deur die ANC-jeugliga of Jong Kommuniste word klakkeloos die wêreld ingestuur terwyl werklik belangrike nuus of verklarings deur die agentskap geïgnoreer word.

Die absurde beriggewing tydens die moord op Eugène Terre’Blanche was waarskynlik die laaste spyker in die doodskis van ons gedrukte media. Berigte oor kondome en toespelings op Terre’Blanche se gewaande homoseksualisme het op voorblaaie verskyn, met die aktiewe deelname van die nasionale inligtingsagentskap. Voortaan sou ‘n groot deel van die media geen geloofwaardigheid meer geniet nie.

Was dit nie vir die internet nie, sou ons reeds in ‘n totalitêre eenpartystaat geleef het, met die instemming van die media. Die redaksies van die meeste koerante, radiostasies en TV-kanale is dermate tot die revolusionêre transformasie van Suid-Afrika verbind dat hulle enigiets van die regerende party sal aanvaar, van grondhervorming en nasionalisering tot anti-blanke rassisme waarvan die hele politieke en ekonomiese stelsel deurtrek is.

Nog nooit was ondersteuning vir alternatiewe media in Suid-Afrika, veral op die internet, so belangrik soos nou nie. Want die hoofstroommedia is reeds deur die ANC gekoöpteer, al gee hulle self voor om nog “onafhanklik” te wil wees.

очки для плавания детские ценаОлександр Васильович Фільчаков

Poskaart uit Jerusalem

Die afgelope paar dae is ek op uitnodiging hier in Jerusalem. Ek is aangenaam verras deur hierdie ou, ou stad met sy sandkleurige, geometriese geboue van Jerusalemsteen, die versamelnaam vir allerlei soorte kalksteen wat al eeue lank hier vir bouwerk gebruik word. ‘n Mens dink onwillekeurig aan D.J. Opperman se “engel uit die klip”, want hier bou die mense geboue om vir ewig te hou.

Op straat sien ‘n mens vele ortodokse Jode, die mans met hul kenmerkende breërand, swart hoedens en die vroue met kopdoeke. Blykbaar is die geboortesyfer van ortodokse en sogenaamde ültra-ortdokose” Jode gelykstaande aan meer as sewe kinders per vrou, met die gevolg dat reeds 70% van die stad se inwoners uit polities regse, ortodokse Jode bestaan. Die laer gradeklasse op skool is reeds deur hierdie groot aantal godsdienstige kinders oorgeneem.

Ook die Afrikaner beskik, anders as die meeste Christene, oor ‘n sin en ‘n liefde vir die Ou Testament, die verhaal van die Israeliete se swerftog in die woestyn nadat Moses hulle uit Egipteland uitgelei het. Dan is daar die jaar 1948 wat sowel die aanvang van die staat Israel as die bewindsoorname van die Nasionale Party in Suid-Afrika gesien het. Gedurende die sewentiger- en tagtigerjare was daar militêre samewerking tussen Israel en Suid-Afrika. Met die val van die Afrikaner in Suid-Afrika ná die De Klerk-oorgawe, het ons land een van die mees anti-Israelse state ter wêreld geword met die ANC wat openlik vir die Palestyne teen die Jode kant kies.

Afrikaners en Jode het vele dinge in gemeen, onder andere dat ons in die wêreld ongewild is. Die Afrikaner se politieke selfmoord het hom nie gewilder gemaak nie. Inteendeel, terwyl ons voorheen in ‘n mate deur ons vyande gevrees en dus gerespekteer is, word ons tans net geminag en is veronderstel om ons ondergang en verdwyning as volk en kultuur met blybmoedigheid tegemoet te gaan. Vandag gaan die grootste radiostasie in Israel met my ‘n onderhoud voer en dit is een van die dinge waarteen ek die luisteraars wil waarsku, naamlik dat oorgawe terwille van vrede aan jou vyande soos die Afrikaner dit gedoen het ten alle koste deur Israel vermy behoort te word. Dis beter om ongewild te oorleef as om te sterf.

Die Afrikaner, wat tans op soek is na sy Nuwe Jerusalem of ‘n nuwe volkstaat waar ons uiteindelik veilig en voorspoedig sonder diskriminasie sou kon leef, kan egter ook vele lesse by die Israeli’s leer. Golda Meir het op ‘n stadium gesê: “Ons beskik oor ‘n geheime wapen; ons het nêrens anders om heen te gaan nie.” Is dit nie ook die geval met ons nie? Die ander Europeërs in Afrika – Britte, Franse, Portugese – kon almal na hul lande van oorsprong terugkeer toe hulle deur revolusionêre swart bewinde verdryf is, maar ons staan met ons rûens teen die see.

Ek is verras deur die groot aantal mense in Israel wat ons steeds goedgesind is. Vele Afrikaners is geneig om Jode aan die hand van radikale, kommunistiese Jode van die SAKP en ANC gelyk te stel, maar Israel is oorwegend ‘n konserwatiewe land en raak by die dag meer konserwatief, vanweé die hoë geboortesyfer van die ortodokses.

Terwyl Jerusalem die godsdienstige en politieke hoofstad van die land is, verteenwoordig Tel Aviv die sekulêre handelsentrum’n soort Johannesburg met hoë geboue, banke en ander maatskappye. Die Ben Gurion-lughawe is ‘n pragtige gebou, met iets monumentaals daarin, ‘n soort eietydse weergawe van die Bauhaus. Onderweg na Tel Aviv in die bus en omring deur klipwande langs die snelweg, sien ek skielik ‘n olyfboord wat hom in Bybelse simboliek aan my opdring. Dis belangrik om vrede na te streef, sowel vir Jode as Afrikaners, maar indien jou vyand nie tot vrede bereid is nie, is daar geen ander keuse as om self paraat te wees nie.

Oral in Israel by winkelsentrums word ‘n mens vir potensiële bomme of wapens gekontroleer, net soos in Suid-Afrika in die tagtigerjare ná die Kerkstraatbom toe die ANC stedelike terreur teen ons gepleeg het. Vandag vrees ons nie meer b omme in die winkelsentrums nie, maar wel die konstante aanvalle deur rassemoordenaars, verkragters en rowers wat blykbaar kenmerkend van “vrede en demokrasie” in Suid-Afrika geword het. Ek vra myself af wat nou eintlik die beste is: om ‘n eksterne vyand te hê wat bereid is om terreur te pleeg of om jou vyand aan die boesem te druk sodat hy jou in jou garagepad, in jou huis of op jou plaas kan kom aanval? Op straat in Israel voel ek veel veiliger as in Suid-Afrika, want geweldsmisdaad is hier laag en die bevolking is min of meer homogeen Joods, met Arabiere wat apart in hul eie buurte woon.

Die Duitse politieke filosoof Carl Schmitt het beweer dat vyandskap ‘n mens se politieke verhoudinge met ander bepaal en dit is baie waar. Daar gaan nie ‘n dag in Suid-Afrika verby dat ons nie daarvan bewus raak, hetsy deur die uitsprake van Malema, hetsy deur die arsenaal rassewetgewing wat die ANC voortdurend teen ons ontplooi, dat ons steeds in ‘n staat van vyandskap met die radikale swart elite van Suid-Afrika leef nie. Al is daar geen bomme in supermarkte meer nie.

Opvallend oor Israel is die wyse waarop Hebreeus as nasionale taal gehandhaaf word. Weliswaar is die meeste openbare tekens tweetalig in Hebreeus en Engels, maar die Hebreeus staan altyd bo om die prioriteit aan te dui. Ander kennisgewings is geheel en al net in Hebreeus en almal praat dit op straat, in winkels en restaurante.

Anders as die Jode van Israel, het die Afrikaner nog nooit sy openbare ruimte behoorlik kon verafrikaans nie en sedert 1994 het ons natuurlik net die agteruitgang van Afrikaans as openbare taal beleef. Tog beskik Afrikaans steeds oor dieselfde potensiaal om in ons toekomstige volkstaat of Afrikaanse republiek ‘n volwaardige nasionale taal te word wat ons mense kan saamsnoer en saambind.

Hier in die Midde-Ooste, die geboorteplek van godsdienste en kultusse, raak ‘n mens bewus van die opkoms van godsdiens – en godsdiensoorlog – in ons tyd. Die sekulêre wêreld van Wes-Europa wat sedert die Franse revolusie in 1789 kerke en staat apart gehandhaaf het, is sienderoë besig om te vergaan terwyl Islam veral besig is om ‘n nuwe teokrasie op die wêreld af te dwing. Dat Europa uiteindelik, juis vanweë die dalende geboortesyfer van agnostiese en sekulêre Europeërs, ‘n Moslem-kontinent mag word, lyk feitlik onafwendbaar.

Terwyl ek so verby die olyfboord en die rotswande in die Heilige Land reis, dink ek weer aan Afrikanerrevolusie, ‘n begrip wat so tien jaar gelede veral deur Carel Boshoff IV voorgestaan is. Soos Israel, sal die Afrikaner sy eie oorlewingsmodel moet vind en moet besef dat politiek, godsdiens en demografie alles ineengestrengel is, sonder die netjiese intellektuele afbakenings wat die filosowe van die Europese Verligting aan ons nagelaat het. Soos vele politieke wetenskaplikes en ontleders al aangedui het, is die tydvak van die Verligting besig om ten einde te loop. Ons word meer en meer gemotiveer deur, hetsy geloof in die klassieke sin, hetsy deur ‘n soort herrese primitiwisme en heidense barbarisme wat in die plek van die gestorwe Verligting gekom het. In Suid-Afrika beleef ons wreedheid en ‘n bloedlus op ‘n vlak soos dit kwalik onder die Asteke van Meksiko bedryf is toe mense daagliks aan hul songod geoffer is. Ons word as’t ware op die maat van ritmiese Amerikaanse popmusiek vanuit Amerika waarmee die massamedia die land oorspoel, uitgemoor. Voorwaar ‘n postmoderne geroffel van tromme.

Indien die Afrikaner hoegenaamd gaan herstel, sal ons radikaal en revolusionêr moet begin dink oor hoe ons, op die rand van ons huidige ondergang, ‘n nuwe identiteit en leefwyse kan smee wat ons kan vrywaar van Europese pessimisme en pasifisme.

Miskien gaan die dag kom dat die Afrikanergeboortesyfer, soos dié van die ortodokse Jode in Jerusalem, die swartman s’n gaan verbysteek. Ek het ‘n broertjie dood aan “Israelvisie” en soortgelyke sektariese idees, maar ons sal na die wortels van ons kultuur en geloof moet terugkeer. Die soort oppervlakkige Amerikaane geloofsherlewings wat ons tans in Suid-Afrika via ‘n figuur soos Angus Buchan ervaar, toon dat daar by ‘n groot aantal mense ‘n soeke na standvastigheid en ‘n toenemende afkeer van die sekulêre, liberale wêreldbeskouing bestaan.

Soos hier in die Heilige Land waar daar geen grense tussen godsdiens en politiek bestaan nie, sal ons ‘n model moet vind wat die Afrikaner in sy totaliteit as mens aanspreek. Die Afrikaner as verbondsvolk wat by Bloedrivier ‘n gelofte afgelê het, sal opnuut na vore moet kom.

Daar is vele Afrikaners wat dink dat die ANC-bewind en die geweldenaars wat ons tans teister deur God gestuur is om ons te teister en te straf omdat ons, soos vele dit stel, “die naam van die Allerhoogste uit die grondwet geneem het”, Sondagsport en ander vorme van sabbatsontheiliging begin toepas het en op baie maniere dekadent geraak het.

Daar is egter ook ‘n ander interpretasie van dié “toorn van God” wat op die Afrikaner neergedaal het. Gister in ‘n hotel in Jerusalem ontmoet ek mnr. Jan Willem van der Hoeven, ‘n Nederlander en Christen-Sionis wat in die besette gebied woon en ‘n vurige onderteuner van Israel is. Volgens hom gaan dit sleg met ons in Suid-Afrika omdat ons Afrikaners ons rug op die uitverkore volk van Israel gedraai het. Die ANC-bewind is erg anti-Israel en Suid-Afrika se buitelandse standpunt is so te sê dieselfde as die Arabiese en Moslemlande s’n.

Van der Hoeven is ‘n evangeliese Christen, asook vriend van die huidige eerste minister van Israel, en preek regoor die wêreld, veral in die VSA, waar hy die booskap uitdra dat God slegs diegene seën wie se verhouding met die Heilige Land reg is. Blykbaar glo Amerikaanse Christene toenemend dat met Obama, ‘n “halwe Moslem”, in die Withuis, is God besig om een ramp na die ander na Amerika te stuur, waaronder die finansiële krisis en die BP-olielekkasie.

Suid-Afrika het op ‘n stadium, veral onder Vorster, ‘n uitstekende verhouding met Israel gehad. Ná Mandela Jasser Arafat gesoen en Ghadaffi omhels het, is ons definitief in die kamp van die Jode se vyande.

Is Van der Hoeven reg en word ons tans deur God gestraf omdat ons ‘n regering finansier en ondersteun wat Jerusalem vir Islam wil herower?

Dit kan ‘n interessante teologiese en politieke debat word.

Die Afrikaner smag in sy huidige isolasie en staatloosheid na bondgenote. Myns insiens kan ons slegter doen as om die vele historiese bande wat ons met Israel het weer te verstewig. Op die vooraand van die sesdaagse oorlog in 1967 het ‘n Israelse afvaardiging Suid-Afrika besoek om duidendpondbomme te koop waarmee hul vegvliegtuie uiteindelik die Egiptenare se hele lugmag op die aanloopbaan vernietig het.

Toe PW Botha destyds as minister van verdediging vir Vorster gevra het hoe hy oor die verkoop van die bomme aan Israel voel, het dié geantwoord: “Wel, ons lees uit dieselfde boek, al lees hulle net die eerste helfte. Waarom nie?”

Ek sien dit as my taak om die vriende wat ons hier in Jerusalem het – vandag is daar ‘n moontlikheid dat ek die hoof van die buitelandse komitee in die Knesset gaan ontmoet – van ons volgehoue empatie en ondersteuning te verseker.

Elke Afrikaner behoort vir Israel in hierdie tye te bid waar hulle ook soos ons deur die wêreldmedia verguis word. Miskien reik hulle op hul beurt ook die hand van vriendskap na ons uit en help ons om uit ons eie verknorsing te kom.

куплю браданильченко юрій Харків