Hoewel ek Orania ’n interessante eksperiment in ekonomiese en kulturele ontwikkeling vind, verskil ek met Jaco Kleynhans dat Afrikaners die stede moet agterlaat.
Ons moet juis Pretoria en Johannesburg van die vreemdeling herower!
Albei stede beskik oor triljoene rande se infrastruktuur wat ons op ’n skinkbord aan Nigeriërs, Kongolese, Zimbabwiërs en ander nie-burgers oorhandig het.
Sonder om Orania as landelike idille en simbool gering te skat, waarom maak ons nie ’n plan vir ’n stedelike reconquista nie?
Blykbaar is daar reeds 700 000 arm Afrikaners landwyd wat in haglike omstandighede leef.
Waarom kan hierdie mense nie in die middestede van Pretoria en Johannesburg hervestig word en sodoende daardie ruimtes verafrikaans nie?
Kleynhans noem Israel “moeder van die Joodse volk” en model vir ons.
Maar Israel beskik oor twee groot stede, Tel Aviv en Jerusalem, wat onderskeidelik met Johannesburg en Pretoria vergelyk kan word.
Ek was onlangs in Israel op uitnodiging van die Joodse aktivis Avigdor Eskin en het vanuit die 25ste verdieping van ’n kantoorgebou in Tel Aviv foto’s van die stad se toringgeboue en snelweë geneem.
Maar wat my ook in Israel opgeval het, is hoe Hebreeus – ’n eens dooie taal – in die land as openbare taal gevestig is.
Afrikaans moet op soortgelyke wyse as die oorheersende taal in sekere stedelike gebiede uitgebou word.
Daarsonder sal ons taal wegkwyn tot ’n landelike dialek wat net in Orania gepraat en geskryf word.
Ook onlangs het ek Hillbrow besoek.
Hartseer was dit om jong Afrikanerdwelmslawe daar tussen die Nigeriese handelaars aan te tref en die verval van dié eertydse “Manhattan van Afrika” te aanskou.
Wie het die besluit geneem om al daardie geboue eenvoudig prys te gee?
Orania se groot bydrae tot Afrikanerpolitiek is die begrip “volkseie arbeid”, met Afrikaners wat alle soorte werk beoefen.
Indien ons dieselfde beleid in die stedelike gebiede begin toepas, met Afrikanersakemanne wat slegs Afrikaners in diens neem, sal ons van sowel Pretoria as Johannesburg stedelike Oranias kan maak.
Sonder stede sal Afrikaners en Afrikaans nie in die 21ste eeu oorleef nie.
Die meeste van ons is nie boere nie, maar verrig werk in die dienstesektor.
Ons regsgeleerdes, medici, opvoedkundiges, bankiers en IT-mense hou reeds Gauteng se dienste-ekonomie aan die gang.
Drie van die land se vier groot banke bedryf steeds hul hoofkantore in die Johannesburgse middestad.
Wat my die meeste in Israel beïndruk het, was die Joodse setlaars wat woonstelle of geboue in die Palestynse buurte van Oos-Jerusalem betrek het en daar die Israelse vlag op die geboue se dakke laat wapper.
Die dag as ons geboue in Pretoria en Johannesburg begin beset en die oranje-blanje-blou op die dakke hys, sal ek voel ons het weer ons wil om te oorleef teruggekry.
Om te vlug is nie meer ’n opsie nie.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.