“Dit is kommerwekkend dat SASCO vir die eerste keer by die Universiteit van Pretoria ’n meerderheid setels in die Studenteparlement het. Die hoeveelheid setels wat ’n organisasie in die Studenteparlement het, bepaal wie in beheer is en nie die hoeveelheid stemme wat ’n organisasie gekry het nie,” het Wouter Wessels, VF Plus Jeugwoordvoerder gesê.
Tydens die afgelope Studenteparlementsverkiesing aan die Universiteit van Pretoria (UP) het SASCO (ANC) in totaal 22 setels gewen, die VF+TAS 14, AfriForum 17, die DA 5 en Cope 2. Die VF+TAS het vir 13 jaar opeenvolgend hierdie verkiesing gewen en studente se belange verteenwoordig.
Wessels het bygevoeg dat dit ’n tragedie is dat SASCO effektief die meerheid setels gekry het as gevolg van die feit dat AfriForum, wat vir die eerste keer deelgeneem het, en ander organisasies die setels verdeel het.
Die Studenteraad by die UP word volgens ’n ingewikkelde proses saamgestel. Tydens die afgelope verkiesing is daar vir kandidate in setels per fakulteit gestem asook vir organisasies. Die organisasies het proporsioneel setels verkry wat te same met die ander setels (kandidate) die Studenteparlement vorm. Die Studenteparlement verkies dan die Studenteraad. Die hoeveelheid setels in die Studenteparlement is dus deurslaggewend in hierdie verkiesingstelsel.
SASCO het by ander instellings soos die Universiteit van die Vrystaat bewys dat hul slegs ’n sekere deel van die studentebevolking se belange verteenwoordig en dat hul Studenterade se effektiwiteit belemmer.
“Dit is van kardinale belang dat Afrikaans aan tersiêre instellings beskerm moet word. Die enigste manier om dit na die Studenteraadsverkiesing by die UP te verseker, is wanneer organisasies wat dieselfde belange verteenwoordig, soos VF+Tas en Afriforum, saamwerk. Daarom sal die VF Plus so ’n koalisie steun om sodoende studente teen SASCO se diskriminasie te beskerm,” het Wessels gesê.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.