{jathumbnail off}
{jathumbnail off}
Tot onlangs het Ghanese in hul herinneringe aan hul koloniale verlede hoofsaaklik gedink aan die talryke skermutselings teen die Britse koloniale mag.
Die Ghanese bestaan immers uit ‘n aantal bekende stamme met ‘n trotse koninklike geskiedenis en tradisies.
Hieronder tel die Ahanta-stamme wat meestal in ‘n soort konfederasie verskeie konings saamgevoeg het.
Slegs vae volksverhaaltjies het na die koloniale tydperk voor die koms van die Britte verwys.
Meer as 200 jaar voor die Britte Ghana beset het, en kort na Jan van Riebeeck ‘n verversingspos aan die Kaap gestig het, het die Nederlandse Wes-Indiese Maatskappy in 1656 ‘n ooreenkoms met die Ahanta gesluit. Die Nederlanders, wat egter al van 1642 in die gebied bedrywig was, het na die verdrag die Swede uit Butre geboender en hul hoofsetel hier gevestig.
Hierdie verdrag het meer as 200 jaar ‘n betreklike rustige verloop gehad, wat grootliks toe te skryf was daaraan dat die Nederlanders die inheemse koningkryke min of meer intakt gelaat het, en die verdrag min of meer hanteer het soos dit bedoel was – die skepping van ‘n gebied waaroor Nederland slegs ‘n protektoraat uitgeoefen het.
Die verdrag het bestaan tot die gebied in 1872 Britse besit geword, en die koloniale karakter behoorlik ingetree het.
Die tydperk van die Nederlanders was nie net maanskyn en rose nie, blyk dit nou uit geskrifte van Westers-opgeleide Ghanese. Hul meer kritiese gryp na die pen oor die pre-Britse tydperk is veral deur een insident aangevuur – die ontdekking van die kop van ‘n Ahanta-koning in versterkwater by die Universiteit van Leiden. Die kop is in 2005 deur ‘n Nederlandse navorser ontdek, en teen die tyd toe die kop verlede jaar formeel aan die Ahanta-koningshuis en die Ghanese regering besorg is, het baie water in die see geloop. In Ghana self het tradisionaliste en verwesterde Ghanese verskillend oor die sakie gevoel, terwyl die teruggawe van die kop van ‘n Ahanta-koning aan lede van ander stamme ‘n boodskap tuisgebring het dat die Ahanta as belangriker as hul stamme beskou word. Veral die trotse Ashanti het die saak as ‘n klip in die maag beleef. Die Ashanti-ryk se geskiedenis is veel bekender as dié van die Ahanta.
Intussen is die geskiedenis min of meer gerekonstrueer oor hoe die kop in Nederland beland het.‘n Aantal Nederlanders (die getalle wissel van twee na agt) is op bevel van koning Badu Bonsu II doodgemaak. Afhangende van of die geskiedenis uit ‘n Ghanese of Westerse hoek benader word (die Ahanta beweer die groepe was op ‘n gebruiklike uitstappie om jong manne as slawe en soldate vir die Nederlanders te vang) het die koning in gevolglike teenoptrede in die slag gebly. Volgens sommige bronne het hy gesneuwel, en volgens die ander en waarskynlik die mees geloofwaardige, is hy verhoor en opgehang. Sy kop is hierna afgesny, en na Nederland geneem.
Suid-Afrika het moontlik ook ‘n spreekwoord uit hierdie vervloë geskiedenis opgedoen – dat daar dadels van iets kom.In 1818 sterf die destydse Nederlandse goewerneur, Herman Willem Daendels (met wisselvorm Daedels) in die Nederlanders se destydse Ghanese hoofsetel, St. George d’Elmina. Wikepedia beskryf sy sterfte as die onvervulling van sy Ghanese ambisies, wat baie groot planne ingesluit het.Die malaria wat daartoe gelei het dat van sy Ghanese ideale dadels gekom het, was egter nie al geleentheid waar sy drome nie in vervulling gegaan het nie. Ook van sy senior posisie as soldaat aan die kant van Napoleon se Bataafse besettingsmagte het nie veel gekom nie, en sy tydperk hierna as goewerneur-generaal in Batavia het ook min blywende prestasies opgelewer.Dit is juis sy heerskappy in Batavia waar die uitdrukking, dadels van kom, waarskynlik sy ontstaan het en in die Kaap neerslag gevind het.
Naas Java was die kleiner eiland, Madura (Madoera), ‘n baie belangrike deel van die Nederlandse Oos-Indiese besittings. Madura weer, staan ook bekend as die eiland van “Komen en Gaan,” wat betreklik onlangs weer lewe ingeblaas is deur die verskyning van ‘n Nederlandse boek met dié naam, en wat oor die eiland handel.
Die benaming kom egter uit ‘n veel ouer era, toe talle Indonesiese eilande, waaronder Madura, deel was van die ryk van Koeblai Kahn.
Destyds moes senior amptenare wat na die eilandbesittings gestuur word en herroep word, van die beskikbaarheid van gewone handelskepe gebruik maak. So het dit nie net gebeur dat selfs die goewerneurs voortdurend “gekomen en gegaan” het nie, maar dat die kolonies selfs baie agteruitgegaan het in die langdurige afwesigheid van goewerneurs en hul administrasies. Madoera in die besonder is baie erg geraak deur hierdie “komen en gaan” van goewerneurs.
Hoewel min bronne na die uitdrukking van “Daendels van Komen en Gaan” verwys, kom dit tog voor.
Koppel hieraan Wikepedia se beskrywing na afloop van die Ghanese hoofstuk: “Eventually none of the plans came to fruition” dan is dit moontlik dat Daendels wel ‘n blywende indruk op Afrikaans gelaat het.
In die Kaap het skynbaar juis ‘n persepsie bestaan dat Daendels nie besonder bekwaam was nie. Die laaste Nederlandse goewerneur aan die Kaap, Jan Willem Jansens, het vir Daendels as goewerneur-generaal van Batavia opgevolg, en tussen dié twee was sake nie baie gemoedelik nie. Daendels het probeer wal gooi dat Jansens hom opvolg, maar hiervan het dadels gekom. Toe was Jansens weer erg krities in sy verslae oor sy voorganger – blykbaar onnodig krities.
Of die uitleg hierbo voldoende bewys dat ons “dadels van kom” met Deandels of sy wisselvorm Daedels verband hou, is ongelukkig moeilik om te bewys. Miskien moet die romantiek behou word soos wat Jan Rabie bewys het sy dorp, Onrus, se naam kom van ‘n eiland in die baai van Batavia, wat deel van die “Onrust Eilande” uitgemaak het, met ‘n melaatse kolonie op een daarvan. Onrus het ook eens ‘n kolonie vir melaatses gehuisves.
Objektief is dit geen bewys nie, maar dit is so ‘n mooi storie, ‘n mens kan dit maar gerus glo.
So aan die begin van die jaar wil-wil mense weer mismoedig word, en plek-plek is bure vir mekaar suur. Soos waar die een se feestelike klappers die ander se boerboel die vreeslikste vrese op die lyf laat loop het.
By oupa Nic op die plaas het die oujaarsaand-joligheid ‘n paar nuwejaarsongevalle met messteke opgelewer.
Maar is Suid-Afrikaners werklik so uniek op die negatiewe ingestel?
Gaan tik nou die woordjie “humor” in Google in. Dit lewer amper 100 miljoen trefslae op. Sommiges in Afrikaans en sommige in Nederlands en ‘n klompie in ‘n onbekenderige taal, Engels.
Neem nou Engels en kies die woord “angry” as ‘n nuttige teenoorgestelde vir humor. So onbekend soos Engels ook al mag wees, dit lewer vier keer soveel trefslae as “humor” op.
Herrie is skoon ontGoogled.
Om te wys Afrikaners is baie minder negatief, gaan tik nou “kwaad” in Google in. Dit lewer minder as drie miljoen trefslae op.
‘n Mens hoef nie eens ‘n FF in Suid-Afrika se matriekwiskunde te hê nie om te weet dit maak Afrikaners baie minder negatief as die Engelse.
Afrikaners is mos plesierig,
Dan hou hulle ‘n opskop
Vry en steek ‘n stywe dop,
En raak dan vreeslik rumoerig …of so iets gaan die liedjie mos.
Maar om wetenskaplik suiwer te wees en die hipotese mooi van teorie (want dit werk nie in die praktyk nie) na wetmatigheid te neem, kom ons doen nog ‘n wetenskaplike toets.
Tik in: “braaf.” Dit het een en ‘n half miljoen trefslae. Tik in “vreesbevange” en ‘n mens kry maar 22 000.
Gaan tik “brave” in en dit lewer 42 miljoen op, maar gaan tik die Engels vir vreesbevange in, “bang” (uitspraak bêng) en dit lewer meer as ‘n 100 miljoen trefslae op.
So het Herrie te ene male bewys die Afrikaners is vroliker as wat hulle suurknolle is, en dapperder as wat hulle lafhartig is, terwyl by die Souties die omgekeerde geld.
Slim ding dié, die rekenaar.
So lank mens jou rekenaarterminologie net goed onder die knie het, soos om te weet ‘n megabite beteken die muskiete is vanjaar groot, download beteken die afleweraars het die voggies vir die naweek se braai gebring, en off line beteken die boerboel het die nat biltong en droëwors op die draad bygekom.
{jathumbnail off}
Ek wil ‘n aanhaling gee wat deur niemand anders nie as dr. Anton Rupert gemaak is as spreker op ‘n vergadering van die “The African Affairs Society of America” in New York, in 1962. ( Verwys: I plead for my country and all its peoples.)
“What then has enabled South Africa to outstrip its African brother states in performance?
Firstly: The fact that South Africa has more educated citizens than any of the other states…
Secondly: We have not given one man one vote.
Lord Hailey, one of the greatest living authorities on Africa, said: ‘May it never be said that the African had asked bread and was given the vote …’
May it never be said of us that when the peoples of the world sought ‘freedom from want’ we gave them the ‘bondage of the vote …’
Thirdly: The white South African has a philosophy of economic activity…
Fourthly: The fact that the Whites have kept themselves separate and maintained a certain standard of living has caused them to set a standard to which the non-whites aspire. In the process the latter are being helped up, whereas the whites are not being pulled down.”
Baie interessant. Toets sy woorde en insig en meet dit aan die status quo tans in Suid-Afrika. Waar staan die Afrikaner ná segregrasie afgeskaf is?
Ek merk reeds die afgelope 15 jaar op hoedat baie mense – en dan verwys ek spesifiek na die Afrikaners en/of blankes van hierdie land – met ‘n selfvernietigende skuldgevoel sit oor die sogenaamde “verlede”. Soveel mense wat hulleself belas met ‘n nimmereindigende gevoel van skaamte en minderwaardigheid oor die vorige bedeling se toepassing van ‘n politieke beleid wat na bewering gemeenskappe blatant verontreg het.
Daar word tot satwordens toe gepleit, gesmeek, gebieg, knieë toe gegaan, voete gewas, aanhoudend om verskoning gevra oor die sogenaamde “verlede”. Beskuldigings in die pers word heen en weer geslinger en vingers word gewys na enige-iemand wat behoudend is in sy politieke sienswyse en lewensbeskouing.
Diegene wat ‘n voorkeur toon vir sy eie kultuur, en trots verwys na pres-tasies in die verlede deur mense van sy eie kultuurgroep (meer spesifiek die Afrikaner) word voortdurend uit verskeie oorde gekritiseer en gebombardeer met verwysings na die sogenaamde mislukkings van die verlede en byna gekruisig oor die “onmenslikheid” van die beleid van “apartheid”.
Hierdie gefabriseerde gewetenspropaganda word gekenmerk deur subtiele beïnvloeding en indoktrinasie deur ‘n verskeidenheid van drukgroepe wat die media as voertuig uiters effektief aanwend.
Bygesê, onkunde en ‘n gebrek aan insig onder die oningeligtes tussen ons gee waarskynlik ook aanleiding tot hierdie skuldgevoelens.
Dis egter verstommend hoe beïnvloedbaar die mens is en hoe maklik jy mense kan manipuleer. (Ou nuus − “Battle of the mind”)
Dis tog ‘n bekende feit dat nie alle gemeenskappe, volke, stamme, en etniese groeperinge dieselfde basis gebruik waarop hulle waardestelsels gegrond is nie. Om die waarheid te sê, daar is geen universele waardestelsel tans in die wêreld waarvolgens alle mense leef nie. Die liberale drukgroepe en menseregteorganisasies beywer hulle wel daarvoor, maar dis nog in sy kinderskoene.
Tans beywer hierdie denkskool hulle om alle kulture, tale en godsdienste gelyk te maak en ‘n “gemene deler” te vind. Jy kan dit op vele terreine reeds waarneem; ons leef mos in ‘n sogenaamde global village. Dit gaan egter jare neem om hierdie doelwit te bereik. (‘n Senior lid in die Amerikaanse militêre opset het op ‘n stadium in my teenwoordigheid gesê “We’re goin to Americanize the whole damn world”, wat dit ook al mag beteken.)
Om reg te laat geskied aan die audi alteram partem-reël moet die hele kwessie van “the evil system of apartheid” binne konteks beoordeel word en teen die agtergrond van gebeure hier in Suider-Afrika sedert 1652.
Gooi ‘n paar murgbene op die grond neer tussen ‘n klomp honger honde, ongeag die tipe hond. Jy sal opmerk hoedat elkeen onmiddellik vorentoe storm en probeer om gulsig alles vir homself toe te eien. Hoedat die sterkste hond wydsbeen oor die vleis gaan staan en grom, tande wys en hap na die naaste hond of opponent wat hom wil teengaan.
Dit veg, skeur en ruk totdat die dominante een d.m.v. “intimidasie” basies beheer van die situasie neem en homself help aan die meeste van die vleis. Dié wat kan, gryp ‘n stukkie en skarrel weg om dan in relatiewe vrede sy eie vleis eenkant in afsondering te vreet.
Ek het dit prakties beleef met my eie honde vir baie jare, ook vreemde honde se gedrag in dié verband dopgehou. Ook honde in ander lande (snaaks genoeg) tree so op, nie net hier in S.A. nie !?
Selfs by klein kinders sal jy min of meer dieselfde ding sien. Daar is ‘n ooreenkoms tussen die mens en dier se gedrag. Noem dit oerinstink.
Hierdie gedrag het direk te make met selfhandhawing
Sit ‘n klomp karretjies neer voor ‘n groep seuntjies en jy sien hoe gryp elkeen soveel as wat hy in sy hande kan hou. Sit jy ‘n bak lekkers neer en sê “vat vir julle” (sonder om uit te deel) dan gebeur dieselfde ding… hande vol word gegryp.
Jare gelede gedurende die sestigerjare, op die Swazi-grens waar ek groot geword het, het ek dieselfde fenomeen waargeneem. Ek en my broer het soms ‘n hele papiersak vol “Chappies” by die enigste kafee op die dorp gaan koop en dan vir dae lank loop kou aan die goed. (Jy kon 400 kry vir net R 1,00 daardie tyd.) Hier by 200 was jou kake lam gekou en het ons dan besluit om die goed eerder weg te gee vir die Swazi-klonkies met wie ons gereeld saam loop kettie skiet het, en wat dit meer sou waardeer.
Ons huis het reg teen die grensdraad tussen Swaziland en die RSA gelê met ‘n 6 voet hoë “split pole”-houtheining wat ons effens privaatheid ge-bied het. Terwyl ek en my broer dan bo-op die houtheining gesit het, het ons een of twee van die mannetjies wat ons ouderdom gehad het nader geroep en gevra of hulle kougom wou hê.
Binne enkele oomblikke was daar ‘n hele klomp (aan die Swazi-kant) wat in ‘n bondel gestaan en wag het vir die kougom wat ons in die lug sou opgooi. Die lekkers het nog nie grond gevat nie of die mannetjies slaat al vuis terwyl elke knaap probeer om soveel as moontlik van die lekkers in die hande te kry. Die hele groep van 12−15 swart seuns het vuisgeslaan sonder diplomatiese beredenering of eweredige verdeling van “eiendom” in ‘n poging om elkeen soveel van die lekkers as moontlik te kry.
Jy het seker ook al beleef (dalk in jou eie kinderjare en selfs nou nog?!) hoe jy die grootste stukkie koek of biltong sal uithaal tussen die res as jy die geleentheid het. Jy soek die beste uit vir jouself. Daar is nie ‘n mens wat dit nie doen nie.
Jy kies wat vir jou die beste of mooiste of grootste is.
Wie doen dit nie ?
Gooi jy ‘n paar mieliepitte voor ‘n klomp tarentale, duik almal tegelyk na elke pit wat val in ‘n poging om soveel as moontlik daarvan te kry, sonder inagneming van die ander.
Sogenaamde “apartheid” het direk en indirek te make met doodnormale menslike gedrag en simboliseer eintlik maar net die pitte wat val waarvoor elke hoender hardloop.
Die hele ideologie van “apartheid” manifesteer reeds vir eeue op allerlei maniere in baie lande van die wêreld (nie net in Suid-Afrika nie) as ten minste ‘n komponent van landsbestuur en alles wat daarmee saamhang.
Die burgers uit die onderskeie Europese stamlande, as jy wil, het ten spyte van verskille hier en daar, ‘n ooreenstemmende benadering gehad wat lewenswaardes betref. (Verwys na die aankoms van die witman uit Europa hier aan die suidpunt van Afrika.) Die Christelike godsdiens was die basis vir alles in stamlande soos Frankryk, Duitsland, Holland, asook selfs in Brittanje.
Vanuit hierdie Christelike, Calvinistiese en Lutherse perspektief is “reg” en “verkeerd” dan ook beoordeel.
In teenstelling hiermee het die Afrika-volkere ‘n totaal ander waardestelsel aangehang. Tussen die twee pole wat mettertyd ontmoet het hier op die suidpunt van Afrika was grondige verskille (letterlik en figuurlik) duidelik waarneembaar wat meegebring het dat die een groep in ‘n totaal ander maat gemeet het as die ander groep.
Dit was dus logies dat konflik sou ontstaan. Gewelddadige skermutselings, wedersydse aanvalle, klopjagte, bloedige gevegte en veldslae het dan ook sporadies opgevlam.
Kon nie anders nie… normale menslike gedrag regdeur die wêreld reeds vir eeue lank.
Op die boom van die beker beskou was die oorsprong hiervan ‘n botsing van eiesoortige waardes en belange!
Die pioniers wat die binneland in is, het hulle nie vasgeloop in beeskampe, wilddrade, teerpaaie, wingerde, hospitale, skole, kerke, navorsingstasies, dorpe, lughawens en stede nie.
Die pioniers het wel met kaart, kompas, geweer, Bybel, pik, graaf, knyptang, stewel en skoolboeke die land wat hulle bewoon het, begin ontwikkel; natuurlik met die fisiese hulp van die inheemse gemeenskappe.
Nou is dit so dat, toe die eerste skole opgerig is, geen handboek bestaan het in Zoeloe, Xhosa, Tswana, Sotho, Venda, Shangaan of Ndebele nie. (Verwys: Geskiedenis, Aardrykskunde, Wetenskap, Biologie, Houtwerk, Wiskunde, ens.)
Wie se skuld was dit ?
Kan jy hierdie leemte voor die voete lê van die Europese groepering wat nooit enige kontak met die inheemse rasse gehad het voor hulle aan die Kaap nie geland het nie?
Waarom die groot verskil tussen die twee groepe met die ontmoetslag?
Wie was verantwoordelik vir die ongelykheid?
Wat was die noodwendige gevolg van hierdie ongelykheid?
Die hond kyk na homself… die tarentaal doen dit… die mens ook.
Die pioniers het aanvanklik eers met Duits, Frans en Hollands as voertaal en later met Afrikaans wat mettertyd ontwikkel het, hulle skole opgerig en met hulle eie kinders se opvoeding aangegaan. Engelse pioniers (1820) het later ook aangegaan met onderrig in hulle eie taal.
Logiese menslike gedrag, om na jou eie om te sien.
In hierdie tyd het die swart stamme ook aangegaan met wat hulle vir honderde jare gedoen het, nl. hulle eiesoortige manier van leef, opvoed, kultuur, jag, veg, ens.… ook na hulle eie omgesien. Hulle het ook nie die Europese nasaat/pionier probeer betrek by hulle aktiwiteite en leefwyse nie.
Logiese menslike gedrag… om na jou eie om te sien.
Die blote feit dat daar so ‘n verskeidenheid van swart stamme was wat elk sy eie grondgebied bewoon het, ‘n eie taal gebesig het, kenmerkende kleredrag, hooftooisels en huisversierings gehad het en nie met mekaar wou meng nie is ook maar ten diepste ‘n manifestasie van “apartheid”.
Die Zoeloes wat uit ‘n magdom van kleiner stamme bestaan het, het dan ook mettertyd ervaar aan die hand van Shaka (wat ‘n imperialistiese strewe gehad het) hoedat die kleiner groeperinge bymekaar gedwing is d.m.v. moord en doodslag, ten einde sy heerskappy te vergroot.
Duisende wat nie wou buig voor die “kolonialisering” van hulle eiesoortige belange (want dis ten diepste wat dit was) nie, het gevlug.
Hulle weiering om te meng of te integreer verteenwoordig ‘n vorm van segregrasie of afsonderlike ontwikkeling, of “apartheid” as jy wil. Hulle wou hulle eiesoortige belange, kultuur en tradisies handhaaf, ten alle koste. Hulle was selfs bereid om te veg daarvoor… soos die Afrikaner!
Dis algemeen bekend dat daar baie min verdraagsaamheid is tussen sekere swart stamme of volke hier in Suider-Afrika. Ook elders in Afrika. In Zimbabwe word onmenslike geweld deur die dominante etniese groepering waaraan Robert Mugabe behoort, toegepas op die opponerende groepering/stam. Etniese konflik bars voordurend los in Afrika (Bv. Hoetoes en Tutsi’s met by die 800 000 mense wat in ‘n kort tyd brutaal vermoor is… sekere instansies koppel graag ander redes aan die konflik.)
Die natuurlike seleksieproses wat redelik ongehinderd sy gang gegaan het in Suider-Afrika vir 300 jaar het uitgeloop op een kultuur wat dominant was en sterker was as die ander, en wat die gang van sake bepaal het. (Kompetisie tussen lewende organismes, mense en kulture is ‘n doodnormale natuurverskynsel en vind spontaan plaas. Die een met die grootste selfhandhawingsvermoë word die dominante faktor.)
Die kultuur van die pioniers of Europese nasate as jy wil, het die lewe op die vasteland verander en het vooruitgang gebring, en nie andersom nie. Logies en feitelik korrek. Die Afrikakultuur het dit nie gedoen nie.
Waarom skuldig voel hieroor… oor jou voorgangers se vermoëns en positiewe insette?
In die proses het die pioniers die inheemse groepering probeer betrek. Hulle het skole, kerke en ‘n magdom van instellings gebou en tot stand gebring, om die mense blootstelling te gee aan die Westerse manier van doen. ‘n Uiters prysenswaardige stap. Dit was die sterker kultuur wat die pas aangegee het.
Dis feitelik korrek en nie andersom nie.
Daar was uiteraard teenstand. Om skielik jou kinders in skole saam te gooi met mense wat totaal ander waardes aangehang het, sou mos wrywing bring. Dood logies. Wie kan dit nie insien nie?
Net so moeilik as wat dit vir die Europese nasaat/ Afrikaner was om onder die Britse bewind sy “eie” af te sterf, afstand te doen van sekere bekende kultuurgoete en tradisies, en dit onder dwang te ruil vir ‘n ander kultuur met vreemde tradisies en gewoontes, was dit baie gevra van die swart inheemse gemeenskappe om ook van hulle “eie” op te offer en bv. in ‘n ander taal as sy eie skool te gaan.
Interessantheidshalwe, ek het self jare gelede met ‘n ou swartman op ‘n plaas in ‘n afgeleë gebied gepraat wat vir my gesê het dat hy nie wil hê sy seuns moet die Westerse manier van doen aanleer wat in ons skole gedoseer word nie. Volgens hom moes hulle in die veld bees oppas en die leefwyse van sy eie mense aanleer. Sy weerstand en kritiek het nie soseer oor die onderrigtaal gegaan nie, maar eerder oor vakinhoud.
Ek het dit heeltemal verstaan… en ek verstaan dit nou nog. Ek respekteer ander kulture se manier van leef en doen. Ek verwag egter presies dieselfde begrip vir wat “myne” is.
Feit is, die inheemse volke sou nog verder agtergebly het as hulle totaal geïgnoreer was weens hierdie gesindheid van weerstand bied teen “die manier van die witman” en moes hulle net eenvoudig skool toe met Westerse leerplanne, noodgedwonge.
As iemand ‘n probleem hiermee het, antwoord dan net die volgende vraag. Waar was die leermateriaal van die inheemse groepe op daardie tydstip, en wie is verantwoordelik dat dit nie bestaan het nie?
Waarom het die inheemse etniese groepe nie die vertalings gedoen en die totale natuur-, regs-, mediese- en geesteswetenskap oorgeskryf en alle vakrigtings vir hulle kinders in hulle eie moedertale aangebied nie? Waarom moes dit vir hulle gedoen word; waar was hulle akademici ?
(Hier verwys ek na die Afrikaner wat met die ontwikkeling van sy taal byna alle tersaaklike vakinhoud uit Engels, Hollands, Duits en Frans na Afrikaans oorvertaal het, ook nuwe begrippe, definisies en woorde gevorm het, die Bybel vertaal het… te veel om op te noem.)
Geen geskrewe literatuur van enige aard met inheemse oorsprong is ooit in die inheemse groepe se besit gevind sover my kennis strek nie. (Die Boesman het wel baie interessante rotstekeninge agtergelaat.)
Die rede vir gebrek aan parallelle ontwikkeling met dié van die Europese nasate daardie tyd was eenvoudig − inheemse groepe/gemeenskappe het nie die kapasiteit gehad om dit te doen nie. Punt.
Dis feitelik korrek.
Die logiese gevolg was dat waardeverskille en onewe ontwikkelingsvlakke aanleiding gegee het tot ‘n beleid wat skeiding, segregasie, en afsonderlike ontwikkeling tussen die twee strome of pole voorgestaan het, in alle fasette van die lewe hier in S.A.
Die ontwikkeling en vordering van die verskillende etniese en kultuurgroepe in dié verband was aanvanklik ‘n natuurlike proses wat redelik ongestoord sy gang gegaan het. Die Afrikaan, of nie-blanke dan, het grotendeels sy eie ding gedoen op sy manier, en dieselfde het gegeld vir die Europese nasaat, Afrikaner of blanke dan.
Uiteindelik het mense, tye en persepsies verander en het druk toegeneem om dinge aan te pas. Soos ‘n beskawing ontwikkel, so neem wetgewing toe en word al hoe meer aksies, gedrag en optredes van mense gereguleer ten einde die gemeenskap en sy handelinge te orden. Dieselfde het hier gebeur.
So het wetgewing ook mettertyd die leefwyse van alle mense in Suid-Afrika meer en meer begin reguleer. Voortspruitend uit die verlede en definitiewe verskille wat uitkyk en benadering betref, het ‘n sekere bestuurstyl ontstaan.
Ten diepste het dit vir die Europese nasaat gegaan om selfhandhawing van die blanke en/of Afrikanergroepering en alles wat laasgenoemde verteenwoordig of voor staan, en het “apartheid” uiteindelik die voertuig geword waarmee hierdie doelwit nagejaag is.
Die hond/tarentaal/mens/etniese groepering beywer hom vir sy eie welstand. Niks vreemds daaraan nie.
Belangrik: Dis duidelik uit my skrywe dat ek nie na die een groepering verwys as “reg” en die ander een as “verkeerd” nie, aangesien “reg” en “verkeerd” ‘n subjektiewe interpretasie van gebeure is. Jou verwysingsraamwerk beïnvloed jou persepsie.
Ek vereenselwig my egter weens my verbintenis tot die Europese of Hugenotenasate, met die belange van my eie (Afrikaner of Boer as jy wil) voor ek my vereenselwig met ‘n ander groepering bv. Britte of Pommies, Amerikaners of Yanks, Chinees, Eskimo of Tswana, ens.
Dis tog duidelik dat die Europese nasaat en/of Afrikaner hulle kultuur/ mense/godsdiens/tradisies sou beskerm en uitbou hier in Afrika en nie sommer net afstand sou doen daarvan nie.
Oerinstink… selfhandhawing!
Niks vreemds daaraan nie. Shaka en Dingaan het bv. hulle eie sienswyse oor ‘n reusegebied afgedwing tydens hulle heerskappy. Duisende wat hierdie twee here se siening geopponeer het, is in die proses vermoor (difeqane). Hope voorbeelde van “apartheid” oral oor die planeet, nie net hier nie. Die Amerikaners en die Rooi Indiane is ‘n goeie voorbeeld.
In die lig van die situasie soos geskets, en met inagneming van die grondige verskille in waardes, leefwyse, werksetiek, opvattings ens., het hierdie wesenlike verskille bygedra tot die feit dat die inheemse groepe in Suid-Afrika nie betrek was op politieke terrein om te help regeer oor die Europese nasaat/Afrikaner/Boer se doen en late nie.
Hier volg ‘n paar opvattings van die Afrikaner se kant af wat hom weerhou het daarvan om mag te deel in die politieke stelsel van daardie tyd.
Die bloedige rewolusies van Afrika het dit toe reeds vir jare gewys.
Wat het toe gebeur na verandering van regering wel plaasgevind het?
Was die verwagting ‘n geldige verwagting?
Maak jou eie afleiding.
Wat is jou persoonlike ervaring in dié verband?
Hier by ons in Suid-Afrika het geweldsmisdaad skrikwekkende afmetings aangeneem die afgelope 15 jaar. Tussen 25 000 en 30 000 mense per jaar word vermoor. (Verwys: Medical Reasearch Council/ Interpol/ Nedcore Project-statistieke die afgelope paar jaar. Reeds bykans 3000 blanke boere/vroue/kinders op plase is brutaal vermoor. (Verwys: TLU-statistieke.) Ons word gereken as een van die 3 gewelddadigste lande ter wêreld. En dan word ‘n oplossingsyfer van ongeveer 7% m.b.t. ge-weldsmisdaad genoem. Die verkragtingsyfer is die hoogste ter wêreld.
Was dié verwagting toe gegrond… wat is jou persoonlike ervaring?
Hoe gaan dit daar waar jy woon en werk?
Wat is die status van mediese dienste, onderwys, elektrisiteitsvoorsiening, wet en orde, plaaslike bestuur, instandhouding van infrastruktuur?
Dis onnodig om uit te brei hierop… ons almal weet dat standaarde en werksprestasie sodanig verval het dat dit gereken word as een van die primêre faktore waarom honderde duisende Europese nasate/Afrikaners die land verlaat het. Korrupsie onder staatsamptenare en politici, en plundering van staatsgeld woed voort soos ‘n orkaan in ons land.
Dit het dan ook oor groot dele van Afrika plaasgevind. Ook hier by ons is dit besig om te realiseer. Die ANC en die Kommunistiese faksie binne eie geledere is tans in ‘n magstryd gewikkel. Ons jeug beleef ‘n enorme moraliteitskrisis, jeugmisdaad ruk hande uit, leerlinge en onderwysers word op die skoolterrein geskiet, verkrag of doodgesteek…
Die geskiedenis het die Afrikaner se verwagtinge, weerstand en vrese dus korrek bewys. Hierdie stelling van my is nie ‘n subjektiewe mening nie, maar eerder ‘n feit wat sigbaar vergestalt word deur die harde werklikheid vandag in Suider-Afrika. Kyk om jou en oordeel self.
In die lig van bogenoemde feite is die sogenaamde beleid van “apartheid” wat mettertyd oor die jare ontwikkel het vanweë die besondere omstandighede hier in Suid-Afrika, glad nie vreemd of onverstaanbaar nie. En dan moet ek byvoeg: ook nie so ongeldig as wat dit afgemaak word nie.
Tans is dieselfde ding (growwe diskriminasie) besig om plaas te vind.
“Gelyke behandeling van alle mense…” een van die slagspreuke van die “struggle”, het in ‘n groot mate betrekking op sommige gelykes, nie op almal nie, en die verwagte utopie waarvoor die ANC hom beywer het, het nooit gerealiseer nie… die situasie is basies nou net omgedraai.
(Onthou jy my voorbeeld… die hoender pik soveel pitte op as wat hy kan… elke hond (wit of swart) vergryp hom aan soveel vleis as wat hy kan?)
Ek sluit af − ‘n prominente swart politieke figuur het ‘n paar jaar gelede in reaksie op ‘n stelling van my dat die huidige regering in praktyk homself skuldig maak aan ernstige diskriminasie, gesê: “You are right… we do practice discrimination through certain policies, strategies and legislation, but there are valid reasons for it”.
Ek het daarop gereageer en soos volg geantwoord: “You are also right with your accusation that the previous government’s policy of apartheid discriminated against a section of society… but there were valid reasons for it.”
Die geldigheid van die vrese, weerstand en verwagtinge daardie tyd onder Afrikaners dat eiesoortige waardes en belange nie gehandhaaf sou kon word onder ‘n swart regering nie, verkry geloofwaardigheid as jy kyk na die emigrasiepatroon wat ontwikkel het die laaste klompie jare sedert die verandering van regering plaasgevind het.
Meer as ‘n miljoen Europese nasate/Afrikaners het die land verlaat na state waar hulle wel hulle lewensbeskouing kan handhaaf. Belangrik om daarop te let dat hierdie 1,5 miljoen mense nie na state in Afrika, of na China, Roemenië of Iran geëmigreer het nie, maar pertinent na plekke waar hulle eiesoortige waardes en belange min of meer geakkommodeer word.
Hierdie gebeure bevestig die geldigheid van die redes vir ‘n beleid van “apartheid”, vanuit ‘n bepaalde hoek bekyk.
Die hele kwessie van “padgee” is in wese ‘n manifestasie van “apartheid”, m.a.w. ek verkies om te gaan as om te bly, as om te integreer met dit wat die swart regering bied. Dis simplisties gestel maar met behoorlike ontleding van die situasie sal jy uiteindelik by dieselfde gevolgtrekking uitkom. Die “padgee”-proses is spontaan… niemand word gedwing nie.
Daar was geldige redes vir die beleid van sogenaamde “apartheid”.
Die konsep is verdedigbaar.
Die uitvoering het plek-plek skeefgeloop.
Sekere reëls, bepalings, regulasies en wette het nie sin gemaak, net soos sekere dinge vandag nie sin maak in die huidige bestel nie.
Vreemd genoeg het die verwerplike “apartheidstaat” die toppresteerder van alle state op die kontinent geword… miljoene Afrikane uit Afrika stroom steeds hierheen… weg van hulle onderskeie lande, bankrot ekonomieë en eenpartyregerings waar onmenslike omstandighede heers wat ironies genoeg, die resultaat is van lande waar ‘n beleid van “apartheid” nooit toegepas is nie, en waar die Afrikaner of Boer nooit regeer het nie!
{jathumbnail off}
{jathumbnail off}
{jathumbnail off}
Toe pres. Jan Brand sy gevleuelde woorde geuiter het, “Alles sal regkom as elkeen sy plig doen” meen Herrie het hy nie besef hoe hy die spyker op die kop slaan nie.
Het hy byvoorbeeld kon voorsien dat ‘n fabriek in die VSA wat te veel fossielbrandstof in die atmosfeer loslaat, ‘n invloed het op hoe groot ‘n Vrystaatse boer se mielie-oes is?
Of dat iemand wat in Rusland iets lekkers onder sy arm spuit om ‘n meisie uit te neem, kan bydrae daartoe dat iemand in België velkanker kry?
Teen hierdie agtergrond is dit nogal belangrik dat mense Nuwejaarsvoornemens moet hê – van dinge wat hulle wil doen, en dinge wat hulle nie moet doen nie. Soos om pligsgetrou te werk, en om nie hul swaarverdiende geldjies in likiede bates te omskep nie.
Ja-nee, op elkeen rus baie verpligtinge van doen en late. Die lysie “late” is baie makliker om saam te stel as die “doen,” soos moenie rook nie, moenie drink en bestuur nie, moenie te veel kinders maak nie, moenie te vinnig ry nie, moenie die kat in die donker knyp nie, moenie die tuin verwaarloos nie, moenie die boer se skaap steel nie, moenie dwelms gebruik nie, moenie tsjôtsjô vat nie, moenie jou musiek so hard speel dat dit die bure pla nie.
Vir Julius Malema kan ‘n mens sy eie lang lys opstel …moenie praat voor jy dink nie, moenie jou vinger in oom Jerry se oog druk nie, moenie so bang wees nie…
So in die kinderskoene van die nuwe jaar wil ‘n mens egter positief wees, en daarom is dit belangrik om goeie gewoontes aan te leer: maak meer tyd vir die kinders, spaar die rookgeldjies en koop liewer kos vir die kinders en blomme vir vroulief, en in plaas van om die tong skerp te maak, sê vir mense vir wie jy lief is van hierdie toedrag van sake.
Jan Brand was reg, maar in daardie konteks nie heeltemal nie. Ons sê graag die Here help hulle wat hulself help, maar soms is wat ons wil, en wat die Here wil nie dieselfde nie. En Hy weet oneindig beter as ons.
Ons kan die beste bloudruk vir die nuwe jaar hê, maar nie almal wat vandag hier lees, gaan aan die einde van die jaar nog op die ondermaanse wees nie.
Staan diep in die geloof. In 2010 en daarna.
Dit is maar goed dat Herrie se deel van die brein wat met somme en wiskunde werk, die algemene Suid-Afrikaanse tendens van ontbrekende syfervaardigheid voorafgegaan het.
Dus kan, en hoef Herrie hom nie te verknies oor die numeriese smêsj van wat gebeur as tradisie en gelyke regte in Suid-Afrika mekaar ontmoet nie.
Natuurlik verwys Herrie na die prez se wedertroue. Sy vyfde.
In alle billikheid, as Herrie se optel- en aftreksomme klop, is dit nou eintlik sy derde vrou, nadat een oorlede is, en dr. Nkosazana hom “gefire” het.
Maar drie, meen Herrie, kan ‘n handvol wees as gelyke regte ter sprake kom. Veral vroueregte, wat, as Herrie miesies Gouws en ander feministe reg verstaan, beteken vroue het eers gelyke regte met mans as hulle meer gelyk as mans is.
Dit, volgens Herrie se bedenklike syfervaardigheid, beteken dat elkeen van Zuma se vroue (soos die gesin na Nuwejaar daaruit gaan sien) op vier mans geregtig sal wees om gelyke regte met die prez te geniet.
As Herrie se sommetjie reg uitwerk is dit ‘n totaal van veertien ouers in die gesin (Klein Herrie sê dis naby genoeg, Herrie is net een uit). Die lollery kom in, meen Herrie, as elkeen van die mans weer op nog twee bykomende vroue geregtig is, en dié weer op nog drie bykomende mans. Ad infinitum.
Herrie is al lankal haaks met die Vrystaatse Rugby-unie en ander instellings wat in Engels “Season tickets for the family” en in Afrikaans “Seisoenkaartjies vir die familie” verkwansel.
Synde die Cheetahs tradisioneel net die helfte van die “seisoen” speel, is kaartjies eintlik tot verhouding duur. Maar toe die Cheetahs met “seisoenkaartjies vir die familie” kom het dit darem na ‘n winskopie gelyk. Herrie het een aangeskaf, maar by die hek, toe Herrie met sy kroos, sy neefs met hul krose, en ‘n paar kleinneefs met hul krose opdaag beduie die rugby-unie hulle het eintlik “seisoenkaartjies vir die gesin” bedoel. ‘n Cheetah in die sak gekoop, as’t ware.
Maar Herrie sal graag wil sien wat die VRU maak as die prez en sy “family” met so ‘n seisoenkaartjie “for the family” opdaag, veral na die vroue hul gelyke vroueregte opgeëis het.
Volgens tradisie het ‘n man, as hy na ‘n termyn op die myn by sy tuisstat in die Transkei aankom, eers ‘n ent weg gaan sit en wag tot hy ‘n beeswagter of iemand kry, wat vooruit kan gaan om sy mense van sy aankoms te verwittig. Dis nou goeie maniere om nie die vrou in ‘n ongeneë situasie aan te tref nie.
Herrie weet eerlik nie of dieselfde tradisie in Zoeloeland geld nie, maar Herrie kry vreemde visies in sy kop as hy moet dink aan hoe gemaak met die heli-landsplek wat in die stat gemaak is, en nie ‘n ent weg soos wat tradisie dit vereis nie.
In Herrie se geestesoog sien hy ‘n vreeslike geskarrel as die heli skielik oor die horison verskyn en so onbedag naby sy bestemming gaan sit.
Maar Herrie kan om de dood nie dink wat die geskarrel sou veroorsaak nie.
Maar eintlik is die hele relaas en gewonder onnodig, want Herrie kan mos nie somme maak nie.
{jathumbnail off}
{jathumbnail off}
Die politieke geskiedenis van die periode 1966 tot 1993 kan getipeer word as NP-magspolitiek onder onderskeidelik B.J. Vorster en P.W. Botha en daarna kapitulasie of boedeloorgawe onder F.W. De Klerk.
B.J. Vorster
Balthazar Johannes Vorster (1915-1983) het as jongman hom sterk teen die Smuts-deelname aan die tweede wêreldoorlog uitgespreek. As gevolg hiervan is hy geïnterneer op Koffiefontein, waar hy en Hendrik van den Berg – die latere baas van die Buro vir Staatsveiligheid – groot vriende geword het.
In 1953 word hy vir die Nasionale Party tot die parlement verkies. In 1961 word hy minister van justisie. In 1966 vervang hy die afgestorwe dr. H.F. Verwoerd as eerste minister. In 1968 skaf hy die laaste vier blanke setels af wat die Kleurlinge verteenwoordig het.
Vorster keur goed dat swart diplomatieke verteenwoordigers in blanke gebiede bly en dat Maori’s in die nasionale span van Nieu-Seeland na RSA ingesluit word. Hy weier om diplomatieke erkenning aan die Rhodesië van Ian Smith te verleen. In 1974 deel Pik Botha, klaarblyklik in opdrag van Vorster, vir Ian Smith mee dat die RSA Rhodesië se “water en ligte” sal afsny as Smith nie tot ‘n politieke vergelyk met die swartes kom nie. Die Vorster-regering gee steun, in die geheim, aan biskop Abel Muzorewa en die voorspelling van die veiligheidsdienste, dat Muzorewa ‘n goeie kans staan om die Rhodesiese verkiesing te wen, was ‘n groteske mistasting. Mugabe wen die verkiesing. Die gemors wat ná die Mugabe-oorname in Zimbabwe ontstaan, moet dus by terugskouing op die debietrekening van die NP en gewete van Pik Botha gelaai word. Ian Smith noem sy hantering deur Pik Botha in sy “The Last Betrayal” verraad gepaardgaande met verreikende politieke kortsigtigheid. Reeds toe voorspel Smith dat SA in die voetspore van Rhodesië sal volg.
Vorster se volgende blaps was om regse parlementariërs van die NP dusdanig te vervreem, dat dr. Albert Hertzog en menere Jaap Marais en Willie Marais die Herstigte Nasionale Party geskep het. Deur gebruikmaking van sy veiligheidspolisie het Vorster nie net die ANC vervolg nie, maar staatsmag teen sy eie mense gebruik. Om Vorster te opponeer was om staatsgevaarlik op te tree. Vorster sal onthou word vir sy veiligheidswetgewing wat eerder binne die kader van ‘n diktatuur as binne ‘n regstaat tuishoort.
Tydens die regeertermyn van Vorster is die departement van inligting – as ‘n alternatief vir die linkse streepbroekbrigade van Pik Botha se buitelandsesakedepartement – uitgebou. Sien in hierdie verband die artikel op die Praagwebwerf, getiteld Die skandaal rondom die ‘inligtingskandaal. Vorster ontken in ‘n lekkasie deur persone in die “binnekring” na die media dat die Departement van Inligting “The Citizen”-koerant met staatsgeld gekoop het. Die leuen in sake die aankoop van The Citizen, wat deur Vorster ontken is, lei tot Vorster se “aftrede” in 1978. Die hand van Pik Botha het swaar op die vernietiging van Connie Mulder, Eschel Rhoodie en die departement van inligting geval. Die uitskakeling van Mulder en van die Rhoodies het meteens ook beteken dat die grondwetlike model van konsosiatiewe demokrasie van Arend Lijphardt, wat vir plurale gemeenskappe ontwerp is, van die tafel gevee is. Die val van Vorster het ‘n belangriker implikasie gehad: naamlik dat die buitelandse been van die departement van inligting onder die departement van buitelandse sake van Pik Botha tuisgebring is. Hierdie feit, meer as enige ander gebeurtenis, het veroorsaak dat Pik Botha, nou die alleenkanaal na die kabinet oor internasionale aangeleenthede was en tot die kapitulasie van die Nasionale Party gelei het.
Pik Botha staan as kandidaat vir die presidentskap terug vir P.W. Botha en verseker so sy posisie as minister van buitelandse sake. In ‘n sekere sin was Pik Botha dus medeverantwoordelik vir die val van Vorster en verkiesing van P.W. Botha as staatspresident.
P.W. Botha
Pieter Willem Botha (1916 – 2009) was vir lank minister van verdediging en toe eerste minister van SA (1978-1984) en die eerste uitvoerende president vanaf 1984 tot 1989. Hy is deur sy vyande die “groot krokodil” gedoop.
PW is ‘n Vrystater van geboorte. Reeds op 20-jarige leeftyd het PW sy studies by die Grey-universiteitskollege (die latere Universiteit van die Vrystaat) opgeskop en organiseerder vir die Nasionale Party geword. Hy was lid van die anti-Engelse Ossewabrandwag en ‘n voorstander van Christelike nasionalisme. PW verteenwoordig sedert 1948 die kiesafdeling George vir ‘n ononderbroke tydperk van veertig jaar. In 1958 bevorder dr. H.F. Verwoerd vir PW tot adjunkminister van binnelandse sake.
In 1966 word hy minister van verdediging in die Vorster-kabinet. In hierdie hoedanigheid het hy die weermag van SA tot ‘n formidabele mag uitgebou. In PW se ampsperiode is die Staatsveiligheidsbestuurstelsel tot ‘n effektiewe konflikbemiddelende struktuur ontwikkel. Knelpunte in die administrasie van swartes is ontbloot en vinnig aangespreek In die sewentigerjare word die ontwikkeling van SA se kernvermoë ‘n werklikheid. Sewe atoombomme is toe ontwikkel. In Angola ondersteun hy die UNITA-beweging van dr Jonas Savimbi tot in die tagtigerjare.
In 1983 word ‘n Driekamerparlement daargestel: die Parlement vir die Blankes, die Huis van Verteenwoordigers vir die Kleurlinge en ‘n Huis van Afgevaardigdes vir die Indiërs. Swartes moes hulle politieke ideale in die verskillende nasionale state uitleef. Die nuwe grondwet skaf die amp van eerste minister af. Die president word ‘n uitvoerende president. Die president en die kabinet neem beheer oor alle aangeleenthede wat van nasionale belang geag is. In 1984 word P.W. Botha tot president met uitvoerende magte verkies.
Sy politieke ideaal vir SA is die daarstelling van ‘n federale staat wat selfbeskikkingsreg aan die etniese tuislande sou gee. Tydens PW se bewindsfase kry die TBVC-state hulle “onafhanklikheid”. Aan hierdie state is nooit internasionaal erkenning verleen nie. Die verbod op veelrassige huwelike en veelrassige partye word onder Botha opgehef. Die bepalinge van die groepsgebiedewet word verslap. Botha is die eerste NP-leier wat onderhandelinge met Nelson Mandela toegelaat het, maar weier enige onderhandelinge met die ANC self.
In 1985 skep minister Pik Botha verwagtinge in die buiteland oor die P.W. Botha-Rubicontoespraak wat by die kongres van die Nasionale Party in Natal gehou sou word. Daar is verwag dat die President in Durban radikale politieke hervorminge in sake die swartes sou aankondig. In plaas daarvan is Botha uitdagend teenoor die internasionale druk op die uitskakeling van apartheid en verwerp hy die vrylating van Nelson Mandela. In 1986 plaas die Amerikaanse regering die Omvattende Anti-apartheidwet (“Comprehensive Anti-Apartheid Act”) op die wetboek. Oor die verwagtinge wat in die buiteland geskep is, het president Botha hom soos volg, aldus die joernalis Sike Bax, van Nederland uitgelaat:
“Ik zou voor een congres in Durban spreken over politieke ontwikkelingen op lange termijn maar had helemaal geen ‘Rubicon- ideeën’. Deze minister wilde mij alleen maar beschadigen en dat lukte aardig. Als ik hem tegenkom, die kans is minimaal, ‘sal ek hom kaalskop’. Hij zag kans verwachtingen te scheppen die nooit waar konden worden. Ik kreeg ervoor de kous op de kop. En dat was onmiskenbaar zijn bedoeling.”
Die Waarheid- en Versoeningskommissie het Botha van growwe nalatigheid beskuldig. PW self het egter volstrek geweier om voor die Kommissie te getuig. Hieroor spreek hy homself uit in gepubliseerde onderhoud met Bax:
“Eerst probeerde De Klerk nog of hij mij zo ver kon krijgen dat ik bij de zogenaamde Waarheids- en Verzoeningscommissie zou opdraven om verantwoording af te leggen. Ik vroeg hem: ‘Voor welke waarheid staat die commissie eigenlijk?’ Ik zet daar geen voet en vraag voor niets verontschuldigingen.”
P.W. Botha se ondergang in die politiek kan direk herlei word tot die Ronald Reagan/Mikhail Gorbatsjof-ooreenkoms (Moskou, 1988) oor die Suidwes-Afrika-aangeleentheid. As SA uitvoering sou gee aan VN Resolusie 435 van die Veiligheidsraad, is ooreengekom dat militêre hulp van die USSR sou ophou en dat Kubaanse troepe uit Angola onttrek sou word. Op landswye televisie het P.W. Botha, ná die verkiesing van F.W. de Klerk as leier van die NP, verklaar dat hy die kabinet om advies gevra het wat Botha as rede kan aanvoer vir sy bedanking as president. Daar is gesuggereer dat hy sy gesondheid moes aanvoer, waarop Botha kommentaar gelewer het dat hy nie kon lieg om sy gesondheid as rede aan te voer nie.
By die afsterwe van P.W. Botha op die hoë ouderdom van 90 jaar is ‘n staatsbegrafnis die familie aangebied, welke aanbod van die hand gewys is.
F.W. de Klerk (1936-)
F.W. de Klerk was president van SA in die periode Februarie 1989 tot September 1994. Hy was die leier van die Nuwe Nasionale Party vanaf 1989 tot 1997. Hy het in die regering van Nelson Mandela tot 1996 as een van twee visepresidente gedien. Hy het in 1997 uit die politiek getree. Hy is vir die eerste keer in 1969 as lid van die parlement verkies.
De Klerk sal onthou word vir die vernietiging van SA se atoombomvermoë, vir die aftakeling van die Staatsveiligheidsbestuurstelsel en beëindiging van ‘n beleid van afsonderlike ontwikkeling. De Klerk ondersteun die transformasie van SA na ‘n nie-rassige demokrasie.
Vir sy rol is die volgende internasionale toekennings aan hom gemaak:
De Klerk is ‘n afstammeling van ‘n familie wat bekend was vir hulle konserwatiewe lewensuitkyk. Sy grootoupa was ‘n senator. Sy oupa het twee keer onsuksesvol vir die parlement gestaan. Sy tante was getroud met eerste minister J.G. Strydom. Sy vader, Jan de Klerk, was ‘n bekende minister en later president van die senaat. Die politieke bollemakiesie wat De Klerk gemaak het, is moeilik te versoen met sy agtergrond en optrede in die politiek. Behalwe as die geskiedenis deur magte buite die mens om gerig word?
Die naam De Klerk is afgelei van die Franse Le Clerc of Le Clerq wat letterlik “die klerk” beteken. Die naam “die klerk” bring in gedagte ‘n visioen van die bekende dertiende-eeuse siener, Nostradamus. Volgens Landman in sy Land van die Olifant (2009) skryf Nostradamus van ‘n land wat hy die Land van die Olifant noem. Wanneer die Westerse sosiaal-maatskaplike orde sy einde nader, sal die internasionale mag na die donker volkere verskuif. Die Christelike sal gemarginaliseer word. Range en ampte wat hoog is, sal laag wees en wat laag was hoog word. ‘n Verleier, wat die wêreld met sy charismatiese persoonlikheid verower en wat in die tronk is, sal deur Le Clerq vrygelaat word. Professor Eben Venter, ‘n kenner van die klassieke Frans en van Nostradamus, verklaar hierdie visioene van Nostradamus sodat dit op SA betrekking het.
{jathumbnail off}