Toe pres. Jan Brand sy gevleuelde woorde geuiter het, “Alles sal regkom as elkeen sy plig doen” meen Herrie het hy nie besef hoe hy die spyker op die kop slaan nie.
Het hy byvoorbeeld kon voorsien dat ‘n fabriek in die VSA wat te veel fossielbrandstof in die atmosfeer loslaat, ‘n invloed het op hoe groot ‘n Vrystaatse boer se mielie-oes is?
Of dat iemand wat in Rusland iets lekkers onder sy arm spuit om ‘n meisie uit te neem, kan bydrae daartoe dat iemand in België velkanker kry?
Teen hierdie agtergrond is dit nogal belangrik dat mense Nuwejaarsvoornemens moet hê – van dinge wat hulle wil doen, en dinge wat hulle nie moet doen nie. Soos om pligsgetrou te werk, en om nie hul swaarverdiende geldjies in likiede bates te omskep nie.
Ja-nee, op elkeen rus baie verpligtinge van doen en late. Die lysie “late” is baie makliker om saam te stel as die “doen,” soos moenie rook nie, moenie drink en bestuur nie, moenie te veel kinders maak nie, moenie te vinnig ry nie, moenie die kat in die donker knyp nie, moenie die tuin verwaarloos nie, moenie die boer se skaap steel nie, moenie dwelms gebruik nie, moenie tsjôtsjô vat nie, moenie jou musiek so hard speel dat dit die bure pla nie.
Vir Julius Malema kan ‘n mens sy eie lang lys opstel …moenie praat voor jy dink nie, moenie jou vinger in oom Jerry se oog druk nie, moenie so bang wees nie…
So in die kinderskoene van die nuwe jaar wil ‘n mens egter positief wees, en daarom is dit belangrik om goeie gewoontes aan te leer: maak meer tyd vir die kinders, spaar die rookgeldjies en koop liewer kos vir die kinders en blomme vir vroulief, en in plaas van om die tong skerp te maak, sê vir mense vir wie jy lief is van hierdie toedrag van sake.
Jan Brand was reg, maar in daardie konteks nie heeltemal nie. Ons sê graag die Here help hulle wat hulself help, maar soms is wat ons wil, en wat die Here wil nie dieselfde nie. En Hy weet oneindig beter as ons.
Ons kan die beste bloudruk vir die nuwe jaar hê, maar nie almal wat vandag hier lees, gaan aan die einde van die jaar nog op die ondermaanse wees nie.
Staan diep in die geloof. In 2010 en daarna.

Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.