En wie het verlede jaar hierdie tyd geraai of selfs kon dink dat ek van hieruit sou kon nuwejaarswense stuur: Szczęśliwego Nowego Roku!
Goeiemiddag uit ’n winterdonker en yskoue Poznań, die laaste week van 2010. Hoe verskriklik sleg kan ’n mens nie wees nie. Van my maandelikse voorgenome Poolshoogtes het daar toe niks gekom nie – inderdaad laas in Junie iets gestuur. As troos darem vir die Kerstyd vir elkeen van my lesers mooi dinge toegewens en nou ook alles wat besonders is vir 2011.
Maar die Calvinistiese skuldgevoel dwing my om darem iets te maak van die stukkies wat geskryf is en orals rondlê. Dis net dat daar eintlik nie ’n verskoning is nie, anders, laas, in 2005, toe skryf en woorde betekenis verloor het. Slegtigheid, en dis al.
(Van daardie tyd is daar ’n norring reise wat nooit beskryf is nie, op stukkies papier in ’n groot boks saam met kaarte en pamflette. Miskien, eendag, gaan krap ek dit uit en maak ek (soos wat nou hoogmode is) ‘n fiktiewe verslag van die ware reis.)
Hierdie ding gaan maar brokkerig en stuk-stuk wees, heen en weer spring, maar hopelik ’n baie skimmerige beeld gee van hoe hierdie Poolse halfjaar verloop het. Hier en daar mag daar ’n datum opduik, maar saamgevat was dit ses maande van politieke verkiesings, die wêreldbeker (onthou julle nog?), Chopin, die herdenking van die oprigting van die Poolse Solidariteit, Solidarnosc, 30 jaar gelede, en die herdenking van die Slag van Warskou (90 jaar gelede) en die Slag van Grunwald (600 jaar gelede). Sonde by die bure (Belo-Rusland oftewel Wit-Rusland) en die blywende besef dat al is Pole deel van die Europese Unie, bly dit die agterhoek en word daar maar min melding gemaak van hierdie wye stuk land as daar oor Europa gepraat word nie
Dit was weer duidelik by die omvattende beriggewing oor die vroeë en baie swaar sneeu wat verkeer, en veral lugverkeer, lamgelê het dwarsoor “Europa”.
Die posisie van Pole het uiteindelik ook die onderskeidende faktor geword in die Poolse politiek en verkiesings, vir die President en vir die plaaslike regerings (hier word die burgemeester ook sommer maklik president van die stad genoem…). Die breë verdeling loop nou tussen diegene wat hulle pertinent en prominent as deel van Europa plaas (die regerende PO (=Openbare Platform) ), en diegene wat skepties staan (ook teenoor toenadering tot die Groot Beer) en hulle basis het in die party vir Reg en Geregtigheid (PiS). “Die belang van Pole voorop” was hulle slagspreuk en in November het ’n groep van hulle parlementslede hulleself as ’n aparte koukus losgemaak rondom daardie idee.
Die stof rondom die tragiese vliegtuigongeluk by Smolensk wil maar nie gaan lê nie en dis veral die gestorwe President se tweelingbroer, Jaroslaw Kaczyński, wat dit gedurig byroep en bly suggereer dat daar ʼn sameswering was wat onderliggend aan die vliegtuigongeluk was. Baie ou “patriotiese” gevoelens is tesame hiermee deur hom opgeroep met sy veldtog om as president verkies te word, maar hy het uiteindelik lelik tweede gekom met die tweede rondte van die verkiesings in Julie. Wat daardie presidensiële verkiesings wel duidelik gemaak het, is dat daar op die oomblik ’n redelike groot verskil bestaan tussen die stedelike en plattelandse kiesers.
Bronisław Komorowski is dus die Poolse president, en sal seker nou en dan sy opwagting maak op ‘n beeldradioskerm in die RSA. ’n Groot rustige mens, straal hy nie juis besondere charisma uit nie, maar vergestalt waarskynlik wat ek dink mense in Europa as “tipies” Pools sou wou sien: stabiel, gebrek aan verbeelding, verstandig-versigtig rondom die Russe. Oor hoe hy met die Wodka omgaan, weet ek nie: moet onthou om my politieke informant Piotr Cichocki hieroor te vra.
Hy werk by ’n semi-outonome Instituut vir Buitelandse Aangeleenthede, en het in my lewe ingeloop as gevolg van sy huwelik met ’n oud-student, Ola Lukomska (wat ‘n paar van julle opgevang het tydens haar besoek aan Suid-Afrika in 2005…) Ons probeer so twee keer per maand bymekaar kom vir ’n koppie koffie en ‘’n gespreksessie waarin ek elke keer meer leer ken van Pole en die wye land se verhouding met die res van Europa, oos en wes van ons. Maar omdat hulle opdrag ruimer is, word ek sommer baie dinge wys oor die aard van die baie onderliggende spannings in die Balkan en die groeiende kloof tussen die noorde en suide van Italië.
Onthou, vermaan hy my toe ek hom nou bel, om te vertel dat Pole die suksesvolste land in die Europese Unie was tydens die finansiële krisis: ’n 4%-groeikoers. Selfs die Duitsers is jaloers…. Ook daarom dat die Pole huiwerig bly om oor te skakel na die euro, en sinies glimlag vir Estland se oorskakeling in 2011.
Op my datastokkie het ek die volgende begin skryf begin Junie, dus nog voor die Wêreldbeker ingeskop het. Ek las dit net so, ongeredigeerd, hier in, sodat julle kan sien dat ek darem nie regtig só sleg was nie!
Dis die tyd van die hortensies, en die aarbeie, en die kersies
Die binnenshuise swembad waar ek soms gaan rondplas, sluit tot Septembermaand. Want die somer is hier met sy lang-lang aande en as jy tien minute die stad uitry, kan ‘n mens gaan swem in die mere.
Uitry – nou daar’s ’n ding! Nog steeds nie ryvaardig nie, al het ek ’n NIP en ’n Persel en ’n Potwierdzenie. Pinotage staan beteuterd, nommerplaatloos onder die boom en die somer draai by hom verby. In sy laaste Hollandse grasiedae ry ek en kar die vlaktes oor na Warskou om my spulle te gaan haal. Elke liewe denkbare dokument is aan die stuwadore deurgegee, in triplikaat en volkleur en as ek Donderdag bel, verseker Marta my dat dit net stilhou, afhaal en inlaai is. Almal weet.
Ek ry Vrydagoggend vroegerig, tot die tande toe gewapen met kopieë van alles wat daar is, sodat ek teen tienuur by die TIR-kantoor kan wees. Die adres bestaan nie in my ou verslete normaalweg betroubare kaartboek van die hoofstad nie, maar ek is uitgerus met ’n Garmin-kaart van die hele Europese Unie (en die paar hardkoppige buitestaanders; net enkele paaie in Rusland kry egter ’n hoekie) en tik die adres in. O soetste taal: Afrikaanse aanwysings hier in Pole!
Vanmiddag is daar buitendien ook nog ‘n Ambassade-partytjie wat om drie-uur begin (die uitgestelde Freedom Day-fees uit April om saam te val met die begin van die sokkerstories – lekker in ’n hotel in die sentrum met ’n tamaai skerm en kos.)
Om seker te maak dat ek die spertye haal, ry ek met die snelweg, die tolpad. Die agterste agterpad, die een wat ek die graagste ry, vir lang ente langs die Vistula, is onseker met die baie waters (hoe lyk Płock, so op die walle, wonder ek?). Die ryery gaan maklik, die snelheidsgrens is 130 en die grootpad is nou 100 kilometer langer as in 2005: verdubbel. Dis ’n sonnerige dag, en sover ek ry, kan ek sien hoe die waters blink waar daar eintlik landerye moet wees.
Jammer vir die boere, maar as daar nie soveel vlaktes was vir uitdying nie, was die skade in stede en dorpe verder noord nog ellendiger. Ek hoop dat die spesiale verbintenis wat die Poolse Kerk boontoe het, nog ’n mirakel sal meebring: waar ons nou nog niks sien staan, gee God goue graan, onthou ek ’n Halleluja-liedjie. Het ek met boekie ingepak in die bokse, wonder ek. Ek onthou die FAK, maar kan die boekie, rooi soos Pinotage, nie in my inpak herroep nie.
Tot waar die nuwe pad ophou, het ek heelwat minder as twee uur gery. Dis kwart voor agt. 120 kilometer oor: die pad is baie stadiger van hier af, maar ek behoort darem so net ná nege daar te wees. Die GPS praat saam: bereken die aankomstyd nog meer optimisties, maar wat sou die Afrikaanse tannie nou van Poolse paaie weet!
En, ja, niks het verander nie. Die toevoer na die hoofstad is net so sleg soos destyds (dis waarom ek graag agterom gery het), en daar is BAIE meer motors. Ons begin kruie, want in elke dorpie nader na Warskou toe word die verkeersligte meer, die tou langer. Ek stop by een van die boere se waentjies langs die pad: koop padkos vir ontbyt. Varsgeplukte appels en groot soet aarbeie. Verloor miskien veertig plekke in die ry, maar dis die moeite werd en gaan nie veel aan my heil verander nie.
Inderdaad. Dit neem my net oor die twee uur om die laaste 120 kilometer af te lê tot in die noordelike hart van Warskou, en nog ’n goeie halfuur voor ek uiteindelik die TIR-kantoor bereik. Van Marta se beloftes kom daar min: ook hier is die burokrasie opgestapel, en ek word aangeraai om later terug te kom. Ek verduidelik dat ek ’n amptelike amabassade-afspraak het (verswyg die feit dat dit eintlik ’n sokker-paartie is) en dat ek nie later as een-uur kan weg nie. Lieg vir my nog ’n uur se grasie by.
Ook maar goed so, want ten spyte van weke se onderhandelings met die karweiers, baie dennebome se briewe (= gedrukte e-posse), nog kruiwaens vol geld en die onderneming dat daar geen probleme gaan wees nie, daag die vurkhyser met my plastiekpak met ses groot bokse eers teen halftwee op, en word sommer net daar by die kar se stert afgelaai. Meet en pas bring nie almal tuis nie, wat beteken dat ek twee van hulle moet oopbreek, en die boeke los op die vloer van die kar verdeel. Maar hulle is hier, en daarvoor is mens seker dankbaar.
Wanneer ek by die hotel opdaag, is die toesprake klaar (hier en daar) en kan ek in ‘n hoekie gaan staan: slaap, eet en kyk hoe Bafana die eerste haas uit die hoed trek. Heerlike kos en drank, ’n vuvuzela of twee en ’n onmiddellike vertrek om die ure op ’n donker pad tot ’n minimum te beperk. Maar dis somer en die dae lank en warm…
My nuwe pakesel se eerste regte-egte Poolse rit. Boeke sal hy dra…
Omdat Pole nie deelneem aan die WB nie, is die aanvanklike belangstelling in hierdie omstreke minder. Maar die horlosie tik die dae en ure af na die opening van 2012 se Europabeker, wanneer Fifa die beheer van Pole en die Oekraïne oorneem en Sepp Blatter die de facto president van beide state word…
Dis buitendien heerlik vroeg-somer, en verstandige mense sit nie die heeldag deur en sokker kyk nie. Die universiteit is ook nog aan die gang, en met middagklasse is daar nie altyd tyd om te gaan kyk nie. Die graagste gaan sit ek op die Ou Mark (Stary Renek, op s’n Pools), waar al die restourante en kafees nou houtterrasse uitgestoot het met lekker groot platskerms om gesellig te sit en kyk. Ons departementsgenote, die Hollanders (nie die Vlaminge nie, want hulle het ook uit die bus geval nog voor dit vertrek het) se entoesiasme neem sienderoë toe oor die baie weke. Ook ek en Tertius deel lustig in die glorie van ons voorvaders en genote, en die Nederlanders laat darem die Vlaminge ook toe om nou en dan aanmoediging te gee: op stuk van sake is Belgiese bier darem nog steeds die beste wat daar te krye is.
‘n Stuk van die WK sal ek vanuit Engeland dophou waar ek in Cambridge gaan verjaardag vier by my dogter Marcelle (langs die Cam, waar dit om een of ander duister rede nie op ‘n Julie-middag reën nie) en een heerlike middag saam met haar en Robert en Cathy en Harry en my aangetroude kleinkinders in ’n tipiese Engelse pub sou deurbring. As gevolg van slordigheid aan die kant van ’n huurmotor sou ek my vroegoggendvlug vanuit Stansted verpas en etlike ure sit en wag vir die volgende ding wat rigting Pole sou vlieg:
lounge – stansted
hoe anders is vrouens nie as mans nie
leun vertroulik teen hul minnaars aan
onderskraag hulle eggenotes verdra
die kinders bo-op hulle orals vra
daarvoor by algar om verskoning. waar
meisies saamreis, praat hulle, gesels
met hulle gesigte, lig wenkbroue, lag
trek skewemond, maak gul gebare.
kyk diegene met wie gepraat word steeds
in die oë altyd ʼn hand terloops in die hare.
slaap elegant, onder die ligte lede
fladder daar soms iets, asof die reis reeds
afgehandel is, die spaanse son net wag
vir wakker-word.
dis nie dat ek
dink vrouens is sonder meer tevrede
nie: jy sien, as jy goed kyk, ʼn hartseertrekkie
weggesteek daar in haar mond se hoek
ʼn troebelte diep agter, iets gebreek.
hiervoor (maar óók as vreugde voorop staan
– dan, miskien, veral) leer hulle kompenseer
vyl naels, loer onbeskaamd in ’n spieël, besweer,
maak hulle monde rooi, doodseker waar
die liplyn lê. hulle ruil geheime uit vertroulik
en weet terselfdertyd dis openbaar
is hulle alleen, lees hulle, altyd ʼn boek
(nie die kortbegrip van ʼn koerant nie) hou
dinge by in notaboekies van die reis
om later net aan hulleself te wys
ek probeer uitpluis hoe anders drink
hulle met ʼn strooitjie, almal – behalwe dié
wat weet ek kyk en wonder wat is my belang
(die vlugte knetter bo: gerangskik
volgens uur en hek; ʼn paar is laat;
sonder rede word een na malta gekanselleer)
jy sien hoe hulle oor selfone praat
met drif, terwyl hul verder koffie, flirteer,
by die boetiek ʼn serp gaan soek, donkerbril
verbasend op die voorhoof gebalanseer
ʼn trui skuif oor ʼn skouer oop parfuum hang
rondom hulle in die lug. ek ken dié blik
dit sê gewoon: “kyk, ek is anders” of: “ek wil”
ek weet. ek knik.
my lewe, my hare, my mondhoek lankal uit wans
uit voorbepaal, geneties geprogrammeer
hoe anders is vrouens, hoe anders as mans
Met die Engelse besoek gaan ek saam met Marcelle-hulle vir die eerste keer iewers vakansie hou: langs die ooskus, by Suffolk, met Nederland net anderkant die horison. Ken die kontrei net van die anderkant af, soos die veerboot van Hoek van Holland hierdie kant toe aankruie. Boeiende kus met sy koue strande van pragtige klippers (’n paar dra ek saam om naby te hou, later), grondhange wat gedurige wegkalwe in die bedrieglike kalm waters met die patetiese brandertjies (maar halwe dorpies het al verdwyn, afgegee aan die see.) Dis droog in Engeland en die malse groen lyk so bietjie moeg vir die son.
Ek kyk met nuwe oë na die vroegste inwoners van die stuk eiland (konkreter as die soliede abstraksies van Stonehenge) en maak spesiaal ʼn draai by die Britse Museum om te gaan loer na die dinge wat ek oor die maande vooraf gevolg het op die BBC se wonderlike radio-reeks “The History of the World in 100 objects.” En, veral, om daardie wonderlike houtskild te bekyk wat ek raakgeloop het in ’n boek en wat ek kon gebruik op die voorblad van apostroof. Mooier as wat ek my dit verbeel het.
Met die afronding van die nuwe uitgawe van Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte raak ek weer in die ban van die poësie. Skryf baie, veral rondom die interessante en problematiese wêreld van Skype. Hoe ’n mens so ver en terselfdertyd so naby kan wees. Ook oor die oppervlakkigheid wat daarmee saamhang. Ek dink aan die Afrikaners wat in die jare dertig en veertig in Nederland studeer het: hoe prekêr en kosbaar briewe was. Hoe lank dit geduur het voordat ‘n antwoord op ‘n vraag jou bereik het en hoe versigtig jy moes omgaan om seker te maak dat daar nie misverstande ontstaan wat moeilik reggestel kon word nie.
Ek sien nogal baie van my Britse lorriedrywermaat, Brian Erskine, wat ek een middag op die vlaktes tussen Poznan en Berlyn ontmoet het, naarstiglik besig met sy Skype-sessie met sy vrou: presies op tyd, op die juiste uur. Hoe beangs en hoe vreugdevol dit hom maak. As hy in Poznan langs kom, maak ons kans vir ’n koppie koffie en koek; word ek ’n biegvader en ’n soort steunpilaar vir hom in hierdie vreemde soort bestaan wat hy (en duisende ander vragwachauffeurs) dwarsoor Europa moet voer. Lanklaas van hom gehoor: dalk loop sy roetes anders, maar ek hou duim vas dat daar vir hom oor die feesgety ook tog iets spesiaals was.
Ek leer ken ook ander mense wat verhoudings aan die gang hou of probeer hou vastelande uitmekaar uit; ontdek hoe ver die virtuele bestaan verwyder is van wat die mense werklik dink en doen en voel. Dalk was dit nog altyd waar oor die poësie: hierdie een gee ek graag vir my Kaapstadse doring, Joan Hambidge:
loading …
(vir joan)
poësie was nogal nog altyd
niks meer as virtuele werklikheid
nie: deur ‘n spieël in ‘n raaisel
‘n skerm waardeur wat jy verraai wil
sien, gestalte kry maar ook weer net-net
nie – wanneer jy dink dat jy dit het
verdwyn dit iewers op ‘n kuberstraat
lees maar er bestaat niet wat er staat
is die graffito teen die mure
van gedigte uitgetik as dure
les wees bedag onthou dis ‘n wit
vlokkie skuim wat rondom die woorde sit
ns.
lees maar (mene, mene, tekel…) – daar staan
nie wat daar bestaan nie (of: nie bestaan
nie) – deser en gene algar; hoe hekel
die digter dit waarop die verse slaan
Ek hou my van die gode rein.
Ook by ons instituut val die kleredragkode op (dis die eerste keer wat ek hier eksamen meemaak, besef ek – altyd vroeër reeds weg op reise) en by die finale BA-mondelinge kry die paneel elkeen blomme van die kandidate na die afhandeling daarvan. Soms bring die plattelandse ouers nog ’n mandjie met groente of tuisgebak saam om dankie te sê : seker ook maar gehoor hoe swak akademici betaal word.
Omdat my hele departement in Suid-Afrika is vir die kongres van die Afrikaanse Letterkundevereniging, word ek opgekommandeer om te gaan insit by mondelinge van studente wat ek hoegenaamd van geen kant af ken nie. Ken maar my plek en hou my mond (behalwe vir my vooraf opgestelde vrae wat aan die modereerder gegee moet word…), en aanvaar dankbaar die twee ruikers blomme wat my kamers die ene somer maak. Vensters heel dag oop, en selfs ’n vlieg of twee.
Hierdie eerste Europese somer ontglip die greep van die uitgebreide reise van vroeër: ek bring ’n blitsbesoek aan die Suid-Afrika om te kyk hoe lyk die Kaap en hoe gaan dit met my ma (die lofsang vir my suster wat hierdie tweede Poolse verblyf moontlik maak, kan nooit genoeg wees nie) en vang vir Jac en Annaline Conradie op (my eerste gaste op kamer hier in Nieszawska) en ry met hulle so ’n bietjie rond (ons is bevoorreg om ’n swerm ooievaars te sien wat besig is met hulle afskeidsdans voor die vertrek suide toe).
Aanvanklik wou ek hierdie somer na die drie Baltiese state (Estland, Letland en Litoue) reis en het daarvoor ’n maand se kampeer opsygesit. Onbekende en omstrede landstreke, wat soos dr Marius Hugo moes baklei teen hulle agtergrond. Ook nuuskierig oor Estland waar Skype ontstaan het, en wat toe ons in Finland gaan draai het, nog ontoeganklike, verbode terrein was. Dis al deel van die bestaande Europa waar ek nog nie was nie, en is daarom hoog op die lys.
As gevolg van ander dinge wat opduik, bly daar net onder twee weke oor: daaroor is die langtermynweervoorspelling uiters pessimisties, met tien dae daarvan toegesê aan reën. Toe ek twintig, dertig was, was kampeer in reën ’n avontuur, maar vandag voel ek daaroor anders.
Ek herbesin. Volgende somer, dan?
Iewers in 2009, met dié dat ek so blaai deur die kunsboeke, vind ek uit dat daar nog ’n plek is waar ek nog nie was nie. Waarskynlik het ek dit bewustelik vermy, maar die aantal skilderye wat ek nou agtergekom het in Wene versteek is, maak dit werklike alternatief. Die weer lyk goed, en daar is ’n kampeerterrein aan die oostekant van die gevierde blou Donou. Dus Wene as eerste alternatief, en daarna na kollega Ewa se noordooste van Pole, Olsztyn en die land van die Teutoniese kastele en die baie mere.
In die eerste week van September dus na Wene. Dis ook die tyd van die rugbytoer in Suid-Afrika, wat op onvergeeflike en belaglike wyse nie direk in SA op die TV vertoon word nie. Hier kan ek dit via internet sien – gelukkiger dus as my pêlle by die “huis”. Op my skootrekenaar in die kombuis op die camping (al plek waar daar ’n sein is) kyk ek en nuuskierige oningewydes tussen kunsgalerye en kampkos rugby.
Omdat ek die rekenaar opgeslaan het en die muis se tentpenne in is, skryf ek sommer terwyl ek sit en kyk. Die volgende gaan haal ek uit ’n lêer diep uit sy hart:
Die ryery gister was onvoorstelbaar frustrerend. Orals word daar paaie gebou – in Pole vir 2012 se sokker, onder andere – met Europese Unie-geld om daardeur die Sowjetstate “aanvaarbaar” te maak vir die Wes-Europeërs. Het my amper tien uur geneem om die 600 kilometer te ry, en het dus eers ná sesuur opgedaag. Ná die tentjie opgeslaan is (kampeer is nie meer ‘n avontuur nie!), was daar dus nie meer tyd vir enige museum nie. Fout, sou ek later leer: die groot museums is afwisselend Woensdae- en Donderdaeaande oop tot 10uur. Lees altyd die gidsboekies ordentlik!!!!!
Bietjie in die sentrum gaan rondloop, maar sonder ‘n kaart! Die stad is onbegryplik stil, regtig sonder ‘n kloppende hart. Dalk die dronkverdriet van ná die somer; dalk sou dit anders gewees het onder ander omstandighede.
Maar ek vermoed dat ek dit altyd oor Wene vermoed het, en daarom hier (onbewustelik) weggebly het. Maar nou-ja: die museums wag: die Breughel wat my op die spoor gebring het, die Duhrers, Rubens (wat hier groot in aanvraag was) en natuurlik Klimt. Vier groot galerye. Sal miskien eers Sondagoggend ry om alles in te pas, aangesien ek gister een verloor het.
Voorlopig hou die weer nog, en hoef ek nie bekommerd te wees oor die (iewers onvermydelike) klam tent nie. Die gewaande sigaretaanstekerlaaier vir die skootrekenaar werk nie, wat dus beteken dat ek net sal kan werk waar daar krag is. Het egter gisteraand ‘n internetkafee opgespoor – daar is baie van hulle, en as daar hier niks is nie, kan ek daar gaan inloer om te kyk wat met die voetbôl gebeur.
Dis jammer dat die ry so frustrerend was (dis veral die swaar vragverkeer op al die verleggings), want die landskap hier deur die Sudetenland is nog steeds pragtig. Maar hoeveel bloed het daar nie oor die eeue hier gevloei nie. Ek wonder so by myself hoe finaal al hierdie grense is: of die wigte en teenwigte nou sterk genoeg is om ‘n verdere Europese oorlog te verhoed. Elders is dit natuurlik onvermydelik, maar hopelik darem ver genoeg om my kans te gee om daar ’n grondseiltjie te gaan span.
Die kampeerterrein is gerieflik (daar is gras vir die tente!) en vollerig. Maar dit raas as gevolg van die nuwe verbypad wat vlak hierlangs loop. Gelukkig slaap ek maklik (altyd, orals – dis die groot genade wat my gegee is) sodat dit uiteindelik nie pla nie. Ek sal in ieder geval in die rondloop vandag uitkyk vir ‘n alternatiewe plekkie as dit dalk kwaai sou begin reën.
Laataand: was maar moeilik om vandag nie so ’n bietjie hartseer te word nie: al die mooi skilderye, al die skilderye van die minnaars van die Middeleeue tot vandag toe, al die onthulde en onthullende vrouens.
Op die Weense inwalslysie is daar ses museums, waarvan ek vandag uiteindelik net by twee uitgekom het: die hanteerbare Belvedere en die massiewe Kunsthistorische Museum waar ek uiteindelik ‘n hele verdieping agterweë laat bly het. “Gelukkig” is die Akademie der Bildenden Kunste gesluit tot Oktober, sodat ek dit darem van my lysie kan afhaal. Dit laat twee dinge wat nie “onderhaalbaar” is nie, en hier en daar ekstra dinge wat toevallig nou aan die gang is en wat ek andersins nie (nooit?) weer sal kan sien nie.
Die Breughels het al my verwagtings oortref: hier is nog meer as wat ek gedink het. Die belangrikstes is almal hier: die kinderspeletjies, die boerebruilof, die boeredans, die Toring van Babel, die jagters met honde in die winter. Daar is ‘n onvoorstelbare Rubens (Die kop van Medusa). Drie roerende laat Rembrandt selfportrette (ek was seker twee van hulle is in die VSA), ‘n Dürer-altaarstuk met kleur wat ek nie gedink het hy in staat was om te gebruik nie. “Verlore” (“Lost”) van ‘n Oostenryker, Van Stucke, waarvan daar nie ‘n poskaart te koop is nie, en nie eers in die gids verskyn nie. Daar is Titiaan, Tintoretto en Caravaggio: een of twee van hulle het ek al afbeeldings van gesien, maar ‘n klomp is nuwe ontdekkings.
Soos altyd is die sien van hierdie dinge oorweldigend, fisies van die baie loop en emosioneel om dit te verwerk. En uiteindelik kan ‘n mens nie die dinge alles uitmekaar hou nie. Dis hoekom ek maar die gidsboekies koop en later weer probeer bestek opneem. Maar daar is altyd ook die ontdekkings wat nie opgeneem is nie, en wat ‘n mens uiteindelik nie meer kan plaas nie. So herroep ek skielik ’n aangrypende skildery (“Die kluisenaar en ……. een of ander vrou uit die mitologie”): die storie is dat ten spyte van al sy pogings om haar die hof te maak, sy hom ignoreer – hy is oud en verslons, terwyl sy jonk en fleurig is. Dan gee hy haar uiteindelik ‘n slaapdrankie: nie om haar te molesteer of verkrag nie, maar net sodat hy ‘n paar uur ongestoord na haar kan kyk. Aangrypend mooi, maar nou sal ek nooit weet wie die skilder was nie.
Voorheen het ek altyd ‘n boekie saamgeneem en my indrukke van spesifieke skilderye (en die name daarvan en van die skilders) neergeskryf, maar het dit die laaste vyf, ses jaar nie meer gedoen nie.
Uiteindelik word ook hierdie “kiemselle” self so ‘n oorweldigende en verwarrende versameling, en dan is daar gedurig ook nog goeters wat bykom. Soms is van die goeters net ‘n beeld, of ‘n frase, maar somtyds is dit ‘n hele “idee” wat daar kom sit. Soos die “idee” oor ‘n tydgenootlike versreeks oor die twaalf take van Herakles – hier en daar daaroor gelees, goeters afgelaai van die internet, jammer vir myself gevoel omdat ek nie my basiese mitologiese verwysingsboeke by my het nie, maar kom om een of die ander rede net nie daarmee aan die gang nie.
Op ‘n manier weet ek ook dat ek dit moet doen om vir myself te wys dat ek nie ‘n “toevallige” digter is nie, maar dat ek in staat is om iets te vat en dit behoorlik uit te bou. MAAR: hoekom is dit nodig om so iets te bewys?????????????? Skryf is vir my ‘n baie persoonlike saak (en het dit oor die laaste 20 jaar al hoe meer geraak) : soms is ek jammer oor die publikasie van .apostroof want daarmee het ek allerhande verwagtings gaan staan en skep.
Niks so gevaarlik soos kamptentfilosofie nie. Miskien moet ek ook gaan slaap en kyk of ek nie net na ses die magtige St Stephans-toring (327 trappies) kan uit nie. Dit, is, op stuk van sake, ‘n naamgenoot.
Maar eers die oordenking: wat ‘n wonderlike uiteenlopende groep skilderye vandag oor die Heilige Hieronimus gesien nie! En rondom die Passie van Christus. Oor die verskrikkings wat in die naam van die Bybel en Christus gepleeg is, moet mens nie ophou praat nie, maar terselfdertyd het dit darem ‘n kunsskatkis daargestel wat onoortreflik is.
En nou sien ek ek het nog nie eers Klimt genoem nie. En dis een van die redes hoekom ‘n mens kwansuis Wene toe moet kom – vir “Die soen“. Redelik oorskat, uiteindelik, want daar is baie ander dinge van sterker en aangrypender is: Die drie leeftye van die vrou en Die maagd sal ek nie sommer vergeet nie. Watter merkwaardige skilder tog nie, en watter tydsgees om in te leef en te skilder. Grense om te versit, bedelings om te laat kantel.
’n Volgende beurt:
Nog ‘n dag vol baie mooi dinge (hoewel dit halfpad effens begin reën het) Ek het toe getrou aan my woord die Heilige Stephanus se toring uitgeklim: 363 trappies. Bly ek kan dit nog doen!. Miskien sal my kuite vanaand daaroor iets te vertelle hê. Die koffie en croissant daarna was nogal beduidend lekker en ek was nog betyds by die museum toe die deure oopmaak.
Albei vandag se museums is basies kuns van die 20ste eeu (dis nou die deel van die permanente versamelings (van die jaar toet tot nou) wat op die oomblik uitgestal word). Watter wonderlike voorreg het hierdie mense nie om elke drie maande of so ‘n totale nuwe uitstalling van uitsonderlike goed te sien nie. Daarom het ek die Dürer-vlerk (waarvoor ek hierheen gekom het) misgeloop, maar kon darem ‘n poskaart daarvan kry.
Daar is heelwat van die Oostenrykse skilders rondom die tyd van die Jugendstil en daarna wat ek glad nie ken. Daar is ‘n man, Schiele, wat ‘n massiewe klomp erotiese tekeninge en skilderye gemaak het, nogal skokkend by tye. Soos altyd het ek weer ‘n gidsboek gekoop, maar die dinge wat daarin vertoon word gee nie werklik die aard van die oeuvre weer nie. Maar daar is ook Kokoschka-skilderye, en ‘n pragtige perd van Toulouse-Lautrec. En Chagall, die man wat so onbeskaamd Wit-Russies en Joods was, en wat daardie sfere in die magiese en droomvoorstellings voorgestel het. Daar is ‘n pragtige een van ‘n meisie wat op daardie groenblou gras van hom aan die slaap is (sommer so skuins oor die heuwel) en droom van ‘n groot bos blomme.
Het myself ook bederf en ‘n paar “posters” gekoop om my kaal mure op te vrolik en ’n yskasmagneet of twee. Poskaarte vir bekendes en bemindes ver.
Blaai ek nou weer deur die gidsboeke, pamflette en die poskaarte, besef ek hoeveel daarvan ek inderdaad nie genoem het nie: die fabelagtige Bestearium-uitstalling van Walton Ford (gaan kyk op die internet as julle hom nie ken nie, soos ek), die landskappe van Klimt, die ekspressionistiese goed in die Leopold-museum, die blote opset van die Albertina.
’n Hoogtepunt was ongetwyfeld die kennismaking met die argitek en ontwerper Joseph Maria Olbrich, wat op 40-jarige leeftyd in 1908 oorlede is. Daar was ’n omvattende uitstalling oor die kunstenaarsdorp in Mathildenhöhe in Darmstadt, waar hy werksaam was, sodat ek die geleentheid gekry het om veel meer van hom (wonderlike meubels ontwerp…) te sien as wat onder andere omstandighede die geval sou wees. Was ’n besondere era in die Oostenrykse kuns, so op die eeuwisseling tussen die 19de en 20ste eeue en goed gesien en name leer ken waarvan ek onbewus was. Gaan loer maar via jou soekenjin by iets soos die Sezession of Vienna Secession .
As stad het Wene my nie bekoor nie (en die mense is nogal sonder woema), maar ek sal weer ’n keer daar gaan draai vir die museums.
Darmstadt lui ander klokkies in die geskiedenis: die eerste Duitse stad waar daar formele maatreëls teen Jode ingestel is (lees ek…) Dit bring mens weer terug na Pole en Auschwitz, die onvermydelike besoekpunt vir enige buitelander.
My Durbanse baas, Rosemary Wildsmith, was die tweede Suid-Afrikaner op deurgang na ’n kongres wat ek so ’n bietjie rondgery het hierdie somer. Na twee uitvoerige stappe by Auschwitz en Birkenau (ek probeer altyd oorreed: gaan kyk die bevrydingsfliek, maar daarna eers na Birkenau (’n paar kilometer daarvan en dan terug na Auschwitz), laai ek af en sit ek terug en lees. Of maak sommer ’n skelm slapie op ’n parkbankie as die son skyn.
Kraków is die basis vir verkennings as die son nog langerig skyn, maar dan moet ’n mens ook nog ’n dag volledig opsysit om net so ’n smakie te kry van die pragtige stad. In een van my twee briewe het ek gepraat oor die begrafnis van die vorige president in die Wawel-katedraal – my eerste besoek daarna, en dit is opvallend hoe baie mense net inkom om om die graf te loop en die koue marmer te soen. Smolensk gaan nog lank bly spook in die kollektiewe onderbewuste van die Poolse volk.
En die bewuste manipulasie, ook. In Junie, dag ek, verskyn daar ’n ellehoë houtkruis op die kasteelplein in Warskou ter herdenking aan die gesneuweldes by Smolensk. Dit word gou ’n simbool van die regse nasionalistiese politiek, en die verwydering daarvan na ’n nabygeleë kerk word spoedig ’n rampsalige toutrekkery en beskuldigings. Die regering is te bang om mense te konfronteer (alhoewel die Kerk reeds die verskuiwing goedgekeur het), maar beloof in ieder geval ’n herdenkingsplaat. Monument, skreeu die teenkant, ’n moerse monument: die kruis, die kruis vir altyd!!!!! Uiteindelik, soos ’n dief in die nag en terwyl die dissipels slaap, word die kruis tog verwyder en veilig in Jesus hoede staangemaak.
Ek moet klaarmaak as ek nog voor middernag in die RSA wil opdaag. In ieder geval te lank vir ’n ordentlike mens om te lees… Ek los dus maar ’n klompie dinge vir Januarie se brief. Ek moet in ieder geval probeer kyk wat het ek reeds in die amper verbygegane dekade oor geskryf. En niemand sal eintlik weet wat wanneer en waar en hoe dinge hier gebeur nie. Dus: die waarheid, soos T T Cloete destyds gesê het, gelieg. Oor Zakopane, die soutmynkatedraal, die koue winter en ’n stukkie Kaapse somer, ons studente (’n groep amper reeds op pad na die sonskyn…), priesters en pedofilie, Olsztyn en die gevrieste mere en dalk ’n ontmoeting met die nuwe ambassadeur.
Dis vroeg donker en die vuurwerkskietery het lankal begin. Die Pole is daaroor uitspattig, en die goeters is regtig duur en in ons deurmekaarderige buurt sal daar seker nie veel gebeur nie.
’n Mens moet seker iewers heen gaan waar daar ’n georkestreerde vertoning is, maar dis koud buite en die sypaadjies bedrieglik van die ys. Bly dus maar vanaand hier in my kamertjies met prei- en aartappelsop en dink dankbaar aan die goeie dinge wat hierdie jaar met my gebeur het. En klink ’n glasie op haar.
En, ja, nooit weer slaan ek ’n maand oor nie: dis my nuwejaarsvoorneme vir 2011 !!!!!!!!!!
Ligvoet die nuwe jaar in:
hy gooi die bene kyk hoe hulle self
’n lê gaan kry. deur sy skrefiesoë delf
hy dan na dieper sin, maar dis verniet:
hawu! daar’s net die mooiste goed vir 2011
Szczęśliwego Nowego Roku!

Uit Louis Tregardt se dagboek leer ons sy geselskap ken soos geen ander trek nie. Soos Anna Böeseken toon, rus sy blik veral met trots en voldoening op sy naasoudste seun Petrus Frederik of Pieta, gebore 30 Oktober 1819.




Die eerste trekleier, Louis Tregardt, gebore 1783, was kleinseun van die Tregardt-stamvader, ‘n Sweedse immigrant. Louis Tregardt is in 1833 uit die Kolonie na Hintsa se gebied, maar toe dié in April 1835 ook in die grensoorlog betrokke raak, het Tregardt en sy mense padgegee en voor die end van 1835 oor die Oranje getrek. Hulle was nege gesinne, 49 mense, in nege waens.

Die geestelike boeke van die Voortrekkers het preek-, gesange- en kategeseboeke ingesluit. Die trekkers het graag gesing, soms met viool- of akkordeonbegeleiding. Party het draagbare huisorreltjies of serafyne gehad. Reeds in die agtiende eeu was daar liedeboeke waarin geestelike en selfs wêreldlike liedjies opgeteken is. Eie berymings op bestaande liedere is gedoen en die melodieë aangepas om die bekende liederwysies te vorm. Een so ‘n lied was “Wijk, wêrelds gewemel/ Ik moet naar den Hemel,/ Verhindert mij niet”, met ‘n hele aantal verse.

