Soos gebruiklik dié tyd van die jaar, kyk Herrie hoe die Oos-Vrystaat in die Curriebeker sou vaar as die bond nog bestaan het, en sy eie spelers sou behou het.
Wanneer die Blou Bulle en die Haaie mekaar in Durban aandurf, is daar minstens twee Oos-Vrystaters op die veld – Jannie en Bismarck du Plessis. In die ander wedstryd tussen die Cheetahs en die WP, is die Oos-Vrystaat ook goed verteenwoordig. Meyer Bosman is in Bethlehem gebore, Hendro Scholtz kom uit die Oos-Vrystaat en so ook CJ van der Linde.
Dis interessant dat dié landstreek so baie stutte van formaat opgelewer het. Faan Rautenbach is self ‘n getoë Oos-Vrystater, maar onlangs het Herman le Roux, voormalige voorslagsportskrywer en later hoofredaksielid van Volksblad en Beeld, Herrie daarop gewys dat die groot Mof Myburg van Senekal af kom.
Nog ‘n onlangse Springbok uit dié geweste is Gerrie Britz wat eintlik ‘n flank was wat gereeld lopies oor die lengte van die veld ingekry het, maar weens sy lengte dikwels as slot ingespan is.
‘n Springbok wat kan skop soos kersiemampoer is Frans Steyn.
Herrie is nog gans te nat agter die ore om ooit vir Danie Craven te sien speel het, maar Herrie het Dok wel gereeld op en oor Coetzenburg sien loop toe Herrie as kannetjie daar self baie sweet getap het. Dok en Bliksem het daar verbygestap, en sommer so in die stap notas in sy kop (Dok s’n) gemaak oor toekomstige Springbokke wat hy sien speel het.
En daai storie dat Dok vir Bliksem geleer het om soos ‘n Patryshond… ‘n Pointer, te gaan staan om talent aan Dok Danie uit te wys – daai storie is ‘n mite. Anderkant die rugbyvelde aangekom, het Dok en Bliksem Stellenboschberg se voetheuwels aangedurf. So hups soos ‘n jong Oos-Vrystaatse seun wat met sy hond in die sandsteenkoppies gaan stap.
Jare hierna was Dok Danie nog Suid-Afrika se rugbybaas. So lank, die storie word vertel van die Egiptoloë wat ‘n baie goedbewaarde mummie opgespoor het. Met bietjie salfies en invryf, het hulle koning Toet naderhand by. Verbaas wil hy weet waarvandaan die argeoloë kom. Toe een sê Suid-Afrika, wil-wil herinneringe intree. Na ‘n rukkie roep hy uit: “Suid-Afrika, ja natuurlik. Is Danie Craven nog die rugbybaas daar?”
Dok het sy aanhangers gehad, waaronder ‘n seun van Paul Roos Gimnasium se spesiale klasse. Waar Dok se span was, was die seun ook. By geleentheid praat die manne in die kleedkamer oor Niel Armstrong wat op die maan is. Die seun gaan staan buite, helder oordag, en betrag die bleek maan lank. Na ‘n ruk sê hy in Dok se stem: “Ja wagtag, daag staan hulle!”
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.