Goedkoop vergifnis

Die befaamde prof. Jonathan Jansen, rektor van die Universiteit van die Vrystaat (UV), het sy verleentheid met “die lang en moeilike (Reitz-)sage” vir oulaas probeer verberg met ‘n “versoeningseminaar en –seremonie” wat as deel van ‘n skikkingsooreenkoms bereik is.

“‘n Wonderlike einde aan die sage,” noem Jansen dit. Die man het kennelik goeie advies van sy regsspan gehad oor sy kanse om die studente te vervolg.

Elke tranetrekker-cliché wat Jansen kon oprakel is aangewend in die hoop dat die swart rassistiese berg terug sal verander in ‘n molshoop. Dit sal interessant wees om te weet of die vier werklik ‘n pot lensiesop aangebied is om ‘n skadevergoedingeis te laat vaar.

Die Reitz-vier kry Donderdag ‘n private ete, danksy die vrygewige rektor, en les bes, die geleentheid om die vyf laggende werkers, wat met die maak van die Reitz-video “verneder” is, om verskoning te vra.

Dit sal die eerste keer wees dat die voormalige wit studente en die swart werkers saam in een vertrek sal wees, volgens die rektor. Wel ja, dis nou as die prof gerieflikheidshalwe vergeet het daar was ‘n video iewers ter sprake en ons woon in Suid-Afrika.

Die videomakers, R.C. Malherbe, Johnny Roberts, Schalk van der Merwe en Danie Grobler, sal Vrydag in die genoemde versoeningseremonie ‘n verklaring voorlees waarin hulle Emmah Koko, Rebecca Adams, Naomi Phororo, Mittah Ntlatseng en David Molete om verskoning vra dat hulle die voorblaaie van koerante regoor die wêreld versier het dmv valse beweringe, onwaarhede en kwade wil.

En nee, nog is het einde niet. Die hiperboliese opeenstapeling van welwillendheid teenoor die “wit rassiste” het ‘n oortreffende trap.

Belangrike aankondigings sal ook uit oudpres. Nelson Mandela se kantoor en die presidensie gedoen word oor die paar minute se studentikose kykgenot waarmee die vier ‘n eerste prys op ‘n Reitz-kultuuraand losgeslaan het.

саунаФильчаков прокурор

Brics, ‘n steen des aanstoots

Suid-Afrika het uitendelik ‘n tree gegee om tot die “elite” groepering van Bric-lande (Brasilië, Rusland, Indië en China) te tel, nadat ondersteuning deur China en Rusland vir Pretoria se toetrede gekom het. Daar word verwag dat Suid-Afrika formeel aanvaar sal word as ‘n nuwe lid in April. Bric sal dan Brics word.

Maar wat behels die inskakeling by die nuwe “boustene”, Brics?

Die Bric-lande oefen ongetwyfeld belangrike diplomatieke en ekonomiese invloed uit in wat nou as ‘n multi-polêre wêreldorde beskou kan word.

Die Bric-lande is die vier grootste ekonomieë in die ontwikkelende wêreld en Goldman Sachs het voorspel dat, danksy die vinnige groeikoerse, hulle gekombineerde ekonomieë dié van die huidige rykste lande binne die volgende vier dekades kan inhaal.

Byna 40% van die wêreld se totale buitelandse valutareserwes is in dié vier gekonsentreer. Hulle verteenwoordig meer as 40% van die wêreld se bevolking en meer as ‘n kwart van die wêreld se grondgebied.

Anders as die meeste Westerse lande, hanteer die Brics (met die uitsondering van Rusland) die wêreldwye ekonomiese resessie relatief goed. Dit was deels as gevolg van hul onortodokse ekonomiese beleidsrigtings, wat afgewyk het van die sogenaamde Washington-konsensus. Die Brics, veral China, het ‘n sleutelrol gespeel in onlangse globale groei gedurende die resessie en het aktief ‘n rol gespeel in die hervorming van die internasionale finansiële stelsel in die G20.

Kortom, maak die besluit om toe te tree op papier baie goeie sin, maar te midde van Suid-Afrika se skynbare diplomatieke triomf bly ‘n aantal vrae onbeantwoord oor die politieke implikasies van die besluit.

Daar is munt uit die herposisionering van Suid-Afrika se toetrede tot ‘n diplomatieke blok te slaan, ongetwyfeld. Maar wat? Hoe pas dit by die land se breër globale strategie in?

Een ooglopende kwessie is die feit dat menseregte nie in een van die lidlande hoog aangeslaan word nie. Gaan hierdie gebrek uiteindelik binnelandse politieke sake beïnvloed?

Ander kwessies, soos mededinging tussen China en Indië, China se historiese alliansie met Pakistan, Beijing se veldtog teen Indië se (en Japan se) bod vir die Verenigde Nasies Veiligheidsraad van permanente lidmaatskap en onopgeloste grens geskille tussen Beijing en Delhi, gaan Suid-Afrika se aandag ook opeis. Dis ‘n ver tree weg van Westerse politieke aangeleenthede wat voorheen Suid-Afrika ingesluit het.

Die sogenaamde “demokratisering” van globale besluitnemingsliggame, soos die VN, en internasionale finansiële instellings, die Wêreldbank en die Internasionale Monetêre Fonds, pryk hoog op die Bric-lande se agenda.

Benewens die noord-suid en ryk-arm diskoers, het Suid-Afrika Bric minder nodig as voorkeurhandelsvennoot as andersom. Die Wêreldbank het aangetoon dat dit baie makliker in Suid-Afrika is om sake te doen as in enige van die Bric-lande aangesien hulle gebuk gaan onder tariefstruikelblokke sowel as komplekse en beperkende binnelandse regulasies. As sodanig, is dit onvrugbare grond vir opbrengs en belangrike handels-en beleggingsgeleenthede.

Suid-Afrika se posisie as leier van die Afrika-kontinent het aan die land ‘n sekere  internasionale gewig verleen. Ons land se toetrede tot Brics het egter aan China die trofee oorhandig as Afrikaleier. Daardie bakstene gaan dalk swaar begin weeg in ons bagasie…

online casper gamesФильчаков прокурор отзывы

Plaasmoorde

Agri SA meen plaasmoorde is nie polities gemotiveerd nie.

Teen die agtergrond dat die ANC die reg opeis, en selfs hof toe te gaan om struggle-liedjies te sing waarin gesing word dat boere doodgemaak moet word, is dié opvatting naïef, indien nie pikant nie.

Trouens, volgens die internasionale reg kom die sing van hierdie liedjies neer op aanhitsing tot volksmoord, en is strafbaar. Die opeis van die reg om dit te doen, sal stellig ook hiervoor kwalifiseer.

Die saak moet ook in sy volledige konteks gesien word. Voor Kemptonpark is die boere-bevolking nie as sagte teikens beskou nie, en die plant van landmyne op plaaspaaie is onder meer so “geregverdig.” Die gevolg was ongevalle – ook van ‘n gesin op pad huis toe na kerk. Minstens een baba is deur ‘n landmyn aan flarde geruk.

Sedertdien het uitsprake, ook van ministers, oor hoe sleg boere hul werkers behandel algemeen geword. Die mees skreiende voorbeeld is moontlik toe Lawwe Lulu op Kerkplein haar mond behoorlik uitgespoel het, verwysend na ‘n Wes-Kaapse saak. Dit het later aan die lig gekom dat die regering reeds maande lank in besit was van ‘n verslag deur die Onafhanklike Klagtedirektoraat dat die klaagster erken het sy het meineed gepleeg, en dat die klag vals was. Sy het ook intussen tot bekering gekom en die boer wat sy beskuldig het om vergifnis gevra.

Onlangs het die nuwe minister van Landbou, Tina Joemat-Pettersson, by ‘n vergadering van georganiseerde landbou verklaar dat daar ‘n gesindheidsverandering by die ANC ingetree het, en die boere nie meer as die vyand beskou nie. Daar was selfs ‘n skynbaar geïsoleerde mediaverklaring waarin ‘n enkele plaasmoord, dié op mnr. Frik Hermann, veroordeel is. Sedertdien was daar nog minstens 5 plaasmoorde, en ‘n taamlike swye. Meestal kom die veroordelings wanneer die media die ANC of die regering se woordvoerders daarna vra.

Die veroordelings reflekteer nog glad nie die feit dat moorde op boere en hul gesinslede teen ‘n koers, volgens Interpol, van sowat 300 per 100 000 per jaar plaasvind nie, teenoor die land se gemiddeld van sowat 35 per 100 000 per jaar. En dan is daar die kwessie van die appèl teen die verbod op die sing van die gewraakte struggle-liedjies.

En so lank die indruk geskep word – selfs onbedoeld – dat boere vrybuit is, so lank sal dit moeilik wees om die politieke verbintenis heeltemal uit te dissekteer.

гималайская соль вФильчаков

Bruines ontdek hul etnisiteit

Dat die ANC verbete is om die Wes-Kaap terug te vat, blyk sekerlik uit die jongste voorgestelde wysigings aan die Wet op Gelyke Indiensneming.  Dit gaan tot gevolg hê dat nasionale demografiese syfers vir kwota-aanstellings voortaan gebruik sal moet word.

Provinsiale bevolkingsyfers word tans aangewend, wat bruin mense in die Wes-Kaap bevoordeel omdat hulle die grootste bevolkingsgroep in die provinsie is, met swart in die tweede plek en wit in die derde.

Volgens navorsing van die vakbond Solidariteit sal bykans ‘n miljoen mense – oftewel 80% van alle ekonomies aktiewe bruin mense in die Wes-Kaap – hul werk kwyt wees as die regering met dié wysigings volhard.

Natuurlik gaan die verwikkelinge ‘n wig tussen bruin en swart indryf, maar dis waarskynlik ook ‘n manier vir die ANC om die bruines te dwing om te besluit op watter stoel hulle wil sit. Die een stoel wat die voordele wat RA inhou onder die vlerk van die ANC of wit beskerming onder die DA, wat eintlik maar geen beskerming in die werkplek beteken nie.

Die voordeel van die ANC se wysigingsvoorstelle is dat etnisiteit ten minste as ‘n werklikheid in die politieke kalklig tree. Onder bruin intellektuele stemme wat vroeër aanspraak gemaak het op “swartheid”, smalend na etnisiteit verwys het of die reënboognasie se lof besing het, het konsternasie losgebars.

Boere wat bruin plaaswerkers met swart arbeiders vervang, sal baat vind by laer lone met só ‘n stap. Dieselfde sal in die klere- en boubedryf gebeur. Dit is waarskynlik nog net die provinsiale rasprofiel in die Wes-Kaap wat keer dat bruin arbeid afgeskaf word.

 

free bet on sign up no depositалександр лобановский супермаркет класс

Die onvoltooide nuusverklaring oor plaasaanvalle

Hier sit ek op ‘n Saterdagaand en slaan weer die toetse oor plaasaanvalle en plaasmoorde.

Ek het al bitter baie oor plaasmoorde en plaasaanvalle geskryf – selfs gedigte, en ‘n paar is gepubliseer. Plaasaanvalle het al dikwels naby aan my gekom. Ons kindertydse vakansiebuurseun by Kleinbrak is saam met sy swaer met masjiengewere afgemaai, my skoonma is al aangeval, en so ook my skoonpa se broer op die plaas langsaan en onder meer met ‘n mes gesteek. ‘n Kollega se pa is aangeval, en so ook my universiteitskoshuismaat se grootmaakpa.

Maar die afgelope dag of twee was daar tog ‘n nuutjie vir my.

As vryskutskrywer skryf ek onder meer nuusverklarings vir ‘n politieke party.

Moderne tegnologie maak dit moontlik dat ek die konsepverklaring in Bloemfontein kan skryf, en dit per e-pos na die partyleier in Pretoria kan stuur, en dan die finale soms baie gou terug te kry om landswyd uit te stuur.

Maar dié keer was dit anders. Nog voor die plaasaanval of plaasmoord se nuusverklaring reg was om uitgestuur te word, was daar weer ‘n plaasmoord of ‘n plaasaanval, en weer een en weer een.

Uiteindelik, so lyk dit, het ons neuse voorgekry en die verklaring uitgestuur. Kort daarna kom die nuus – die boer wat die laaste aangeval en gewond is, het aan sy kopwond beswyk.

En dan maar weer ‘n nota uitstuur.

Ironies is die laaste nuusverklaring juis uitgestuur met ‘n vorige, waarvan die ink nog skaars droog was, daaraan vasgeheg.

Môre, iewers na Nagmaal, moet ek weer op my voete wees om my weeklikse humorrubriek, Herrie se kerrie te skryf.

Dit gebeur dikwels dat ek dit weens die grusame aard van die nuus waarmee ek soms – dalk selfs dikwels – werk, soos hierdie naweek uitstel en uitstel aan die skryf van die rubriek.

Maar môre se rubriek …dit gaan swaar gaan.

Dit word nie makliker en minder ontstellend om oor plaasaanvalle te skryf nie. ‘n Stukkie van ‘n mens se siel sterf nie elke keer nie. Nee, die rou wond word net al pynliker en pynliker, soms kloppend pynlik soos wanneer Willemientjie en Anri kleintyd slagoffers van die wrede werklikheid word.

Anri, die kind wat die land geruk het om vir ‘n salfie teen die eina te vra. Nee, geen pleistertjie, geen salfie, help teen dié pyn nie.

Die syfer waarvan die tellertjie onverbiddelik aantik, word nooit net syfers nie. Agter elke syfer is ‘n hartverskeurde gesin, familie, geskokte bure, ‘n gedemoraliseerde gemeenskap, plaaswerkers sonder heenkome…

Die sielkundiges sê die omstandighede, die afgesonderdheid, magteloosheid …werk saam dat dit erger as trauma is – dit is viktiminlogie.

Dit help ook nie dat sommiges hof toe wil gaan om hul “reg” te verdedig om liedjies te sing oor hoe boere doodgemaak moet word nie.

Syfers, so erg soos dit mag wees, sal nooit die ingrepe vertel – die trauma van ‘n ou man wie se voetsole afgeskil word om te vertel waar sy kluis is wat nie bestaan nie.

Interpol se syfer van 300 boere per 100 000 per jaar wat in Suid-Afrika vermoor word, teenoor die land se gemiddeld van sowat 35 per 100 000 per jaar vertel ‘n kliniese, verdoemende syferverhaal. Maar dit kan nie die emosie vasvang van ‘n dogter wat bel en vertel hoe haar pa gemartel is nie.

Dit kan nie die rou hartseer tydens so ‘n begrafnisdiens uitdruk nie.

En dit word nie makliker om hieroor te skryf nie. Nooit nie.

Ons, wat darem op ‘n afstand staan – bid ons vir genoeg vir troos, vir bewaring?

Of is dit lekkerder ontsnapping om die “geestelike” sy “gevoed” te hou deur in briewekolomme of internet-geriewe ander Christene te veroordeel omdat hulle hul Christenskap effens anders beleef en uitleef?

как мыть саунуtopcargo кидалы

‘n ‘Droom’-toespraak

EK sit nou die dag hier op my stoep, (ons boere sit maar so op ons stoep as dit so erg reën) en begin toe sommer so dagdroom. Dit is mos lekker om partykeer sommer jou kop so te laat gaan na al die plekke waar jy dalk nooit self sal kom nie. So met die dromery dink ek toe wat ek vir ons mense sou wou sê as ek nou ’n leier was… Dit het so iets gegaan:

***

“Hulle vertel dat daar op ’n keer ’n groep wetenskaplikes was wat na ’n olifant gekyk het. Hulle moes toe daarna die eienskappe van die olifant in volgorde van belangrikheid lys. Tot almal se verbasing was daar nie ’n enkele lys wat ooreengestem het met ’n ander nie…

Ons, net soos die wetenskaplikes, kyk ook vandag na ’n olifant voor ons, en net soos hierdie wetenskaplikes val ons klem ook op verskillende plekke. Vir party van ons is hierdie ’n Geloofstryd, vir ander ’n politieke stryd, sommiges van ons dink die klem val op die media en ander voel ’n ekonomiese model moet die primêre aandag geniet. Dog kyk ons na dieselfde olifant. Wat ons vandag moet besef is dat die persoon langs jou nie ontken dat die olifant ’n soogdier is nie, bloot omdat die klem vir hom op die ivoor lê nie. Net so beteken dit nie dat ek bereid is om die pad te stap sonder my Skepper, bloot omdat ek die of daardie model ondersteun nie.

Vir te lank het hierdie verdeeldheid onder ons, ons gerem om ons volle potensiaal te bereik. Kom ons wees nie so naïef om te dink ons gaan almal anders oortuig om die olifant soos jy te sien nie. Nee, kom ons sien dit eerder as ’n geleentheid om die totaliteit van die olifant te erken deur op verskillende maniere daarna te kyk, mens weet nooit wat sien die ander ou dalk raak nie…

Die enigste verskil tussen ons en daardie wetenskaplikes is dat ons nie net hier is om die olifant te beskryf nie, maar dat ons weet die blerrie ding moet geslag raak!

Wat ek vanaand hier aan u voorhou is nie die enigste manier waarop jy ’n olifant kan slag nie, maar as ek nou een moes slag, is dit hoe ek dit sou doen:

Bates kan altyd vervang word, paaie kan herbou word en drade kan gelas word, maar mense kan nie deur ons weer lewend gemaak word nie. Dames en here, sonder twyfel is een van die sake wat die swaarste op ons harte moet rus, die van plaasmoorde. Dit is duidelik dat die regering van die dag nie belangstel om ons boere se veiligheid te verseker nie, hulle kan skaars die mense langs die polisiestasie beskerm en in heelparty gevalle word die polisiestasie self afgebrand of beroof. Ons is oorgelaat aan ons eie lot.

Realisties gesproke is daar net twee maniere hoe ons hierdie mense, veral die ouer weerlose mense, se veiligheid kan waarborg. Die eerste is om hulle fisies op te pas. ’n Opsie wat baie moeilik uitvoerbaar is om rede ons mense so yl gesaai is. Daar is geen manier hoe ons elke boer op sy plaas, elke uur van die dag kan beskerm nie.

Die tweede opsie is om hulle te onttrek uit die spervuur.

Daar is baie van ons mense wat nie kan assosieer met die konsep van ’n Volkstaat nie en dit is ook nie wat ek vanaand aan u voorstel nie, maar om die waarde van ’n veilige oord vir ons mense te ontken is dwaas. Ek weet baie mense eis die Boere Republieke terug, maar wat van al die lewens wat ons gaan verloor totdat dit die dag realiseer. Hoekom kan ons nie ons verliese verminder deur ’n stuk Volkseiendom aan te skaf in ’n ylbevolkte deel van die land nie? Indien ons ’n aantal aftree-oorde oprig kan ons hierdie mense baie makliker beskerm. Ons skep ’n veilige hawe waar ons getalle en terrein aan ons kant het op privaat eiendom.

’n Volk se integriteit kan gemeet word aan die manier waarop daardie Volk sy ou mense en sy kinders hanteer.

Kom ons staar ons nie blind teen die idee van ’n Volkstaat nie, maar kom ons sien hierdie vir wat dit is- ’n Reddingsaksie. Ons kan letterlik duisende ouer mense uit die pad van geweld haal met hierdie inisiatief. Ons ou mense sukkel om emosioneel aan te pas met alles wat in hierdie land aangaan, sommiges sukkel finansieel en ander is gedurig bekommerd oor hulle veiligheid.

Maar kom ons stop nie daar nie-

Kom ons bou klinieke en mediese geriewe waar ek en u kan heengaan om mediese sorg te ontvang. Baie van ons betaal duisende Rande aan mediese fondse, net om te hoor dit dek nie dit of dat nie. Hoeveel rustiger sal ons nie almal slaap as ons weet daar is ’n hospitaal wat jou gesondheid op die hart sal dra eerder as jou ‘uitgeputte fondse’ nie?”

Kom ons bou ook skole vir ons kinders waar hulle teen ’n waardige standaard opgevoed kan word. Skole wat nie besmet is van dwelms, pornografie en misdaad nie. Skole wat dit hulle werk maak om u kind die beste opvoeding in die wêreld te gee…

Sou ons net dit doen, is ons klaar halfpad na ’n nuwe Volk-tuiste. Met al die voete van die ouer mense, die kinders en hulle ouers skep ons ’n vrugbare geleentheid vir die ontwikkeling van nuwe besighede, of selfs vir bestaande besighede om nog ’n tak oop te maak. Dit is ’n sneeubaleffek wat plaasvind…

Dames en here… Ons Volk hou daarvan om te bou. Ons is goed daarmee om goed op te bou. Hoekom laat ons toe dat menings en opinies in ons pad staan om ’n nuwe begin te maak? ’n Begin wat nie noodwendig gaan ophou by ’n stukkie grond nie, maar wat kan groei, plaas vir plaas, distrik vir distrik, munisipaliteit vir munisipaliteit totdat daar duisende hektare aaneen terug is onder ons bestuur.

Wat met Suid Afrika gaan gebeur, weet niemand van ons verseker nie, maar as dinge aangaan soos dit nou aangaan, kan hierdie regering nie vir altyd voortbestaan nie. Die mense op die straat sal hulle met tyd uit die stoele lig, ’n bloedbad in die strate is nie ’n vergesogte idee nie. Hoekom wil ons dan tussen-in wees?

God help hulle, wat hulle self help. Ons kan nie verwag om net gerieflik terug te sit nie, ons toekoms is in ons hande. Ons moet begin wys of hierdie taal, Volk en kultuur wat aan ons toevertrou is, vir ons enige iets werd is, ons moet begin woeker met ons talente en ophou om dit te begrawe onder tonne argumente en redenasies…

Wat vra ek van u?

Ek vra dat ons elkeen ons gesindheid teenoor ons toekoms moet verander. Kom ons neem deel aan hierdie plan uit liefde vir ons eie, nie uit protes teen hulle nie. Kom ons maak ons saak reg met ons God en loop die pad in nederigheid en verootmoediging met ons Saligmaker, maar ook met liefde en respek vir hulle wat langs ons loop, al verskil ons oor hoe ons die olifant sien…

Kom ons raak opgewonde oor die plan en baseer nie ons gevoel op leiers, organisasies of teorie en argumente nie. Hier is ’n wettige, praktiese, eenvoudige plan wat geen leed aan enige iemand bedoel nie, ’n plan wat eenvoudig ’n tydelike veilige hawe wil skep vir ons mense. Kom ons maak die plan ons eie… Praat daaroor met passie en opwinding met al jou familie, vriende en kollegas. Maak seker dat almal wat jy elke dag raakloop weet hoe vorder die plan. Laat dit in jou mamma-taal soos heuning afdrup… Maak mense om jou deel, kry hulle betrokke en hou hulle betrokke…

Dra by…

Die realiteit is dat so aksie miljoene Rande gaan kos. Kom ons sit Oranje blikkes uit in elke besigheid en plek waar ons mense al hulle sente kan ingooi, kom ons braai wors en verkoop dit op Saterdae om geld in te samel, kom ons kollekteer glas koeldrank bottels en gaan gee hulle in vir geld… Kom ons reël vertonings en opvoerings om geld in te samel. Ek vra u nie om u hardverdiende spaargeld aan ons oor te teken nie, ek vra u net om dit wat u kan bekostig te belê in ’n inisiatief wat u belange op die hart gaan dra. Kom ons maak soos die mossies en bekommer ons nie oor die geld nie, want ’n boer maak ’n plan.

Wat vra ek vanaand nie van u nie?

Ek vra nie dat u deel word van iets onwettigs nie,

Ek vra nie dat u alles opgee om dadelik na hierdie stukkie aarde toe te trek nie,

Ek vra nie vir u om skielik kakie te dra en ’n baard te groei nie,

Ek vra nie dat u die wapen opneem neem nie,

Ek vra nie dat u, u standpunt oor die olifant moet verander nie,

Ek vra nie te veel nie…

Dames en here… Stel u voor hoe moes die Voortrekkers gevoel het op die vooraand van hulle trek. Hulle moes baie agter los, met geen waarborg oor wat voorlê nie, dog het hulle moed gehou en die pad met durf aangepak. In vergelyking hiermee is dit wat ek vanaand vir u vra nie veel nie…

Wat ons egter moet besef is dat dit vyf minute voor twaalf is voor ons volk… Dames en here, die wa is gepak en u moet vanaand kies of u klim of bly… More as die son breek in die Ooste is daar net een ding om te doen…

“Skouer aan die wiel en voorwaarts!”

Ek dank u…

***

Ek dink dit sou my storie gewees het… Miskien sou party mense my neus daaroor wou breek, miskien sou ander iets daarin gesien het waarvan hulle hou…

Wie weet as mens so op jou voorstoep sit en droom terwyl dit reën?

пуско зарядноеФільчаков Олександр Васильович прокурор

‘n Vergete saak

Af en toe gebeur dit dat die oorlog verby is voor die verloorders mooi besef hulle was in ‘n oorlog betrokke. Volgens oorlewering het ‘n kabinet so lank getob oor die vraag of hulle oorlog moet verklaar, dat, toe die vergadering verdaag, hul land klaar oorgeneem was.

Oud-Kovsies, studente en dosente is skynbaar ewe verdwaas om te ontdek die UV se leuse is verander om God weg te laat. Die UV gee die versekering daar is wyd oorleg gepleeg, maar tot dusver het niemand skynbaar in die openbare media of op die internet na vore gekom en verklaar hy of sy is geraadpleeg nie. Toe die bugerregte-organisasie, Afriforum, ‘n peiling hou om die gevoel te probeer bepaal, het die studentedekaan na berig word uit sy kassie gespring en die betrokkenes glo selfs gedreig dat hulle toegesluit sal word as hulle met die media praat. Die peiling het bykans eenparige teenkanting teen die UV-besluit getoon.

Die wyse waarop die proses hanteer is het baie skade, ook aan onskuldige partye, aangerig. Selfs van die media wat min aandag aan die protes gegee het, is in die gerugte wat soos veldbrande geloop het van medepligtigheid, of agter die skerms inbinding beskuldig. Die internet-reaksie op Rapport se berig wat die storie na die oopte geruk het, dui daarop dat die kwessie hoogs emosioneel is. In privaat gesprekke gee dosente te kenne dat dit ‘n hoogs emosionele kwessie is, en dat hulle bang is om openlik standpunt in te neem.

Dit is ook vreemd dat dosente wie se name in die aanvanklike berig as ongelukkig oor die saak genoem word, onder andere die moderator van die NG Kerk, prof. Piet Strauss, sedertdien skynbaar stil oor die kwessie geraak het. Dit verhoog die persepsie van erge intimidasie.

Benewens Afriforum het die FAK ‘n sterk bewoorde, maar ellelange en akademies gelaaide “mediaverklaring” uitgereik, wat nie sonder baie harde skaafwerk en inkorting vir publikasie geskik sou wees nie. Nogtans, as die nuuswaarde gekoppel aan die FAK se statuur beoordeel word, is dit vreemd dat dit nie buite die internet beduidend die media in gehaal het nie. Die FAK is immers die sambreelliggaam vir instansies soos die ATKV, die Voortrekkers, die Afrikanerbond en vele meer. Die mediaverklaring het dus nie in ‘n lugleegte gestaan nie.

Ook ander instansies het by navraag laat blyk dat “die geveg nog gaan begin.”

Vandag plaas Volksblad ‘n lang artikel deur die afgetrede teoloog en Kovsie-dosent, prof. Johan Janse van Rensburg. In breë trekke wys hy daarop dat die redes wat die UV-owerhede voorhou vir die besluit, nie water hou nie. Hy vra ook die vraag oor hoe dit moontlik is dat die naam van God in die leuse problematies in ‘n moderne Suid-Afrika kan wees, terwyl dit in die grondwet, onder meer deur die sing van die Volkslied, nie aanstoot gee nie? Hy gebruik verskeie ander internasionale voorbeelde.

Is prof. Janse van Rensburg se artikel nou die vonk by die kruitvat?

Die vraag bly steeds hoe dit moontlik is dat so iets kon gebeur sonder dat daar ‘n groter storm was? Was dit die produk van knap strategiese kommunikasie aan die kant van die UV, of naakte intimidasie om ontevredenheid in die doofpot te hou.

Of…was Christene oor ander kwessies te op mekaar gekeer om behoorlik aandag aan ‘n gemeenskaplike probleem te skenk? Dit het immers saamgeval met die verskyning van die Trojaanse perd-boek, wat op sy beurt saamgeval het met die debatte rondom ‘n fundamentalistiese of gereformeerde benadering tot Skrifverstaan. Ander gewilde hoede wat Christene vir mekaar opsig is post-moderniste en perdebouers. Dit woed ook in die ander Afrikaanse susterkerke. Die tipe goed wat Christene in veral internetrubrieke oor ander Christene skryf, is skokkend skandalig. Van die koerante het internet-kommentare ontkoppel by briewe wat ‘n godsdiensstrekking het, ander het streng plasingskeuring toegepas, en Volksblad het twee keer in die gedrukte weergawe die debat gestaak.

Die geheelbeeld is een van opperste onverdraagsaamheid en veroordeling, en stoot die meeste mense af. Dan is dit nie so moeilik om ‘n werklik saakmakende saak stil-stil deur te voer nie, want selfs al word dit bemerk en aangeval, raak die kritiek onsigbaar en onhoorbaar teen die oorverdowende kritiek wat Christene op mekaar neerwerp.

справки 086-уОлександр Фільчаков прокурор

Hulle stink so lekker want hulle drink so lekker

Sowat 70 tot 80 persent van alle Suid-Afrikaners dui aan dat hulle Christene is. Van die oorblywendes behoort aan godsdienste wat nie net matigheid met die gebruik van alkohol voorskryf nie, maar dit heeltemal verbied.

Tog meen die Wêreldgesondheidsorganisasie dat Suid-Afrika nou die vyfde plek ter wêreld beklee as dit kom by die inspan van tiermelk.

Afrika is een van die twee wêreldstreke waar die gebruik styg.

Suid-Afrikaners verorber elk jaarliks die ekwivalent van sowat tien liter skoon alkohol. As in gedagte gehou word dat sowat die helfte van die bevolking geen alkohol gebruik nie, en nog ‘n groot groep matig drink of geleentheidsdrinkers is, dan dui dit daarop dat sommige burgers hul alkohol behoorlik by die vat kafdraf. Alkoholgebruik verskil per provinsie, met die Wes-Kaap wat met die jongste beskikbare syfers die toon aangee, en die Noord-Kaap waar die grootste persentasie vroue te diep in die bottel loer.

Hierdie “prestasie” kom teen ‘n prys. Enkele jare gelede is bereken dat alkohol-misbruik die land minstens R9 miljard per jaar kos. Dit word oor ‘n wye spektrum soos ongelukke, gestremdheid as gevolg van ongelukke, hospitalisering, fetale alkoholsindroom en vele meer gemeet.

Bykans elke verslag wat oor die probleem handel, verwys ook daarop dat dié probleem MIV-positiewe mense gou-gou na die graf help. Ook in lande waar MIV – Vigs nie so ;n groot probleem nie hou die gemiddelde lewensverwagting in ‘n mate van die per capita alkoholgebruik verband.

Talle wesies het hul ouers verloor weens die feit dat die bestuurder van ‘n ander motor aangeklam agter die stuurwiel was.

Predikante en ander terapeute voer ‘n daaglikse stryd waar Oom Tas die derde party in huwelike geword het.

Alkohol is ook ‘n depressant – nogal misleidend omdat mense dit juis gebruik om vir ‘n kort tydjie beter te voel. Die probleem is dat daar elke keer dieper in die bottel gekyk moet word om die gevolglike depressie deur die kortstondige euforie te vervang.

Die CDP se munisipale raadslid in Pretoria, Richard Botha, vertel hoe die Tshwane-munisipaliteit probeer het om wanbetalers se krag te ontkoppel. Kort voor lank is hulle deur ‘n groot beskonke, dreigende skare omring wat hulle gedwing het om die ontkoppelde huishoudings weer op te koppel. Op die oog af – geld om aan Bacchus te offer is daar skynbaar wel, maar nie om vir gebruikte krag te betaal nie.

Kombineer die omvang van daggagebruik op straat met die tonne dagga wat die polisie gereeld vernietig, en ander dwelms soos Tik en Crack, gom en oor die toonbank medikasie wat misbruik word, en die prentjie is nie baie mooi nie.

Suid-Afrika is die verkragting-hoofsetel in die wêreld, en wat moordkoers betref, het Suid-Afrika volgens sommige aansprake ook dié titel onlangs bygevoeg.

Dit alles is ‘n swak advertensie vir ‘n land wat statisties een van die grootste persentasies selfverklaarde Christenbevolkings huisves. Die pastorale impak hiervan is so groot dat kerke en predikante baie tyd aan interne pastorale krisisse moet spandeer en die res van hul gemeentes ook nog regverdig moet bedien. Dit het tot gevolg het dat kerke nie altyd by hul profetiese roeping, veral die tot orde roep van die regering, uitkom nie.

игра для дівчаттопкарго развод

Protes of straatoorlog?

Kort na die ANC-jeugliga die Egiptiese opstand tot die suksesse van die peperduur en hoogs omstrede wêreldjeugfees verklaar het, en pres. Jacob Zuma aldus die ANC se uitleg gesê het die land onder ANC-bewind kan met die hemel vergelyk word, het mense hul lewens in protesoptredes verloor.

Op verskeie plekke woed diensleweringsproteste, en ‘n groep joernaliste het volgens berigte baie amper self in die slag gebly. Volgens berigte het die polisie in een geval skerppunt-ammunisie aangewend.

Dit sal binnekort blyk of dit die aanbreek van ‘n nuwe seisoen van stedelike onluste inlui, en of dit weer na groot dele van die land gaan uitbrei.

Boonop vind dit saam met die vervoerstaking plaas, wat ook nie oral ewe vreedsaam verloop nie.

Bykans onafhanklik hiervan word daar in sekere kringe ontleed wat die kanse is dat Suid-Afrika ‘n soortgelyke lot as Egipte te beurt sal val. In teorie is die kanse goed.

Dit is geen geheim nie dat die ANC deurlopend hemelhoë verwagtinge aanblaas. Trouens, kort-kort verskyn daar syfers, soos onlangs deur die Instituut vir Rassebetrekkinge, wat daarop dui dat daar inderdaad groot vordering gemaak is met water- en kragvoorsiening, asook spoel-toilette.

Dit is egter duidelik dat ‘n groot deel van die publiek nie dieselfde persepsies koester nie. En mense reageer op hul persepsies van die werklikheid eerder as die werklikheid self.

Maar wat is die werklikheid in elk geval.? Die ouditeur-generaal se verslae vertel jaar vir jaar ander verhale as die suksesverhale. Koerantberigte lig die publiek in oor sake soos babasterftes as gevolg van besoedelde water, rou riool wat weens die verwaarlosing of oorbelading van rioolstelsels in riviere beland, van munisipaliteite wat nie hul kragrekenings aan Eskom kan vereffen nie – ‘n bitter ironie omdat munisipaliteite die krag teen ‘n wins aan verbruikers verkoop. Of veronderstel is om dit te doen, en waar die armes gehelp word, las die staat daarvoor by.

Intussen is die strate die ene slaggate. Vullis word dae lank nie verwyder van die sypaadjies waar dit volgens ‘n skedule uitgeplaas is nie en nie ‘n woord oor probleme daarmee word aan die inwoners gekommunikeer nie.

Werkloosheid werk armoede en die onbekostigbaarheid van dienste in die hand. Tog, toe amptenare van ‘n metroraad krag van wanbetalers gaan ontkoppel het, is hulle deur ‘n groot skare gekonfronteer en gedwing om weer die opkoppelings te doen. Volgens die amptenare was so te sê die hele skare dronk. Geld vir drank het hulle, maar nie om krag te betaal nie.

Politieke sosioloë se modelle van relatiewe deprivasie word weer afgestof. Hiervolgens ontstaan daar ‘n rewolusionêre gees wanneer die gaping tussen verwagtinge en die werklikheid te groot word.

Wanneer die politici hul kiesers ‘n hemel op aarde beloof, maar hulle kry iets wat hulle hel op aarde gee, is die gaping tussen verwagtinge en die werklikheid groot.

Dan het konflik die potensiaal om soos ‘n veldbrand landswyd te versprei. Of dit nou oor dienslewering gaan, of dit gaan oor stakers wat woedend is vir ander wat nie staak nie, of dit woede vir onwettige immigrante is wat om skaars werksgeleenthede meeding met die buitelanders wat nie sulke hoë eise stel nie – enigiets deug om die vonk in die kruitvat te wees.

En dan is daar plaasaanvalle en plaasmoorde.

Daar is gewelddadige stedelike misdaad.

Daar is politici wat ‘n permissiewe voorbeeld op die morele terrein plaas.

Of dit die potensiaal het om die regering te laat val is waarskynlik ‘n vergesogte gedagte. Dit het wel die potensiaal om die regering nog wilder beloftes te laat maak, en beleggers oorsee koue rillings te gee. En dus nog minder middele om die beloofde hemel op aarde te skep.

Kyk ook na PRAAG se nuwe peiling op die tuisblad: 

Gaan swak dienslewering lei tot massa-opstande?торцевые головки,лобановский политик

Bloedrooi Blik Oor

Ek dink, as baie van ons ou volkie wat saans so om die TV vaskloek om 7de Laan te kyk, kon gelees het wat die Christian Science Monitor oor dié en ander Suid-Afrikaanse spies geskryf het, breek hulle sommer hul TV’s.

Nee, skryf die niggie uit Suid-Afrika, veral 7de Laan dra so baie by om die skade van apartheid ongedaan te maak, want dit leer respek vir al elf amptelike tale aan.

Iets in der voege.

En sy skryf hoe wit, swart, Engels, Afrikaans, Moor en Indiër, saans voor die TV-stelletjie plek inneem en hulle vereenselwig met die doen en late van die “Laners.” En waar hulle nie die meestal Afrikaanse dialoog so lekker verstaan nie, daar help die Engelse subteks. Alles om so wônnerlik te keer dat Engels oorvat.

Soos my broer, Bak Oor, kleintyd die lied so bietjie verkeerd gehad het, en hy gesing het hoe hy woedend om hom slaan as daar storms oor sy kop gaan, so gaan die uwe en dam die rekenaar se toetse woedend by.

Oor die hofsake wat gemaak word om Afrikaans in skole te probeer behou, en so aan. Van die landboustudente wat in hul derde jaar ontdek dis nou all English, hulle mag nie eens meer in die klas vir ‘n Afrikaanssprekende dosent ‘n vraag in Afrikaans vra of ‘n vraestel in Afrikaans beantwoord nie.

En van oudste, Groot Blik Oor, wat in dieselfde stad maar by ‘n ander universiteit, in sy Landbou-honneursjaar ontdek klasse is all English. Maar hy mag darem nog Afrikaans skryf en vrae vra.

Boonop staan die berig langs een wat vertel van hoe ‘n goeie staatsrede Zuma gelewer het.

Ek tik dat die toetse waai, want, so lui die spreekwoord mos, wie blikore het en nie wil hoor nie, se ore moet vuurwarm geklap word. Klang, klang!.

Teleurgesteld, want in die verlede was die berigte oor Suid-Afrika byna altyd baie goed, en boonop gestroop van politieke korrektheid. Maar, so smaak dit my, moes die gereelde korrespondent ‘n naïewe handjie bygekry het, of is hy vervang. En indien hy vervang is, was daar dalk druk van iewers af?

Maar terug tot 7de Laan.

Al kyk die uwe dit nie, is hy weens die res van die huishouding se verslaafdheid gewoonlik goed op die hoogte.

En presies hoe goed die reeks vir ons volkie se sedes is weet ek nie, want, so verstaan ek, die enigste een wat nog binne die eg in die ander tyd geraak het, het haar man se broer se kind verwag.

Nou weet ek die landjie se sedes – ook die van die Afrikaner – is nie so heeltemal wat dit moet wees nie – so erg – verstaan ek – daar is nou vir sommige van onse landjie se mense ‘n agterdeur hemel toe gemaak. Moet net reg stem.

Maar of dit darem lewensgetrou is dat nie een kind binne die (regte) eg gebore word nie?

Ja nee, my bêtteries is heeltemal pap. Want ek het pas die hele wêreld geleer ek kyk nuus na 7de Laan, en hulle moet my nie dan bel nie. Ook nie wanneer “Hoe verklaar jy dit?” of “Kommentaar” aan is nie, en dat hulle my gerus en by voorkeur tydens 7de laan moet bel, nou moet ek die Amerikaners ook begin touwys maak. En daar is nogal ‘n hele lot van hulle.

 

 

купить тамбов химия для очистки деталейФільчаков Олександр Васильович прокурор