Nee, skryf die niggie uit Suid-Afrika, veral 7de Laan dra so baie by om die skade van apartheid ongedaan te maak, want dit leer respek vir al elf amptelike tale aan.
Iets in der voege.
En sy skryf hoe wit, swart, Engels, Afrikaans, Moor en Indiër, saans voor die TV-stelletjie plek inneem en hulle vereenselwig met die doen en late van die “Laners.” En waar hulle nie die meestal Afrikaanse dialoog so lekker verstaan nie, daar help die Engelse subteks. Alles om so wônnerlik te keer dat Engels oorvat.
Soos my broer, Bak Oor, kleintyd die lied so bietjie verkeerd gehad het, en hy gesing het hoe hy woedend om hom slaan as daar storms oor sy kop gaan, so gaan die uwe en dam die rekenaar se toetse woedend by.
Oor die hofsake wat gemaak word om Afrikaans in skole te probeer behou, en so aan. Van die landboustudente wat in hul derde jaar ontdek dis nou all English, hulle mag nie eens meer in die klas vir ‘n Afrikaanssprekende dosent ‘n vraag in Afrikaans vra of ‘n vraestel in Afrikaans beantwoord nie.
En van oudste, Groot Blik Oor, wat in dieselfde stad maar by ‘n ander universiteit, in sy Landbou-honneursjaar ontdek klasse is all English. Maar hy mag darem nog Afrikaans skryf en vrae vra.
Boonop staan die berig langs een wat vertel van hoe ‘n goeie staatsrede Zuma gelewer het.
Ek tik dat die toetse waai, want, so lui die spreekwoord mos, wie blikore het en nie wil hoor nie, se ore moet vuurwarm geklap word. Klang, klang!.
Teleurgesteld, want in die verlede was die berigte oor Suid-Afrika byna altyd baie goed, en boonop gestroop van politieke korrektheid. Maar, so smaak dit my, moes die gereelde korrespondent ‘n naïewe handjie bygekry het, of is hy vervang. En indien hy vervang is, was daar dalk druk van iewers af?
Maar terug tot 7de Laan.
Al kyk die uwe dit nie, is hy weens die res van die huishouding se verslaafdheid gewoonlik goed op die hoogte.
En presies hoe goed die reeks vir ons volkie se sedes is weet ek nie, want, so verstaan ek, die enigste een wat nog binne die eg in die ander tyd geraak het, het haar man se broer se kind verwag.
Nou weet ek die landjie se sedes – ook die van die Afrikaner – is nie so heeltemal wat dit moet wees nie – so erg – verstaan ek – daar is nou vir sommige van onse landjie se mense ‘n agterdeur hemel toe gemaak. Moet net reg stem.
Maar of dit darem lewensgetrou is dat nie een kind binne die (regte) eg gebore word nie?
Ja nee, my bêtteries is heeltemal pap. Want ek het pas die hele wêreld geleer ek kyk nuus na 7de Laan, en hulle moet my nie dan bel nie. Ook nie wanneer “Hoe verklaar jy dit?” of “Kommentaar” aan is nie, en dat hulle my gerus en by voorkeur tydens 7de laan moet bel, nou moet ek die Amerikaners ook begin touwys maak. En daar is nogal ‘n hele lot van hulle.
