Ook vandag beleef ons byna dieselfde graad van wanorde in ons land waardeur duisende onskuldige mense reeds gesterf het. Hierdie vlaag van etniese geweld wat Suid-Afrika teister word deur sommige as blote “misdaad” beskou, maar soos enige deskundige op die gebied van etniese konflik sal erken, steek daar veel meer in as blote kriminaliteit.
Sekerlik is die geskiedenis besig om homself te herhaal. Die Duitse filosoof Nietzsche het gepraat van ʼn Ewige Wederkeer waardeur die wêreld homself herhaal. Hierdie gedagte is terug te voer na die volgelinge van Pythagoras, asook die ou Griekse Stoïsyne. ʼn Voorganger van Nietzsche, Schopenhauer, het dieselfde begrip in sy werk voorgehou. Ook in die moderne fisika word die gedagte van tyd wat nie liniêr is nie, maar sirkelvormig, oorweeg. Die bekende Britse astrofisikus, Stephen Hawking, praat byvoorbeeld van “die pyl van tyd” in sy werk. By ʼn sekere punt, as gevolg van termodinamiese entropie, ondergaan tyd ʼn ommekeer en begin dit weer van vooraf.
Maar selfs sonder ʼn teorie soos die Ewige Wederkeer, kan enige leser van die geskiedenis waarneem dat die gang daarvan siklies geskied. Enige individu, enige onderneming, enige volk ervaar sy hoogte- en laagtepunte. Soms word die laagtepunt gou-gou weer opgevolg deur ʼn hoogtepunt, soos in die geval van die moorde op Retief en die Trekkers wat binne enkele maande tot die oorwinning by Bloedrivier gelei het. Bloedrivier was ook soveel meer as ʼn blote militêre oorwinning, want uit daardie smeltkroes is die Afrikanervolk gebore. Terwyl die Voortrekkers in die tyd direk daarvoor dit moeilik gevind het om met mekaar saam te werk – vandaar die uitdrukking “dwarstrek” – is hulle uit nood saamgesnoer in ʼn enkele eenheid wat teen die Zoeloes van Dingaan weerstand moes bied.
Maar – en dit is vandag die boodskap wat ek veral vir u wil tuisbring – soms duur historiese siklusse nie maar enkele maande vanaf die trog tot die piek, vanaf die laagtepunt tot die hoogtepunt nie, maar jare, dekades, selfs eeue. Ons voorouers, lank voor die Groot Trek nog, het sulke tye van wanhoop en ellende beleef. Tot 35% van ons voorouers was Duitsers. In die jare tussen 1616 en 1648 het Duitsland die Dertigjarige oorlog beleef waartydens tot ʼn derde van die bevolking omgekom het. Daar was geweld, hongersnood, ellende. Volgens sommige geskiedkundiges het dit Duitsland of die destydse Pruise 120 jaar geneem om van die Dertigjarige oorlog te herstel.
Hoewel ons as Afrikaners onder die dwingelandy van die ANC-bewind grootskaalse geweld in die vorm van plaas- en huisaanvalle beleef, daar op soveel gebiede teen ons gediskrimeer word, ons taal, kultuur en identiteit doelbewus afgetakel en stelselmatig vernietig word, kan ons nie sê dat dit so erg soos die Dertigjarige oorlog of selfs so erg soos die Tweede Vryheidsoorlog is nie. In 1902 moes ons die knie buig voor die Britse Ryk en het ons ons vryheid verloor. Al ons plase en ander bates is deur die vreemde troepe verwoes. Maar verbasend genoeg – of miskien nie so verbasend nie – het ons volk weer opgestaan.
Gedurende die hele twintigste eeu het die Afrikaner ʼn merkwaardige opbloei beleef, op alle gebiede – polities, ekonomies, landboukundig, industrieel, kultureel, taalkundig, letterkundig, musikaal, wetenskaplik. Nou onlangs, op drie deser, het die wêreld die veertigste herdenking van die eerste hartoorplanting in die geskiedenis gevier, dié deur dr. Chris Barnard. ʼn Afrikaner het die eerste hartoorplanting gedoen. Hierdie klein groepie mense aan die suidpunt van Afrika was op allerlei gebiede bedrywig en een prestasie na die ander is opgestapel. Ook die eerste van hierdie Desember is Elisabeth Eybers oorlede, die grootste digteres wat Suid-Afrika, nee die hele Afrika sedert die tye van die Griekse beskawing in Noord-Afrika en in Alexandrië, ooit voortgebring het. Graag wil ek met u een van haar gedigte deel waarin sy op enigsins ironiese wyse as kunstenaar ook haar patriotiese gevoelens oor haar vaderland betuig. Onthou dat sy jare lank, vanaf 1961, in Nederland gewoon het. Vandaar die titel van die gedig:
Uitgewekene
Wat ook al in my binneste agterbly,
Suid-Afrika, jý hoort feilloos daarby.
Om die inherente geheuetaak
nog onaanvaarbaarder te maak
noem hulle jou hier somaar Afrika.
Onreg en honger en opstand speel
‘n omvattende rol in die groot geheel
en het niks, maar hoegenaamd niks te maak
met die herinneringe wat my bewaak
en wat ek bewaak. Terwyl jy verdwyn,
Suid-Afrika, hoed ek die heilige skyn
en kom jou nooit ofte nimmer na.
Uit: Respyt 1993
Hierdie verklaring van Eybers, dat sy Suid-Afrika nooit te na kom nie, het ongelukkig nooit inslag gevind by die onlangse Afrikaner-politici nie. Soveel kere in die onlangse verlede het hulle Suid-Afrika juis te na gekom en sit ons vandag waar ons sit, op pad na ʼn Zimbabwe. Asof in bespotting van die idee van ʼn Ewige Wederkeer, word dieselfde grondhervorming in Suid-Afrika voorberei wat tot die ondergang van ons noordelike buurland gelei het.
Maar ek wil u nie pessimisties stem nie. Hierdie toespraak is juis bedoel om u nuwe hoop te gee deur u daaraan te herinner dat dit nie altyd droog bly nie; daar kom weer reën. Dit gaan nie permanent sleg nie; dikwels neem die geskiedenis weer ʼn ander, vroliker loop. Ons het dit ná 1902 gesien en ook ná die verdeeldheid wat daar in die laat dertigerjare onder Afrikaners ingetree het rondom die Tweede Wêreldoorlog. ʼn Mens sal ver moet gaan om swartgalliger woorde teë te kom as dié wat deur genl. J.B.M. Hertzog uitgespreek is op 24 Februarie 1942. Nadat Hertzog insgelyks verwys het na die merkwaardige prestasies en herwinning van hul vryheid wat die Afrikaners van 1925 tot 1940 kon bereik, vra hy die skreiende vraag, ʼn vraag wat elke Afrikaner sekerlik in hierdie jaar 2007 met dieselfde skor en hees stem kan vra: “Wat het daarvan geword?”
Vir Hertzog, waarlikwaar een van ons merkwaardigste en intelligenste leiers, het die toekoms in 1942 donkerder gelyk as vir enigeen van ons volksgenote wat vandag op die vliegtuig Australië toe klim, want hy sê:
“Wanneer die Afrikaner vandag – nog geen twee en ʼn halwe jaar na sy afstand van regering – sig afvra wat is geword van al hierdie waardevolle prestasies en verrigtinge waardeur die Afrikanerdom Suid-Afrika en die Afrikanervolk, gedurende die 15 jaar van sy regering, verryk en verhoog het, dan kan daar geen antwoord op wees nie dan: Van alles nasionaal-waardevol wat deur die nasionale Afrikanerdom tot op 4 September tot stand was gebring, is meestal slegs nog die ruïne te bespeur. En oordelende na die haas waarmee tot op hierdie oomblik met sloping voortgegaan is, mag aangeneem word dat binnekort slegs nog maar puin te sien sal wees!
…Te midde van al hierdie ruïne en puine, staan intussen – verskeur, magteloos en tot die stof verneder – die tragiese figuur van die jong Afrikanerdom wat in trotse fierheid, nog maar kort gelede, sig verheug het in sy roemryke prestasies en verrigtinge in diens van volk en vaderland, uit eie krag en sterkte in moedige eendrag en eensgesindheid behaal. Vanwaar hierdie skielike ineenstorting van ʼn gesonde, kragtige volksontwikkeling wat sig reeds in staat getoon het om op enige gebied van die volkslewe tot ʼn mate van bloei en rypheid te kom wat die toets van vergelyking met dié by ander beskaafde volkere met eer kon deurstaan?”
Hoe hard slaan Hertzog se bittere woorde van 65 jaar gelede nie ook vandag nie? Hoeveel te meer beleef ons nie vandag dieselfde sloping en afgang as waarvan hy praat nie? Op byna elke gebied kan ons vandag ewe seer “puin en ruïne” gadeslaan. Hoeveel plase is nie oor die afgelope jare letterlik tot niet gemaak deur die Afrikanistiese, sogenaamde “grondhervorming” nie? Waar eens landerye, besproeiing, vol skure, ʼn gewerskaf van mense was, het nou die letargiese skuifelgang van die dood ingetree. Waar eens netjiese plaasopstalle gepryk het, tref ons tans dikwels net murasies aan, met die dakplate en die vensterrame verwyder en die wind wat deur die gate huil en die gras wat stadigaan die blyke van ons eens grootse beskawing aan die suidpunt van Afrika toegroei.
Ook ons opvoedingstelsel het ʼn bespotting geword wat die naam “onderwys” nie meer waardig is nie. Op die model van die totalitêre stelsels vanagter die eertydse ystergordyn, word ons skole, universiteite en toenemend selfs ons kerke “getransformeer” tot wat die Franse Marxistiese filosoof, Louis Althusser, “ideologiese staatsapparaat” genoem het. Die hoofdoel van skole en universiteite in ons land is nie meer om op te voed, om te verfyn, om te onderrig, om kennis oor te dra nie, maar om te breinspoel, om revolusionêr te verander, om ons volk veral geestelik te onderwerp. Daardie trotse, fiere jong Afrikaner waarna Hertzog verwys, het meer as ooit tevore ʼn slaaf in sy eie land geword. Vanuit die ideologiese staatsapparaat van die regime word ons oor en oor gebombardeer met apartheid, blanke skuld, die minderwaardigheid van ons taal en kultuur, dat ons vreemdelinge of setlaars in ons eie land sou wees en dergelike meer. Ons geskiedenis is vervals en vanuit die Marxistiese oogpunt herskryf sodat ons vir ewig die skuldenaars sal wees van die meerwaarde waarvan ons die proletariaat kwansuis ontneem het.
Waarskynlik die pynlikste van dit alles is om te sien hoe goedgelowige, naïewe volksgenote dit alles vir soetkoek opeet en soos papegaaie agterna sê. Ook ons patetiese Kaapse pers wat soos ʼn wafferse Prawda uit die ou Sowjetunie daagliks of weekliks “die waarheid” aan ons opdis, neem deel aan dié ideologiese mimiekspel. Prawda beteken mos “waarheid”. In die Sowjetunie was daar naas Prawda ook Izvestia (nuusberigte). Daarom het die grappie in Russies die rondte gedoen: "V Pravde njet izvestij, v Izvestiach pravdy njet", oftewel “In Die Waarheid staan daar geen nuusberigte nie, In Die Nuusberigte staan daar geen waarheid nie”.
Interessant is nou dat Hertzog in 1942, tydens daardie donker uur van Afrikanerondergang, sy eie wanhopige vraag, “Vanwaar hierdie skielike ineenstorting van ʼn gesonde, kragtige volksontwikkeling…?” beantwoord het. Veral het hy twee elemente – hy noem hulle “doodsvyande” – geïdentifiseer wat die Afrikaner in daardie dae tot ʼn val gebring het: die Britse Empire en die Afrikanerpartykramer. Aan die een kant is daar die Britse Ryk wat gekant is teen Afrikanervryheid en -onafhanklikheid, met al sy ondersteuners ook in Suid-Afrika. Maar die tweede doodsvyand wat Hertzog noem, die Afrikanerpartykramer, is volgens hom nog dodeliker as die eerste. ʼn Ander term vir “partykramer” sou wees: die partypolitikus wat in eie belang handel.
By al die sielewroeging wat daar tans onder Afrikaners aan die gang is, die tergende vrae rondom hul skielike val vanaf leiersvolk van Suid-Afrika tot “varkwagters by ʼn bedeling” soos die digter en eertydse redakteur van Rapport, Izak de Villiers, hulle ʼn tydjie gelede genoem het, is daar tog ʼn eenvoudige antwoord: ons is deur partykramers uitverkoop! Mense wie se pensioene of persoonlike aansien of dalk die Nobelprys vir vrede meer werd was as die vryheid en soewereiniteit van ʼn ganse volk. Ons praat hier van die spreekwoordelike toekoms wat vir ʼn pot lensiesop verkoop is.
Dis nodig dat iemand die Afrikanergeskiedenis van die afgelope veertig jaar gaan opskryf, nie volgens die heersende mode van Afrikanerverguising en ʼn soort Marxistiese determinisme wat ons uiteindelike onvryheid en magteloosheid as “histories onafwendbaar” sien nie, maar ʼn nugtere, praktiese ontleding van presies hoe ons vyande die hele bouwerk waaraan Hertzog en soveel ander voor hom gewerk het, onder ons uitgekalwe het tot waar ons vandag so byna-byna kaal gestroop op die wêreld staan. So ʼn geskiedenis sou begin met die triomf van die Republiekfees van 1966 onder Verwoerd toe hy borrelend optimisties oor die toekoms van die Afrikanervolk was tot die huidige tydvak waartydens ons byna daagliks hoor dat ons maar net dankbaar moet wees dat ons nog lewe. Hoeveel arrogante swart politici, waaronder Thabo Mbeki self, het nie sedert 1994 al aan ons gesê dat ons ons sterre kan dank dat ons nie met die volle geweld van die revolusie getref is nie?
So ʼn eietydse kroniek oor die pas afgelope vier dekades kan grootliks bydra om die verwarring by ons mense oor hul eie ondergang op te klaar. Hertzog was destyds helder genoeg om die Afrikaner se twee doodsvyande in die vorm van die Britse Ryk en die Afrikanerpartykramer bloot te lê.
Aan die begin van hierdie toespraak het ek verwys na die Ewige Wederkeer wat ons ook kan sien as die geskiedenis wat homself herhaal. Te midde van al die verwikkelde internasionale problematiek oor die afgelope veertig jaar, aan die een kant, en die treurige geskiedenis van broedertwis onder Afrikaners aan die ander, herken ons steeds dieselfde twee aartsvyande van die Afrikaner wat hul duiwelswerk voortsit. Die meedoënlose aanslag van die pro-Britse en pro-Engelse beweging in Suid-Afrika het nog nooit opgehou nie. Terloops, is dit nie fassinerend dat Rusland onder Wladimir Poetin, wat onlangs as president herkies is, so pas besluit het om die British Council uit sy land te sit nie? As ons dus praat van die ineenstorting van Afrikaanse onderwys, die verengelsing van ons universiteite, gewaar ons die hand van Brittanje daarin en veral natuurlik van Brits-opgeleide en Brits-gesinde onderwysministers soos Kader Asmal en Naledi Pandor. Mag daar ʼn dag kom dat ʼn Afrikanerreging in Suid-Afrika insgelyks die British Council die deur wys!
Dan is daar die tweede aartsvyand van die Afrikaner: die partykramer. Of binne ons huidige konteks: die immer gierige Afrikanersakeman wat in eie belang optree en in die media byvoorbeeld as propagandis vir die heersende anti-Afrikanerideologie sal optree solank as wat dit die adverteerders in sy koerant of op sy televisieskerm sal behaag.
Solank as wat ons verstaan wat Hertzog en ander reeds jare gelede aan ons uitgewys het, sal ons altyd weer in staat wees om die situasie om te keer. Bloedrivier was die gevolg van die Afrikaner se eerste vryheidstrewe, sy uittog na die binneland om iewers sy nuwe Jerusalem in die vorm van ʼn eie republiek te gaan bou. Dit was ook Hertzog en die ou Nasionale Party van destyds se strewe wat met ʼn kreeftegang, nou vorentoe, nou agtertoe, verloop het tot repubkliekwording in 1961. In soveel opsigte duur dieselfde stryd teen dieselfde vyande van destyds vandag nog voort.
Een van ons grootste swakhede is ons afhanklikheid van Westerse goedkeuring. Terwyl vele lande ter wêreld hul eie reëls maak, soos byvoorbeeld Sjina of Libië, sonder om hulle aan Westerse norme of kritiek te steur, is die Afrikaner hipersensitief vir Westerse kritiek. Vandaar die politieke en nasionale selfmoord waarin sy eertydse leiers hom begeef het. Terwille van enkele holle aanprysinge in Britse koerante het die De Klerk-geslag ons toekoms weggeteken.
Die vraag wat hom vandag aan ons opdring, is: Hoe gaan ons sorg dat die siklus van die geskiedenis nog ʼn keer oorkom word en dat die Afrikaner uit sy vernedering en sy neerlaag en sy magteloosheid gaan opstaan om weer homself, trots en fier en vry, te wees? Enkele jare gelede het Carel Boshoff junior die volgende stelling gemaak: “Revolusie roep revolusie op.” Hy het dit verder omskryf deur te beweer: “Die revolusie van Suid-Afrika se massas roep ʼn Afrikaanse revolusie op. Die herkonstituering van die Suid-Afrikaanse politieke ruimte roep die herkonstituering van die Afrikaner op.”
Enigeen wat vandag na die verval van ons land kyk, kan nie anders as om met Boshoff saam te stem nie. Hoe sal ons ooit weer sonder ʼn revolusie ons staatsdiens kan suiwer van onbekwame mense wat bloot op grond van ras aangestel is? Hoe sal ons sonder ʼn revolusie die miljoene onwettige immigrante (volgens sommige skattings trek hulle al oor die tien miljoen) uit ons land kan sit? Hoe sal ons sonder ʼn revolusie ons opvoedingstelsel kan herfokus op onderwys, pleks van breinspoeling en propaganda? Hoe sal ons sonder ʼn revolusie ons weermag kan suiwer van voormalige terroriste en die groot aantal vigslyers wat tans as soldate diens doen of juis nie diens doen nie, maar wel ʼn soldy ontvang?
Slegs radikale verandering kan Suid-Afrika nog red. Soos alle revolusies deur die eeue, begin dit met ʼn idee. Die begrip Afrikaner, wat terug te voer is na Bibault se kreet uit 1707, “Ik ben een Afrikaander!” waarmee hy ʼn Kaapse landdros, sowel as die Nederlandse koloniale orde, uitgedaag het, is een revolusionêre idee wat ons reeds het. Die gedagte van ʼn blanke, Westerse groep wat hulself tot inheemse volk van Afrika verklaar, is by uitstek iets nuuts, iets uitdagends.
Maar vir die soort revolusie wat ons vandag nodig het, is blote Afrikanerskap nie genoeg nie. Ons al moet besef dat ons in ʼn allesomvattende stryd gewikkel is wat groot eise aan ons gaan stel, soortgelyk aan ons voorouers by Bloedrivier. Ons sal vindingryk en dapper moet wees. Een van die beroemde revolusionêre van die twintigste eeu, Mao Tsetoeng, het die volgende van ʼn revolusie gesê: “ʼn Revolusie is nóg ʼn dinee, nóg dieselfde as om ʼn opstel te skryf of ʼn skildery te verf of borduurwerk te doen; dit kan nie so verfynd, so luilekker en gemoedelik, so gematig, welwillend, goedhartig, goedgemanierd, ingehoue en groothartig wees nie. ʼn Revolusie is ʼn opstand, ʼn daad van geweld waarmee een klas ʼn ander klas omverwerp.”
As ons mooi na Suid-Afrika kyk, kan ons sien dat iets van hierdie soort gewelddadige revolusie waardeur een klas ʼn ander omverwerp, reeds aan die gang is. Die revolusionêre magte is reeds op die land losgelaat. ʼn Revolusie beskik oor sy eie inherente logika. As dit eers aan die gang gesit is, kan niks dit stuit totdat die revolusie sy oogmerke bereik het nie, hoe radikaal sulke oogmerke ook al mag wees.
In die geval van Zimbabwe het ons gesien hoe die “derde tjsimoerenga” uitloop op ʼn bankrot land met ʼn bevolking wat nou grotendeels van buitelandse voedselhulp afhanklik is. Nietemin is daar vele Afro-revolusionêre, ook binne die ANC en SAKP, wat meen dat Mugabe se revolusie en “grondhervorming” ʼn groot sukses was. Immers was die oogmerk van die revolusie nie om produksie uit te brei – ʼn konserwatiewe, kapitalistiese ideaal – nie. Luidens Mao se dictum, “ʼn Revolusie is ʼn opstand, ʼn daad van geweld waarmee een klas ʼn ander klas omverwerp”, het Mugabe immers sy doel bereik om die klas van grondbesitters omver te werp en sy land van blankes te suiwer.
Ons sou ʼn groot fout maak om te dink dat hierdie revolusionêre logika nie ook in Suid-Afrika gevolg word nie. Gereeld word daar deur Thabo Mbeki melding gemaak van die “nasionale demokratiese revolusie” wat steeds aan die gang is. Die term “nasionale demokratiese revolusie” is ʼn klassieke Marxistiese of kommunistiese begrip, ʼn onderdeel van Marx en Lenin se teorie van die “historiese onafwendbaarheid” van kommunisme wat deur ʼn tweestadiumrevolusie bewerkstelling word. Eers vind die nasionale revolusie plaas en daarna die sosialistiese. Heel onlangs het die ANC ʼn hele reeks interessante artikels op sy webwerf gepubliseer onder die titel, “Die vyand bly die vyand”. Presies ʼn maand gelede het ek in ʼn brief aan die webwerf Litnet ʼn aanhaling uit dié ANC-verklaring gegee en ook daarop kommentaar gelewer.
Volgens die ANC, en ek haal aan, “mag en sal die taktiek van ons historiese opponente van tyd tot tyd verander, en so ook die teaters van stryd wat hulle kies. Niks hiervan sal ʼn verandering in die aard van ons opponente en die doelstellings wat hulle najaag, aandui nie. Soos bevelvoerders te midde van ʼn militêre veldslag, moet ons begryp dat die vyand maneuvreer, maar hy bly die vyand!”
Hieroor het ek op Litnet opgemerk:
“Die vyand maneuvreer, maar hy bly die vyand! Dit ly geen twyfel dat die ANC hier na die Afrikaner verwys nie. Enkele sinne later word daar vertel dat die ANC ‘wyslik of andersins’ besluit het om nie die ‘Jakobynse opsie’ te volg en sodoende die ‘historiese opponent’ met ‘revolusionêre geweld te vernietig’ nie.
Terwyl ons vandag hier besig is om Geloftedag te herdenk, is die ANC wat ons steeds – in weerwil van die De Klerk-Meyer-oorgawe – as sy “vyand” sien, besig met ʼn leierskapstryd by sy partykongres te Pietersburg. Op die vooraand van daardie kongres doen Thabo Mbeki in sy persoonlike brief op ANC Today ʼn oproep aan sy volgelinge onder die opskrif: “Wees trou aan ons revolusionêre oogmerke!”
In die brief haal hy verskeie revolusionêre uitsprake van vorige ANC-leiers wat by partykongresse gemaak is aan, onder andere dié van Oliver Tambo waarna Jan Smuts-lughawe onlangs vernoem is en wat in Junie 1985 in Lusaka geuiter is:
“Ons konferensie sal deur ons mense onthou word as ʼn krygsraad wat die gryp van mag deur die massas beplan het, die voorlaaste byeenkoms wat aan ons opdrag gegee het om ons land te neem deur die verskriklike maar suiwerende vuur van revolusionêre oorlog na ʼn toestand van vrede, demokrasie en die vervulling van ons mense wat al te veel en te lank gely het.”
Thabo Mbeki, die huidige president van Suid-Afrika, keur nie net dié woorde van Tambo goed nie, hy bewonder hulle; vandaar sy aanhaling. Maar Mbeki se slagspreuk, “Wees trou aan ons revolusionêre oogmerke!” is ontleen aan Mandela wat nogal op Geloftedag in 1997 die volgende by die ANC se vyftigste nasionale konferensie gesê het: “Daar lê heelwat vir ons voor wat kompleks en opwindend is. In die sentrum van dit alles staan die grondliggende uitdaging vir ons om trou aan ons revolusionêre oogmerke te bly.”
Op 16 Desember 1838 het die Afrikaner geskiedenis gemaak. Soos ʼn Gideonsbende het ons teen ʼn geweldige oormag, met die hulp van God wat tydens die Gelofte afgesmeek is, geseëvier. Maar, en dit spyt my om dit te sê, maak die Afrikaner in onlangse tye nie meer geskiedenis nie. Veel eerder ondergáán ons die geskiedenis wat ander maak. Ons lughawens word na hul revolusionêre helde vernoem; die name van ons dorpe en stede wat deur ons voorouers aangelê is, word na willekeur verander. Ook die belastings wat die gedissiplineerde, wetsgehoorsame, getroue Afrikaner aan die staat betaal, word aangewend ter bevordering van die ANC se fameuse revolusionêre oogmerke waarvan die vernietiging en uiteindelike verdrywing van die Afrikaner uit Suid-Afrika waarskynlik heel bo-aan die lys staan.
In die aangesig van die vernietigende revolusie wat oor ons spoel, het vele van ons mense moedeloos geraak. Hulle gee boedel oor. Hulle verlaat die land. Hulle bou hoë mure om veiligheidsbuurte en hoop dat hulle nie aangeval sal word nie. Of, die skandelikste van almal: hulle word meelopers. Hulle sluit aan by die ANC van waar hulle hul eie mense ondergrawe en beveg. Of hulle voer die vyand se propaganda vir hom vanuit die blaaie van die plaaslike Prawdas, Beeld en Die Burger, wat net sowel ANC Today in Afrikaans kon heet. Soos ʼn refrein deur hul oorgawe loop die wanhoopskreet: “Ons is te min! Ons is te min!”
Maar indien Geloftedag nog enige betekenis vir ons het, is dit juis om ons daaraan te herinner dat ons nog altyd, dwarsdeur ons geskiedenis, “te min” was. Aan die ander kant van die slagveld was daar nog altyd ʼn oormag teen ons opgestapel! Teen die Zoeloes of die Engelse of die Angolese wat deur Rusland, Oos-Duitsland en die ou Sowjetunie ondersteun is, het ons nog altyd ʼn baie klein groepie manne in die veld gestoot.
Naas Bloedrivier is daar soveel ander wonderwerke opgeteken wat die Afrikaner as minderheid in sy segetog deur Suider-Afrika behaal het. Ook in hierdie dae, op 11 Desember, het ons die slag van Magersfontein herdenk waaroor ons op die Praagwebwerf ʼn beknopte kroniek gepubliseer het. Onder aanvoering van generaal Koos de la Rey het slegs 8 500 Boere ʼn Engelse oormag van 15 000 man onder aanvoering van Lord Methuen op 11 Desember 1899 ʼn vernietigende neerlaag toegedien. Soos dit op die Praagwebwerf lui: “Die Skotse Highland-soldate het nie ’n kans gestaan nie. Die Boere het onverbiddelik op hulle losgebrand. Wauchope en heelwat van sy offisiere is doodgeskiet. Helfte van die Britse manskappe het omgedraai en gevlug. Op pad terug het hulle die bevelvoerder van die Highland Light Infantry doodgetrap.” Eenduisend Britte het gesneuwel, teenoor een-en-sewentig Boere wat die lewe gelaat het.
Soos Bloedrivier, Magersfontein of – meer onlangs – ons vele suksesvolle veldslae in Angola en Suidwes-Afrika, aan ons tuisbring: ons moenie die oormag vrees nie.
Daarom, op hierdie dag waar hier in die einste Noord-Transvaal ʼn revolusie teen die Afrikaner gesmee word waarvan die oogmerke by die dag duideliker word in die onreg en geweld wat deurlopend teen ons gepleeg word, moet ons nie terugdeins nie.
Net soos op die vooraand van Bloedrivier, staan die Afrikaner vandag voor ʼn naakte keuse tussen gewisse ondergang of heroïese weerstand. Watter lot gaan ons volk kies?
Ek het reeds genoem dat ons tans die geskiedenis ondergaan wat ander maak. Wat die groot Griekse staatsman Perikles destyds oor die politiek gesê het, geld ook vir die revolusie. Perikles het gesê: “U mag nie ʼn belang in die politiek hê nie, maar dit verhoed nie die politiek om ʼn belang in u te ontwikkel nie.” Net so mag u nie ʼn belang in die huidige revolusie in ons land hê nie, maar dit verhoed nie die revolusie om ʼn belang in u grond, in u bates, in u kultuur of selfs u voortgesette teenwoordigheid in die land te ontwikkel nie.
Om uit die huidige afwaartse siklus te ontsnap, sal die Afrikaner met sy eie revolusie moet begin, ook en veral onder ons eie mense. En laat ek dit weereens herhaal: ʼn Revolusie begin met ʼn idee. Een van die hoofredes vir ons gebrek aan optrede tot dusver, is ons gebrek aan ʼn koerant, aan ʼn mondstuk wat onbeskaamd die Afrikanersaak sal stel. Ons mense moet ingelig word en nie langer met versoeningspraatjies gesus word nie. Ons moet ons denke verskerp en alle politieke kwessies tot in hul logiese uiteinde deurdink.
Ons het nie veel tyd meer oor nie. ʼn Mens kan die huidige woelinge in die revolusionêre party, die ANC, op allerlei maniere interpreteer, maar tipies van alle Afrikarevolusies is dat daar gewoonlik na onafhanklikwording of “bevryding” ʼn tweede, radikale fase volg. Myns insiens staan ons op die vooraand van geradikaliseerde verandering of transformasie in Suid-Afrika. Selfs prof. Willie Esterhuyse van Stellenbosch, ʼn ANC-naprater en ondersteuner van Mbeki, het op 7 Desember in Beeld en Die Burger voorspel dat so ʼn geradikaliseerde “Groot Transformasie” vir ons waarskynlik net voor die deur lê. Om anders te glo, meen Esterhuyse, “is om te droom dat die maan van groen kaas gemaak is”.
Ons sal moet kies tussen Afrikanerskap en vreemdelingskap, tussen oorlewing en ondergang, tussen weerstand of oorgawe, tussen denkende kontestasie of klakkelose napratery, tussen geloof en verterende twyfel. By Bloedrivier het ons voorouers nie getwyfel nie; hulle het gegló en sodoende die oorwinning behaal.
Soos N.P. Van Wyk Louw ook iewers in een van sy essays opgemerk het, is daar geen waarborg vir ʼn volk se voortbestaan nie. Deur die geskiedenis het vele volke op die toneel verskyn, jare of selfs eeue lank ʼn grondgebied beset en oorheers, net om daarna deur ander geknak te word en in die niet te verdwyn. Ander weer slaag daarin om hul terugslae te oorkom en beskou elke neerlaag of tydvak van oorheersing deur ander as ʼn noodsaaklike loutering vir die toekoms. Soos Nietzsche gesê het: “Wat my nie doodmaak nie, maak my sterk”.
Indien die Afrikaner ʼn verloorvolk was wat vir uitsterwing bestem was, sou ons sekerlik nie tot hier gevorder het nie. Daarvoor was ons geskiedenis en ons voortdurende stryd teen die oormag, eenvoudig te moeilik. Agterna gaan ons na die huidige sware tye verwys as ʼn toets wat ons deurgemaak het, maar met lof geslaag het.
Laat ons dus die huidige stryd, soos Andries Pretorius en die helde van Bloedrivier, met geloof en vasberadenheid aanpak. Die Afrikaner se drang na vryheid en onafhanklikheid is dwingender as swaartekrag, sterker as staal en duursamer as goud. Ons laat ons deur niemand oorheers nie, nie die grootstes nie en ook nie die kleinstes nie. Daarom sê ons vandag: ons vrees nie die revolusie nie, ons verwelkom dit, want uiteindelik sal dit óns omwenteling wees wat seëvier, nie die revolusie van boosheid wat ander teen ons smee nie.
Iewers in die toekoms lê daar ʼn Afrikaanse republiek waarin ons weer vry sal wees, vry om ons taal te praat, om ons grond sonder inmenging of geweld te bewerk, om ons kinders volgens ons waardes op te voed, om ons eie volkslied te sing, om veilig te woon, te werk en te speel, om sonder rassevoorskrifte handel te dryf, kortom, om onsself te wees. By Bloedrivier, Majuba, Magersfontein en elders het ons mense geveg en desnoods gesterf vir ons republikeinse ideaal, vir Afrikanervryheid.
Die geskiedenis het getoon dat daar in dié wêrelddeel net een historiese onafwendbaarheid is: Afrikanervryheid. Weer en weer het ons dit behaal, ongeag tydelike terugslae. Soos een van ons mooi vaderlandsliedere met woorde deur Eitemal lui:
“Ons gaan saam die donker toekoms in
om as een te sneuwel of oorwin,
met ons oog gerig op jou,
ons Oranje-blanje-blou!”

Tesame met Vegkop, Majuba, Magersfontein en ander veldslae, verteenwoordig die slag van Bloedrivier sekerlik een van die triomfantelikste oomblikke in ons roemryke Afrikanergeskiedenis. Ongelukkig is dit so dat enige volk se geskiedenis nie net uit oorwinnings bestaan nie, maar ook soms uit neerlae, uit verraad in eie geledere en uit tydperke van oorheersing deur ander. As ons dus vandag op 16 Desember Geloftedag vier, herinner ons huidige omstandighede ons nie soseer aan die oorwinning deur Andries Pretorius en sy manne nie, maar aan die tragiese oomblikke wat dit voorafgegaan het, vanaf die moord op Retief op 6 Februarie 1838 tot die gruwelike massamoorde op vrouens en kinders by Moordspruit, Bloukrans, Boesmansrivier en Weenen op die 17de van dieselfde maand.