Komende energiekrisis verg politieke visie

ImageMet die ruolieprys op pad na honderd dollar per vat, stuur die wêreld op ʼn permanente energiekrisis af. Die gedagte dat die maklike, goedkoop energie wat ons die afgelope 200 jaar eers uit steenkool en toe uit olie verkry het oor enkele dekades gaan opraak, is besig om nagmerrievisioene by Westerse beleidmakers te veroorsaak.

Die meeste mense het al ingesien dat die Irakoorlog bedoel is om Amerika beheer oor daardie land se oliehulpbronne te gee. Maar veel minder mense besef dat die konflik in Israel in ʼn hoë mate oor ʼn ander noodsaaklike hulpbron, water, gaan. Israel klou verbete aan die verowerde gebied van 1967 omdat dit hom toegang tot die varswaterbronne van die Jordaanrivier en die Bergwatertafel gee. Die Gazastrook, wat tans 1,4 miljoen Palestyne huisves, se ondergrondse water is besig om op te raak weens 4 000 boorgate wat dié mense se enigste toegang tot varswater verteenwoordig. Daar heers reeds ʼn gesondheidskrisis in die Gazastrook en onlangs was daar berigte oor die gebied wat “in sy eie riool verdrink”.

Oorloë oor energie en water gaan waarskynlik kenmerkend van die een-en-twintigste eeu wees. Ons kan ons nouliks voorstel hoe die wêreld gaan verander as ruolie begin opraak en ons dalk moet teruggaan na hoe ons oumas en oupas op plase geleef het: sonder elektrisiteit en met dalk ʼn eenskaarploeg wat deur ʼn os getrek word. Trouens, nie net ons lewenstandaard nie, maar ons hele beskawing is afhanklik van ruolie en petrol wat in kannetjies of tenks vervoer kan word.

Die Vrystaatse wiskundige wat reeds jare lank aan die universiteit van York, Toronto, klasgee, Buks van Rensburg, het onlangs ʼn fassinerende artikel oor Die komende permanente oliekrisis hier op die PRAAG-webwerf geskryf. Daarin sit hy M. King Hubbard se teorie oor die “oliehoogtepunt” (Eng: Peak Oil) uiteen. Hubbard het reeds in 1956 voorspel dat enige olieboorgat of selfs ʼn hele olieveld se produksie tot op ʼn sekere hoogtepunt toeneem en daarna weer onvermydelik afneem. Die eerste bewys vir sy teorie was tydens die eerste oliekrisis in die vroeë sewentigerjare toe die Amerikaners vergeefse pogings aangewend het om hul eie ruolieproduksie vanuit Texas te laat styg.

Tans is daar aanduidings dat selfs die kolossale oliereserwes van Saoedi-Arabië hul “Hubbard-hoogtepunt” bereik het en dus van nou af onvermydelik gaan begin daal. Sadat al-Hoeseini, ʼn vorige hoof van eksplorasie by Saudi-Aramco, die Saoedi-oliemaatskappy, praat van ʼn “strukturele plafon” wat in sy land se olieproduksie bereik is. Die Ghawar-olieveld in Saoedi-Arabië, die grootste op aarde, het reeds een kwart van alle olie wat tot dusver ter wêreld geproduseer is, gelewer en dit wil voorkom asof dit reeds sy Hubbard-hoogtepunt bereik het.

Een aanduiding van die skaarste aan ruolie wat reeds in die mark voelbaar is, is natuurlik die duiselingwekkende styging in die prys vanaf slegs $20 per vat in 2000 tot meer as $90 tans. Suid-Afrikaanse motoriste voel dit reeds aan hul sak en mens kan sê dat ons nog maar aan die begin van die permanente oliekrisis verkeer.

Elke jaar word daar in die wêreld drie keer soveel ruolie verbruik as die hoeveelheid nuwe olievelde wat ontdek word; duidelik is die huidige “oliebeskawing” en selfs globalisering wat van petrochemiese vervoer gebruik maak, nie volhoubaar nie.

Vorige Afrikanerregerings in Suid-Afrika het versiendheid aan die dag gelê toe daar met die olie-uit-steenkoolprojek, SASOL, begin is. Tot redelik onlangs het kommentators in die Engelse pers SASOL as ʼn liefdadigheidsprojek vir armblanke Afrikaners afgemaak en die staat se aanvanklike belegging daarin as ʼn “vermorsing” beskou. ʼn Mens wonder egter wat Suid-Afrika vandag sónder die sedertdien geprivatiseerde SASOL sou vermag het, want dié onderneming verminder ons afhanklikheid van ingevoerde Midde-Oosterse olie en bespaar ook miljarde aan buitelandse valuta wat ons daarsonder sou bestee het.

Die ANC-bewind se gebrek aan enige vorm van beplanning of toekomsvisie blyk duidelik uit die huidige kragonderbrekings of “beurtkrag”-beleid van ESKOM. Dit was tog logies dat Suid-Afrika se groeiende ekonomie ook tot ʼn toename in energieverbruik sou lei en vele deskundiges het oor die jare die regering en die bestuur van ESKOM hieroor gewaarsku.

Indien die ANC-regering nie eens na ons gewone elektrisiteitsbehoeftes kan omsien nie, hoe op aarde gaan hy Hubbard se oliehoogtepunt hanteer? Ons chaotiese stadsbeplanning waardeur woonbuurte lukraak al verder van bestaande infrastruktuur aangelê word, tesame met gratis elektrisiteit in swart woonbuurte, verhoog op allerlei maniere die vraag na energie.

Regeringsbeleid veronderstel ook dat energie altyd goedkoop en maklik beskikbaar gaan wees. Suid-Afrika se afhanklikheid van padvervoer was nog nooit so hoog soos nou nie. Die verkeerspatroon aan die Rand word gekenmerk deur groot opeenhopings waar motors, minibus-taxi’s en vragmotors ure lank in die verkeer staan en luier en kosbare ingevoerde energie verbrand.

Die ANC se droom dat elke inwoner van ʼn plakkerskamp iewers in die toekoms ook gaan deel in die “oliebeskawing” in die vorm van ʼn groot, energiehonger huis met ʼn swembadpomp, viertrekvoertuie in die motorhuis, ondervloerse verhitting en dergelike meer, is net dít: ʼn droom. Soos Buks van Rensburg dit in sy artikel stel: “Ryker lande kan die verhoogde ruolieprys tans in ʼn mate absorbeer, maar armer lande sal aankope nie kan bekostig nie en sonder ruolie moet klaarkom.  Sulke lande trek dus geen voordeel uit die oliemeevaller nie, en kan nie volledig deelneem aan globalisering nie.”

Soos wat die “oliebeskawing” van die afgelope honderd jaar ten einde loop, sal die nywerheidslande wat die meeste voordeel daaruit getrek het die beste geplaas wees om alternatiewe energiebronne te ontwikkel, terwyl die gaping tussen ryk en arm lande gaan vergroot. Wat geld vir lande, geld ook vir individue. Diegene wat tans net-net energie kan bekostig of dit pasella van die ANC-welvaartstaat ontvang, gaan in die toekoms daarvan uitgesluit wees. Ook voedselpryse sal styg soos wat die koste van die energie om dit te produseer, toeneem.

Binne die volgende dekade of twee gaan die permanente oliekrisis met ons wees en gaan ons ons lewenstyl, tegnologie en energieverbruik radikaal moet aanpas. Indringende navorsing oor sonenergie en ander alternatiewe vorme sal deur die staat gefinansier moet word.

Weens onwettige immigrasie en geweldsmisdaad bestaan daar reeds vraagtekens rondom die volhoubaarheid van die SA staatsbestel. Die energieprobleem mag dalk net te veel vir ons staat in sy huidige vorm wees.

Met SASOL, die ou EVKOM, kernnavorsing by Pelindaba en ander inisiatiewe het die Afrikaner reeds getoon dat hy toekomsgerig kan optree. Die komende energiekrisis mag die belangrikste argument ten gunste van ʼn Afrikanervolkstaat wees waarbinne ons sal kan beplan vir ons toekoms met sy globale energietekort en ses miljard mense wat moontlik met geweld hul deel van die oorblywende energie- en varswaterbronne gaan opeis.

Hierdie artikel het in effens gewysigde vorm op 18 November 2007 in Rapport verskyn. 

сайт игрушкиФильчаков прокурор харьков