Geloof en ate?sme
Die storm rondom Deon Maas se standpunt oor Satanisme het nog steeds die gemoedere warm, soos te beoordeel op die brieweblaaie op LitNet, en soos gewoonlik is menings verdeel oor die optrede van Tim du Plessis om hom as rubriekskrywer te ontslaan. Van die liberaal-gesindes beskou hierdie protes as ’n teken van verkramptheid, en van die konserwatief-gesindes hoor ons geluide dat Maas besig is om afbreuk te doen aan geloof en kultuur. ’n Mens is maklik geneig om die inhoud van hierdie debat te reduseer tot ’n volkseie kenmerk van die Afrikaner, maar is in feite ’n debat wat oor die hele westerse wêreld (en elders) woed, en vir ’n baie langer tyd.
Die fout wat Maas egter maak (dis nou benewens die feit dat hy dink hy kan rubrieke skryf) is om die standpunte aan te hang wat sowat veertig jaar geskryf is deur ’n eksentrieke fanatiekeling wat The Satanic Bible geskryf het, Anton Szandor LaVey. Hierdie uitgangspunte is egter die dogma van een persoon wat verkies het om die aardse en vleeslike bo die goddelike te verheerlik. Sy siening is niks meer as ’n soort nihilisme nie en kon net so wel die nihilistiese bybel geheet het. Ek vermoed egter dat hy die woord Satanic verkies het, juis omdat dit tot ’n groter storm van protes sou lei. Om openlik ’n standpunt te bely wat deur die groter maatskappy gestigmatiseer word, het ’n soort bekoring en skep ’n gevoel van mag.
Maas se mening is ook die soveelste aanval op geloof wat nogal mode geword het in die westerse wêreld. Richard Dawkins het so ’n jaar of twee gelede die spit afgebyt deur ateïsme te verkondig en geloof as ’n delusie (geestelike versteuring) af te maak. Dawkins wil egter hê die fokus moet lê op wetenskaplike bevindings en bewyse en dat geloof ’n misvatting is wat tot oorloeë gelei het en haat saai tussen volke. Immers, niemand is nog vermoor in die naam van ateïsme nie.
As die debat sulke vorme begin aanneem, waarin wetenskap die bokshandskoene aantrek teen sy opponent in die ander hoek, geloof, kan ek nie verhelp om net gou ’n ou verslete eksemplaar van Kierkegaard van die rak af te haal nie. Die eerste kwantumwetenskaplike, Erwin Schrödinger moet ek ook te voorskyn haal.
Om te begin met Søren Kierkegaard: ’n Belangrike argument wat Kierkegaard vir geloof gepleit het, is dat dit juis buite die domein van wetenskap lê. Om sy woorde te leen: ”As ek God objektief kon begryp, dan glo ek nie, maar juis omdat ek dit nie kan doen nie, daarom moet ek glo.” Daarbenewens het hy ook gestel dat geloof ’n gebeurtenis is wat plaasvind wanneer ’n mens sy hele naakte innige wese, sy swakhede, vrese, sondes en twyfels te midde van eksterne onsekerheid kan openbaar met die hoop dat dit opgevang en beskerm sal word. Geloof is iets wat transendeer, en maak ’n mens tegelykertyd bewus van sy nietigheid en sy verbintenis met iets groters en ongrypbaars.
Vanuit hierdie bewuswording ontstaan ’n dieper besef van die dinge wat vir ons van wesentlike belang is.
In Kierkegaard se vertoog Vrees en Bewe wy hy uit oor die voorstel wat God aan Abraham gemaak het, naamlik dat hy sy seun Isaak moet opoffer om te toets hoe diep sy geloof is. Met hierdie verhaal in gedagte introduseer Kierkegaard twee “ridders”, te wete die “ridder van geloof” en die “ridder van oneindige berusting”. Die laasgenoemde ridder van oneindige berusting lê homself neer, blik terug na sy pyn en verlies en offer alles op vir ’n beter bestaan in die hiernamaals. Die ridder van geloof daarenteen offer ook alles op, maar in plaas van berusting, glo hy in die krag van die absurde. Die absurde is per definisie nie in rasionele of logiese terme verklaarbaar nie, en vereis dus ’n veel intenser gevoel vir die goddelike. Die ridder van geloof glo dat hy veilig sal wees op ’n manier wat nie rasioneel verklaar kan word nie. Die wêreld is deurweek van absurditeite, en daarom is ’n diep geloof nooit weg te kry nie.
Die feit dat die mens oor vermoëns beskik om homself in ander situasies te verplaas, soos byvoorbeeld om geboei te word deur ’n interessante storie en dus vergeet van sy ruimte en tyd, bied ’n verklaring vir geloof. ’n Mens transendeer sy omgewing, en ’n diep geloof is die absolute transendensie. Die mens, lyk vir my, is van nature ’n gelowige wese. Vanuit hierdie perspektief geneem is juis die ateïste diegene wat aan ’n geestelike versteuring ly.
’n Sekere ateïs het op ’n stadium geskryf dat die wetenskaplike vooruitgang wat tydens die Verligting plaasgevind het, juis as gevolg was van die afname van geloof. Ek dink dis beter gestel dat die verstikkende dogma uitgedien was, wat ’n bevrydende werking op geloof gehad het. ’n Mens moet ’n onderskeid tussen geloof en dogma tref. ’n Dogma gee geloof ’n bepaalde gestalte, maar is nie die geloof self nie. Net soos Kierkegaard verklaar het moes Abraham die morele opskort om die dieper rede daarvoor te ontdek. Ons wetenskaplike vooruitgang sou nooit kon gebeur het as daar geen geloof in die menslike gees was nie. Geloof in die krag van die menslike gees word sterker as God as bron daarvan beskou word, juis omdat God nie liggaamsgebonde is nie.
Christendom is gekenmerk deur die goddelike drie-eenheid van Vader, Seun en Heilige Gees. In Korintheërs word egter ook genoem dat daar drie konsepte bestaan, naamlik geloof, hoop en liefde. Kan ons stel dat God die simbool vir liefde is, Christus die personifikasie van hoop en die Heilige Gees die personifikasie van geloof is? Immers, wat sou die mens sonder geloof, hoop en liefde gewees het? Wat sou wetenskap daarsonder gewees het?
Om geloof na die wetenskaplike domein te voer, bied die kwantumwetenskap ’n goeie ingang. Dis hier waar die belangrikste figuur in die kwantumwetenskap, Erwin Schrödinger ’n les vir ons geleer het: Blote waarneming beïnvloed die toestand van ’n subatomiese deeltjie. ’n Deeltjie bestaan uit twee toestande tegelyk, maar deur dit waar te neem word dit een toestand. Ander wetenskaplikes het ontdek dat ’n bepaalde deeltjie in twee kan splits en dieselfde eienskappe kan aanneem, selfs al is hulle aan teenoorgestelde kante van die heelal…iets wat in die konvensionele wetenskap onmoontlik is, aangesien niks vinniger as die spoed van lig kan beweeg nie, en die heelal is miljarde ligjare groot. Ook het wetenskaplikes ontdek dat die eienskappe van ’n druppel water anders is in die omgewing van mense wat gelukkig of woedend is. By blydskap is die kristal wat vorm by koue temperature blykbaar mooier as by iemand wat met boosheid op hierdie druppel konsentreer.
Dit lyk byna soos die skil van ’n ui. Sodra een faset uitgedien is, begin die ander gestalte te vorm. Sodra geloof begin vasroes in ’n onbuigsame dogma, begin wetenskap ’n opmars te maak, en sodra wetenskap ’n nuwe ontwikkeling, soos die van kwantum ondergaan, kan ons weer sien hoe subjektiewe aspekte soos geloof die fisiese wêreld op subatomiese vlak kan beïnvloed.
Die teoloeë het oor die eeue heen uitstekende belydenisse aan ons vertel en die moderne samelewing gevorm, en waar hulle tekort geskiet het, het wetenskap die leisels oorgeneem. Dieselfde geld nou vir wetenskaplike vooruitgang, en met die soeke na iets konkreets in die heelal, kom ons steeds meer terug op die subjektiewe beweleniswêreld.
Waar Kierkegaard gestel het dat hy in God moet glo omdat hy Hom nie begryp nie, kan ons waarskynlik dieselfde verwag van die kwantumwetenskaplikes. Die werking van kwantum is ook nie verstaanbaar nie – om die woorde van die Nederlandse kwantumwetenskaplike Dick Bierman te leen.
Ek dink dis redelik om te stel dat hulle daarom ook moet glo.
Ateïsme – net soos linkse politiek – se beste tyd is uitgedien.
