Brand rig skade by Engelse skool aan

‘n Brand het groot skade aangerig by die Holy Family-kollege in Saxonwold, Johannesburg.

Nana Radebe, woordvoerder van die Johannesburgse nooddienste, het gesê niemand is in die brand beseer nie.

Die skoolsaal is volgens Radebe afgebrand.

“Die saal is heeltemal afgebrand en ander dele van die skool is ook beskadig,” het sy gesê.

Brandbestryders het ‘n paar uur lank gespook om die brand onder beheer te kry en om verdere skade te verhoed.

Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch

Op 29 April het die raad van die Universiteit Stellenbosch (US) goedkeuring aan die rektor, Russel Botman, verleen dat hy hierdie inrigting van ‘n wit na ‘n hoofsaaklik nie-wit en van ‘n histories Afrikaanse na ‘n hoofsaaklik Engelse universiteit kan transformeer. Die Burger het oor hierdie gebeurtenis op 30 April heel gunstig onder die opskrif, “Plan vir vernuwing kry groen lig by US”, berig (Praag, 7 deser).

Die Wellington-stasie is geleë op grond wat geskenk is op voorwaarde dat iedere trein wat dit gebruik, moet stilhou. Hierdie voorwaarde word nagekom. Die US dank sy ontwikkeling en trotse verlede aan skenkings wat bepaal dat die onderrigtaal Afrikaans moet wees. Word hierdie vereiste nagekom deur Engels tot die hoofonderrigtaal te bevorder en Afrikaans tot die bykomende taal af te skaal? Kan sonder meer aanvaar word dat wanneer die belange van Afrikaans en van wittes en veral van Afrikaners vertrap word, skenkingsvoorwaardes maar geïgnoreer mag word? Die ANC is trots op die onwettighede in sy verlede. Blykbaar reken die US-raad en -bestuur en hulle vennoot, die ANC-regering, dat hulle hulle in hierdie geval ook die reg op onwettig optrede kan toe-eien.

Die Burger het na sy genoemde berig aanvanklik geen kommentaar in sy hoofartikels of in sy rubrieke op die US-raadsbesluit gelewer nie. Geen leserkommentaar oor hierdie belangrike saak is gepubliseer nie. In die Wes-Kaap is daar vier universiteite en aan net een van hulle, die US, is Afrikaans ‘n onderrigtaal. ‘n Mens sou dink dat dit vir ‘n Afrikaanse koerant ‘n hemelskuddende gebeurtenis moet wees as, andersom as voorheen, Engels tot die hoof- en Afrikaans tot die bykomende onderrigtaal verklaar word; des te meer as die aanduidings is dat Afrikaans vorentoe net in ‘n beperkte mate en vir ‘n beperkte tyd geduld sal word.

Vir Die Burger se verdoeseling van die US-besluit en sy onwilligheid om daarteen te velde te trek, is daar verskeie redes. Dit kan nie net aan bv apatie, gebrek aan (ideologiese) insig en die sug na politieke korrektheid toegeskryf word nie. Koos Bekker, die uitvoerende hoof van Naspers, is ‘n US-raadslid. Hy is hoogs waarskynlik een van diegene wat aandadig aan die gewraakte besluit is. Naspers het ‘n maatskappy met internasionale belange geword, wat sy Afrikaner- en Afrikaanse verlede ontgroei het. Bekker is dus waarskynlik vatbaar vir Botman se obsessie om van alle US-studente nie-Afrikaners en kultureel identiteitlose Afrika- en wêreldburgers te maak.

Eers na die Praag-berig van 7 Mei, het Die Burger nog ‘n berig oor die US-taalbesluit gepubliseer, onder drie opskrifte: “Nuwe taalmodel voorgehou / Meer tolke by US verwater wel T-opsie / Dosente sal lesingtaal kan kies” (9 Mei, p 9). Die T-opsie verwys na die gevalle waar in dieselfde klas in sowel Afrikaans as Engels onderrig verskaf word en wat in die praktyk in ‘n hoofsaaklik Engelse klas ontaard het. Die berig is gebaseer op ‘n onderhoud wat met ‘n US-viserektor, Arnold Schoonwinkel, gevoer is. Hy is ‘n ingenieur wat deesdae voorgestoot word om ideologiese sake, soos rasgebaseerde koshuisplasings en die afskaling van Afrikaans as onderrigtaal, so aantreklik moontlik voor te stel. Botman het na Schoonwinkel se aanstelling sonder omhaal van woorde verklaar dat sy beswaar teen sy nuwe viserektor nie bekwaamheid is nie, maar dat hy wit is. Botman se opdrag aan Schoonwinkel is dat hy hom met oorgawe vir transformasie moet beywer, dus dat hy só te werk moet gaan dat sy opvolger nie-wit sal wees (Die Burger, 5.09.2012, p 11).

Die twee nuwe elemente in die taalmodel is enersyds parallelmedium-onderrig (PMO), dus aparte Afrikaanse en Engelse klasse, pleks van gesamentlike klasse (die T-opsie). Andersyds gaan tolkdienste ingestel word. Saam kan hierdie twee elemente “bydra tot ‘n hoër persentasie Afrikaanse en Engelse klas-onderrig.” Die indruk word gewek dat ‘n wen-wen-haas uit die taalhoed getrek is. Die voor die hand liggende vraag, “Wat gaan voortaan die hoofonderrigtaal aan die US wees?” is óf nie deur die joernalis, Malani Venter, gevra nie, óf daar is redaksioneel besluit om liewer nie wêreldkundig te maak dat dit voortaan Engels gaan wees nie.

Wat duidelik uit die teks blyk, is dat die probleem wat die US-bestuur met gesamentlike klasse het nie is dat hulle in hoofsaaklik Engelse klasse ontaard nie, maar dat die US graag eentalig Engelse, spesifiek nie-wit, dosente wil aanstel. Engelse studente sal deurgaans onderrig in Engels ontvang. Afrikaanse studente sal hoogstens aan die begin, dus seker net in (groot) eerstejaarklasse, onderrig in Afrikaans ontvang. Schoonwinkel: “Omdat die meeste studente in hul senior jare voldoende akademies geletterd in Engels is in hul vakgebiede, word ondervind dat Afrikaanse studente die aanbod [van tolking] meestal van die hand wys.”

“Volgens [Schoonwinkel] kan die gebruik van Afrikaans en Engels afsonderlik in die klaskamer dosente die geleentheid bied om in hul sterkste akademiese taal onderrig te gee.” Aan die begin sal daar dus nog Afrikaanse onderrig deur Afrikaanse dosente aangebied kan word, maar namate die getal Engelse dosente toeneem, sal daar al hoe minder Afrikaans deur dosente gepraat word. Toenemend sal die Afrikaanse studente vir onderrig in Afrikaans op tolking aangewese wees en dit sal net op die elementêre vlak verskaf word. Verder los tolke nie die probleem van die nasien van werkstukke en eksamenskrifte wat in Afrikaans ingelewer word, op nie. Die eentalige Engelse dosent kan dit nie doen nie en die tolk ook nie.

Eerder as om hierdie probleme en dus die benadeling van Afrikaanse studente (bv wittes) ten gunste van Engelse studente (bv swartes) te erken, kom Schoonwinkel met hierdie wen-haas: “By implikasie kan die beste akademici aangestel word, ongeag hul huistaal, en versterk dit ‘n verwelkomende kultuur aan die US.” Hier word heelwat valsheid doelbewus gepleeg. Van wanneer af is dit die beleid van die transformerende US om die beste akademici aan te stel? Iedere keer as die US poste adverteer, word uitdruklik gesê dat voorkeur aan kandidate uit “die aangewese groepe”, dus aan nie-wittes, gegee word. Wit mans word, indien enigsins moontlik, nie aangestel nie, soos Schoonwinkel self tydens sy onlangse aanstelling as viserektor ervaar het. Dit is waarom hy verwys na “die beste akademici” en dan net “ongeag hul huistaal”, want hy weet hy kan nie sê “ongeag hul kleur en geslag” nie.

Die rasgebaseerde aanstellingsbeleid gaan ook veroorsaak dat die beste tolke nie aangestel word nie, maar hieroor swyg Schoonwinkel. Die verwysing na die versterking van die “verwelkomende kultuur” beteken in die praktyk dat net vir nie-wittes agteroor geleun word. Dit is baie duidelik dat Botman se totale transformasie wit studente en veral die Afrikaanssprekendes verder gaan ontheem. Die US-bestuur sal myns insiens nie ‘n vinger lig om hulle meer tuis op ‘n verswartende en al hoe meer Engelse kampus te laat voel nie.

Leopold Scholtz publiseer elke Vrydag ‘n rubriek in Die Burger. In sy drie rubrieke wat sedert die US-raadsbesluit van 29 April verskyn het, het hy nie ‘n woord oor die US gerep nie. Dit kom vreemd voor, want sowel hy as sy vrou is in die Lae Lande kampvegters vir Afrikaans. Scholtz is tans in Suid-Afrika en hy het ook in Stellenbosch besoek afgelê. Die afgelope Maandag het hy buitentyds ‘n rubriek gepubliseer, wat onder ‘n positiewe opskrif, “Taal by US slaan ‘n beter koers in”, verskyn het (Die Burger, 20 deser, p 8). Ek kon nie my oë glo nie. Is dit die resultaat van Koos Bekker-gedienstigheid?

Scholtz reken by die US is daar vordering in die rigting van “‘n gewaarborgde, vaste plek aan Afrikaans as onderrig- en administratiewe taal.” Ek dink hy vertolk die strekking van die gebeure heeltemal verkeerd. Hy verwys gunstig na die tolkdiens op die Potchefstroom-kampus. Wat Scholtz uit die oog verloor, is dat Potchefstroom Afrikaanse dosente het, dat die tolking in Engels is en dat die dosente Engelse werkstukke en eksamenskrifte kan nasien. Potchefstroom het wesenlik Afrikaans gebly. Aan die US is die visie dat die universiteit teen 2018 nie meer hoofsaaklik wit of hoofsaaklik Afrikaans mag wees nie. Dit gaan om verskerpte rassediskriminasie teen wit studente en dosente en versnelde verengelsing van die studente- en dosentekorps.

Scholtz verwelkom die voorgestelde vervanging van die T-opsie met die PMO. Maar dan hierdie absurde hoop: “Dit [is] dalk slegs ‘n oorgang na ‘n toestand waar dosente (en studente) bemagtig word om sowel Afrikaans as Engels magtig te wees.” Dit is glad nie die ideaal van die totaal getransformeerde US nie. Botman wil bv ‘n Engelssprekende Nigeriër aanstel sonder dat hy (of seker verkieslik: sy) ooit Afrikaans hoef te leer. Dit is die wese van totale transformasie in die Botman-idioom.

Dan verwys Scholtz na bruin Afrikaanssprekendes: “Dáár lê die US se natuurlike groeigemeenskap. ‘n US wat regtig sy sout werd is, sal daarom sy aansienlike kennis, ervaring en infrastruktuur aanwend om massief in die bruin Afrikaanse skoolonderwys te belê.” Dit is musiek in die ore van Botman. Dit sterk Botman in sy blatante rassediskriminasie ten gunste van sy eie etniese groep. Die verswartingsideaal aan die US word in die Botman-era by voorkeur in die werwing van bruin studente en bruin personeel vergestalt. Bruin is volgens Botman ‘n skakering van swart en dit slaag in elk geval die toets omdat dit nie wit is nie. Dit val op dat Scholtz geen pleidooi lewer vir die werwing van wit Afrikaanssprekende studente en personeel deur die US nie.

Wat Scholtz oor bruines skryf, sê hy na aanleiding van statistiek waarvolgens daar meer bruin as wit Afrikaanssprekendes is en die bruines vinniger as die wittes aanwas. Sy standpunt is dus kwantitatief gegrondves. Maar hoedanig is bruines se gesindheid teenoor Afrikaans? Op die platteland is die gesindheid meer positief as in die stede. By die laer klasse is dit beter as by die ontwikkelde bruines. Op die universiteitskampus erken bruin eerstejaars taamlik geredelik dat hulle Afrikaanssprekend is. Namate hulle in hulle studie vorder, beskou hulle hulleself toenemend as Engelssprekend.

Wat nodig is, is ‘n wetenskaplike, dus objektiewe, ondersoek van hierdie saak. Botman het al beweer dat hy die US-kampus met bruines verswart om Afrikaans te dien. In werklikheid is baie, dalk die meeste, bruin US-studente dislojaal teenoor Afrikaans en veral teenoor Standaardafrikaans. Om die toekoms van Afrikaans aan die US en in die land op bruin lojaliteit te grondves, is heel waarskynlik om op sand te bou.

In hierdie verband kan die bruin rektore as barometer gebruik word. In die ou Suid-Afrika was die Universiteit Port Elizabeth en die Universiteit van Wes-Kaapland tweetalige universiteite. Albei hierdie universiteite het nou ‘n bruin rektor, is eentalig Engels en daar is geen sprake dat hierdie inrigtings weer onderrig in Afrikaans gaan aanbied nie. Die tradisioneel Afrikaanse universiteite (in Bloemfontein, Johannesburg, Potchefstroom, Pretoria en Stellenbosch) het almal bruin rektore, met die uitsondering van Potchefstroom. Potchefstroom is die enigste kampus wat wesenlik Afrikaans gebly het. Die onvermydelike gevolgtrekking is: Moenie die heil van Afrikaans aan bruines toevertrou nie; veral nie in die geval van ‘n universiteit nie.

Kleinfontein is trots wit en Afrikaans

Die mense van Kleinfontein, naby Pretoria, het besluit dat slegs Afrikaners toegelaat sal word om in dié plaasgemeenskap te woon, het The Times Woensdag berig.

Almal wat tans in dié gemeenskap woon – van die veiligheidswagte by die hekke tot die tuinwerkers – is Afrikaans, het die koerant berig.

Beamptes van die Gautengse wetgewer se portefeuljekomitee vir gemeenskapsveiligheid is volgens die berig ook verlede jaar meegedeel dat swart polisiebeamptes nie in die gemeenskap toegelaat word nie.

Jan Groenewald, voorsitter van die gemeenskap se beheerliggaam, het aan The Times verduidelik elke inwoner moet ‘n “Afrikaner van ‘n Voortrekker-herkoms en ‘n Protestantse Christen wees, en moet by die Bloedrivier-gelofte hou”.

“Ons dink nie in terme van ras nie, ons dink in terme van kultuur… [maar] jy kan nie die feit ignoreer dat ons verskillende rasse het nie. Dit is die realiteit,” het hy volgens die koerant gesê.

“Ons gebruik nie die Suid-Afrikaanse vlag nie want [Suid-Afrika] is ‘n unitêre staat – dis die rede waarom ons ons in hierdie situasie bevind.”

Groenewald het gesê die gemeenskap sal die Tshwane-munisipaliteit vra om onafhanklik verklaar te word.

“Die ANC-regering sal in een of ander stadium moet goedkeur wat ons hier doen.”

Zim aanvaar nuwe Grondwet

Die ANC het Zimbabwe en sy president, Robert Mugabe, Woensdag geluk gewens met die aanvaarding van dié land se nuwe grondwet.

“Die nuwe grondwet is ‘n belangrike nuwe mylpaal in die suksesvolle implementering van die oorkoepelende vredesooreenkoms en die demokratiese bestel van Zimbabwe,” het Jackson Mthembu, woordvoerder vir die ANC, in ‘n verklaring gesê.

“Dit is ‘n verdere teken van ‘n nuwe begin vir daardie land, gegrond op samewerking en die behoefte aan vooruitgang.”

Mthembu het gesê die “vrye, regverdige en vreedsame” aard van die referendum is ‘n bewys dat die komende verkiesing in die land ook regverdig sal wees.

Mugabe het die dokument onderteken ná dit twee maande gelede in ‘n referendum goedgekeur is.

Zimbabwe maak gereed vir die eerste verkiesing sedert 2008, toe Mugabe en Tsvangirai ‘n wankelrige eenheidsregering gevorm het. Verkiesingsgeweld het destyds die lewe van sowat 200 mense geëis.

Dié nuwe grondwet sal presidensiële mag verminder en die parlement s’n vermeerder. Dit sal ook die presidentstermyn tot twee vyfjaar-termyne verminder en wegdoen met die premierspos.

Mugabe (89) is sedert Zimbabwe se onafhanklikheid in 1980 president van die land.

“Die volharding van die mense en regering van Zimbabwe moet vir baie van ons as inspirasie dien van hoe ‘n land se mense, wanneer hulle saamstaan, hulle eie oplossings kan soek en vind vir die probleme wat hulle in die gesig staar,” het Mthembu gesê.

DA-jeug gaan betoog teen Kleinfontein se “rassiste”

Die DA-jeug gaan protesteer teen die “rassistiese beleid” van die Kleinfontein-nedersetting buite Pretoria.

Kleinfontein laat slegs wit, Afrikaanse Protestante toe wat hou by die Bloedrivier-gelofte om daar te woon en werk. Volgens die DA het “hierdie soort van rasse-eksklusiwiteit geen plek in ‘n demokratiese Suid-Afrika nie”.

“Ons kan nie kan toelaat dat rasse-nasionaliste op die uithoeke van die Suid-Afrikaanse politiek probeer en apartheid terug te bring nie,” het die DA-jeug in ‘n verklaring gesê.

“Die DA het geveg teen apartheid in die verlede, ons sal dit nie duld nie,  om in enige vorm terug te keer nie. More, sal ons toon dat diversiteit en nie-rassigheid almal se lewens verbeter. Ons moet mense uit hul apartheid ingesteldheid bevry.”

Apartheid – ‘n idee vir die 21ste eeu?

Die apartheidsteorie voorspel dat mense in ‘n multi-etniese samelewing hulself insgelyks etnies gaan organiseer. In hul eie politieke benadering en veldtogte, verwerp sowel die ANC as die DA, die twee grootste politieke partye in Suid-Afrika, beide die marxisme en die liberalisme – en pas die apartheidsteorie toe!

Wat ek hier skryf, sal seker deur sommige as skandalig ervaar word, maar as Max du Preez kan beweer dat grondhervorming in Zimbabwe vir ons ‘n voorbeeld is, kan ‘n mens seker enigiets skryf en daarmee wegkom. Maar anders as vir Mad Max, gaan dit nie vir my om polemies te wees nie. Ek loop al lankal met die idee rond dat die Afrikanerfilosofie van die twintigste eeu oor veelvolkige samelewings en die naasbestaan van kultureel verskillende mense eintlik revolusionêr en vooruitstrewend was.

‘n Mens sou ‘n hele boek hieroor kon skryf. As beginpunt sou ‘n mens kon vermeld dat die toets vir enige wetenskaplike teorie is of dit “werk”. Met ander woorde, dat die teorie sekere uitkomste voorspel wat wel plaasvind. As ek voorspel dat ‘n mens ‘n bom kan maak deur tandepasta en koeldrank te meng, dan is die toets seker of so ‘n mengsel gaan ontplof of nie. Die eksperiment kan taamlik maklik uitgevoer word en sodoende kan die teorie verkeerd bewys word.

Maatskaplike stelsels is natuurlik meer ingewikkeld en daarom kan sosio-politieke teorieë nie sonder meer in ‘n laboratorium getoets word nie. Oor tyd en deur die geskiedenis, kan ‘n mens egter sien of hulle aan die eise van wetenskaplike waarheid voldoen, aldan nie.

Vandag word kommunisme allerweë as ‘n onwetenskaplike ideologie beskou waarvan die toepassing insgelyks misluk het. Nietemin het kommunistiese intellektuele en filosowe jare lank voorgehou dat die marxisme ‘n hoogs wetenskaplike en selfs die enigste wetenskaplike teorie is waarmee samelewings beskryf kon word. In die VSA, Wes-Europa, maar natuurlik veral Oos-Europa, China en Viëtnam, het duisende sosiaalwetenskaplikes die marxisme as ‘n bewese wetenskap voorgehou.

Die invloed van veral kulturele marxisme aan die universiteite en in die media is nou nog nie uitgewoed nie. Die Amerikaanse universiteite is byna volledig in die greep daarvan. Ná 1994 het selfs die voorheen konserwatiewe Afrikaanse universiteite en die Nasperskoerante ook kulturele marxisme tot hoofideologie verhef. Alle Afrikanerdenke in die sosiologie, politiek, letterkunde en ander geesteswetenskappe – selfs godsdiens en teologie – van voorheen is verwerp en vorme van kulturele marxisme en liberalisme is as enigste waarhede aangeneem.

Soos ons byna daagliks ervaar, is daar een groot probleem met hierdie twee teorieë van menslike gedrag en maatskaplike ontwikkeling: hulle uitkomste verskil hemelsbreed van wat gewoonlik voorspel word.

In ons land het ons dus met drie mededingende sosiale teorieë te make: marxisme, liberalisme en apartheid, waarvan twee hoegenaamd nie die toets van wetenskap slaag nie. Laat my kortliks verduidelik.

Die marxisme, soos dit in die klassieke geskrifte van Karl Marx, Friedrich Engels en Wladimir Lenin verwoord is, voorspel ‘n klasselose maatskappy waarin almal gelyk is, armoede iets van die verlede is en waarin die staat “weggekwyn” het omdat mense in spontane gemeenskapsverband lewe en nie meer die staat nodig het nie. Oral waar kommunisme egter toegepas is, het ongelykheid tussen die regerende elite en die gewone mense ingetree. Die staat het allermins weggekwyn en het inderdaad ‘n oorheersende, totalitêre rol in die lewens van mense gespeel sodat daar van werklike vryheid geen sprake was nie. Selfs intense breinspoeling en beheer oor alle inligting kon nie verhoed dat die Oos-Duitsers in November 1989 die Muur bestorm het en afgebreek het nie. Sodoende het hulle uit die kommunistiese utopie (wat eintlik ‘n distopie was) ontsnap en die betreklike vryheid van liberale demokrasie in Wes-Duitsland betree.

Marxisme of kommunisme het ook voorspel dat kapitalisme “die kiem van sy eie ondergang in hom omdra” en dus “noodwendig” in duie sou stort. Dit het bekendgestaan as “historiese onafwendbaarheid”. Aan Suid-Afrika se Engelse universiteite is hierdie marxistiese teorie op ons geskiedenis en samelewing van toepassing gemaak en daar is voorspel dat kapitalisme in ons land noodwendig aan sy einde sou kom. Ná 1989 het ‘n klomp van die Engelse marxistiese sosioloë en ander geesteswetenskaplikes egter ‘n merkwaardige bekering tot liberalisme en kulturele marxisme ondergaan en skielik van “historiese onafwendbaarheid” vergeet.

Een so ‘n marxistiese sosioloog wat ek uit my dae by Wits onthou, Mark Orkin, is aanvanklik by die RGN en daarna as hoof van die Suid-Afrikaanse Statistiekdiens aangestel.

Miskien sal die taamlik fanatiese Afrikanermarxiste wat ‘n mens deesdae aan die Universiteit van Stellenbosch en in die redaksiekantore van Nasperskoerante aantref met my verskil, maar marxisme het as maatskaplike teorie misluk. Die voorspelde uitkomste soos die klasselose samelewing, verdwyning van die staat, ineenstorting van kapitalisme, e.d.m., is nie in Suid-Afrika verwesenlik nie. Ook nie elders ter wêreld nie.

Wanneer dit by liberalisme kom, is die mislukking van liberalisme nie so klinkklaar soos kommunisme/marxisme nie, maar ons kan insgelyks waarneem hoe die liberale filosofie heel ander uitkomste voorspel as dit wat ons in die werklikheid met ons eie oë en ore waarneem.

In Suid-Afrika, veral onder die akademici, is daar ‘n kontinuum waar harde marxisme agtergelaat is maar waar kulturele marxisme, multikulturalisme en liberalisme met mekaar oorvleuel om ‘n amalgaam te vorm.

Die klassiek liberalisme van die agtiende en die negentiende eeu het eintlik niks te sê gehad oor multikulturele of veelvolkige samelewings nie. Dit is geskryf deur blanke, Europese mans wat ruimte vir verskille in godsdiens, oortuigings en sedelike opvattings binne homogene Europese samelewings wou skep.

Veral in die VSA het liberalisme egter ‘n gedaanteverwisseling ondergaan en word dit vandag, weereens op ‘n kontinuum, geassosieer met kulturele marxisme, die aandrang op rasseintegrasie, teenkanting teen Christelike of tradisionele waardes, regstellende aksie en selfs anti-Westerse en anti-blanke houdings.

Omdat Suid-Afrika toenemend ook ‘n Amerikaanse kolonie geraak het, kan ons al hierdie elemente van liberalisme by ons waarneem. Die Suid-Afrikaanse grondwet van 1996 is in ‘n hoë mate die produk van Amerikaanse liberale denke en daarom is regstellende aksie en anti-blanke diskriminasie wesentlik in die grondwet ingeskryf. Verder waarborg die grondwet bepaalde individuele vryhede, soos geloofsvryheid, spraakvryheid en vryheid van assosiasie.

As sosiaalwetenskaplike teorie het liberalisme egter die volgende uitkomste in Suid-Afrika voorspel: dat alle kiesers as individue volgens bepaalde waardes en oortuigings by die stembus sou gaan stem. Sodra sogenaamde “apartheid” – binne die liberale diskoers is apartheid of etniese differensiasie ‘n skelwoord – afgeskaf is, sou verskillende etniese groepe ook gelyk presteer, of dit nou akademies, ekonomies, sportief of wat ook al is. Enige verskille tussen mense is nie diepliggend nie, maar oppervlakkig en bloot die resultaat van sosialisering, opvoeding en kondisionering.

Bowenal, binne die liberale “paradigma”, soos dit ook genoem word, sou mense vrylik oor kleur- en taalgrense heen assosieer en slegs in hul individuele belang optree. Sowel die Suid-Afrikaanse marxiste as liberaliste beskou etnisiteit as iets kunsmatigs wat deur die vorige “apartheidstaat” geskep is en daarom sou etniese identiteite met tyd verweer en verdwyn. ‘n Mens sien hier byna ‘n parallel met die “wegkwyning van die staat” soos die marxisme dit voorspel het. Vanuit die liberale oogpunt is etnisiteit besig om “weg te kwyn” en sal op die duur verval of op sy minste nie meer ter sake wees nie.

Enigeen by sy volle positiewe kan egter waarneem dat Suid-Afrika ná 20 jaar van “liberale” regering kwalik gedeëtnifiseer is. Inteendeel, in vele opsigte het etniese identiteite verhard en sien ons die herlewing van tradisionele Afrika-etnisiteit en stamverbondenheid. Die verskynsel van ‘n dansende Zoeloe-president wat vir hom ‘n soort kraal op Nkandla gebou het, verskyn dikwels in die massamedia maar gaan heeltemal by die liberale denkers (eerder: ideoloë) verby wat verseg om enige betekenis daarin te lees.

Onderliggend aan die liberale aanname is ook die gedagte dat verwestering, verengelsing, deelname aan die verbruikersmaatskappy en blootstelling aan tegnologie die mense van Afrika noodwendig individualiseer en insgelyks homogeniseer sodat al verskille wat daar oorbly dié van “velkleur” is. Indien die liberalisme enige water gehou het, moes ons nou al lankal die “post-etniese samelewing” betree het.

Kennelik het dit nie gebeur nie en is Suid-Afrika vandag meer etnies verdeel as ooit. Dit gaan oor ras, taal en selfs godsdiens. Selfs geringe verskille in “belydenis”, soos dié oor Belhar in die Afrikaanse kerke, veroorsaak geweldige spanning, onmin, rusie en boonop skeuring. Dan praat ons nie eens van die groter verskille soos dié van ras, taal, godsdiens en wêreldbeskouing nie. In 1998 is ongeveer 80 vreemde burgers uit die res van Afrika deur plaaslike swartmense vermoor tydens die sogenaamde “xenofobiese aanvalle”. Kan daar ‘n duideliker manifestasie van etnisiteit as dít wees?

Afgesien van sulke nasionale en stamgevoelens, is etniese verskille in Suid-Afrika van die grootste ter wêreld. Aan die een kant word mense aangetref wat die voorvaders aanbid en gereeld rituele soos offerandes uitvoer en aan die ander kant hoogs gesofistikeerde wetenskaplikes wat die heelal in wiskundige terme ontleed en in internasionale vaktydskrifte publiseer. Dit wissel van diegene wat die eentonige woewoezêla by sokkerwedstryde blaas tot deelnemers aan internasionale klavierkompetisies na die Westerse model soos byvoorbeeld dié wat jaarliks by Unisa plaasvind.

Die eerlike denker of akademikus – miskien sluit die twee begrippe mekaar inderdaad uit – sal geredelik erken dat die liberalisme as teorie in Suid-Afrika nie die papier werd is waarop dit geskryf is nie. Dit is omtrent so van toepassing op ons as dragvoorskrifte in patrisiese Rome waar almal togas gedra het of die Boesmanteorie oor die maan waarvan ek in Jan van der Post se Afrikaanse jeugromans gelees het. Ek kan nie aan ‘n enkele voorspelling van die liberalisme dink wat oor die afgelope twintig jaar in Suid-Afrika bewaarheid is nie. Nietemin klou die sogenaamde politieke kommentators – hoofsaaklik onder buitelandse en Anglo-Amerikaanse invloed – hardnekkig hieraan vas. “Nog nie nou nie, maar dalk volgende jaar. Ons het nog net ‘n bietjie tyd nodig, dan sal julle sien.”

Die party wat hom daarop roem dat hy die draer van die liberale gedagte in Suid-Afrika is, die DA, raak al hoe meer belaglik in sy teenstrydige gedrag en uitsprake. Trouens, die DA is waarskynlik die eerste “etniese liberale party” ter wêreld. Nie net het die Kaapse blanke leidster van die party self Xhosa-danse in blou tekkies begin uitvoer nie, maar deur regstellende aksie binne die party word daar tans ‘n sterk appèl op die swart kieser se rassebewussyn geloods. In die aanloop tot aanstaande jaar se verkiesing, het die party selfs in ‘n hoë mate die regerende party se swart-nasionalistiese simbole en geskiedenis toegeëien, tot die konsternasie van die ANC.

Hiermee erken die DA onomwonde dat liberalisme en ‘n appèl op “waardepolitiek” of “kwessies” soos dienslewering, die bekamping van korrupsie, beter bestuur, ens., byna geen effek op die kiesers met hul sterk etniese en groepsbewussyn het nie. Die DA slag nou liberalisme soos wat ‘n mens ‘n hoender slag om die voorvadergeeste te behaag en neem ten volle deel aan etniese en rassepolitiek.

As sowel marxisme en liberalisme as wetenskaplike teorieë gefaal het, wat bly daar dan oor? Met watter middele moet ons die samelewing – veral óns samelewing – verstaan?

Dit bring my by die derde sosiologiese en antropologiese teorie oor die moderne samelewing waaroor ons in Suid-Afrika beskik: daardie stel idees en ontledings wat ons met die veel verguisde, tot misdaad-teen-die-mensdom-verklaarde term, “apartheid”, assosieer.

Terwyl apartheid of afsonderlike ontwikkeling as ‘n politieke stelsel afgebou is, leef dit egter voort as teorie. As ek dit sê, moet ek terselfdertyd ook erken dat niemand nog, sover ek weet, ‘n soort abstrakte teorie van apartheid geskryf het nie. Dit sou ‘n fassinerende taak wees, want dit betrek eintlik die totaliteit van die Westerse staatsleer sedert die Verligting, veral die polemiek tussen Herder en Kant, maar ook Condillac. Uit die Engelse empirisme van Locke, Berkeley en Hume is die politieke liberalisme gebore, die gedagte dat mense hul waardes, oortuigings en gedrag kan “kies”, amper soos ‘n mens disse op die restaurantspyskaart kan bestel.

Die meeste Afrikaners loop vandag nog met ‘n intuïtiewe idee van die apartheidsteorie rond, naamlik dat dit ‘n hoë belang aan etnisiteit en stamgebondenheid heg, asook dat daar wesentlike kultuurverskille tussen mense bestaan. Deur verwestering word mense nie van hul voorafgaande identiteit ontneem nie, maar word sodanige identiteit bloot versteur, iets wat sowel positief as negatief kan plaasvind.

Die apartheidsteoretici soos Geoff Cronjé en J.P. Bruwer het reeds in die 1940s baie akkuraat voorspel dat indien Suid-Afrika tot ‘n kwasi-Westerse eenheidstaat omvorm sou word, sonder inagname van kultuur- en etniese verskille, sou dit op grootskaalse geweld, sosiale anomie, sedelike verval, misdaad en konflik uitloop.

Die apartheidsteorie voorspel ook dat mense in ‘n multi-etniese samelewing hulself insgelyks etnies gaan organiseer. In hul eie politieke benadering en veldtogte, verwerp sowel die ANC as die DA, die twee grootste politieke partye in Suid-Afrika, beide die marxisme en die liberalisme – en pas die apartheidsteorie toe!

Hoewel Verwoerd, anders as Karl Marx of Gunnar Myrdal, deur die media en die universiteite verguis word, neem dit nie daarvan weg dat apartheid as ‘n maatskaplike teorie die toets van wetenskaplikheid slaag nie.

In die tyd van Galileo het die Pous en waarskynlik die hele “beskaafde wêreld” geweier om te aanvaar dat die aarde om die son draai, wat teen die Bybel en die begrip van die Skepping was. Galileo moes sy wetenskaplike teorie afsweer, op die gevaar af dat hy as ketter op die brandstapel sou beland indien hy dit nie doen nie.

Maar soos Blaise Pascal gesê het: “As die aarde beweeg, gaan ‘n dekreet uit Rome dit nie keer nie.” As apartheid as teorie werk, soos ons reeds kan sien, gaan geen mate van histeriese verwerpings deur die joernaliste en akademici dit verhoed nie.

Ek het tot hierdie slotsom gekom, nie deur Verwoerd of Geoff Cronjé of J.P. Bruwer te lees nie, maar deur met swart Suid-Afrikaners te gesels en te debatteer. Twee aande gelede was ek saam met die swart nasionalis Andile Mngxitama op MetroFM, die grootste swart radiostasie in die land, en die gevoel wat ek deurentyd gekry het, is dat die meeste swartes nie kan begryp waarom ons nie maar “onsself kan wees” nie. Téén die liberale en kultuur-marxistiese taboes in, vind hulle dit natuurlik om met hul stam- of rasgenote te assosieer. Hulle vind dit ewe vanselfsprekend dat Afrikaners met ander Afrikaners sou wou assosieer.

Die apartheidsteorie verklaar nie net die gedrag en die politiek van Suid-Afrikaners nie, maar ook die vele etniese konflikte en sosiale patrone elders ter wêreld, hetsy in die VSA en Wes-Europa, hetsy in Afrika of Asië.

Apartheid is ook gewortel in die idee van nasionale selfbeskikking. Sedert 1989, het ongeveer 50 nuwe state – tuislande! – lede van die Verenigde Nasies geword. In dié sin is apartheid deel van die Universele verklaring van menseregte waarvan artikel 15 bepaal:

Elkeen het die reg tot burgerskap.

Niemand se burgerskap sal arbitrêr afgeneem word nie en niemand sal van die reg ontneem word om afstand te doen van burgerskap nie.

Dieselfde gedagte word selfs meer uitdruklik in die Internasionale konvensie oor burgerlike en politieke regte gestel:

“Alle volkere beskik oor die reg op selfbeskikking. Kragtens daardie reg bepaal hulle hul politieke status en verwesenlik vrylik hul ekonomiese, sosiale en kulturele ontwikkeling.”

Dis ‘n dokument van die Verenigde Nasies, maar dit klink asof dit deur Verwoerd self geskryf is!

In ons tyd sien ons dat die groot ryke slegs deur oorlog en die uiterste geweld, tesame met sosiogeniëring en dwangmaatreëls, in stand gehou kan word. Die kleiner volkere op aarde, waaronder die Afrikaner, smag na selfbeskikking, maar so ook daardie onderdele van groter volkere wat steeds sterk oor hul eie taal, kultuur en identiteit voel.

Net gister het ‘n briljante Franse skrywer en geskiedkundige, Dominique Venner, homself in die Notre-Dame-katedraal in Parys doodgeskiet, blykbaar uit protes teen die verval van Frankryk en die Franse kultuur weens immigrasie en Amerikanisering.

Kulturele marxisme en liberalisme is, meer nog as die Katolieke dogma van die Middeleeue, besig om verwoesting in vele lande ter wêreld te saai. Bowenal natuurlik in Suid-Afrika.

Ons groot skrywer en digter, N.P. van Wyk Louw, was een van die apartheidsteoretici. Niemand behalwe sommige venynige akademici soos prof. Gerrit Olivier van Wits, trek sy digterskap as gevolg daarvan in twyfel nie.

Ons denkers oor kultuur en etnisiteit in die twintigste eeu was hoogs gekultiveerd, opgevoed en versiende in hul opvattings van selfbeskikking en die behoud en ontwikkeling van nasionale kulture en identiteite. Hulle het dit nie in isolasie gedoen nie, maar as mense wat deurdrenk was van die filosofie van die Verligting en die staatkunde van die twintigste eeu, soos byvoorbeeld Woodrow Wilson se veertien punte wat hy in ‘n toespraak aan die einde van die eerste wêreldoorlog gestel het.

Vandag word al ons Afrikaner- politieke denkers uit die verlede deur die media en populêre geskiedskrywers verdag gemaak en selfs as “agterlik en dom” verguis. “Verwoerdiaans” het in die mond van propagandistiese politici soos mev. Helen Zille ‘n skelwoord en ‘n belediging geword. Terwyl sy Verwoerd belaster, skroom sy egter nie om sy volkekunde toe te pas as sy wil gaan stemme werf nie. Haar eie ideologie, die liberalisme, is intellektueel en sosiaal bankrot.

Om Gunnar Myrdal se begrip van die liberale “smeltkroes” wêreldwyd af te dwing, is die VSA besig om meer oorlog en geweld te pleeg as wat die ou Sowjetunie ooit gedoen het om ‘n ander onwerkbare ideologie, marxistiese kommunisme, te vestig.

Die problematiek van die een-en-twintigste eeu is dié van ras, taal en etnisiteit. Die hele aardbol staan in vlamme weens wydverspreide identiteitskonflikte.

Het dit nie tyd geword dat dat ons Verwoerd en ander Afrikanerdenkers uit die verlede gaan herlees nie?

Die stereotipe en die mite van apartheid mag tot die verlede behoort, maar die idee en die wetenskap van apartheid leef voort. Enige wetenskaplike teorie word met tyd en soos wat nuwe inligting beskikbaar raak, aangepas. Soos Karl Popper gemeen het, is die definisie van wetenskap juis dat dit weerlê kan word.

Daarom sou dit dwaas wees om dít wat ek hier skryf te intepreteer as ‘n terugkeer na segregrasie soos dit in Suid-Afrika en die suidelike VSA bestaan het. Nietemin is die sentrale begrip van apartheid, naamlik dat volkere verkies om apart van ander te woon en te ontwikkel, nie dood nie. Inteendeel, dit is die grondslag vir vreedsame naasbestaan en kan ons van die huidige globalistiese mededinging en oorlog red.

Is die selfbeskikking van groepe en volkere, as lande maar ook binne lande, nie ‘n idee waarvoor die tyd nou ryp is nie?

SAPD se webwerf gekraak om fluitjieblasers te ontbloot

“Swak sekerheid van die polisie se webwerf is die oorsaak dat kuberkrakers meer as 15 700 fluitjieblasers se identiteit nou aan die wêreld bekend maak. Fluitjieblasers se identiteitsnommers, telefoonnommers en e-pos adresse is nou openbaar op die internet en skep ‘n veiligheidsrisiko vir die fluitjieblasers. Dit beteken dat swak maatreëls toegepas is op die polisie se webwerf en die polisie moet volle verantwoordelikheid aanvaar,” sê mnr. Pieter Groenewald, hoofwoordvoerder vir polisie van die Vryheidsfront Plus.

“Fluitjieblasers is geweldig kwesbaar omdat misdadigers hulle teiken en selfs vermoor om te verhoed dat hulle skuldig bevind word in die hof. Weens die swak beskerming van die polisie is fluitjieblasers se persoonlike besonderhede nou bekend aan misdadigers. Sou ‘n fluitjieblaser as gevolg hiervan skade berokken word, sal hulle ‘n eis teen die polisie kan instel waarvoor die belastingbetaler weer sal moet opdok,” sê Groenewald.

Dit het bekend geword dat kuberkrakers op Vrydag 17 Mei 2013 al die data van die polisie se webwerf op ‘n openbare webwerf geplaas het waartoe die publiek toegang het.

Volgens eNCA.com het die kuberkrakers op die sosiale netwerk Twitter die publiek ingelig dat hulle ‘n polisie sekerheidsbreuk geskep het, en dit was “vir die 34 myners wat gesterf het gedurende die botsing met die polisie in Marikana op 16 Augustus 2012.” ‘n Volledige lys van fluitjieblasers is deur eNCA.com afgelaai en kon met die inligting direk met fluitjieblasers kontak maak.

Senaatskomitee stem vir wapens aan Sirië

‘n Amerikaanse senaatskomitee het ‘n wetsontwerp deurgedruk wat sal toelaat dat –  indien dit onderteken word deur die Obama-administrasie – wapens gelewer sal word aan Siriese rebelle waaronder Al Kaida, ‘n skuif wat die hele streek bedreig.

Die Senaatskomitee oor Buitelandse Betrekkinge het met 15-3 gestem ter bewapening van die rebelle. Die Amerikaanse publiek is egter fel gekant teen militêre inmenging in Sirië.

“Ek dink nie dat hierdie besluit, hierdie wetsontwerp in die Huis van Verteenwoordigers aftrek sal kry nie, en as dit wel kry, sal ons moet wag en sien of Obama hierdie wetsontwerp onderteken,” het die historikus Gerald Horne gesê.

Horne is nogtans van mening dat die Israel-lobby in Washington Amerikaanse politici, insluitend President Obama kan swaai.

“Die Israel-lobby in die besonder is baie energiek en baie aktief in dié verband met steunwerwing vir hulp aan die rebelle, wat baie vreemd is want as hierdie rebelle aan bewind gekom, vermoed ek dat Israel baie slapelose nagte sal hê,” sê Horne.

Die taal van die voorgestelde wetgewing is vaag, maar dit dui op die verkoop van wapens, maar dat “geen anti-vliegtuig verdedigingstelsels” voorsien sal word nie.

Ten spyte van die rebelle se bande met Al Kaida, is Amerikaanse wetgewers vasbeslote dat wapens voorsien sal word aan groepe wat “verbind is tot die verwerping van terreur en ekstremistiese ideologie”.

Senator Rand Paul van Kentucky het teen die wetsontwerp beswaar gemaak, en gewaarsku: “Julle befonds vandag die bondgenote van Al Kaida.”

“Dit is ‘n ironie wat jy nie kan oorkom nie,” het hy aan die Washington Times gesê.

Cosatu wil Vrydag hoofweë oor e-tol versper

Die vakbondfederasie, Cosatu, het gedreig om Gauteng se hoofweë Vrydag heeltemal tot stilstand te dwing as deel van sy protesaksie teen die beplande e-tolstelsel in die provinsie.

‘n Woordvoerder, Dumisani Dakile, sê in vorige protesoptrede is sommige lane oopgelos vir verkeer om verby te beweeg, maar dat nie in Vrydag se aksie die geval sal wees nie.

Cosatu sê die eerste protesoptrede Vrydag sal die M1, N1, N12, en die M2 raak. Die tweede protesaksie is op 31 Mei in Ekurhuleni en sal die N3, N12, en R21 raak.

Tien beseer toe rubberkoeëls by myn reën

Tien mynwerkers is Dinsdag beseer toe veiligheidswagte by die Lanxess-chroommyn in Rustenburg rubberkoeëls gebruik het om stakers uitmekaar te jaag, het die polisie in die Noordwes gesê.

Brig. Thulane Ngubane het gesê 10 mynwerkers is na ‘n mynhospitaal geneem vir behandeling.

Sowat 500 mynwerkers het vroeg Dinsdagoggend by die myn byeengekom. Hulle het glo veiligheidswagte by die myn gedreig, waarna die wagte met rubberkoeëls losgebrand het.

Die polisie is kort na die voorval na die toneel ontbied.

Mynwerkers het later Dinsdag steeds naby die myn saamgedrom om uit te vind wat die uitkoms was van ‘n vergadering tussen vakbonde en die myn se bestuur.

Die werkers se eise is nog nie bekend nie. Ngubane het bygevoeg dat niemand tot dusver in hegtenis geneem is nie.

Lanxess was nie onmiddellik vir kommentaar beskikbaar nie.