Die ANC het Zimbabwe en sy president, Robert Mugabe, Woensdag geluk gewens met die aanvaarding van dié land se nuwe grondwet.
“Die nuwe grondwet is ‘n belangrike nuwe mylpaal in die suksesvolle implementering van die oorkoepelende vredesooreenkoms en die demokratiese bestel van Zimbabwe,” het Jackson Mthembu, woordvoerder vir die ANC, in ‘n verklaring gesê.
“Dit is ‘n verdere teken van ‘n nuwe begin vir daardie land, gegrond op samewerking en die behoefte aan vooruitgang.”
Mthembu het gesê die “vrye, regverdige en vreedsame” aard van die referendum is ‘n bewys dat die komende verkiesing in die land ook regverdig sal wees.
Mugabe het die dokument onderteken ná dit twee maande gelede in ‘n referendum goedgekeur is.
Zimbabwe maak gereed vir die eerste verkiesing sedert 2008, toe Mugabe en Tsvangirai ‘n wankelrige eenheidsregering gevorm het. Verkiesingsgeweld het destyds die lewe van sowat 200 mense geëis.
Dié nuwe grondwet sal presidensiële mag verminder en die parlement s’n vermeerder. Dit sal ook die presidentstermyn tot twee vyfjaar-termyne verminder en wegdoen met die premierspos.
Mugabe (89) is sedert Zimbabwe se onafhanklikheid in 1980 president van die land.
“Die volharding van die mense en regering van Zimbabwe moet vir baie van ons as inspirasie dien van hoe ‘n land se mense, wanneer hulle saamstaan, hulle eie oplossings kan soek en vind vir die probleme wat hulle in die gesig staar,” het Mthembu gesê.
