‘n Amerikaanse senaatskomitee het ‘n wetsontwerp deurgedruk wat sal toelaat dat – indien dit onderteken word deur die Obama-administrasie – wapens gelewer sal word aan Siriese rebelle waaronder Al Kaida, ‘n skuif wat die hele streek bedreig.
Die Senaatskomitee oor Buitelandse Betrekkinge het met 15-3 gestem ter bewapening van die rebelle. Die Amerikaanse publiek is egter fel gekant teen militêre inmenging in Sirië.
“Ek dink nie dat hierdie besluit, hierdie wetsontwerp in die Huis van Verteenwoordigers aftrek sal kry nie, en as dit wel kry, sal ons moet wag en sien of Obama hierdie wetsontwerp onderteken,” het die historikus Gerald Horne gesê.
Horne is nogtans van mening dat die Israel-lobby in Washington Amerikaanse politici, insluitend President Obama kan swaai.
“Die Israel-lobby in die besonder is baie energiek en baie aktief in dié verband met steunwerwing vir hulp aan die rebelle, wat baie vreemd is want as hierdie rebelle aan bewind gekom, vermoed ek dat Israel baie slapelose nagte sal hê,” sê Horne.
Die taal van die voorgestelde wetgewing is vaag, maar dit dui op die verkoop van wapens, maar dat “geen anti-vliegtuig verdedigingstelsels” voorsien sal word nie.
Ten spyte van die rebelle se bande met Al Kaida, is Amerikaanse wetgewers vasbeslote dat wapens voorsien sal word aan groepe wat “verbind is tot die verwerping van terreur en ekstremistiese ideologie”.
Senator Rand Paul van Kentucky het teen die wetsontwerp beswaar gemaak, en gewaarsku: “Julle befonds vandag die bondgenote van Al Kaida.”
“Dit is ‘n ironie wat jy nie kan oorkom nie,” het hy aan die Washington Times gesê.
