Swak rand wek kommer

Die skerp daling in die waarde van die rand kan die tekstielbedryf negatief raak, het die Kaapse Sakekamer Vrydag gewaarsku.

“In die Wes-Kaap sal die klerebedryf meer moet betaal vir die invoer van materiaal, en omdat 80% van die materiaal wat gebruik word, ingevoer word, kan dit die bedryf skade berokken,” het Viola Manuel, hoof van die organisasie, gesê.

“Behalwe daarvoor is daar ook ‘n invoerbelasting van 22% op ingevoerde materiaal. Dit alles beteken werksgeleenthede is in die gedrang.”

Die rand het Donderdag tot ongeveer R10 teen die Amerikaanse dollar geval, enkele ure ná pres. Jacob Zuma die land en beleggers probeer verseker het dat die regering hard werk om ‘n einde te bring aan arbeidsonrus in veral die mynwese.

Die rand is tans op sy laagste vlak in vier jaar.

Die geldeenheid het teen Vrydagmiddag op ‘n vlak van sowat R10.15 tot die dollar verhandel.

Manuel het gesê die skielike daling moet gesien word as ‘n sterk negatiewe reaksie teen die manier waarop die land bestuur word.

“Dis duidelik dat die wêreld nie tevrede is nie oor die onstabiliteit in arbeidsverhoudinge en party van die onlangse besluite oor sake soos elektrisiteit en tolpaaie, sowel as die skandale wat aan die lig gekom het.”

Siriese rebelle skiet kind

Islamitiese rebelle wat teen die Siriese regering veg, het ‘n 15-jarige seun voor sy ouers en broers doodgeskiet nadat hulle hom van lastering teen Allah beskuldig het.

Die Siriese direkteur vir Menseregte, Rami Abdel Rahman sê die seun het as ‘n koffieverkoper in die stad Aleppo gewerk.

Hy het die seun se teregstelling as ‘n misdaad veroordeel en dit as ‘n geskenk aan die Siriese president Bashar Assad beskryf.

Die moniteringsgroep, wat staatmaak vir inligting op ‘n groot netwerk van aktiviste, dokters en regsgeleerdes in Sirië eis dat die moordenaars in hegtenis geneem word.

Groot dele van die stad Aleppo is onder beheer van die rebelle.

Vrou in koele bloede doodgeskiet

‘n Vrou is die naweek op ‘n plaas naby Gravelotte in Limpopo doodgeskiet.

Kol. Ronel Otto sê Melinda Bam (30) en haar vriend het in die bed gelê toe drie of vier mans die kamer binnegestap het. Die voorval het Saterdagoggend net ná 01:00 plaasgevind.

Die aanvallers het die vrou doodgeskiet, terwyl die man in die been en lies gewond is.

Otto sê vier tot vyf kinders was ook ten tyde van die aanval in die huis. Hulle het hulself in ‘n kamer toegesluit en is ongedeerd.

Die aanvallers het selfone en kontant gesteel.

“Die polisie ondersoek nog die motief vir die skietery. Niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie,” het die polisiewoordvoerder gesê.

Geen nuus van Mandela nie

Oudpresident Nelson Mandela het vir ‘n derde nag in ‘n hospitaal in Pretoria deurgebring sonder dat enige verdere inligting oor sy toestand bekendgemaak is.

Volgens berigte het Mandela se mediese span aangedui dat hulle verkies om slegs bekend te maak as daar ‘n belangrike verandering in sy toestand is.

Die oudpresident sukkel weer met ‘n terugkerende longinfeksie. Hy is Saterdagoggend in die vroeë oggendure na die hospitaal geneem.

Verskeie familielede was gister by die hospitaal opgemerk waar honderde joernaliste toegesak het vir nuus oor die bejaarde staatshoof.

Boodskappe van bemoediging stroom van regoor die wêreld in. Die presidensie het Saterdag gesê Mandela se toestand is ernstig maar stabiel.

Mulder ontmoet Georgië se landbouminister

Suid-Afrikaanse landbouers se kundigheid en bydrae in Georgië word steeds waardeer nieteenstaande die nuwe regering daar.

So het dr Pieter Mulder, adjunkminister van landbou, bosbou en visserye na afloop van ‘n bilaterale vergadering met die nuwe adjunkminister van landbou van Georgië, mnr. David Natroshvili gesê.

“In Oktober 2012 het ‘n nuwe regering in Georgië aan bewind gekom. Onder druk van kiesers het die nuwe regering belowe om die wetgewing wat grondbesit deur buitelanders bepaal, te herformuleer. Van die voorstelle is dat buitelanders slegs 2,5 hektaar grond mag besit. So ‘n besluit sal die huidige Suid-Afrikaanse landbouers in Georgie regstreeks raak. Dit is dus belangrik om die Suid-Afrikaanse boere wat reeds daar is en wat beplan om eersdaags daarheen uit te brei, by te staan deur amptelik met Georgië te onderhandel,” het dr Mulder gesê.

Gedurende 2010 is daar ‘n memorandum van verstandhouding tussen die Transvaalse Landbou Unie (TLU) en die vorige regering van Georgië geteken. Die doel van die ooreenkoms was om Georgië by te staan met die ontwikkeling van hul kommersiële landbou en om meer Suid-Afrikaanse landbouers na Georgië te trek. Meer as 90 Suid-Afrikaanse boere het reeds Georgië besoek en vyf het reeds grond in die land aangekoop en daar begin boer. Met ‘n nuwe regering mag dit hierdie landbouers se situasie raak.

Mnr. Natroshvili is tans in Suid-Afrika op ‘n amptelike besoek om formele diplomatieke bande tussen Georgië en Suid-Afrika te versterk.

Die vergadering se doel was om ‘n wedersyds voordelige inter-regerings en kommersiële vennootskap en samewerking met betrekking tot die landbousektor tussen Suid-Afrika en Georgië te bespreek. Tydens die gesprek is ook spesifiek oor die Suid-Afrikaanse landbouers se posisie in Georgie gepraat.

Waar vorige ooreenkomste nie op regeringsvlak was nie, is ooreengekom om aan so ‘n ooreenkoms te begin werk. Dit kan uitloop op ‘n amptelike ooreenkoms oor samewerking op landbougebied wat tussen Georgie en Suid-Afrika geteken word.

Die versterking van handelsverhoudinge met lande anders as Suid-Afrika se tradisionele handelsvennote is in die huidige ekonomiese klimaat van kardinale belang, het dr. Mulder gesê.

Afrikaners kort van dié Franse drif

manif pour tousDie politiek in Frankryk raak warm – met betogings en verbete bekgevegte in die media, selfs appels swaai op straat. Net enkele dae gelede het so ‘n vuisslanery tussen linkse en regse jongelinge in die middestad van Parys naby die groot afdelingswinkel Printemps op die dood van Clément Méric (19) uitgeloop. Méric was ‘n linkse aktivis wat blykbaar aspris loop skoor soek het met ‘n groepie verregse “skinheads”.

La manif pour tous 2Eergisteraand is een van die kosbare historiese katedrale, die Sint-Peterskatedraal in Nantes, Wes-Frankryk, gevandaliseer – waarskynlik deur linkses wat wou wraak neem teen konserwatiewe Katolieke en ondersteuners van “La manif pour tous”, die beweging teen homoseksuele huwelike en ten gunste van gesinswaardes. Die naam van die beweging, wat “Betoging vir almal” beteken, verteenwoordig ‘n regstreekse teenvoeter vir die gedagte van “die huwelik vir almal”, oftewel “le mariage pour tous”.

La manif pour tous 3Die linkse regering van mnr. François Hollande vrees die opkoms van Franse nasionale trots en konserwatiewe aktiviste wat hul skerp teen homoseksuele huwelike, maar ook misdaad deur Arabiere en swartes, uitspreek. Daarom het die regerende Sosialistiese Party net gister in reaksie op die dood van die linkse student aangekondig dat hy ‘n verregse jeugbeweging, die Jeunesses Nationalistes Révolutionnaires gaan “ontbind”. Op Twitter het regse Franse onmiddellik teruggekap en gevra: “Wanneer ontbind Hollande die gekleurde bendes wat ons teister?”

La manif pour tous 4Ná Méric se dood het die oorwegend linksgesinde hoofstroommedia in Frankryk onmiddellik die skuld op die regse politikus en leidster van die Front National, mev. Marine Le Pen, probeer pak. Sy het haar egter dadelik van mnr. Serge Ayoub se verregse Revolusionêre Nasionalistiese Jeug gedistansieer en gesê dat haar party “geen nabye of verre verband met dié gewelddaad het nie”.

La manif pour tous 5Die opkoms van die Front National is op sigself ‘n merkwaardige gebeurtenis in die Franse en Europese politiek. Frankryk is naas Duitsland die belangrikste land in Wes-Europa, asook een van die vyf permanente lede van die VN-veiligheidsraad. Franse meningsopnames is in die algemeen besonder akkuraat en daarom kan ‘n mens die 21 persent steun wat mev. Le Pen tans by die kiesers geniet baie ernstig opneem. Trouens, haar steun het dié van president Hollande verbygesteek en maak haar nou die tweede gewildste leier in die land, ná die vorige liberale president, Nicolas Sarkozy. Indien ‘n presidentsverkiesing nou gehou sou word, sou sy bo die sosialistiese Hollande deurdring tot die tweede ronde, iets wat reeds in 2002 gebeur het toe haar vader, mnr. Jean-Marie Le Pen, in die tweede ronde teen mnr. Jacques Chirac te staan gekom het.

Anders as in 2002, het die Front National egter nou ‘n hoofstroomparty geword wat besig is om sy verregse beeld af te skud. Dit is die party van konserwatiewe Katolieke wat neerhalend deur linkses “cathos fachos” (Kato-fasciste) genoem word, maar ook die Franse werkersklas wat eens op ‘n tyd die Kommunistiese Party ondersteun het. Daarom beskuldig die regs-liberale koerant, Le Figaro, mev. Marine Le Pen daarvan dat sy in haar sorge oor die Franse fabriekswerker ‘n “ekstreemlinkse diskoers” besig.

Te midde van die oorverhitte nasionale debat oor homoseksuele huwelike het ‘n regse intellektueel, skrywer en historikus, Dominique Venner (78), op 21 Mei in die wêreldberoemde Notre Dame-katedraal in Parys met ‘n vuurwapen selfmoord gepleeg. In sy selfmoordbrief wou hy mense oortuig om dit as ‘n “daad van politieke verset teen Franse dekadensie” te sien.

Dog Sondag twee weke gelede op 26 Mei (nogal my verjaardag!) het Franse konserwatiewes vir ‘n opskudding gesorg toe daar ongeveer ‘n miljoen mense in die strate van Parys onder die vaandel van “La manif pour tous” teen homoseksuele huwelike betoog het. Die reusebetoging is veral deur ‘n oplewing van Franse patriotisme gekenmerk, met derduisende blou, wit en rooi vlae wat deur die betogers geswaai is.

Frankryk was oor seksuele kwessies nog altyd baie liberaal en daarom vermoed ‘n mens dat die werklike teiken van konserwatiewe misnoeë nie soseer die homoseksuele is nie, maar die algemene politieke korrektheid van die linkses en die hoofstroommedia wat hul waardes in die gewone mense se kele afdruk. “Ons is blanke Franse met gesinne, waarom word ons stemme nooit gehoor nie?” was eintlik wat “La manif pour tous” wou sê.

Onder die vele spitsvondige slagspreuke op baniere en plakkate was daar: “As my man begin menstrueer, kan ons weer daaroor gesels.”

Frankryk is een van ons stamlande. Sonder die Franse Hugenote sou daar nooit manjifieke wynplase in die Boland gewees het en waarskynlik geen Afrikaanse taal nie. Want die hoeveelheid Franse vanne tydens die vroeë Afrikaanse taalbewegings is eenvoudig verstommend: Du Toit, Meurant, Cachet, noem maar op. Daardie Hugenote het hul eie geliefde Latynse taal in ons land verloor, maar Afrikaans des te vuriger omhels!

Daarom moet ons nie die Franse bydrae tot Afrikanerskap onderskat nie, hoewel ons ‘n Germaanse taal praat en oor meer Nederlandse en Duitse gene beskik. Dit het my egter nog altyd verstom hoe geredelik Nederlanders en Duitsers verengels. In die VSA was daar tot sestig persent Duitsers in sommige deelstate wat sekerlik Duitssprekend kon gebly het; nietemin het al daardie miljoene Duitse immigrante in Amerika sonder slag of stoot verengels.

Sekerlik is daar op die huidige oomblik dergelike interessante verwikkelinge in ons ander stamlande (Nederland, Duitsland, Skotland) ook. Skotland wil van die Verenigde Koninkryk afstig om ‘n volwaardige land te word. Maar die Skotte is oorwegend links en het lankal hul eie Keltiese taal vir Engels verruil. Nasionalisme en patriotisme bly vanweë die Nazi-geskiedenis in Duitsland gestigmatiseer en die Duitsers maak jag op hul eie mense wat maar hoegenaamd patrioties of te krities oor immigrasie en Turkse Moslems begin raak. In Duitsland waag jong pro-Duitse betogers dit net snags met maskers en fakkels op straat, op die gevaar van inhegtenisname deur die polisie af.

Ironies genoeg is die regse beweging in Nederland deur ‘n briljante homoseksuele intellektueel, Pim Fortuyn, van stapel gestuur. Ná die sluipmoord op Fortuyn, het Geert Wilders se Party vir die vryheid (PVV) die vaandel begin dra en in 2010 op 15 persent kiesersteun kon staatmaak, wat intussen tot 10% teruggesak het. Die PVV word gekenmerk deur sy teenkanting teen Islam en immigrasie. Anders as die Front National en La manif pour tous, vry die PVV eintlik na homoseksuele steun omdat hy Nederlandse homo’s daaraan herinner dat ‘n verislamiseerde Nederland hulle kwalik gaan verdra.

Nederland is ‘n land wat byna geen invloed in Europa uitoefen nie en skaar hom gewoonlik by Duitsland sover dit monetêre aangeleenthede betref. Daarteenoor kan Parys, vanweë sy grootte en gewig binne die sentralistiese Franse stelsel, steeds aanspraak daarop maak dat hy die intellektuele sentrum van Europa is.

In Mei 1968 was die Franse op die voorpunt van die linkse omwenteling in Wes-Europa met die beroemde studenterevolusie, maar sedert die sewentigerjare het ‘n kentering plaasgevind. Franse intellektuele, skrywers en meningsvormers het al meer krities begin raak oor sosialisme, multikulturalisme en wat hulle as “Westerse masochisme” sien. Aanvanklik het dit “die nuwe filosofie” geheet, maar deesdae word daar openlik van “patriotisme” gepraat.

Onverskrokke en weerbarstige Franse intellektuele teister die linkse media met aweregse uitsprake, soos byvoorbeeld die gevierde skrywer Richard Millet wat verlede jaar die land met sy “Lofprysing aan Anders Breivik”, die Noorweegse massamoordenaar, geskok het en waaroor Praag berig het in Polemiek in Europa rondom Franse essayis se ‘lof aan Anders Breivik’. Agter die skoktaktiek sit daar egter dodelike, analitiese denke. Richard Millet, Pascal Bruckner, Alain Soral, Alain de Benoist en ander is besig om indringende vrae te stel, soos: Waarheen is Frankryk op pad met al hoe meer moskees, maar ook geweldsmisdaad, in die land? Waarheen gaan die Weste as hy sy grondliggende waardes ter wille van Amerikaanse politieke korrektheid prysgee? Het blankes rede om almal skuldig te voel?

Tydens die skandaal rondom Richard Millet se uitsprake in 2012 het hy tydens ‘n televisiedebat verklaar: “Ek is ‘n blanke man; wat ‘n skande. Ek is Katoliek; wat ‘n skande. Ek is heteroseksueel; wat ‘n skande.” Hiermee wou hy te kenne gee dat die hoofstroommedia dikteer dat Arabiere, swartes, immigrante, Moslems of ateïste, asook homo’s, die nuwe normaliteit in Frankryk verteenwoordig. Daarom ervaar hy hom as blanke, Katolieke, heteroseksuele Fransman as ‘n vreemdeling in sy eie land. Tydens ‘n radio-onderhoud het hy vermeld dat hy sesuur die aand by Châtelet in die hartjie van Parys “die enigste blanke op die moltrein is”. Dié gewraakte woorde het tot histeriese besware deur linkse skrywers en joernaliste aanleiding gegee en die omstredenheid het later so erg geraak dat Millet sy pos as uitgewer by die prestigieuse huis van Gallimard verloor het.

Dit klink seker maklik om die media te provokeer. Maar as ‘n mens bietjie dieper in Millet se biografie op die internet gaan delf, dan kom jy agter dat dié man as vrywilliger tydens die Libanese burgeroorlog sy aan sy met Christene geveg het… Agter die bedaarde, beskaafde gesig van die letterkundige en skrywer, skuil ‘n beginselvaste vegter wat al die wapen vir sy idees opgeneem het! Of noem dit Franse passie: hulle praat nie net nie, hulle storm! Of hulle betoog.

Wat betogings betref: Parys is ‘n stad met breë boulevards tussen imposante, meesal negentiende-eeuse neoklassieke geboue in die Hausmann-styl. Daarom vind daar aanmekaar betogings oor allerlei kwessies plaas, want ‘n paar foto’s van baniere teen so ‘n mooi agtergrond kan enige saak bevorder.

Twee weke gelede het La manif pour tous egter getoon dat die “stille meerderheid” van blanke, Katolieke en heteroseksuele Franse met gesinne nou genoeg daarvan gehad het om as tweedeklasburgers geag te word. Hulle wil ook gehoor word en het daarom almal na Parys opgeruk waar hulle in hul honderde duisende van die Austerlitz-stasie na die esplanade van Invalides gestap het. Soos die linkse Nouvel Observateur spottend opgemerk het, “het hulle die betoging ontdek”. Die intellektuele debat wat deur ‘n klein groepie skrywers en filosowe gevoer is, vind nou weerklank “op straat” soos die Franse daarvan hou om te sê.

Die parallelle met die Afrikaner se situasie in Suid-Afrika is natuurlik ooglopend. Ons is die stigters van Suid-Afrika en het al die pyn en lyding deurworstel om hierdie suksesvolle nywerheidstaat te vestig. Nietemin word die blanke, Christelike en/of Westers-georiënteerde Afrikaner wat boonop heteroseksueel is, vandag geredelik deur die hoofstroommedia en die regering geminag. Ons mening tel nie. Binne die diktatuur van politieke korrektheid word die regte van misdadigers of onwettige immigrante (hoewel hulle dikwels deur ons “vredeliewende en verdraagsame” medeburgers vermoor word) hoër geskat as ons s’n.

Wie is die grootste Afrikaner? Is dit N.P. van Wyk Louw of is dit die fopdosser Pieter-Dirk Uys met sy neerhalende verguising van die gewone Afrikaner? Net vandag skryf Koos Kombuis in antwoord op Flip Buys se onlangse pleidooi vir die gesin dat Nie alle gesonde gesinnne lyk soos Flip s’n nie. Volgens Koos Kombuis, moet Taliep Petersen, Pieter-Dirk Uys en Robert Hamblin geloof word as “groot geeste wat nie presies soos hy dink oor geloof of ­(seksuele) oriëntasie nie”.

Op Twitter begin jong, Katolieke Franse al van “opstand” praat. Daar is ook allerlei kwinkslae in die trant van: “Sal ek die voorblad van (die linkse koerant) Libération haal as ‘n Arabier of ‘n swarte my doodmaak?” Met iemand wat antwoord: “Nee, want jy’s ‘n vuil blanke en ‘n rassis.” Die belediging wat gereeld deur immigrante uit Noord- en Wes-Afrika teenoor Franse toegeslinger word, “sale blanc” (vuil blanke), word nou deur inheemse Franse as ‘n soort ironiese embleem toegeëien.

Terwyl vele Afrikaners dink dat hulle politieke korrektheid met sy universele aanklag van “rassisme” gaan hanteer deur dit te omseil of jou daarby te akkomodeer, toon die Franse dat dit meer doeltreffend is om dié ideologie te analiseer en te konfronteer. Stel dit aan die kaak vir die drogredenasie wat dit is, maar bespot dit ook. Moenie skaam wees om jouself te wees nie. Swaai jou driekleurvlag in die aangesig van die gepamperlangde Ander en wys dat jy nie meer skaam is om wit en Afrikaans, heteroseksueel en Westers/Christelik te wees nie.

Die dapper klein gemeenskappe van Kleinfontein en Orania doen dit reeds. Selfs CNN en die BBC moes tot hul skok en afgryse van Kleinfontein kennis neem!

Gister het ek deelgeneem aan ‘n paar Twitter-gesprekke met opstandige Franse Katolieke. Op een stadium het hulle sommer een van my Afrikaanse boodskappe gehertwiet, wat vir hulle onverstaanbaar moet wees! Maar dit maak nie saak nie, want ek dink hulle voel aan dat ons in ‘n ewe benarde situasie as hulle moet verkeer – selfs nóg hagliker want ons word as minderheid in ons eie land oorheers.

My gevoel is: daar broei ‘n konserwatiewe revolusie in Frankryk wat dalk weereens die wêreld soos sy beroemde voorganger in 1789 gaan verstom. Ons Afrikaners moet aansluiting by die Franse beweging soek, want met ons plaasmoorde en die intense diskriminasie teen blankes is ons reeds die martelare van die hele Westerse wêreld. Op ‘n manier is die god van politieke korrektheid soos ‘n toordokter wat sy moeti in die vorm van menslike offerandes moet hê, en ons het daardie offerandes geword.

Wyle mev. Huberte Rupert, eggenote van Anton Rupert het ‘n paar jaar gelede tydens ‘n TV-onderhoud op KykNET gesê: “Ons volk het in 1938 wakker geskrik.” Ek weet nie meer wat dit gaan verg om Afrikaners soos die Franse wakker te maak nie, maar iets sal gedoen móét word. Sosiale media soos Facebook en Twitter gaan dit dalk regkry, daar waar ‘n direkte appèl op mense se betrokkenheid of volksgevoel nie meer deug nie. Trouens, dit sou nogal interessant wees om te weet hoeveel van daardie miljoen mense by La manif pour tous se betoging twee weke gelede het eerste daarvan op die internet en deur sosiale media kennis geneem.

Ek troos my daaraan dat die linkse tradisie in Frankryk veel sterker as onder Afrikaners en in Suid-Afrika is. Hulle het slim linkses; ons het hoofsaaklik dommes. Ons sit met ‘n horde joernaliste en akademici wat bloot enkele linkse intellektuele soos Joe Slovo, Albie Sachs of Jeremy Cronin napraat en na-aap. Indien die Franse dit dus kon regkry om ‘n bres in die propagandamuur te slaan, hoeveel te meer is ons nie daartoe in staat nie?

‘n Vyftal gemotiveerde Afrikaners kan dit in hierdie Britse kolonie wat as Suid-Afrika bekendstaan, lag-lag regkry.

Ons kort net bietjie van daardie Franse drif.

Uitverkoping! Gratis boek deur Gustav Venter

(Hierdie aanbod is nou gesluit.)

U kan nou Gustav Venter se opspraakwekkende roman, Die amigdala van Alrina Smal, gratis aflaai, met komplimente van Praag en die skrywer.

Alrina Smal is ‘n liberale, welgestelde vrou wat in Northcliff, Johannesburg woon. As sy deur ‘n swartman in haar eie huis aangerand word, ontwikkel sy ‘n fobie jeens alle swartmense wat haar man en diegene rondom haar al moeiliker vind om te hanteer.

Sy word deur die briljante, byderwetse doktor Ters van Jaarsveld behandel, maar niks kan haar van haar vrees vir swartmense genees nie. Intense kursusse in gevegskuns en pistoolskiet stel haar ook nie gerus nie.

Gustav Venter het reeds as joernalis en rubriekskrywer in Afrikaans bekendheid verwerf. In hierdie, sy debuutroman, lewer hy ‘n meesterlike en boeiende verhaal wat geen doekies omdraai oor die abnormale geweld, veral teen vroue, wat in Suid-Afrika tier nie.

Deur haar terapiesessies vir haar “negrofobie”, soos dit ook iewers in Die amigdala van Alrina Smal genoem word, leer ons Alrina se verhaal ken. Die dialoog tussen haar en doktor Ters is oortuigend, soms tegnies sielkundig, maar plek-plek ook kostelik, sodat die leser al hoe verder meegesleur word deur Alrina se pogings om haar vrees te oorwin.

Hoewel die enkele geweldstonele in die boek smaakvol en literêr geskilder word, is dit veral die dialoog wat by tye alle polities korrekte norme oorboord gooi. Die skrywer gee enkele rassistiese karakters vrye teuels om hul menings uit te spreek soos ‘n mens in ‘n etnies verdeelde en geweldgeteisterde Suid-Afrika kan verwag. Dis ‘n boek wat vele na hul asems gaan laat snak, ook die leser wie se simpatie met Alrina se dilemma hom kwalik op die skokkende einde van die verhaal voorberei.

Reeds kan ‘n mens sê dat hierdie roman ‘n nuwe tydvak in die Afrikaanse letterkunde inlui. Wat by sommige skrywers voorheen vae suggestie was, word deur Gustav Venter tot onverskrokke realisme opgetower.

Aflaaiblad vir Die amigdala van Alrina Smal.

Sekspes-burgemeester geskors

Die burgemeester van die Cederberg-munisipaliteit, Jonas White, is uit die ANC geskors nadat ‘n tugkomitee bevind het hy is ongeskik om die pos te beklee, het die Sowetan Vrydag berig.

Fezile Calana, voorsitter van die ANC se tugkomitee in die Wes-Kaap, het gesê White het die adjunk-burgemeester, Lorna Scheepers, seksueel geteister.

White het tussen Augustus 2011 en Oktober verlede jaar “herhaaldelik en aanhoudend boodskappe van ‘n eksplisiete aard” aan Scheepers gestuur.

Volgens die berig sluit die boodskappe foto’s van White se geslagsdele in.

Die komitee het ook bevind dat hy Scheepers verbaal en emosioneel aangerand het tydens vergaderings.

White het ook na bewering boodskappe van ‘n seksuele aard aan ‘n 15- en 16-jarige meisie gestuur.

Calana het gesê die komitee het White skuldig bevind op aanklag dat hy omkoopgeld van R60 000 van ‘n kontrakteur aanvaar het.

Die polisie ondersoek die bewerings van seksuele teistering.

White het 21 dae kans om te appelleer en sal by die volgende raadsvergadering na verwagting uit sy pos as burgemeester onthef word.

Die komitee het bevind White moet vyf jaar uit die party geskors word, het The Star berig.

Dan Roodt se onlangse Engelse rubrieke is puik

Dan Roodt se onlangse rubrieke op die Engelse PRAAG, ‘Racism’, a religious concept? en South Africa needs federalism verwys.

Beide skrywes is puik en van hoë gehalte. Na my mening behoort hy meer in Engels te skryf.

Enkele opmerkings oor beide:

Ná die 2014-verkiesing sal die “multinasionale” SA nog meer sigbaar wees, met ‘n Zoeloe-ANC wat die beste in Kwazulu-Natal vaar. Die “multinasionale” SA staat sal ooglopend begin kraak. Dit beteken Suider-Afrika (die SAOG) sal geen sterk, stabiele integrerende plaaslike streeksmag meer hê nie, en o.a die VSA, Japan, China en Frankryk sal hier met mekaar in mededinging wees.

Net soos rassismegeloof, is gelyksheidsdemokrasie ook ‘n moderne menslike religie van sekulere Westerlinge. Mens kan die sekulêre Weste, sy elite, politici, akademici en burgers vandag beskou as die grootste religieuse gelowiges op die planeet. Hulle glo sterk aan hulle mitologiese geskiedenis, wat ook ‘n menslike religie is, kompleet met priesters, profete, dogmas, taboes en geloofsbelydenisse. En dan glo meeste van die supermag-VSA se blanke burgers oor die algemeen nog aan die Heilige Land ook. Vir ‘n werklik rasionele of wetenskaplik denkende mens is ons Westerse wêreldorde en Westerse kultuur met sy menslike religieë van vandag die diepste afgrond van die hel.

Maar iets is besig om stadig maar seker in hierdie hel te gebeur: die Weste se menslik-religieuse wetenskap is besig om fundamenteel te verander. ‘n Damwal het die afgelope paar jaar gekraak. Dit kan ‘n impak maak op die toekoms. Intussen leef ons voort in die Weste se mensgemaakte religieuse hel, ook in Suid-Afrika, of wat van die multinasionale staat gaan oorbly.

Wat het van die waghond-media geword?

Wel, dit is amper die einde van die week, dus moet daar ‘n nuwe Obama-skandaal wees!

Terwyl die linkse Daily Maverick naarstiglik probeer om belangstelling in Obama se besoek aan Suid-Afrika aan te wakker, is dit Obama se traagheid om te reageer op skreiende politieke onthullings wat wêreldwyd opslae maak op die internet.

Dis blykbaar net die DA wat saam met die popelende J Brooks Spector ook uitsien om ‘n bietjie verkiesingspublisiteit van die ANC weg te raap. Wat ook al die jongste skandaal is, die Amerikaanse en plaaslike hoofstroommedia sal heel laaste daaroor berig.

Spector van die Daily Maverick het homself reeds meermale onderskei as die doofstom apologeet vir Amerikaanse belange in Suid-Afrika, met ou verslete anti-Afrikaanse propaganda-materiaal wat hy telkens in ‘n nuwe baadjie wil tooi.

Maar Spector en die DA-juigkommando moet dalk kennis neem van die beeldprobleem waarmee hulle tans assosieer.

Feite: Oor die afgelope paar weke het vier groot skandale gebreek oor die Obama-administrasie, en dit is ‘n baie hartseer (en skrikwekkende) waarheid dat die patetiese hoofstroommedia selfs nie ‘n enkele een gebreek het nie. Wat het geword van die befaamde “waghond-rol”?

Die meeluisterskandaal by Verizon? Nee, nie die Amerikaanse waghondmedia nie. Dit was die Britte by The Guardian wat die storie gebreek het.

Die IRS-skandaal in die VSA? Nee, nie die waghondmedia nie. Die IRS-storie het hul eie skandaal gebreek met ‘n vraag wat geplant was.

Die Amerikaanse Departement van Justisie se beslaglegging op Associated Press selfoonrekords? Nee, nie die waghondmedia nie. Glo dit of nie, die Associated Press het nie eens die storie self gebreek nie. Soos die IRS, het die publiek uitgevind omdat die Departement van Justisie in ‘n brief hul optrede verklap het.

Bengazi? Met ‘n paar uitsonderings, is die waghondmedia beslis nie op soek na die waarheid nie. Dit was die Republikeinse kongres wat daarop aangedring dat die e-posse vir bespreking oopgestel is, nie die media nie.

As dit van die sogenaamde waghonde, die hoofstroommedia afgehang het, sou ons niks oor Libië geweet het nie. Al die hoofstroommedia se energie is gesamentlik uitgestort om te verseker dat die waarheid nooit ontdek word nie.

Klink eweneens soos Naspers en RSG se hooftaak in Suid-Afrika, om die publiek so oningelig as moontlik te hou oor wat in die VSA en elders aangaan.

As ‘n mens RGS luister, is dit ‘n raaisel dat betogings Turkye getref het. Die waarheid is dat die Turke nie tevrede is met hul regering se rol in Sirië nie. En van Sirië gepraat! Die waghondmedia ignoreer die vervolging van Christene daar soos ‘n stopstraat!

In drie van die vier Amerikaanse skandale (AP synde die uitsondering), is die media minder geïnteresseerd in die beskerming van openbare inligting en meer geïnteresseerd om die huidige magssentrum te bestendig.

Vir meer as ‘n jaar al, het konserwatiewe Tea Party-groepe in die VSA  gekla oor IRS-teistering. Maar die media haat die Tea Party. Dus is hierdie klagtes en selfs ‘n paar Kongres-navrae, botweg geïgnoreer.

Natuurlik, kan jy dieselfde sê oor Libië. Mislukkings wat veiligheid betref, twee weke van openlike leuens uit die Withuis, en die inhegtenisname van ‘n ongelukkige filmmaker. En deurentyd geen druk van die hoofstroommedia op die oortreders nie.

Ons dooieboommedia is nie net bevooroordeeld nie, hulle is ‘n uiterste en algehele mislukking en verleentheid. Dit is nie waghonde nie, maar skoothondjies.

Gaan op jou knieë en dank jou Skepper vir konserwatiewe internetnuusblaaie, want daarsonder sou die prentjie nog baie donkerder gelyk het.

PRAAG is die enigste onafhanklike medium in Afrikaans wat nuus onbevooroordeeld en sonder Amerikaanse en Britse filters weergee. Sonder u steun kan ons nie met hierdie belangrike rol voortgaan nie. Sluit nóú aan!