Die burgemeester van die Cederberg-munisipaliteit, Jonas White, is uit die ANC geskors nadat ‘n tugkomitee bevind het hy is ongeskik om die pos te beklee, het die Sowetan Vrydag berig.
Fezile Calana, voorsitter van die ANC se tugkomitee in die Wes-Kaap, het gesê White het die adjunk-burgemeester, Lorna Scheepers, seksueel geteister.
White het tussen Augustus 2011 en Oktober verlede jaar “herhaaldelik en aanhoudend boodskappe van ‘n eksplisiete aard” aan Scheepers gestuur.
Volgens die berig sluit die boodskappe foto’s van White se geslagsdele in.
Die komitee het ook bevind dat hy Scheepers verbaal en emosioneel aangerand het tydens vergaderings.
White het ook na bewering boodskappe van ‘n seksuele aard aan ‘n 15- en 16-jarige meisie gestuur.
Calana het gesê die komitee het White skuldig bevind op aanklag dat hy omkoopgeld van R60 000 van ‘n kontrakteur aanvaar het.
Die polisie ondersoek die bewerings van seksuele teistering.
White het 21 dae kans om te appelleer en sal by die volgende raadsvergadering na verwagting uit sy pos as burgemeester onthef word.
Die komitee het bevind White moet vyf jaar uit die party geskors word, het The Star berig.
