Asielsoekers se lyke in see gelaat

Julia Gillard, die Australiese premier, het haar regering se besluit verdedig om die lyke van asielsoekers wat verdrink het, in die see te laat.

Intussen is daar met ‘n nuwe soektog begin na ‘n ander boot in die Indiese Oseaan.

Die Australiese Maritieme Veiligheidsowerheid (AMSA) het gesê twee helikopters is uitgestuur om na ‘n boot noord van die Cocos-eilande te soek.

“Die soekgebied is sowat 260 seemyl noord van die Cocos-eilande. Ons het geen inligting oor hoeveel mense aan boord is nie,” het AMSA in ‘n verklaring gesê, sonder om meer besonderhede te gee.

Dit volg ná ‘n uitgebreide soektog van drie dae na die boot wat verlede week naby Kerseiland in die Indiese Oseaan met 55 mense aan boord omgeslaan het. Geen oorlewendes is gevind nie.

Tot 13 lyke is in die water gesien, maar hulle is nie uitgehaal nie. Doeanebeamptes het Maandag gesê hulle is te besig om ander bote te red om die lyke uit te haal.

“Dit is ‘n baie moeilike besluit, maar dit is ‘n operasionele besluit,” het Gillard aan verslaggewers gesê.

“Soos die grensbeheerowerhede duidelik gemaak het, maak hulle dit altyd die hoogste prioriteit om lewens te red en ek dink ons sal almal verstaan hoekom dit eerste moet kom in die werk wat die grensbeheerspan doen.”

Zuma ontmoet Mandela se mediese span

Pres. Jacob Zuma het die dokters wat voormalige president Nelson Mandela behandel, ontmoet, het die presidensie Dinsdag gesê.

“Pres. Jacob Zuma het Maandagaand die mediese span wat Mandela behandel ontmoet vir ‘n deurtastende inligtingsessie,” het Mac Maharaj, woordvoerder van die presidensie, in ‘n verklaring gesê.

“Pres. Zuma het volle vertroue in die mediese span en is tevrede dat hulle hul beste gee om Madiba beter te maak.”

Mandela was steeds in ‘n “ernstige, maar stabiele” toestand in ‘n hospitaal in Pretoria.

Maharaj het berigte dat Zuma Mandela Dinsdag sou besoek van die hand gewys.

“Dit is onwaar. Die president is in Kaapstad,” het hy gesê.

Die presidensie het Saterdag bekendgemaak dat Mandela in die vroeë oggendure by ‘n hospitaal opgeneem is.

Die presidensie het Maandag gesê Mandela se toestand was “onveranderd” van Saterdag af en dat hy intensiewe sorg ontvang.

SA jeug glo buitelanders is sleg vir land

Baie jongmense dink buitelanders is “sleg vir die land”, toon ‘n opname wat Dinsdag vrygestel is.

Altesaam 1 845 mense tussen die ouderdom van 18 en 34 het deelgeneem aan die opname, wat deur die verbruikersnavorsingsmaatskappy Pondering Panda gedoen is.

Volgens die opname glo jongmense dat buitelanders wat in Suid-Afrika woon en werk, ‘n negatiewe impak op die land het.

Minstens 42% van die respondente glo buitelanders is sleg vir die land, terwyl 28% gesê het hul teenwoordigheid maak geen verskil nie. Altesaam 24% glo buitelanders het ‘n positiewe impak op die land.

Die opname het bevind dat 85% van jongmense bewus was van die onlangse xenofobiese geweld in verskeie gemeenskappe.

Die respondente is ook gevra hoekom hulle dink inwoners in die gemeenskappe gewelddadig is teen buitelandse winkeleienaars.

Die meeste van die respondente het gesê hulle dink buitelanders lok klante weg van ander winkels, en 42% het gesê dit is hoekom mense wil hê hulle moet dié gemeenskap verlaat.

“Indien die studie die houdings van alle Suid-Afrikaners weerspieël, het ons ‘n groot probleem,” het Shirley Wakefield, woordvoerder van Pondering Panda, gesê.

Respondente glo ook xenofobiese geweld in die land is besig om toe te neem.

In die Vrystaat glo byna tweederdes van die respondente die geweld gaan vererger.

Opinies verander ook volgens streek. Meer as die helfte van respondente van Limpopo het ‘n negatiewe siening van buitelanders, gevolg deur Gauteng en die Wes-Kaap.

In die Oos-Kaap glo 36% buitelandse werkers is sleg vir die land.

‘Ja, er zijn Amerikaanse kernwapens in Nederland’

De Nederlandse oud-premier Ruud Lubbers bevestigt dat er op een vliegbasis in de Nederlandse provincie Noord-Brabant Amerikaanse kernwapens opgeslagen liggen. Lubbers zei dat in een documentaire van National Geographic. Al jaren gingen er geruchten dat op de vliegbasis van Volkel kernwapens liggen, maar de Nederlandse regeringen bleven altijd ontkennen.

“Als je nu naar Volkel gaat, dan hebben we nog steeds onderdelen liggen die een functie vervullen in het nucleaire”, zegt Lubbers in het tv-programma ‘De Tijd Vliegt: De Koude Oorlog’ van National Geographic. “Ik heb nooit gedacht dat die malle dingen daar nog steeds zouden zijn, want volgens mij is dat absoluut zinloos.”

Lubbers kreeg begin jaren 60, toen hij als dienstplichtige aspirant-officier op Volkel werkte, voor het eerst te horen over de atoombommen. Een kolonel vroeg hem hoe het bestaan van de bommen op de basis geheim kon worden gehouden. Lubbers adviseerde naar eigen zeggen om “helemaal niets” te doen, “alleen die onderdelen door te nummeren” zodat ze niet op zouden vallen. “Zo is het ook gebeurd”, aldus Lubbers.

Lubbers was Nederlands minister-president van 1982 tot 1994. In die tijd waren er in Nederland regelmatig betogingen tegen kernwapens.

Ook in België liggen Amerikaanse kernwapens opgeslagen in de basis van Kleine Brogel in Limburg. Belgische regeringsleden gaven dat zelden toe. Maar een onlangs via WikiLeaks gelekt diplomatiek bericht van VS-ambassadeur Howard Gutman uit 2009 bevestigt de aanwezigheid van nucleaire wapens in Kleine Brogel.

Rolprent oor Afrikaanse boek wen toekenning

Die Suid-Afrikaanse rolprent Fanie’s Lobola het nog ‘n toekenning gekry. Die rolprent is op ‘n boek deur Kleinboer, getiteld Kontrei, geskoei.

Die rolprent is by die Seatle internasionale filmfees, die grootste rolprentfees in die VSA, as die gehoor se gunsteling aangewys.

Die rolprent deur Henk Pretorius is reeds by die Sedoda Internasionale filmfees in Arizona in die VSA en die Jozi-rolprentfeeste as die gehore se gunsteling aangewys.

Die rolprent handel oor ‘n Afrikaanse man en Zoeloe-meisie wat op mekaar verlief raak en hulle weg moet vind deur die ingewikkelde lobola-proses.

Die hoofrolle word vertolk deur Zethu Dlomo en Eduan Greyling. Die Seatle rolprentfees is deur meer as 400 vervaardigers en ander bedryfslui van oor die wêreld bygewoon.

Jeugliga laat meer as R100 miljoen verdwyn

Julius Malema, voormalige leier van die ANC-jeugliga, se kool- en tamatieplaas is Maandag vir R2,5 miljoen verkoop, berig enca.com. Die plaas is sowat R4 miljoen werd.

In Mei is Malema se halfvoltooide huis in Sandown, Johannesburg, vir R5,9 miljoen verkoop op ‘n veiling wat die kurator vir die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) gereël het.

Malema skuld die SAID R16 miljoen aan belasting.

Intussen het Beeld berig dat fondse van die ANC-jeugliga, wat tot in 2009 deur sy omstrede “beleggingsvleuel” bestuur is, verdwyn het.

Magasela Mzobe, koördineerder van die ANC-jeugliga se nasionale taakspan, het Maandag erken dat dié organisasie nie weet wat geword het van die miljoene rande wat tot vier jaar gelede nog in Lembede Investment Holdings was nie.

Mzobe het volgens Beeld gesê die taakspan ondersoek bewerings dat die bates van meer as R100 miljoen deur ‘n jeugligalid vir net R3 miljoen verkoop is.

Dis ook nie duidelik wat van dié R3 miljoen geword het nie. Die liga staar likwidasie in die gesig weens agterstallige skuld van R15 miljoen.

Uitspraak in die saak is Vrydag in die hooggeregshof in Johannesburg voorbehou.

Tony Mundell, waarnemende regter, het gesê die saak is “uniek”, en dat hy nie dadelik ‘n besluit sal kan neem nie.

Pule Mabe, wat sedert 2008 in beheer van die jeugliga se geldsake was, kon gister nie vir kommentaar bereik word nie.

SA, EU vergader agter geslote deure oor sitrus

Maite Nkoana-Mashabane, minister van internasionale verhoudinge, en die Europese Kommissie se vise-president Barones Catherine Ashton het Maandag sitrusinvoere bespreek.

“Ja, ons is besig op die sitruskwessie en daar is ‘n onderneming, en produsente sal steeds betrokke wees,” het Mashabane het aan verslaggewers gesê in België.

“Onderhandelinge is reeds versnel, en wetenskaplike navorsing sal voortgaan [in die sitrus swartvlekprobleem].”

Die gesprek is agter geslote deure gehou by die Europese Buitelandse Sake se hoofkantoor in België se hoofstad, Brussel.

Die Europese Unie (EU) dreig om die invoer van ondermeer Suid-Afrikaanse sitrusvrugte te beperk, het Mxolisi Nkosi, Suid-Afrika se ambassadeur aan België, gesê.

“Daar is ‘n tendens van toenemende proteksionisme wat die EU wil aanwend om sommige van ons uitvoere, insluitend sitrusuitvoere, te staak,” het hy tydens ‘n vergadering met Suid-Afrikaanse diplomate by sy huis in Brussel gesê.

“Ons is bekommerd hieroor. Ons sal dit by die vergadering bespreek en kyk hoe ons ‘n oplossing kan vind.”

Die Suid-Afrikaanse afvaardiging van die departement van internasionale betrekkinge het Saterdag in Brussel aangekom vir bilaterale samesprekings.

Die groep vergesel Maite Nkoane-Mashabane, minister van die departement, wat vandeesweek met verskeie Europese beamptes vergader.

Nkosi het gesê die sitrusbedryf dra R6 miljard by tot Suid-Afrika se bruto binnelandse produk (BBP).

Sowat 70% van Suid-Afrika se sitrusuitvoere gaan aan die Europese Unie, wat dit een van die land se belangrikste markte maak. Suid-Afrika is die grootste uitvoerder van heel lemoene ter wêreld en die grootste verskeper van pomelo.

“Dit is ‘n groot bedryf,” het Nkosi gesê.

Sitrusinvoere is gestaak nadat sitrus met swartvlek in sommige versendings gevind is.

Mandela ernstig, maar bestendig

Die presidensie het Maandag bevestig dat pres. Jacob Zuma die oudpresident Nelson Mandela in die hospitaal gaan besoek, berig Eyewitness News.

Die presidensie het vroeër ‘n verklaring uitgereik oor Mandela se gesondheidstoestand wat steeds onveranderd bly.

Mandela is vroeg Saterdagoggend in die hospitaal opgeneem.

Mac Maharaj, presidensiële woordvoerder, het ook berigte ontken dat slegs Mandela se familie by hom toegelaat word.

Intussen wag talle joernaliste buite ‘n Pretoriase hospitaal waar Mandela vermoedelik behandel word, het Sapa berig.

Ten spyte van die koue is joernaliste en fotograwe buite die twee hekke van die hospitaal saamgetrek.

Parkering in die straat oorkant die hospitaal was teen 07:00 Maandagoggend vol. Meer as sewe voertuie van TV-kanale is op die toneel en kameras hou die ingange van die hospitaal in die visier.

Mandela is steeds in ‘n ernstige, maar bestendige toestand in die hospitaal, berig RSG.

Die polisie het intussen die veiligheidsmaatreëls by die hospitaal waar hy behandel word, oorgeneem. Polisielede bewaak albei ingange na die hospitaal en die gebied voor die hospitaal is afgesper.

Mandela word vir ‘n vierde dag vir ‘n herhalende longinfeksie in die hospitaal behandel.

“Hy is in intensiewe sorg,” het Mac Maharaj, presidensiële woordvoerder aan AFP gesê.

Verskeie familielede het die oudpresident Maandag besoek, maar dit is nog nie duidelik wanneer pres. Jacob Zuma hom sal besoek nie.

Swartes se grondaansprake onrealisties en opruiend

“Lulu Johnson, voorsitter van die portefeuljekomitee oor landbou in die parlement, se stelling dat niemand in die verlede uit Europa hier aangekom het met grond op ‘n skip nie, kan nie onaangeveg gelaat word nie,” sê mnr. Werner Weber, die VF Plus se woordvoerder oor grondsake en provinsiale leier in Mpumalanga.

Volgens Weber is die voor die hand liggende teenvraag aan Johnson: Watter grond die swart mense oor die Limpoporivier saamgebring het toe hulle vanaf die groot mere gebied oor die Limpoporivier suidwaarts migreer het. Het hulle die grond met kruiwaens aangery of op pakesels gelaai? Soos die wittes, is die swart mense tog ook nie inheems van Suid-Afrika nie.

Selfs nou nog maak die ANC ‘n gerieflike verskil tussen swart mense en die Khoi-San in hul aanstellings in die departement van korrektiewe dienste in die Wes-Kaap. Geskiedkundig is slegs die Khoi-San inheems aan Suid-Afrika.

Volgens Weber behoort Johnson tereggewys te word vir ‘n uitlating wat onnodig emosies opjaag en wat tot haatspraak kan lei.

Weber het ook gepleit vir die behoud van Nelspruit se naam. “Die VF Plus in Mpumalanga ondersteun die Lowveld Chamber of Business and Tourism (LCBT) se veldtog om die naam van Mpumalanga se hoofstad, Nelspruit te behou,” sê hy.

Volgens Weber bestaan daar geen basis vir ‘n naamsverandering nie. Toe Andries Hendrik Potgieter en sy trekkers in 1845 in die gebied aangekom het, was die hele gebied totaal onbewoon. Slegs een Swazi het ‘n uitkykpos in die gebied beman.

Daarna het Potgieter daardie hele gebied in 1846 van die Swazi koning Mswati die eerste vir 100 beeste gekoop en ook ‘n ooreenkoms met die Pedi-opperhoof Sekwati aangegaan. Die ooreenkoms is met ‘n bindende getekende traktaat bevestig.

Die wittes het daarna die dorp gebou. Die ANC het geen reg of aanspraak om die naam te verander nie. Dit is om hierdie rede dat die VF Plus die LCBT heelhartig steun om die naam Nelspruit te behou. Weber het die LCBT sterkte en sukses toegewens in sy geregverdigde regstryd.

Hou op kla, sê Ramaphosa

Cyril Ramaphosa, adjunk-president van die ANC, het ‘n beroep op Suid-Afrikaners gedoen om op te hou kla oor die probleme in die land, het die Sunday Times berig.

“Suid-Afrikaners moet daarvan wegskram om die grootste klakouse te wees,” het hy die naweek in ‘n toespraak aan die Black Management Forum (BMF) gesê.

Ramaphosa sê Suid-Afrikaners het die reg om te kritiseer, maar hy meen landsburgers moet ook oplossings aanbied wanneer hulle kritiek lewer.

“Moenie ‘n gemakstoelkritikus word nie; sak in die skrum en wys wat jy kan doen.”

Ramaphosa sê groot ondernemings kla dikwels oor sake soos die huidige onrus in die mynbedryf, maar hulle erken nie hul aandeel daaraan nie.

Die regerende party se adjunk-president meen verder dis nie nét die regering se verantwoordelikheid om dié tipe probleme op te los nie.