Asielsoekers se lyke in see gelaat

Julia Gillard, die Australiese premier, het haar regering se besluit verdedig om die lyke van asielsoekers wat verdrink het, in die see te laat.

Intussen is daar met ‘n nuwe soektog begin na ‘n ander boot in die Indiese Oseaan.

Die Australiese Maritieme Veiligheidsowerheid (AMSA) het gesê twee helikopters is uitgestuur om na ‘n boot noord van die Cocos-eilande te soek.

“Die soekgebied is sowat 260 seemyl noord van die Cocos-eilande. Ons het geen inligting oor hoeveel mense aan boord is nie,” het AMSA in ‘n verklaring gesê, sonder om meer besonderhede te gee.

Dit volg ná ‘n uitgebreide soektog van drie dae na die boot wat verlede week naby Kerseiland in die Indiese Oseaan met 55 mense aan boord omgeslaan het. Geen oorlewendes is gevind nie.

Tot 13 lyke is in die water gesien, maar hulle is nie uitgehaal nie. Doeanebeamptes het Maandag gesê hulle is te besig om ander bote te red om die lyke uit te haal.

“Dit is ‘n baie moeilike besluit, maar dit is ‘n operasionele besluit,” het Gillard aan verslaggewers gesê.

“Soos die grensbeheerowerhede duidelik gemaak het, maak hulle dit altyd die hoogste prioriteit om lewens te red en ek dink ons sal almal verstaan hoekom dit eerste moet kom in die werk wat die grensbeheerspan doen.”

Maak 'n opvolg-bydrae