{jathumbnail off}
Een van die raaisels van die Nuwe Suid-Afrika is die hoeveelheid gratis publisiteit wat Solidariteit (en Afriforum) ontvang. Die meeste Afrikaanse organisasies word eintlik doodgeswyg deur die SAUK, die Independent-groep en natuurlik Nasionale Pers se koerante en TV-kanale.
Vanmôre word Beeld se hele voorblad egter in beslag geneem deur ‘n oproep om deel te neem aan Solidariteit se e-posveldtog teen misdaad. Huh!? Van wanneer af neem Beeld deel aan aktivisme teen die Nuwe Suid-Afrika? Die afgelope sestien jaar vertel al hul goeroes soos Max du Preez, Ferdi Greyling en ander ons net aanmekaar hoe “onvermydelik” die huidige bestel is en dat Afrikaners maar te dankbaar moet wees vir al die voorregte wat ons tans geniet, soos die reg om jou eie huis of motor te mag besit.
Ook het Dirk Hermann van Solidariteit vanmore omtrent tien minute op Radio Sonder Grense gekry om dieselfde e-posveldtog te adverteer. Gewoonlik steur RSG hom nie aan die doen en late van Afrikaanse organisasies nie en saai liewer die toesprake van ANC-ministers regstreeks in Engels uit. Dis ook baie vreemd. Ek moes myself knyp om seker te maak ek droom nie!
Solidariteit se e-posse word egter aan die president, Jacob Zuma, gestuur. Nou wonder ‘n mens, met die anti-Zuma-veldtog wat in die Engelse media in die land woed en wat sekerlik ook vanuit die Britse en Amerikaanse ambassades in ons land georkestreer word… Het ons hier te make, nie soseer met ‘n anti-misdaadveldtog nie, maar met ‘n vertakking van die anti-Zuma-veldtog?
In die twintigste eeu het Afrikaners gedweë as kanonvoer gedien in al die oorloë wat Brittanje geveg het. Voor ons soldate Angola binnegeval het, het die Amerikaanse “adviseurs” hulle toegespreek en gesê “hulle veg vir die Vrye Wêreld”. Ek weet, want ek was daar. Agterna het die “Vrye Wêreld” (dis nou hoofsaaklik die VSA en Groot Brittanje) ons in die rug gesteek en gesorg dat Madiba en sy trawante oor ons aangestel word om ons taal en kultuur uit te wis, regstellende aksie teen ons toe te pas, ens. Onder andere het Mandela die misdaadgolf aan die gang gesit toe hy aan 9 000 geharde misdadigers kwytskelding verleen het.
Misdaad in ons land dien die Britse saak, want dit verdryf Afrikaners uit Suid-Afrika en is daarom die “finale oplossing” vir wat hulle as die Afrikanerprobleem beskou. Maar kennelik beheer iemand anders as Groot Brittanje vir Jacob Zuma. Onder andere is hy vriende met die Angolese en die Arabiere. Moontlik staan hy ook nie afsydig teenoor die Russe en Sjinese nie.
Zuma se jeugdige handlanger, Julius Malema, praat skoon daarvan dat hy die myne wil nasionaliseer. Dit gaan waarskynlik nie goed af by Anglo-American en De Beers se hoofkantoor wat deesdae in Londen gesetel is nie…
Dis seker nou nie toevallig dat die Sunday Times en The Star ‘n ontsettende anti-Zuma-veldtog aan die gang hou nie. ‘n Mens sou sweer Zuma is PW Botha! Soveel propaganda wat teen een mens gerig is! Want die kleurryke Zoeloe met sy baie vrouens en kinders is seker nie, soos Mandela of Mbeki, die ideale Britse marionet wat alles doen wat die mynhuise of die Britse Ambassade in Kaapstad van hom vra nie.
En Zuma het mos positiewe geluide oor Afrikaners gemaak en Pieter Mulder in sy kabinet as ‘n troosprys aangestel. Vir die internasionale geldmag is dit seker nog ‘n goeie rede om van hom ontslae te raak.
Nou kom Solidariteit en Beeld op die toneel en gebruik misdaad om die Afrikanerbevolking teen Jacob Zuma op te sweep. Terwyl Mandela, wat so fluks die misdadigers uit die tronk gelaat het, aanbid moet word.
Dis nou ook op die oomblik dat dieselfde Beeld in ‘n meningspeiling agtergekom het dat Afrikaners van ‘n volkstaat droom wat sommer heeltemal misdaadvry sal wees, want dit sal deur Afrikaners regeer word. Vryheid, daardie taboewoord in ons woordeskat.
Iemand wil van Zuma ontslae raak, anders sou daar nie so ‘n konstante veldtog teen hom gevoer gewees het nie en sou daar nie ‘n bekookte verkragtingsaak teen hom geloods gewees het nie. Al daardie Afrikaners wat vandag fluks e-posse aan Zuma oor misdaad gaan stuur, moet hulleself afvra watter doel dit gaan dien. Gaan jou e-pos misdaad stop of gaan dit, soos die Afrikaners se gunstelingparty met ‘n Black Sash-tannie aan die spits gesê het, vir “Zuma stop”?
Moet ons nie eerder stry om ons vuurwapens te behou, buurtwagte te stig en weer beheer van die strate te neem nie? Ná alles, hoeveel gewapende rowers stop jy met ‘n e-pos? En dink jy regtig die ANC-regering kán iets aangaande misdaad doen, selfs al wil hy?
Wanneer gaan Afrikaners in hul eie belang begin optree en nie iemand anders se belang (die anti-Zuma-faksie, die geldmag of Brittanje en Amerika) dien nie?
Immers weet ons ook dat Solidariteit nie ‘n probleem met die Nuwe Suid-Afrika of ons wonderlike nuwe grondwet het nie. Soos FW, voel hulle net “die grondwet moet reg toegepas word”. En ‘n pleister of twee op die misdaadprobleem sal sekerlik help om FW de Klerk en Roelf Meyer se erfenis te beskerm. Met binnekort ‘n meer Engelse swarte – ‘n pro-Britse kloon van Thabo Mbeki – in Libertas in Pretoria, wat ons verder kan bewierook met die voordele van “ons wonderlike demokrasie”.
‘n Regse politieke party in Brittanje, die BNP, het besluit om die “slegs wit”-beleid vir lidmaatskap af te skaf nadat hulle deur ‘n hof gedreig is.
‘n Britse hof het die groep gedwing om aan die land se wette aangaande rasseverhoudinge te voldoen.
Lede van die British National Party het Sondag tydens ‘n algemene vergadering oor die kwessie gestem.
Swart en Asiese burgers kan ook nou by die party aansluit.
Die party is gekant teen Brittanje se immigrasiewette en voer aan dat Brittanje “uit beginsel uit Brits” moet bly.
Die berig op praag.co.za dat Fifa se kommunikasiesentrum in Braamfontein, Johannesburg, beroof is, is volgens Beeld vals.
Delia Fischer, Fifa-woordvoerder in Suid-Afrika, het Sondag gesê die wêreldsokkerbeheerliggaam het geen sentrum in Braamfontein nie.
Volgens kapt. Bheki Mavundla, polisiewoordvoerder, is ’n sakerooftog egter wel Vrydag by die Hillbrowpolisiekantoor aangemeld.
Dr. Dan Roodt van Praag het op die groep se webwerf geskryf “al die groot mediagroepe” het blykbaar “ooreenkomste” met Fifa onderteken.
Lees die volledige berig hier.
Die meeste Suid-Afrikaners was verstom oor die min aandag wat pres. Jacob Zuma in sy staatsrede aan verskeie sake, waaronder misdaad, geskenk het. Dit het ‘n dawerende swye oor die etlike plaasmoorde vanjaar ingesluit, en het gekom te midde van verskeie moorde en ander aanvalle in sekuriteitskomplekse.
Die opposisiepartye gaan na verwagting op hierdie leemte en ander leemtes in hul reaksie op die staatsrede klem lê.
Die publiek was tradisioneel egter grootliks uitgesluit van hierdie proses.
Nou voeg Solidariteit ‘n element by wat druk op die regering behoort te verhoog – ‘n blitsvinnige aksie om so veel as moontlik briewe van protes oor die misdaad by die president te kry, met afskrifte wat in possakke môre by die parlement afgelewer word voor Zuma sy repliek lewer.
Moderne kommunikasietegnologie, soos die internet en selfone, maak hierdie projek moontlik.
Soortgelyke projekte is in die verlede op die proef gestel toe pres. Thabo Mbeki nog die septer geswaai het.
Dit is egter nie net die regering wat homself blootstel as teiken van gemeenskapspolitiek nie. Toenemend begeef die privaat sektor ook die terrein van die rug keer op die publiek wat sy lewensbloed is. Die jongste voorbeeld is die SA Skeidsregtersereniging wat nie meer die rugbyreëlboek in Afrikaans beskikbaar stel nie omdat daar kwansuis nie ‘n behoefte voor is nie. Afriforum spring weer hier in.
Gemeenskapspolitiek is ‘n politiek-sosiologiese verskynsel wat dikwels die manifestasie van gebrekkige gemeenskap- of minderheidsregte in ‘n grondwet vergestalt. Suid-Afrika het juis ‘n fase agter die blad waar Suid-Afrikaners, ongeag politieke oriëntasie, breedweg konsensus bereik het dat die grondwet minstens gebreke het. Aan die hele politieke spektrum ervaar mense ‘n mate van magteloosheid om deur konvensionele politieke deelname, soos stemreg, daarop te reageer.
In ‘n artikel in gister se Rapport is prof. Koos Malan van Tuks selfs krities oor die werkbaarheid van die wigte en teenwigte in die grondwet, en meen dit kan iemand platsak laat sonder dat hy veel vermag het. Hy meen die grondwet is ryklik besaai met regte, maar gaan mank aan gesag om iets daaraan te doen.
Die huidige verwikkelinge in Suid-Afrika is ‘n teksboek-verloop van leemtes wat politieke sosioloë se vakgebied uitmaak. In die boek, Temas in die politieke sosiologie van André Pelser en Lucius Botes word dit in ontstellende detail onder die loep geneem. Die interessantheid egter, is dat hierdie boek in 1992 verskyn het. Dit kan dus nie van politieke vooroordeel jeens die huidige bedeling beskuldig word nie.
Die grondwetlike proses het sedertdien afgeloop, en die grondwet is die produk van ‘n feitlik uitsluitlike juridiese benadering. Die indruk word geskep dat insette van politieke sosioloë, politieke geograwe en selfs politieke wetenskaplikes nie oorweeg is nie, en in elk geval nie in die finalisering opgeneem is nie.
Die gevolg was egter nie dat realiteite uit hierdie vakgebiede verdwyn het nie. Dit leef steeds, en die druk in die drukkoker word groter.
Terwyl daar groot konsensus is – van Tim du Plessis tot Max du Preez tot prof. Koos Malan dat veranderings nodig is, is daar minder konsensus oor hoe verder beweeg moet word. Sommiges is selfs blatant eerlik en sê hulle weet nie.
‘n Uiteinde, volgens die politieke sosiologie, is politieke geweld.
Gemeenskapspolitiek bied moontlik die mees werkbare alternatief. Om suksesvol te kan wees in wye deelname egter nodig. Dit het vaardigheid nodig, en dit is tyd dat politieke sosioloë hul stem duidelik laat hoor.
Dis ‘n deurmekaarspul met plaasskole in die Vrystaat, en dit lyk nie vir Herrie iemand weet mooi nie. By die plaasskool by oom Wimmie het die amptenary oor die vakansie ‘n brief kom wys die skool gaan sluit, en die werker moes inderhaas plan maak met hul kinders.
Toe daag die “tietsjas” in elk geval op maar nie die kinders nie. Want die skool is mos gesluit. Herrie weet al ‘n paar jaar lank die Vrystaatse provinsiale regering wil die plaasskole sluit en met ‘n koshuisstelsel vervang. Herrie geen nou reeds ‘n brief: Nie binne ‘n honderd jaar nie.
Maar Herrie is nie baie verbaas dat die goewerment plan probeer maak nie, want bykans tagtig persent van die Vrystaat se ongeveer 2 000 skole is plaasskole, en die grootste gros van hulle is weer eenman, of “one tiechah”-skole. Dis ‘n reuse uitrol om op dié manier skole binne trefafstand van die plaaswerkers se kinders te kry, en selfs soos dit is, moet baie van hierdie kinders steeds lang afstande aflê. Plejk-plek is busvervoer tot die geld opraak, en plek-plek is fietse uitgedeel tot hulle gebreek of gesteel is.
Tot op ‘n dag, dan moet hulle groot skool toe om ‘n matriek te gaan probeer verwerf, en hier lol dit weer.
Privaat loseer het nog op ‘n manier gewerk toe boere ‘n groot del van hul werkers se lone in natura betaal het, d.w.s. meel, melk, vleis en weidingsregte vir beeste, en vele meer. Van die rantsoene is na familie in die dorpe en stede waar die kinders geloseer het. Van die beeste op plase was eintlik die familie se beeste. Stedelinge se beeste, het dr. Andries Lategan (intussen saliger) van die Stedelike Stigting al jare gelede bevind, loop op plase in ‘n radius van tot 300 kilometer om die stad of dorp). Maar toe kom minimum kontantlone, en skielik is dit wat die plaaswerkers vir hul familie in die dorp kon bied, veel minder.
Maar selfs voorheen was sommige van die plaaswerkerskinders by hul stedelike verblyf gruwelik uitgebuit, en moes soos slawe werk, en soms selfs prostitusiewerk doen.
En heelwat van hierdie kinders het dit gemaak, en sit nou in die Wetgewer of in hoë poste. Nie almal se herinneringe is nostalgies van aard nie.
Herrie dink darem nie oom Neelsie is reg wat meen die hele ding is deel van ‘n meesterlike matriek-strategie nie. Oom Neelsie reken die regering het nou al alles geprobeer om die matriek-slaagsyfer beter te kry, soos om die slaagvereistes minder te maak, en die standaarde te verlaag. Nou is die regering uit alle opsies behalwe om te keer dat leerlinge tot in Matriek vorder. Is daar niemand in matriek nie, dan druip niemand immers nie.
Dis ‘n taai toffie. Baie van die ouer Afrikaners is ook met gelapte broek, griffies en leie, plaasbrood met vet gesmeer en meester se lat deur plaasskole. Van die slimmes het sommer al kleintyd meer by die oues opgelet en standerds gespring. Oom Blackie Swart het so jonk in Matriek beland, hy moes eers ‘n jaar of wat uitsit voor hy oud genoeg was om universiteit toe te gaan. Wyle Heine Toerien het op 19 al ‘n meestersgraad in Grieks gehad, maar dis ‘n verhaal op sy eie.
Plaasskole, dit weet Herrie, vereis baie groot toewyding van kind en onderwyser. Baie groot. Maar as die vrugte van sukses gepluk word is dit baie soet.
“Nog te dikwels straal die owerheid ‘n negatiewe beeld uit as werkgewer en as diensteverskaffer. Dit blyk uit ‘n klompie algemene vooroordele oor owerheidsadministrasies wat bestaan. Dit sluit in ondoeltreffendheid en die voorskrifte is so oorheersend dat verandering teengewerk word.”
Hierdie aanhaling kom nie die pen van ‘n opposisiepolitikus na pres. Jacob Zuma se staatsrede nie. Dit kom uit die nuusbrief van Vlaandere se sterkste regerende koalisievennoot, die Christen-Demokrate en Vlaandere.
Die artikel handel in wese oor ‘n ondersoek wat gedoen is om meetbare maatstawwe te vind oor waar die regering goed, of minder goed gedoen word. Die artikel kan hier gelees word.
‘n Mens kan maar net sidder hoe Suid-Afrika se owerheidsektor sou vaar as dit aan die Vlaamse maatstawwe en Vlaamse ondersoekers onderwerp moes word.
Malema, hofnar en mondstuk vir die ANC regering, raak toenemend opdringerig oor die nasionalisering van die Suid-Afrikaanse myne. Mandela het met fyn tydsberekening intussen sy goedkeurende seël daarop geplaas en ‘n ander dimensie daaraan verleen.
Hierdie dimensie hou beslis vir die wêreldgeldmag ‘n bedreiging in, wat hulle tot onmiddellike optrede verplig het. Volgens Max du Preez wat blykbaar sy oor op die ANC-grond het, loop die wit mynbase Malema se drempel plat om hom met behulp van die tjekboek tot ander insigte te bring. Du Preez sê tewens Malema se fabelagtige rykdom is te danke aan hierdie gebare van die mynboubedryf se welwillendheid.
Dalende mynbouproduksie van naby 7% in 2009 is hoofsaaklik veroorsaak deur die daling van diamantverkope. Anglo American het glo ‘n gesonde 450 miljoen dollar daarin gepomp om die bedryf ‘n hupstoot te gee deur die myne wat gesluit is weer in produksie te bring.
Die Britse monargie se belangstelling is ook gaande oor die aangeleentheid. Sopas is ‘n uitnodiging van koniging Elizabeth aan president Zuma gerig. Die koningin het hom genooi vir n kuiertjie by haar in Buckinghampaleis – van die 3de tot die 5de Maart 2010 – waarna ons vermoedelik nie weer n woord sal hoor oor die nasionalisering van die myne nie.
Of het ek die kat aan die stert beet?
Die pessimiste het meer gedoen om die wêreldvrede te bewaar as die optimiste – Aleksandr Solsjenitsin.
As ek sommige skrywes op LitNet lees – ‘n webwerf waar ek deesdae persona non grata is, selfs met die gebruik van skuilname – val dit my op dat ná soveel jare se oer-korrupte ANC-bestuur, die sentimente onder sekere mede-Afrikaners nog oorwegend anti-Afrikaner is. Die gevoelens wat genoem word, is dat Afrikaners (soos gewoonlik) rassisties is, maar ook onbetroubaar, krygslustig, moorddadig, gewelddadig, dom en blykbaar ondankbaar oor die “vryhede” wat Suid-Afrika vandag het. ‘n Skrywer mag selfs stel dat wittes wat ontevrede is doodgemaak moet word, en hierdie persoon kry geen vorm van sanksie opgelê nie, en word juis met ‘n woernaal beloon. Vanweë die totale wêreldvreemdheid van hierdie situasie kan ons slegs konkludeer dat ons hier te make het met ‘n vorm van geloofsoortuiging. Waarskynlik het ons te make met ‘n ideologiese botsing tussen die prakties denkendes en die idealiste. Die idealiste is dikwels geneig om die prakties denkendes te beskuldig van vals idealisme, sonder om kennelik in te sien dat die praktiese denkers geen boodskap het aan politieke lugkastele nie, maar bloot ‘n weg soek wat oorlewing ten beste sou verseker.
‘n Ander kenmerk van die idealiste – en ek verwag ‘n moontlike storm van verontwaardiging vanuit die idealistiese hoek – is dat hulle onbewustelik op soek is na ‘n soort leiersfiguur wat eerder op die gevoelens speel as op die rasionele denke. In Afrika het hierdie leiers meer onlangs hul manifestasie in Robert Mugabe gevind, wat in ‘n golf van infantiele vreugde sy hele land in ‘n staat van ernstige mislukking gedompel het.
Die genoemde skrywer op LitNet plaas hierdie fragment oor François Pienaar se oorweldigende bewondering vir ons swart Engelse heiland, wat nou al twintig jaar gelede die gevangenis verlaat het (en sodoende die hele land in een groot gevangenis omgetower het, wil ‘n mens sommer toevoeg). Daar word egter hoegenaamd geen enkele ag geslaan op die geweld, ellende, stamkonflikte, moord, roof en verkragtings wat hieruit ontstaan het nie. Suid-Afrika en die Westerse wêreld se elite was so verblind dat hulle die nuwe tydsgees wat nou aangebreek het glad nie eens raaksien nie. Enigiemand wat hieroor kla, word summier afgemaak as synde geestelik gesteurd, wat weereens bewys dat die idealistiese naskokke van die moderniteit nog steeds nie uitgedien is nie, aangesien dieselfde verkettering mense te beurt geval het wat in die vorige eeu sekere barbaarse vergrype aan die kaak wou stel.
‘n Filmfragment wat ek in reaksie op LitNet op bostaande wou plaas was egter nie opgesit nie. Dit is ‘n onderhoud met die bekende Duitse propagandafilmmaker Leni Riefenstahl oor haar lewe tydens die Derde Duitse Ryk. Van naderbay betrag, word dit duidelik hoe verskriklik baie ooreenkomste daar tussen die fragment van Pienaar en haar eie gevoelens tydens die opkoms van die Nazi-party bestaan. In al twee is daar ‘n vorm van oorwinning ter sprake. Suid-Afrika het sy apartheidtyd- pariastatus verloor en ‘n optimistiese tyd het aangebreek. Een leier het die eer daarvoor ontvang. Duitsland se skade ná die Eerste Wêreldoorlog was agter die rug, die ekonomie het weer gesond gefunksioneer, eweneens met een leier wat die eer daarvoor toegekom het. Riefenstahl beskryf hoe oorweldigend Hitler se magnetisme op sy honderde duisende volgelinge was. Uiteraard is dit agteraf gesien gevaarlik om dit te sê, maar dit was nou eenmaal so. Die hoë werkloosheid se einde was in sig en die optimisme het enige teenargumente, enige negatiewe waarnemings of gebeurtenisse totaal oorskadu. Die Wehrmacht was ‘n klein weermaggie, en die Hitlerjugend was net so niksseggend, maar die onstuitbare golf van optimisme het ‘n aansteeklike effek op hierdie instellings gehad.
Dit was volgens haar die optimistiese tydsgees wat die militante sy van Nazi-Duitsland gevoed het. Die meeste het egter nie die gevare sien aankom nie, want almal het gedink dat daar nou ‘n tydperk van eindelose vrede aangebreek het. Toe sy die bekende Nazi-propagandarolprent “Triumph des Willens” gemaak het, kon sy nie indink dat dit propaganda was nie, omdat dit so deel van die tydsgees was. Dit was eers agteraf, nadat die volle feite bekend geword het, dat die propagandakwaliteit na vore begin tree het.
Met hierdie wete in gedagte, wonder ‘n mens wat die Afrikanerjeug oor ‘n paar dekades gaan dink as hulle terugkyk na daardie groot oorwinning waar Madiba vir François Pienaar persoonlik gelukgewens het ná die groot Wêreldbekeroorwinning van 1995. Kon hulle nie insien dat dit die begin van die einde was nie?
In die dertigerjare het Joodse intellektuele ook gewaarsku oor die gevare van die opkoms van Nazisme, maar die heersende stemming ná die Eerste Wêreldoorlog het nog te veel invloed op die denke van die Europeërs uitgeoefen. Dit was ondenkbaar om enigsins die wapen op te neem vir wie ook al. Die gevolglike weerloosheid het vir die “ongewenste” minderheidsgroepe ‘n gewisse einde beteken. Dit moet ook genoem word, volgens Hannah Arendt se ontledings, dat die Jode in Duitsland alreeds besig was om die mag in die dertigerjare te verloor. Die belangrikste Joodse instellings – die banke – is in 1933 met Hitler se toetrede al Judenrein verklaar. Dit lyk asof volksmoord juis voltrek word wanneer ‘n groep duidelik magteloos raak, gekombineer met ‘n eindelose optimisme. Dit is asof die gees van optimisme die nodige energie verskaf om af te reken met wie as vyand bestempel word.
Die werkloosheid en algemene afname in basiese gesondheid wat Suid-Afrika ná die ANC-oorname getref het, was miskien juis ‘n stille redmiddel gewees teen dieselfde gevare, en is moontlik die rede waarom geweld in Suid-Afrika eerder as misdaad, pleks van politieke geweld, getipeer word. Die verloop was anders as dié van Nazi-Duitsland, maar met die aanhitsing in swart geledere sal dit baie dom wees om nie die gevare te sien wat daarin opgesluit lê nie. Waarskynlik is dit die groot verskil tussen Europa en Afrika. Europa se moordmasjien was die newe-effek van oorwonne ellende, van optimisme. Afrika se moordmasjien is die produk van wanhoop en afguns. Vandaar dat die konflikte in Afrika voortdurend sluimer waar dit in Europa gepiek het en daarna skielik weer afgeneem het. Die tyd sal leer watter variant gevaarliker is.
Waar Riefenstahl en Arendt gebruik kan word om Europa se patos te ontleed, kan ons waarskynlik die oorlede Jamaikaan Bob Marley se teks gebruik om Afrika se patos te verstaan, naamlik: “A hungry man is an angry man”.
Nadat die heer Gerwel in Rapport, wat glo gehuil het toe die Berlynse Muur geval het, die term “verregsing” gebruik het, word PRAAG, Afriforum, Solidariteit en die Vryheidsfront tans daarvan beskuldig dat ons die taalstryd “gekaap” het. Volgens ene Lionel Adendorf in vandag se Rapport beoefen Afrikaners en Afrikaanse organisasies reeds sedert die ontstaansjare van Afrikaans “taalkolonialisme” en ontneem bruines van “hulle erfenis”.
Ook beweer Adendorf dat die huidige taaldiskriminasie teen Afrikaans, asook verlies aan instellings en regte, die skuld van “die regses” is. Hy sê: “Die skuld vir die agteruitgang in die taal se aansien is die skuld van hierdie regse bewegings. Verder moet ons erken dat die ver-“regsing” van Afrikaans die taal geen guns doen nie. Die bevryding van ons taal moet nóú gebeur sodat ’n beter bedeling vir Afrikaans beding kan word, in ’n proses wat vry is van die regse aanhangsels van die taal.”
Jare gelede het ek iewers op LitNet ‘n artikel oor die verskuiwing van die betekenis van “links” en “regs” geskryf en ek sou dit sekerlik weer kon opdiep as ‘n beginpunt. U kan dit hier gaan lees.
Onlangs het ek egter aanvaar dat ek “regs” is om die volgende redes:
1. Nadat ek die boek Young Stalin deur Simon Sebag Montefiore gelees het, het ek besef dat linksheid, soos in die geval van Zuma, nie eintlik van donjuanisme te onderskei is nie. Afgesien daarvan dat Stalin banke beroof het om die revolusie te befonds, het hy ook by ‘n groot hoeveelheid vroue geslaap en ‘n ongekende aantal kinders verwek. Tydens sy ballingskap in Siberië byvoorbeeld, het hy ‘n dertienjarige meisie Lidia Pereprigina verlei en ‘n seun by haar verwek. (Heel mooi seun ook, volgens die foto.) Die plaaslike polisieman het hom glo betrap en hom in die dorpie met sy swaard rondgejaag. Lenin, daarenteen, het verkies om ná die revolusie by sy sekretaresses te slaap en, anders as Zuma, het hy nie eens een keer getrou nie.
2. Met die heengaan van historiese materialisme en die ou Sowjetunie, het linksheid meer van ‘n godsdiens en ‘n geloof geword. Iewers moet ‘n mens ook kies tussen Darwin en die Bybel, tussen evolusie en die gedagte dat God alle mense “gelyk geskape het”. En party rasse is geseën met sulke klein organe dat hulle aanmekaar renosterhoring nodig het. Nou die dag luister ek na die regse (of is dit nou verregse) radiostasie, Radio Pretoria, na ‘n Afrikanerwetenskaplike wat breedvoerig verduidelik hoe renosters in ons land vergiftig word om agterna hul horings sogenaamd te “oes”.
3. In dié land is linksheid min of meer sinoniem met gedienstigheid aan die Brits-koloniale mynhuise. Bram Fischer het mos sy brood verdien met gedinge rondom water vir Johannesburg Consolidated. Sedert my studentedae aan die voormalige mynkollege, genaamd Wits, is ek in opstand teen die mynideologie en dus bevind ek my aan die regterkant van die politieke spektrum waar mense oor die algemeen armer en minder beroemd is – en boonop met minder bywywe moet klaarkom. Selfs Hitler, wat seker die room van die Ariese vrouedom tot sy beskikking gehad het, moes met net Eva Braun tevrede wees. Hy het nie eens sy sekretaresse verlei nie.
Oor die afgelope week of wat het ‘n hele internetstorm gewoed rondom FW de Klerk en of hy nou eintlik reg was om iewers in 1992 aan Oemkoentoe oor te gee, sonder om ‘n skoot te skiet. Oemkoentoe neem toe sommer die weermag, polisie, die staatsdiens, universiteite, skole, de lot, oor. Lees my bydrae, FW de Klerk, die geostrategiese nar. Selfs NALN, die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum, word tans deur ‘n vertakking van Oemkoentoe, ‘n ontplooide kader of twee, beheer. Om nou nie te vergeet van Transnet, die Landbank, die “aai-die-sie” (voorheen NOK) en ander instellings wat deur regse (kuise, naïewe?) Afrikaners opgerig is nie. Asook Eksdom, dis nou die ouens wat so af en toe u en my ligte afsit.
Die enigste ironie wat nou in my verkorrupte, “verregse” brein – ek het seker in my jong dae te veel Nietzsche gelees en so vir die linkse geloof verlore geraak – vassteek, terwyl ek enkele dae gelede so luister hoe Willie Esterhuyse en sy vriende op RSG verduidelik hoe hierdie revolusie nou eintlik verloop het, is: Die Suid-Afrikaanse, let wel, linkse revolusie moet seker die enigste in die geskiedenis wees wat deur kapitalistiese mynhuise aangevoor is!
Volgens Willie Esterhuyse het Consolidated Gold Fields uit Londen die eerste steen gewerp, of die eerste ontmoeting gereël. Toe volg Gavin Relly van Anglo-American, wat die pad Lusaka toe vat. En die Broederbond en NI (dis nou Nasionale Intelligensie) wil nie agter raak nie, met die skrywers en Dakargangers as gewillige drinkebroers agterna. (Soos ons verneem het, borg Chivas Regal nie die ANC se lekgotlas nie, maar het die KWV seker ook ‘n rol gespeel, destyds, want hulle wou mos weer uitvoer.) Praat nou van ‘n Marxistiese “teenstrydigheid”! Die heersersklas reël sy eie revolusie. En in 1992 stem die blanke middelklas tydens die referendum soos die spreekwoordelike kalkoene vir Kersfees. Maar nou is die blanke en Afrikanerbevolking moedeloos en ontnugter. Want die Kersfees, ‘n Swart Kersfees (lees bietjie laasgenoemde verhaaltjie deur Jan Rabie, niemand onder 21, taalgebruik onstellend), hou bietjie te lank aan. Te veel kalkoene is al geslag, te veel mense vermoor, beroof, (te)reggestel, verengels, verdryf. Soos Oom Mao gesê het: ‘n revolusie is nie ‘n teepartytjie nie.
Dis seker nou maar my apartheidsopvoeding, toe ons mos blootgestel is aan die Afrikanergeskiedenis, maar ek kan nie anders as om allerlei goue en platinum- en selfs steenkooldrade in ons geskiedenis raak te sien nie. In 1896 was daar mos ‘n poging tot revolusie deur die mynhuise genaamd die Jameson Raid. Vraag: wanneer word hierdie versiende Uitlanders vir hul aandeel aan ons bevryding vereer met ‘n paar naamsveranderings? Elke keer as ek daar in Johannesburg met Hendrik Verwoerdrylaan afry en ek sien dis nou Bram Fischer Drive, dan wonder ek: maar wat van Leander Starr Jameson en Sir Lionel Philips? Verdien hulle nie ook straatname nie?
Dan was daar die 1922-staking, wat veroorsaak is deur die mynhuise se begeerte om al hul blanke werkers met swartes te vervang wat hulle veel minder kon betaal. Was dit nie die eerste vorm van regstellende aksie nie? Die enigste verskil is, ná die revolusie van 1994 word swart werkers, veral nou die soort wat ‘n mens in die vyfsterhotelle oor ‘n glasie whiskey kan sien “werk”, méér as hul blanke eweknieë betaal.
Die punt is: die koloniale mynhuise was nog altyd: anti-Afrikaans, anti-Afrikaner en anti-die-wit-werker (of die wit middelklas). Nie waar nie? As ek hier twak praat, vergewe my, help my dan reg met ‘n paar feite en sitate, asseblief.
Vir al die “linkse” bruines soos Lionel Adendorf, Jakes Gerwel en ander, wat so getrou hul Rooi Evangelie(s) gelees het, kom ons beweeg nou ‘n bietjie van die “basis” na die “bobou”. Ná 1994 en die revolusie wat De Klerk in sy wysheid ontketen het, behoort die produksiemiddele aan, ja, wie? Die “revolusionêre”, die mynhuise. Hulle wat in die eerste plek jare lank hul anti-Afrikaner-propaganda in hul mynhuismondstukke – die Engelse pers van destyds waarvan hulle die hoofaandeelhouers was – gevoer het. Dis nou wat hulle noem ‘n “revolusie van bo”, heel bo.
Maar ook dít wat Louis Althusser, die Franse neo-Marxis wat sy vrou met ‘n hamer doodgeslaan het, die “ideologiese staatsapparaat” noem, verkry ná 1994 ‘n, wel, “mynhuiskarakter”. Die media, die skole, “ons kultuur”. Ja, hulle sê dis van nou af aan “ons kultuur”, alles vanaf SAB-Miller se bieradvertensies tot Antjie Krog se polities korrrekte, Engelse boeke. Alles word vreeslik Engels. Allerlei opvoedkundige en kulturele eksperimente word vanaf die res van die empaaier, die Statebond, ingevoer. Ons kry “Uitkomsgebaseerde onderwys”, TV-programme in kreools-Afrikaans (op pad na kreools-Engels) en Bobby Godsell van Anglogold wat sommer vroeg-vroeg enige oorblywende Afrikanermyners in sy myne letterlik verbied om ondergronds of bogronds met mekaar Afrikaans te praat.
En nog is’t einde niet! Nie net is die taal van dié paradoksale Rooi Revolusie die Rooitaal nie, maar ons kom aanstons agter waarom al wat Afrikaner is uit die Uniegebou en elke staatsdienskantoor, veral die ministerie van mineraal- en energiesake, verwyder moes word. Want sien, die “reaksionêre, regse, Calvinistiese, verkrampte, anaal-retentiewe, nasionalistiese – en wat nog – Afrikaners het mos ‘n nare gewoonte gehad om nie net wette en reëls te maak nie, maar ook te sorg dat hulle meesal nagekom word. En as jou gemiddelde Engelse roofkolonialis sy swart Mercedes-Benz buite die ministerie se kantoor geparkeer het, moes hy ‘n waterlisensie en ander permitte bekom wat nie sonder meer – en veral nie met ‘n paar rand onder die tafel deur of ‘n SEB-transaksie van enkele miljoen – verkry is nie.
Een van die prestasies van die linkses in Oos-Europa was mos die sorg waarmee hulle in hul najaag van Stalinistiese vyfjaarplanne en industrialisering met die omgewing omgegaan het. Toe die Berlynse Muur geval het en die heer Gerwel gehuil het, het die Wes-Duitsers ‘n omgewingsramp oos van die Elbe ontdek wat reusebedrae geld sou neem om aan te spreek.
Diegene wat die artikels lees van Elise Tempelhof, Beeld se omgewingsjoernalis, sal nogal ‘n ooreenkoms met die linkses se hantering van die omgewing in Oos-Duitsland en ons eie Rooies se omgang met óns omgewing opmerk. Blykbaar word 103 myne sonder waterlisensies bedryf. Benewens die vernietiging van Afrikaans, Afrikaanse skole en universiteite, museums en monumente, is ons “bevryders” in streeppakke met vet sigare besig om die hele Witwatersrand tot by Potchefstroom se water te besoedel. Die hele Oos-Transvaal wat naarstig vir steenkool geplunder word sonder ontsag vir lug, water, mens of dier, is besig om ‘n apokaliptiese aanskyn te verkry. Op Witbank is die kraanwater ondrinkbaar. Gifstowwe, swaar metale, selfs radio-aktiewe deeltjies vloei vrylik deur ons ekosisteem.
Die hele kabinet en topstruktuur van die ANC is op een of ander manier by mynbou betrokke, met ‘n groot rubberstempel in die kantoor van me. Buyelwa Patience Sonjica, die “minister van water- en omgewingsake” wat al die “regte” aansoeke goedkeur. Eens op ‘n tyd het Bram Fischer sy “briljante regsbrein” vir die mynhuise teen die destydse NP-regering in waterkwessies ingespan; vandag is dit nie meer nodig nie. Nou vernietig “ons”, of “hulle” (afhangend of jy met dié linkses identifiseer of nie), sommer net die waterbronne en geen lastige, reaksionêre Afrikanerburokraat pla hulle met ‘n Waterwet nie.
Wat het dit nou alles met Afrikaans te make? Min of meer alles, as u my vra, veral as u ‘n linkse is. Die basis bepaal die bobou, die infrastruktuur beïnvloed die kultuur. Nie waar nie?
En die skrywer, veral die Afrikaanse skrywer, of hy nou ‘n kaartdraende lid van die Party is of nie, is bloot ‘n “bruikbare idioot” wat af en toe ingespan word om die revolusie se oogmerke te dien. Dis nou die “revolusie van bo”, dié van die koloniale mynhuise.
Wat is André P. Brink of Max du Preez anders as dienaars van die mynhuise? Nie dat hulle André P. Brink betaal het om sy mynhuispropaganda teen sy eie mense, die Afrikaners, te skryf nie, maar deur hulle beheer van die plaaslike en Britse media het hulle ‘n mark vir sulke propaganda geskep. Dié mark het hy en ander met groot vreugde gevul en sodoende die revolusie moontlik gemaak. Gestel ‘n mens sou vandag ‘n roman skryf oor blanke Afrikaners wat ly onder teregstellende aksie, lewens wat deur geweldsmisdaad verwoes word, kinders se gesondheid wat deur omgewingsbesoedeling verwoes word, sou daar ‘n mark vir so ‘n boek bestaan, in watter taal ook al?
Ek meen van nee. Die skrywer sal nie eens ‘n uitgewer vind nie en indien hy dit self uitgee, sal dit nie eens in ‘n koerant geresenseer word nie. Soos Solsjenitsin, sal daardie skrywer egter die postrevolusionêre werklikheid getrou uitbeeld.
Ek is egter bevrees Suid-Afrika is so ver heen op die pad van die leuen dat die waarheid nie meer ‘n faktor is nie. Die taalstryd is insgelyks doodgebore. Geen redelike argument oor moedertaalonderrig of “taalregte” het oor die afgelope tien jaar of meer hond haaraf gemaak nie en sal ook nie in die toekoms nie.
Die “Afrikaanssprekende”, hetsy bruin of wit, is deur die geskiedenis gekenmerk deur ‘n byna infantiele naïwiteit. Hulle neem die werklikheid op sigwaarde aan en is vatbaar vir allerlei moralistiese slagspreuke, etikettering en manipulering. Of enkele heldhaftige “bruin leiers” daarin kan slaag om die taal vanuit sy huidige doodspiraal te red en weer tot status- of kultuurtaal te verhef, is ‘n oulike idee, maar soek ‘n anker in die werklikheid. Die mynhuise en hul politieke marionette, selfs die Afrikaanse media, sal ook sorg dat sowel die Afrikaners onderling as bruin en wit verdeeld bly. Dié jongste aanslag vanuit die Kaap en in Rapport deur Lionel Adendorf is daarom bedoel om verdere verdeeldheid te saai en die Afrikaner van enige moontlike bondgenootskap rondom taal met die Afrikaanssprekende bruin bevolking vna die Wes-Kaap te ontneem.
Slegs ‘n wonderwerk kan Afrikaans red, helaas. Of ‘n volkstaat, wat die enigste logiese uitweg uit ons kulturele, politieke, ekonomiese en taalkundige doodloopstraat is.
Drink liewer op Engels in die sogenaamde “nuwe Suid-Afrika”. Chivas Regal sónder water; dis heel waarskynlik gesonder.