Dis ‘n deurmekaarspul met plaasskole in die Vrystaat, en dit lyk nie vir Herrie iemand weet mooi nie. By die plaasskool by oom Wimmie het die amptenary oor die vakansie ‘n brief kom wys die skool gaan sluit, en die werker moes inderhaas plan maak met hul kinders.
Toe daag die “tietsjas” in elk geval op maar nie die kinders nie. Want die skool is mos gesluit. Herrie weet al ‘n paar jaar lank die Vrystaatse provinsiale regering wil die plaasskole sluit en met ‘n koshuisstelsel vervang. Herrie geen nou reeds ‘n brief: Nie binne ‘n honderd jaar nie.
Maar Herrie is nie baie verbaas dat die goewerment plan probeer maak nie, want bykans tagtig persent van die Vrystaat se ongeveer 2 000 skole is plaasskole, en die grootste gros van hulle is weer eenman, of “one tiechah”-skole. Dis ‘n reuse uitrol om op dié manier skole binne trefafstand van die plaaswerkers se kinders te kry, en selfs soos dit is, moet baie van hierdie kinders steeds lang afstande aflê. Plejk-plek is busvervoer tot die geld opraak, en plek-plek is fietse uitgedeel tot hulle gebreek of gesteel is.
Tot op ‘n dag, dan moet hulle groot skool toe om ‘n matriek te gaan probeer verwerf, en hier lol dit weer.
Privaat loseer het nog op ‘n manier gewerk toe boere ‘n groot del van hul werkers se lone in natura betaal het, d.w.s. meel, melk, vleis en weidingsregte vir beeste, en vele meer. Van die rantsoene is na familie in die dorpe en stede waar die kinders geloseer het. Van die beeste op plase was eintlik die familie se beeste. Stedelinge se beeste, het dr. Andries Lategan (intussen saliger) van die Stedelike Stigting al jare gelede bevind, loop op plase in ‘n radius van tot 300 kilometer om die stad of dorp). Maar toe kom minimum kontantlone, en skielik is dit wat die plaaswerkers vir hul familie in die dorp kon bied, veel minder.
Maar selfs voorheen was sommige van die plaaswerkerskinders by hul stedelike verblyf gruwelik uitgebuit, en moes soos slawe werk, en soms selfs prostitusiewerk doen.
En heelwat van hierdie kinders het dit gemaak, en sit nou in die Wetgewer of in hoë poste. Nie almal se herinneringe is nostalgies van aard nie.
Herrie dink darem nie oom Neelsie is reg wat meen die hele ding is deel van ‘n meesterlike matriek-strategie nie. Oom Neelsie reken die regering het nou al alles geprobeer om die matriek-slaagsyfer beter te kry, soos om die slaagvereistes minder te maak, en die standaarde te verlaag. Nou is die regering uit alle opsies behalwe om te keer dat leerlinge tot in Matriek vorder. Is daar niemand in matriek nie, dan druip niemand immers nie.
Dis ‘n taai toffie. Baie van die ouer Afrikaners is ook met gelapte broek, griffies en leie, plaasbrood met vet gesmeer en meester se lat deur plaasskole. Van die slimmes het sommer al kleintyd meer by die oues opgelet en standerds gespring. Oom Blackie Swart het so jonk in Matriek beland, hy moes eers ‘n jaar of wat uitsit voor hy oud genoeg was om universiteit toe te gaan. Wyle Heine Toerien het op 19 al ‘n meestersgraad in Grieks gehad, maar dis ‘n verhaal op sy eie.
Plaasskole, dit weet Herrie, vereis baie groot toewyding van kind en onderwyser. Baie groot. Maar as die vrugte van sukses gepluk word is dit baie soet.
