Gemeenskapspolitiek

Die meeste Suid-Afrikaners was verstom oor die min aandag wat pres. Jacob Zuma in sy staatsrede aan verskeie sake, waaronder misdaad, geskenk het. Dit het ‘n dawerende swye oor die etlike plaasmoorde vanjaar ingesluit, en het gekom te midde van verskeie moorde en ander aanvalle in sekuriteitskomplekse.

Die opposisiepartye gaan na verwagting op hierdie leemte en ander leemtes in hul reaksie op die staatsrede klem lê.

Die publiek was tradisioneel egter grootliks uitgesluit van hierdie proses.

Nou voeg Solidariteit ‘n element by wat druk op die regering behoort te verhoog – ‘n blitsvinnige aksie om so veel as moontlik briewe van protes oor die misdaad by die president te kry, met afskrifte wat in possakke môre by die parlement afgelewer word voor Zuma sy repliek lewer.

Moderne kommunikasietegnologie, soos die internet en selfone, maak hierdie projek moontlik.

Soortgelyke projekte is in die verlede op die proef gestel toe pres. Thabo Mbeki nog die septer geswaai het.

Dit is egter nie net die regering wat homself blootstel as teiken van gemeenskapspolitiek nie. Toenemend begeef die privaat sektor ook die terrein van die rug keer op die publiek wat sy lewensbloed is. Die jongste voorbeeld is die SA Skeidsregtersereniging wat nie meer die rugbyreëlboek in Afrikaans beskikbaar stel nie omdat daar kwansuis nie ‘n behoefte voor is nie. Afriforum spring weer hier in.

Gemeenskapspolitiek is ‘n politiek-sosiologiese verskynsel wat dikwels die manifestasie van gebrekkige gemeenskap- of minderheidsregte in ‘n grondwet vergestalt. Suid-Afrika het juis ‘n fase agter die blad waar Suid-Afrikaners, ongeag politieke oriëntasie, breedweg konsensus bereik het dat die grondwet minstens gebreke het. Aan die hele politieke spektrum ervaar mense ‘n mate van magteloosheid om deur konvensionele politieke deelname, soos stemreg, daarop te reageer.

In ‘n artikel in gister se Rapport is prof. Koos Malan van Tuks selfs krities oor die werkbaarheid van die wigte en teenwigte in die grondwet, en meen dit kan iemand platsak laat sonder dat hy veel vermag het. Hy meen die grondwet is ryklik besaai met regte, maar gaan mank aan gesag om iets daaraan te doen.

Die huidige verwikkelinge in Suid-Afrika is ‘n teksboek-verloop van leemtes wat politieke sosioloë se vakgebied uitmaak. In die boek, Temas in die politieke sosiologie van André Pelser en Lucius Botes word dit in ontstellende detail onder die loep geneem. Die interessantheid egter, is dat hierdie boek in 1992 verskyn het. Dit kan dus nie van politieke vooroordeel jeens die huidige bedeling beskuldig word nie.

Die grondwetlike proses het sedertdien afgeloop, en die grondwet is die produk van ‘n feitlik uitsluitlike juridiese benadering. Die indruk word geskep dat insette van politieke sosioloë, politieke geograwe en selfs politieke wetenskaplikes nie oorweeg is nie, en in elk geval nie in die finalisering opgeneem is nie.

Die gevolg was egter nie dat realiteite uit hierdie vakgebiede verdwyn het nie. Dit leef steeds, en die druk in die drukkoker word groter.

Terwyl daar groot konsensus is – van Tim du Plessis tot Max du Preez tot prof. Koos Malan dat veranderings nodig is, is daar minder konsensus oor hoe verder beweeg moet word. Sommiges is selfs blatant eerlik en sê hulle weet nie.

‘n Uiteinde, volgens die politieke sosiologie, is politieke geweld.

Gemeenskapspolitiek bied moontlik die mees werkbare alternatief. Om suksesvol te kan wees in wye deelname egter nodig. Dit het vaardigheid nodig, en dit is tyd dat politieke sosioloë hul stem duidelik laat hoor.

для баниФільчаков прокурор

Maak 'n opvolg-bydrae