‘Volksvergadering’ in Villeria mobiliseer Afrikaner-aktiviste

volksvergadering‘n Nuwe kultuur van tegnologiese aktivisme, tesame met ‘n herlewing van patriotisme is onder Afrikaners vaardig, te oordeel aan die groot opkoms gister by ‘n sogenaamde “volksvergadering” wat in Pretoria gehou is. Ná die vergadering het mense tou gestaan om hul name te laat opskryf om deel van die huidige Afrikanerbeweging te word.

Sprekers wat aanvanklik die nagenoeg 300 mense in die saal van die Laerskool Pierneef in Villeria toegespreek het, was: Willie en Francois Cloete van die Federale Volksparty, Sunette Bridges van die Boerevroueliga, Hannes Engelbrecht van Boerekrisisaksie, die skryfster Fransi Phillips en dr. Dan Roodt van PRAAG.

Ook in die saal teenwoordig was me. Miemie Fick, wat twee weke gelede die “Boikot Naspers”-veldtog op Facebook geloods het en waarvan die ledetal intussen tot net onder die 20 000 toegeneem het.

Volgens die Cloetes, vader en seun, moet aanstaande jaar se verkiesing in Suid-Afrika deur Afrikaners as ‘n referendum gebruik word om die steun vir selfbeskikking te toets. Mnr. Hannes Engelbrecht meen ook dat politieke posisies vir Afrikaneraktiviste nuttig kan wees omdat hulle dan deur die staat vergoed sou word om te doen wat hulle tans doen.

Die gesamentlike ledetal op sosiale media soos Facebook en Twitter wat in die saal verteenwoordig was, was meer as 100 000. Agterna het aktiviste wat mekaar reeds onder skuilname op sosiale media ken maar nog nooit werklik kennis gemaak het nie, blad geskud en strategieë bespreek.

Me. Sunette Bridges het aan die begin van die vergadering op die verhoog met Die Stem weggeval en die hele saal genooi om uit volle bors saam te sing. Vele mense het ná die vergadering die sing van Die Stem as ‘n emosionele ervaring beskryf, gegewe die gevoel van “ons is ‘n minderheid van ‘n minderheid” wat ook sterk deur die predikant in sy openingsboodskap, die verhaal van Gideon uit Rigters, beklemtoon is.

Verskeie oproepe tot Afrikaanse organisasies en leiers om beter saam te werk, is geloods. Verskeie sprekers vanaf die vloer het gevra waarom daar soveel groeperinge en partye is wat Afrikanerselfbeskikking voorstaan, terwyl almal behoort saam te werk om dié ideaal te verwesenlik.

Volgens me. Sunette Bridges, “stig ons telkens ‘n komitee. Agterna hou ons nie van wat die komitee doen nie en stig dan nog een. Pleks dat sake uitgepraat word en daar daadwerklik tot aksie oorgegaan word.”

In sy toespraak het dr. Dan Roodt verwys na die Kosovo-opinie van die Internasionale Geregshof in Den Haag van 22 Julie 2010 wat dit vir elke volk of etniese groep moontlik maak om eensydig onafhanklikheid ter verkleer. “Selfbeskikking is ‘n inherente mensereg waarvoor ‘n mens geen toestemming van ‘n staat of die internasionale gemeenskap nodig het nie,” het hy gesê. “Afrikaners se groot probleem is dat hulle nie kan besluit watter deel van die land hulle wil opeis nie.”

Volgens Roodt gaan kulturele selfbeskikking soos dit in Westerse state soos België of Kanada beoefen word, nie in Suid-Afrika werk nie, omdat die staat en sy masjinerie nie die grondwet eerbiedig nie. Wetteloosheid en korrupsie maak kulturele selfbeskikking onmoontlik, daarom moet daar na sterker vorme van selfbeskikking met selfregering gekyk word.

Daar moet taalgrense in Suid-Afrika getrek word soos dit in België gedoen word. Oral in gebiede waar Afrikaners in die meerderheid verkeer, behoort Afrikaans die openbare taal te wees sodat dit vir almal helder sal wees dat hulle daardie gebied vir hulself toeëien.

Die skryfster Fransi Phillips het ‘n ontroerende voordrag rondom die tema van “bloed” gelewer. Dit gaan om die bloed van slagoffers wat veral sedert 1994 vergiet word en om na die boodskap daarvan te luister. In haar kinderdae het sy ook terwyl sy nadeink en mymer “na die suising van haar eie bloed geluister”. Die nuwe Suid-Afrika en diskriminasie teen blankes – mense van haar bloed – veroorsaak dat sy as Afrikaanse skryfster deesdae in die koue Rusland Engels moet gee waar jy jou oë gereeld moet knip sodat hulle nie vries nie.

Verskeie lede van die gehoor het verklaar dat hulle daarby betrokke wil raak om gesinne en gemeenskappe teen geweldsmisdaad te beskerm. Dr. Roodt het daarop gewys dat daar reeds ‘n groot aantal geslaagde buurtwagaksies in Pretoria en elders is en dat sulke verenigings nouer behoort saam te werk. Die beskikbaarheid van goedkoop tweerigtingradio’s deesdae vergemaklik kommunikasie oor veiligheidsake in gemeenskappe.

Me. Sunette Bridges het Afriforum skerp gekritiseer omdat hulle nie self verteenwoordigers na die vergadering gestuur het nie, maar slegs twee jong meisies in T-hempies afgevaardig het om lede te kom werf. “Lyk my Afriforum stel net in inkomste belang,” het sy gesê. Nietemin het sy die meisies welkom geheet en beklemtoon dat “hulle net hul werk doen” en dus nie vir Afriforum se bestuursbesluite geblameer behoort te word nie.

‘n Informele voortsettingskomitee is saamgestel en daar word beoog om met sowel die Vryheidsfront Plus as die bestaande Afrikaner- Strategiese Komitee in gesprek te tree om die soort aktivistiese, patriotiese kultuur wat tans op sosiale media en die internet woed, ook in daardie geledere in te dra. Die vergadering voel dat daar nie vinnig genoeg gehandel word om Afrikanerselfbeskikking te verwesenlik nie.

“Ses-en-vyftig persent van ons jongmense verlaat die land,” meen me. Sunette Bridges. “Hulle kinders word almal in die buiteland gebore. Ongeag al die moorde op ons, is ons besig om as volk uit te sterf. Ons het regtig nie meer tyd nie.”

Hennie van Deventer oor Nelson Mandela

Hennie van Deventer, ‘n oud-redakteur van Volksblad, woon deesdae op Melkbosstrand. Hy skryf soms briewe aan koerante. Hy mymer graag oor die verlede en gebruik sy LitNet-blog vir hierdie doel. Op 7 deser het hy ter ongekwalifiseerde verering van Nelson Mandela, “Madiba” genoem, ‘n brief in Rapport gepubliseer. Sy brief is nie in sy geheel in die koerant weergegee nie. Van Deventer voel sterk daaroor dat sy lesers volledig in sy besondere insigte moet kan deel. Hy het dus dadelik sy volledige brief op sy blog gepubliseer. Die maklikste om toegang tot hierdie stukkie dinkwerk te kry, is waarskynlik via die LitNet-nuusbrief van 10 deser. Ek haal aan uit sy onverwelkte, outentieke, volledige teks.

Van Deventer vra hom af: “Wat sou ‘n gepaste gedenkteken vir Madiba wees?” Hy noem Mandela “dié internasionale ikoon” en “die vader van die nuwe Suid-Afrikaanse nasie” [nasie?]. Mandela kwalifiseer “seker vir ‘n groter eer as net sy gesig [wat nog?] op ons geldnote, en ‘n munisipaliteit hier, ‘n universiteit daar of ‘n klompie strate wat sy naam dra. Die tyd om verbeeldingryk en kreatief te dink, durf nie uitgestel word nie. Op die lange duur sal die waardige verewiging [!] van die Mandelanaam immers veel meer gewig dra as al die nagwake, straat-demonstrasies, vragte ruikers, perorasies, briefies, boodskappe en ander verganklikhede van die laaste weke.”

Van Deventer noem dat hy al in 2002 voorgestel het dat die Nasionale Kruger-wildtuin tot die Nelson Mandela-Vryheidspark herdoop word. Let op die voorgestelde vervanging van die ekologiese term “wildtuin” met die politieke term “vryheidspark”. Hou ook in die gedagte dat ons groot moet dink. ‘n Park klink groter as ‘n tuin. “Natuurlik sou die prysgawe van die geliefde Krugernaam ‘n reuse-opoffering behels. Dink egter net watter plusfaktor dit vir samebinding kan wees as ‘n raakvat-idee vir die Groot Verering van Nelson Mandela in Afrikaner-geledere gebore word … Wat kan treffender simbole van wedersydse vergewensgesindheid wees … en boonop waarborg dat die park as trots vir Suid-Afrika, en vreugde vir besoekers, in ‘n spogtoestand gehou word?” ‘n Mens vra jou af: Is die talle Mandela-strate in ‘n spogtoestand?

Hoe konkretiseer Van Deventer sy poging tot grootse denke in uitdruklike voorstelle? Om die Mandela-naam aan die grootste plaaslike lughawe te gee, is volgens Van Deventer om te klein te dink. “Vir ‘n waardige verering van Nelson Mandela sal groter gedink moet word.” ‘n Stad is groter as ‘n lughawe. Van Deventer se voorstel is “om Pretoria liewer Mandela te noem as Tshwane (‘n skadufiguur).” Wat is (moontlik) groter as Pretoria? ‘n Berg. Waaraan Van Deventer gedink het, is nie ‘n stukkie berg soos Cathkin Peak nie, maar “die hele Drakensberg-reeks.” Waarom nie dit na “Madiba” noem nie? – die berg sal immers nie beswaar opper nie. Wat is seker groter as die hele Drakensberg-reeks? Die Kruger-wildtuin. Vandaar Van Deventer se voorgestelde naamsverandering.

Op hierdie punt hou Van Deventer op om al hoe groter te dink. Maar hy het deur voorbeeldstelling aan ons ‘n metodiek verskaf waarvolgens ons op ons eie kan voortgaan om te dink. Wat is groter as die Kruger-wildtuin? Seker agt van die nege provinsies. Wat is groter as ‘n provinsie? Die hele land. Suid-Afrika kan daarvolgens Madibië genoem word. As Mandela egter “dié internasionale ikoon” is, sou ‘n landsnaam steeds nie reg aan hom laat geskied nie. Ons hoor daagliks dat die wêreld se oë op die siek Mandela is. Deur al hoe groter te dink, kan die aardbol, die son, die Melkweg en die heelal na Mandela genoem word. Dit toon waartoe ‘n “raakvat-idee” van ‘n oud-joernalis kan lei; dus hoe Van Deventer se denke al hoe meer ‘n “plusfaktor” word.

Voordat ons soos Van Deventer “verbeeldingryk en kreatief” verder oor die moontlikheid van Mandela-verering dink, moet ons liefs eers oor Mandela se geskiedenis lees, bv David James Smith se boek, Young Mandela (London: Weidenfeld & Nicolson, 2010, 340p). Daarna kan rasioneel besluit word of Mandela vereer behoort te word en, indien wel, in hoeverre dit wenslik is..

Media24: Opgestopte speelgoedhondjies

Een aspek van die dooieboommedia is dat hulle ‘n mens se gesonde verstand onophoudelik beproef met hulle teenstrydighede. By Media24 grens dit so aan skisofrenie dat hulle redaksie se permanente geestelike toestand een van ontkenning en verwardheid is, wat steeds nie kan uitwerk wat die globale toestand op enige gegewe dag is nie, laat staan nog die werklikheid wat Afrikaners in die gesig staar.

Beeld sal daagliks sonder skroom oor die verskriklike misdaadsituasie waarmee ons mense te kampe het, berig. Maar wat dié koerant betref, het die misdaad geen oorsaak, daders of motief nie. Moorde en marteling gebeur sommer, en enige iemand wat dit durf waag om te vra waarom alle wittes dit moet ontgeld aan die hand van swart aanvallers, is by voorbaat verdag.

Erger nog, asof niemand sal onthou dat Media24 en Beeld self oorblyfsels uit die ou apartheidsjare is nie, rakel die redaksie die “verregses” en “apartheidsapologete” op om die aandag van hulself af te hou.

Dit het trouens een middelmatige skrywer genoop om ‘n swart aanval op haar bejaarde ouers te bevraagteken, omdat hulle nie “verregse rassiste” is nie. Maw, die “verregse rassiste” verdien blykbaar om gemartel en vermoor te word, en die “getransformeerdes” nie. Die lastigheid is natuurlik dat die daders hulself afvee aan sulke kategoriëe wat Beeld gerieflikheidshalwe geskep het om aanvalle op Afrikaners mis te kyk. En natuurlik wil hulle blind wees, want hulle praat die bestel wat hierdie misdaadmonster gebaar het, daagliks in opiniestukke goed.

Ons leef dus konstant in twee verskillende en teenstrydige wêrelde. In die een is ons almal goeie, patriotiese “Suid-Afrikaners” wat elke blye dag tegemoet gaan en transformasie met groot entoesiasme omhels. In die ander is ons wit misdaadslagoffers van ‘n ongekende haatgolf wat oor ons spoel, waar die daders anoniem en kleurblind bly, maar waarskynlik optree ter bestraffing van apartheid en transformasie-verset. Sieklik!

Media24 maak seker dat hulle dieselfde graad van verwarring oor elke gebeurtenis in die wêreld skep. Neem byvoorbeeld Egipte. In die nasleep van die militêre staatsgreep teen die Egiptiese president, Mohamed Morsi, is daar oor die onrus in Kaïro met min belang in die uitslag berig.

Wat Beeld betref is Egipte nie meer ‘n strategiese speler in die streek nie, en dus is die politieke geweld niks om oor te bekommer nie. Die berigte is omtrent ‘n presiese weergawe van wat Washington uitstraal. Nie een gebeurtenis het ‘n aanloop, ‘n oorsaak of ‘n gevolg nie, amper soos plaasmoorde. Dis sommer nuus wat daar in die lug hang, sonder konteks.

Die Obama-administrasie wonder nog steeds of dit ‘n staatsgreep was wat ontvou het.

President Morsi se laaste ure in die stoel, wagtende op sy lot in die hande van die Egiptiese weermag, is ‘n interessante verhaal. Die Egiptiese weermag is, net ter inligting, al vir die afgelope 40 jaar ‘n Amerikaanse bate.

‘n Arabiese minister van buitelandse sake het deurgebel om te vra of Morsi die aanstelling van ‘n nuwe eerste minister en kabinet sal aanvaar, wat van Morsi ‘n blote pion sal maak in ‘n magtelose, seremoniële posisie. Die Arabiese minister van buitelandse sake het dit duidelik gemaak dat hy as ‘n gesant van Washington skakel.

Morsi het die aanbod verwerp. Sy top- buitelandse beleidsadviseur het dadelik uit die vertrek gestap om die Amerikaanse ambassadeur in Egipte, Anne Patterson, in te lig. Maar toe hy terugkom, het hy aangekondig dat hy pas met met Susan Rice, Obama se nasionale veiligheidsadviseur, in Washington, gesels het wat hom in kennis gestel het dat die staatsgreep gaan begin.

Dus is die VSA baie diep betrokke by die gebeure in Kaïro, maar die supermoondheid probeer “ambivalent” of selfs “afsydig” oor die lot van die Arabiese wêreld se mees bevolkte land lyk. Niks snaaks nie. Dis die stof waarvan buitelandse belange aanmekaar gesit is.

Wat egter ongelooflik is, is die vermoë van die media om twee teenoorgestelde werklikhede binne hul eie blaaie te akkommodeer, en sonder skaamte of selfs sigbare verleentheid, die heersersklas se manipulasies as nuus weer te gee.

Wel, hier’s nuus vir hulle: Dis nie nuus nie, want nuus vereis ‘n mate van afstand en ontleding en konteks wat net hoegenaamd nie teenwoordig is nie. Die media is lankal nie meer waghonde nie, maar skoothondjies. Eintlik is Media24 ‘n versameling opgestopte speelgoedhondjies vir hulle base en hulle korporatiewe kollegas.

Hulle is nie in die besigheid van betroubare inligting nie, maar van die rasionalisering en verontskuldiging diegene in beheer se gedrag. Indien daar teenstrydighede in enige verhaal is, kan dit altyd behang word met gerieflike aanvalle of ‘n swartsmeerdery of leuens of al drie in die volgende uitgawe. Vra maar vir die “verregses”. Vir Media24 is hulle blykbaar meer vreesaanjaend as die kindermolesteerders en Suid-Afrikaners wat oumense se vingers met snoeiskêre afsny.

Die groot nuus aangaande Egipte is terloops dat die VSA – wat afhanklik is van Moslem-fundamentaliste as die voetsoldate vir imperialisme in Sirië en Noord-Afrika – pas hul Moslem-broederskapvriende in die rug gesteek het, by name die voormalige president Morsi.

‘n Mens kan veilig aanneem dat Beeld nie daaroor sal berig nie, net soos hulle geen analise van misdaad in Suid-Afrika sal duld nie. Dit sal nie inpas by hul verwarde en skisofrensiese styl nie.

Wit MK-veterane ‘bang geskiedenis verdwyn’

Suid-Afrika se “born free” geslag jongmense het geen belangstelling in die land se geskiedenis nie, sê Liliesleaf Trust se hoofuitvoerende beampte Nicholas Wolpe.

Die versameling ou wit kommuniste wat ‘n gewapende opstand teen die regering van destyds beplan het, het Donderdag die 50-jarige herdenking van die arrestasie van Umkhonto we Sizwe (MK) se leierskap gevier.

“Suid-Afrikaners in die algemeen verstaan ​​nie die belangrikheid van ons geskiedenis nie,” het Wolpe gesê. “Ons vier nie wat ons nalatenskap regtig beteken nie, dis duidelik wanneer dit kom by Erfenisdag wat verander het in Braaidag. Ons moet wie en wat ons is, weet wie drie maande voor die inhegtenisname van Nelson Mandela en ander belangrike leiers gebore is, en hulle te identifiseer as leiers van die vryheidsbeweging op 11 Julie 1963.“

Wolpe sê besoekers aan die plaas is altyd geskok dat daar “wit mense” betrokke was in die bevrydingstryd. Die meesterbreine agter die beplanning was meesal wit Joodse kommuniste wat swartes aangehits het.

“Plekke soos Liliesleaf Farm is belangrik vir toekomstige geslagte, want hulle is die behoud van die land se geskiedenis,” het Wolpe gesê.

“As ons nie voortgaan met gesprekke oor die verlede nie, gaan ons op ‘n dag wakker word en ons geskiedenis sal nie meer daar wees nie.” Wolpe het nie uitgebrei oor die eensydigheid van sy eie weergawe van die geskiedenis nie.

Die herdenking is gekenmerk deur ‘n oorhandiging van ‘n stel medaljes. “‘n Goue medalje herdenk die plaasaanval [sic], ‘n silwer medalje die Rivonia-verhoor en ‘n goue medalje vereer die ontsnapping uit Marshall Plein,” het die Suid-Afrikaanse Gold Coin Exchange se uitvoerende voorsitter Alan Demby gesê.

Hy het ‘n stel oorhandig aan adjunk-president Kgalema Motlanthe.

Swaar gewapende rowers slaan helder oordag op inkopiesentrum toe

‘n Groep swaar gewapende rowers het Woensdagoggend om ongeveer 10.30 ‘n juwelierswinkel in die Mall@Carnival in Brakpan van kontant en juwele beroof.

‘n Skietery het ontstaan en ‘n vrou is in die been gewond. Sy is in ‘n bestendige toestand na ‘n nabygeleë hospitaal geneem.

Volgens inligting van die die Brakpan SAPD, het ten minste drie gewapende mans die winkel binnegegaan en die klante, asook personeel, aangehou.

“Nadat die rowers kontant en juwele gevat het, het die mans na buite gevlug,” het die woordvoerder van die polisie gesê.

Handlangers het glo buite op ‘n bakkie gewag.

Volgens inligting het een van die die mans op die bakkie met ‘n geweer losgebrand voordat die rowers op die vlug geslaan het.

Teen druktyd was die groep rowers nog op vrye voet.

‘n Woordoverder van die Brakpan SAPD het gesê dat die publiek die ondersoekspan se werk op die toneel erg bemoeilik het.

“Ons het die gebied afgesper met offisiële polisie-lint, wat duidelik aandui dat mense nie verby seker punte kan beweeg nie, maar baie mense het glad nie gehoor gegee hieraan nie,” het die woordvoerder gesê.

“Dit veroorsaak dat mense die toneel betree en in die proses kan waardevolle bewysstukke verlore gaan. Dit is in ons reg om teen sulke mense op te tree.”

Malema verloor nog ‘n eiendom weens belastingskuld

Julius Malema, geskorste president van die ANC-jeugliga, gaan nog ‘n eiendom verloor wanneer sy huis in Florapark, Polokwane opgeveil word, het die Sowetan Donderdag berig.

Die afslaer Aaggie Stroh, van Eli Stroh Eiendomme, het gesê die huis behoort tussen R1 miljoen en R1,5 miljoen te haal.

“Ek kan bevestig dat Malema se huis in 23 Mopani-straat by Florapark op 23 Julie opgeveil sal word,” het hy gesê.

Stroh het gesê die huis is “baie mooi en skoon” maar dat die huidige ekonomiese klimaat die eiendom se waarde kan beïnvloed.

Die hof het beslag gelê op die huis om te help om Malema se belastingrekening te betaal.

Malema skuld die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) R16 miljoen.

In Mei het sy halfvoltooide huis in Sandown, Johannesburg, R5,9 miljoen gehaal op ‘n veiling.

En in Junie is Malema se kool- en tamatieplaas in die Limpopo-provinsie vir R2,5 miljoen verkoop

Stroh kon nie bevestig of nog ‘n huis in Seshego, Polokwane, waar sy ouma woon, ook opgeveil gaan word nie.

Malema het Donderdag sy nuwe politieke party, die Economic Freedom Fighters (EFF) by Constitution Hill in Johannesburg bekendgestel.

Boston-verdagte pleit onskuldig

Die 19-jarige Dzhokhar Tsarnaev, wat van die bomaanvalle by die Boston-marathon aangekla word, het onskuldig gepleit op al die aanklagte teen hom.

“Onskuldig”, het Tsarnaev geantwoord op elk van die 30 aanklagte wat Woensdag tydens sy eerste openbare hofverskyning sedert April uitgelees is.

In sewentien van die aanklagte kan die doodstraf opgelê word.

Die tiener, wat na bewering ernstig beseer is in sy poging om die polisie te ontwyk, se arm was steeds in gips en sy linkeroog was opgeswel toe hy Woensdag verskyn het.

Die hofsaal was stampvol emosionele slagoffers van die bomaanvalle op 15 April by die eindstreep van die Boston-marathon.

Sommiges het by die hof met krukke opgedaag en moes deur familielede ondersteun word.

Daar was ook ‘n klein groepie van Dzhokhar se ondersteuners buite die hof.

Dzhokhar en sy broer, Tamerlan, was na bewering verantwoordelik vir die bomontploffings waarin drie mense dood en meer as 260 beseer is.

Tamerlan is ná ‘n skietery met die polisie dood.

Die verhoor is tot 23 September uitgestel.

Malema waarsku wittes dat hulle ‘alles sal moet deel’

Die Economic Freedom Fighters (EFF) is ‘n protesbeweging, het sy leier, Julius Malema, Donderdag tydens die bekendstelling oor sy nuwe party gesê.

Die EFF verskil van ander wegbreekpartye van die ANC, het Malema, voormalige president van die ANC-jeugliga, by Constitution Hill, Johannesburg, bygevoeg.

“Ons is nie soos Agang en al die ander nie. Ons het ‘n totaal verskillende plan.”

Dié plan sluit in die nie-onderhandelbare beginsels van grondonteiening en nasionalisering van myne, in albei gevalle sonder vergoeding.

Die EFF wil ook wegbeweeg van ‘n gesprek oor versoening na een van geregtigheid, het Malema gesê.

“[Die EFF is] die mense se organisasie, wat geïnspireer is deur die lyding van mense op voetsoolvlak.”

Die beweging sal op 26 en 27 Julie ‘n konferensie hou om sy beleid en manifes te bespreek.

Die EFF sal ‘n “anti-kapitalistiese en anti-imperialistiese ideologie” handhaaf en streef na nie-rassigheid en nie-seksisme. Ofskoon wit kapitalistiese monopolie die vyand van die EFF is, het Malema gesê “niemand sal die see in gedryf word nie”.

“Julle gaan gedwing word om (jul eiendom) te deel.”

Malema het Suid-Afrikaners gewaarsku om hulself voor te berei vir die opofferings wat met die EFF se beoogde revolusie gepaardgaan.

Makaziwe Mandela weer hof toe om haar hande op miljoene te kry

Oudpresident Nelson Mandela se gesinslede wil weer hof toe oor miljoene rande wat in ‘n trustfonds vasgelê is.

Die aansoek sal deur deur Mandela se twee dogters, Makaziwe en Zenani gebring word. Sewentien kinders en kleinkinders ondersteun die aansoek.

Die hofaansoek sal op 29 Julie in die Suid-Gautengse Hooggeregshof in Johannesburg aangehoor word.

Die gesinslede wil ook van adv. George Bizos, Tokyo Sexwale en Mandela se voormalige prokureur, Bally Chuene as trustees ontslae raak.

Makaziwe Mandela sê dit is nie ‘n familiegeskil nie, maar ‘n doodgewone hofaansoek om van sekere individue ontslae te raak.

Sexwale sê en die ander trustees hy hoop dat ‘n skikking bereik sal kan word.

Makaziwe het reeds tydens ‘n onderhoud aangedui dat die geld haar toekom, selfs al wou sy gaan vakansie hou daarmee.

Pretoria kry reuse casino, vermaakgeriewe

Sun International wil ‘n R3 miljard “stedelike vermaak bestemming” in Pretoria oprig, deur die sukkelende Morula Casino te hervestig.

Dit is volgens ‘n verklaring wat deur die maatskappy Dinsdag uitgereik is.

Sun International het ‘n “aansoek by die Gauteng Dobbelraad ingedien om sy Morula casino-lisensie te wysig om die casino te verskuif vanaf Mabopane na Menlyn, Tshwane”.

“Die Morula Casino Hotel en het vir ‘n geruime tyd ‘n beduidende afname in inkomste getoon hoofsaaklik as gevolg van die relatief ontoeganklike ligging en die groei van nie-casino dobbel-aktiwiteite in die opvangsgebied,” sê Sun International se Graeme Stephens.

Die ontwikkeling sal deel vorm van die nuwe grootskaalse “Green City”-projek wat tans onder ontwikkeling is en wat bekend staan ​​as Menlyn Maine in die oostelike voorstede van die stad.

Menlyn Maine, sal in sy finale vorm ‘n R8 miljard, 315,000 m2 gebied wees, wat ‘n winkelsentrum, duur residensiële komponent, ‘n kantoorpark en hotelle sal insluit.

Die fasiliteite sal bestaan ​​uit ‘n vyfster-hotel en konferensiesentrum met 100 luukse kamers en suites sowel as ‘n binnenshuise vermaakarena met sitplek vir 8 000 mense vir internasionale en plaaslike vermaak, konserte, sportbyeenkomste en konferensies.

Ander besienswaardighede sluit in ‘n wye verskeidenheid van kleinhandel-winkels, kroeë en restaurante wat besoekers van regoor die provinsie sal lok, met parkering vir 2 785 voertuie.

“Ons marknavorsing het getoon dat daar ‘n duidelike behoefte vir die hotel en konferensieruimte sowel as vermaak in Tshwane is,” het Sun International se voorsitter, Valli Moosa gesê.

Die totale beraamde inkomste aan die regering wat die projek oor ‘n tydperk van vyf jaar sal genereer, word geskat op R2.7-miljard, sê Sun International.