Malema verloor nog ‘n eiendom weens belastingskuld

Julius Malema, geskorste president van die ANC-jeugliga, gaan nog ‘n eiendom verloor wanneer sy huis in Florapark, Polokwane opgeveil word, het die Sowetan Donderdag berig.

Die afslaer Aaggie Stroh, van Eli Stroh Eiendomme, het gesê die huis behoort tussen R1 miljoen en R1,5 miljoen te haal.

“Ek kan bevestig dat Malema se huis in 23 Mopani-straat by Florapark op 23 Julie opgeveil sal word,” het hy gesê.

Stroh het gesê die huis is “baie mooi en skoon” maar dat die huidige ekonomiese klimaat die eiendom se waarde kan beïnvloed.

Die hof het beslag gelê op die huis om te help om Malema se belastingrekening te betaal.

Malema skuld die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) R16 miljoen.

In Mei het sy halfvoltooide huis in Sandown, Johannesburg, R5,9 miljoen gehaal op ‘n veiling.

En in Junie is Malema se kool- en tamatieplaas in die Limpopo-provinsie vir R2,5 miljoen verkoop

Stroh kon nie bevestig of nog ‘n huis in Seshego, Polokwane, waar sy ouma woon, ook opgeveil gaan word nie.

Malema het Donderdag sy nuwe politieke party, die Economic Freedom Fighters (EFF) by Constitution Hill in Johannesburg bekendgestel.

Maak 'n opvolg-bydrae