Die Economic Freedom Fighters (EFF) is ‘n protesbeweging, het sy leier, Julius Malema, Donderdag tydens die bekendstelling oor sy nuwe party gesê.
Die EFF verskil van ander wegbreekpartye van die ANC, het Malema, voormalige president van die ANC-jeugliga, by Constitution Hill, Johannesburg, bygevoeg.
“Ons is nie soos Agang en al die ander nie. Ons het ‘n totaal verskillende plan.”
Dié plan sluit in die nie-onderhandelbare beginsels van grondonteiening en nasionalisering van myne, in albei gevalle sonder vergoeding.
Die EFF wil ook wegbeweeg van ‘n gesprek oor versoening na een van geregtigheid, het Malema gesê.
“[Die EFF is] die mense se organisasie, wat geïnspireer is deur die lyding van mense op voetsoolvlak.”
Die beweging sal op 26 en 27 Julie ‘n konferensie hou om sy beleid en manifes te bespreek.
Die EFF sal ‘n “anti-kapitalistiese en anti-imperialistiese ideologie” handhaaf en streef na nie-rassigheid en nie-seksisme. Ofskoon wit kapitalistiese monopolie die vyand van die EFF is, het Malema gesê “niemand sal die see in gedryf word nie”.
“Julle gaan gedwing word om (jul eiendom) te deel.”
Malema het Suid-Afrikaners gewaarsku om hulself voor te berei vir die opofferings wat met die EFF se beoogde revolusie gepaardgaan.
