Baasbrein van Vrystaat-moord vas

Die baasbrein wat vermoedelik agter die gru-moord van ‘n bejaarde egpaar op ‘n plaas buite Parys in die Vrystaat vroeër vanjaar sit, is in hegtenis geneem.

‘n Woordvoerder vir die Vrystaatse polisie, Peter Kareli, het gesê die 48-jarige verdagte is Vrydagoggend in Johannesburg aangekeer.

Hy is die eggenoot van Mmaditaba Mokubung, die vrou wat vroeër saam met haar mede-beskuldigde Ezekiel Mnguni in hegtenis geneem is.

Die derde verdagte sal Maandag sy eerste hofverskyning maak terwyl Mnguni en Mokubung op 20 Maart in die landdroshof in Parys verskyn nadat hulle vroeër die maand borgtog geweier is.

Die drie word daarvan verdink dat hulle Ernest en Annatjie van Rooyen op 15 Januarie op die plaas Somerset vermoor het.

Annatjie se lyk is in ‘n kisvrieskas in die snoepwinkel op die plaas gevind.

Oscar Pistorius is nie Julien Assange nie

Met die hele wêreld se oë op hom gerig, het Oscar Pistorius se borgaansoek geslaag. Die aanklaer het selfs die geval Julien Assange opgeroep om sy aansoek te kelder. Assange woon tans in die ambassade van Equador in Londen om die Britse polisie te vermy.

Die oggendsessie van die gestremde naelloper se aansoek om borgtog het met ‘n finale tweestryd tussen die vervolging en verdediging geëindig. Die debat het gehandel oor die vraag of ‘n wêreld-beroemde paralimpiese atleet met sy dubbel-amputasie en prostetiese bene ‘n vlugrisiko inhou indien vrygelaat.

Staatsaanklaer Gerrie Nel het gesê Pistorius het die “geld, middele en motief” om te vlug as hy op borgtog vrygelaat word, en beskryf hoe WikiLeaks se stigter Julian Assange, ewe bekend as Pistorius is, borgtog geweier is en daarna skuiling gaan soek het in die Suid-Amerikaanse land se ambassade in Londen.

Maar die verdediging se advokaat Barry Roux het aangevoer dat elke keer as Pistorius deur die sekuriteit by die lughawe, gaan, daar oproer is weens sy metaalbene wat verklikkers laat afgaan. Hy kandus nie ongesiens deur die lughawe sekuriteit gaan nie.

Sy prostetiese hulpmiddels benodig instandhouding en aanpassing op ‘n maandelikse basis, en hy vereis mediese aandag.

Die stampvol hofsaal het goeie vriende van Reeva Steenkamp, die vriendin geskiet deur Pistorius, en die man wat nou die leiding van die ondersoek oorgeneem het, luitenant Geneal Vineshkumar Moonoo, ingesluit.

Wie boesem die minste vertroue in?

Altyd gedink politici boesem die heel minste vertroue in? Toe nie! Daar is ‘n spesie wat nog swakker vaar, naamlik Britse joernaliste.

Volgens ‘n Ipsos MORI peiling wat Vrydag verskyn het, vertrou slegs 21 persent van volwassenes in Brittanje joernaliste om die waarheid te vertel, en 72 persent vertrou hulle nie.

Selfs lede van die parlement in die algemeen het beter as verslaggewers gevaar. Daar het 23 persent hulle vertrou om die waarheid te vertel, ten spyte van hul bewese vermoë om skandale te genereer.

“Die resultate kan eenvoudig die toestand van Britse joernalistiek weerspieël,” skryf Harvey Morris skryf in The International Herald Tribune. Natuurlik het van die voormalige poniekoerantwerknemers agv die onlangse telefoon-afluisterskandaal bygedra tot die verlies aan geloofwaardigheid.

Die kwessie van vertroue is te wyte aan vinnige tegnologiese verandering, wat twyfelagtige praktyke van sommige van die rooi-skrif koerante in Brittanje oopgevlek het.

Nuuslesers het beter gevaar, met 69 persent van die respondente wat hulle vertrou om eerlik te wees. In die peiling se kruistabelle, kan jy sien dat die inwoners van multikulturele Londen joernaliste die meeste vertrou, terwyl die etniese wit Skotte hulle die minste vertrou.

In die VSA, vaar joernaliste ietwat beter as mense wat versekering en motors verkoop in ‘n onlangse peiling oor eerlikheid en etiek. Veertig persent van Amerikaners vertrou die media volledig om akkuraat en regverdig rekord te hou.

Switsers hou EU-perdevleis op rakke

Switserse supermarkte het Woensdag sekere perdevleis-produkte van hul rakke gehaal ná dit aan die lig gekom het dat haglike toestande heers op sommige plase waar perde vir vleis geteel word.

Die meeste perdevleisprodukte van Frankryk en Pole, waar dit algemeen beskikbaar is, word egter steeds te koop aangebied.

Nuwe bewerings oor die mishandeling van perde waarmee in die Amerikas geboer word, het aan die lig gekom ná die Europese perdevleis-skandaal ook op ander kontinente opslae gemaak het.

In die jongste voorval is ‘n ingevoerde lasagne-dis van winkelrakke in Hongkong verwyder.

Die Duitse afslag-supermarkgroep Lidl sê hy het alle perdevleis-produkte van sy rakke in Switserland verwyder, terwyl die land se tweede grootste supermarkgroep, Coop, gesê het hy het sowat 20 worsprodukte wat perdevleis bevat, onttrek.

Dié stappe kom te midde woede oor ‘n ondersoekende verbruikersprogram wat Dinsdagaand op ‘n Switserse televisiekanaal uitgesaai is. Die beeldmateriaal het uitgeteerde en siek perde gewys wat op plase buite die EU in sommige lande aangehou word wat vleis aan Switserse winkels verskaf.

Die dierebeskermingsvereniging in Zürich het ondersoekbeamptes na Kanada, die VSA, Mexiko en Argentinië gestuur, lande wat groot hoeveelhede perdevleis verskaf, om te ondersoek hoe die diere aangehou, vervoer en geslag word.

“Ons ondersoekbeamptes het gevind dat die perde geteel word in toestande wat nie voldoen aan enige van die norme wat in Switserland en die Europese Unie aanvaar word nie,” het Sabrina Gurtner, die projekleier, gesê.

Coop het nietemin gesê hy sal voortgaan om vars perdevleis te verkoop en het uitgewys dat hy 70% van sy perdevleis van Frankryk ontvang en die ander 30% van Pole.

Switserland se grootse supermarkgroep, Migros, het intussen gesê hy sal geen perdevleis-produkte onttrek nie en sê hy vertrou sy Kanadese verskaffer.

Gedroogde perdevleis-produkte word oor Switserland heen aangetref.

OP: Nuwe ondersoekbeampte aangestel

Riah Phiyega, die nasionale polisiekommissaris, het Donderdag tydens ‘n mediakonferensie in Pretoria gesê die ondersoekbeampte in die moordsaak van die Paralimpiese atleet Oscar Pistorius sal vervang word.

Phiyega het bekendgemaak dat Hilton Botha deur “die mees senior speurder in die SAPD” vervang sal word, het ‘n @Jacanews-twiet gelui.

Die ondersoek sal deur lt.genl. Vinesh Moonoo gelei word.

Dit volg nadat dit Donderdag aan die lig gekom het dat Botha deur sewe aanklagte van poging tot moord in die gesig gestaar word.

Die aanklagte hou verband met ‘n skietvoorval wat plaasgevind het terwyl drie polisiebeamptes, insluitend Botha, na bewering dronk was, het Eyewitness News berig.

Botha het Woensdag in die hof getuig in Pistorius se borgtogaansoek nadat die Paralimpiese atleet aangekla is van die moord op sy meisie, Reeva Steenkamp, by sy huis in Pretoria.

Phiyega het Donderdag gesê die saak sal voortaan op nasionale vlak aandag geniet.

OP: Ondersoekbeampte staan self tereg op moord

Opskudding in die Oscar Pistorius-saak duur voort nadat dit aan die lig gekom het dat die ondersoekbeampte in die saak, adjudant-offisier Hilton Botha, tereg staan op sewe aanklagte van poging tot moord saam met nog twee kollegas in verband met ‘n voorval in 2011.

Botha is gister as die Staat se eerste getuie geroep in Pistorius se borgtogaansoek, berig Eyewitness News.

Botha en drie ander beamptes was na bewering dronk toe hulle ‘n staatsvoertuig bestuur en op ‘n taxi met swart passasiers losgebrand het. Hulle is in 2011 in hegtenis geneem.

Botha, wat die polisie-ondersoek lei na die skietery wat op Valentynsdag in Pistorius se huis plaagevind het, en die twee ander beamptes sal in Mei in die hof verskyn.

Die polisie het bevestig dat Botha in verband met die skietery in hegtenis geneem is. Die aanklagte is aanvanklik laat vaar, maar is intussen weer heropen.

Neville Malila, polisiewoordvoerder, het gesê Botha is gekies om die Pistorius-saak te hanteer omdat hy ‘n ervare speurder is en daar is geen planne is om hom van die ondersoek te onttrek nie.

Die hofverrigtinge hervat vandag om 11:00.

Die Paralimpiese atleet Oscar Pistorius het gevra dat ‘n Bybel na hom gebring word, het sy oom, Arnold, in ‘n onderhoud gesê.

“Carl en Aimee (Pistorius se broer en suster) het gesê hulle sit saam met hom en dat hy veral baie die Bybel lees, soos sy ma hom geleer het,” het Arnold Woensdagaand in ‘n onderhoud met die eNCA-nuuskanaal gesê.

Volgens Arnold het die ster-atleet eers Dinsdag weer begin eet.

Arnold het gesê dit is ‘n moeilike tyd vir die familie, maar hulle staan bankvas agter die atleet.

Hy het ook sy kommer uitgespreek oor wat hy as Pistorius se “openbare verhoor” beskryf.

“Die saak gaan aan en jy kan oordeel vir jouself… die waarheid sal seëvier.”

Arnold het gesê die Pistorius-familie was in kontak met die Steenkamps, maar respekteer hul verlies en privaatheid.

Op die vraag oor bewerings dat Pistorius ‘n geskiedenis van geweld het, het Arnold die atleet as ‘n “vredemaker” beskryf.

Pistorius is in erge skok en rou in die “emosioneel moeilike tyd,” het sy oom gesê.

“Die wêreld sal ‘n ander Oscar sien; niemand kan weer dieselfde wees ná so ‘n tragedie nie, maar hy sal weer opstaan en beter as ooit wees.”

Steenkamp is Dinsdag tydens ‘n private diens in Port Elizabeth veras.

Die “testosteroon” wat in die atleet se huis gevind is, was ‘n kruiemiddel en nié ‘n verbode middel nie, het sy advokaat, Barry Roux, Woensdag in die Pretoriase landdroshof gesê.

“Dit is ‘n kruiemiddel. Dit is nie ‘n steroïed nie en dit is ook nie ‘n verbode middel nie,” het Roux gesê.

Ao. Botha, het vroeër getuig dat ‘n boks testosteroon en naalde in ‘n boks onder ‘n TV in Pistorius se huis gevind is. Die New York Times se swart verslaggewer het die vonds as “verbode middels” in ‘n voorbladberig beskryf.

Die polisie het nog nie die middels laat toets nie, het Ao. Botha bevestig. Botha getuig vir die staat, wat Pistorius se borgtog teenstaan.

Internasionale Moedertaaldag!

Namhlanje lusuku lokubhiyozelwa kwelwimi zomthonyama.

Dit is isiXhosa vir: “Vandag is Internasionale Dag van Moedertaal”, ‘n Unesco-gebeurtenis gemik op die bevordering van taalkundige en kulturele diversiteit.

Maar meer moet gedoen word om inheemse tale te kry op dieselfde vlak as Engels en Afrikaans, sê dr. Paula Gains, ‘n navorsings- en ontwikkelingskonsultant vir die Molteno Instituut vir Taal en Geletterdheid.

Die tema vir vanjaar se Internasionale Dag van Moedertaal is “moedertaalonderrig en inklusiewe onderwys”.

“Leer in ‘n taal wat hulle kan verstaan ​​is noodsaaklik vir kinders om hul reg tot gehalte-onderwys te geniet. Moedertaal en veeltalige onderwys is die sleutel tot die vermindering van diskriminasie, die bevordering van insluiting en die verbetering van leeruitkomste vir almal,” lui die Unesco-verklaring.

Gains sê navorsing het aangedui dat kinders beter presteer op skool wanneer die basiese begrippe wat in die grondslagfase bekendgestel word, “gegrond is in huistale”.

“In vergelyking met Engels en Afrikaans, is Afrikatale ver agter in terme van die nodige hulpbronne soos die literatuur en handboeke sowel as onderwysers wat vaardig [genoeg] is om hulle te leer,” sê Gains.

“Maar Suid-Afrika het die tersiêre instellings en akademici beskikbaar om hierdie situasie om te keer, maar net as die politieke wil en finansiële steun bestaan ​​om dit te doen.”

Sy het gesê, omdat daar so min inheemse taalonderrigmateriaal in die land is, is baie ouers geneig om hul kinders te stuur na Engels-medium skole.

In ‘n onlangse studie in Kameroen is bevind dat kinders wat in hul huistaal geleer het beter presteer as dié wat in Engels onderrig is in lees en wiskunde.

Breadline-Africa het  beaam dat ontsettend belangrik is. “Taal is van kritieke belang,” sê Puleng Phooko, projekbestuurder van dié nie-winsgewende organisasie wat armoede bestry.

Volgens Unesco sal, as niks gedoen word nie, die helfte van die meer as 6000 tale vandag teen die einde van die eeu verdwyn.

“Met die verdwyning van ongeskrewe en ongedokumenteerde tale, sal die mensdom net ‘n kulturele rykdom verloor nie, maar ook belangrike voorvaderlike kennis ingebed, in die besonder in inheemse tale, inboet,” het Unesco gesê.

Volgens Unesco is inheemse tale in sub-Sahara Afrika en Suid-Amerika van die mees bedreigde tale.

Tsjeggië ontdek ook perdevleis

Die Tsjeggiese Republiek het die jongste land geword waar perdevleis in voedselprodukte wat as beesvleis gemerk is, gevind is.

Die ontdekking, wat deur die staatbeheerde Tsjeggiese Landbou- en Voedselinspeksie-owerheid gemaak is, is die eerste in dié land sedert soortgelyke gevalle in ander lande aangemeld is.

Die owerheid het Woensdag gesê DNS-toetse het bewys dat daar perdevleis in lasagne-bolognaise is wat deur die maatskappy Tavola S.A. Comigel vervaardig is en by ‘n Tesco-winkel in die westelike stad Plzen verkoop is.

Tesco is beveel om die kos te herroep en toetse duur voort.

Perdevleis is in verskeie voedselprodukte in Europa gevind, soos in burgers, lasagne, pastasous, op spyskaarte van restaurante, in skooletes en selfs in hospitaaletes.

Frankryk waarsku sy burgers om Kameroen te verlaat

Frankryk het Woensdag sy burgers wat in die mees noordelike deel van Kameroen woon aangeraai om die gebied “so vinnig as moontlik” te verlaat ná die ontvoering van ‘n Franse familie van sewe.

Die ministerie van buitelandse sake het verder ook gewaarsku teen reis in die gebied waar Kameroen aan Nigerië en Tsjad grens.

Die ontvoering van die Moulin-Fournier-gesin hou verband met Frankryk se ses-weke lange militêre veldtog om Islamitiese ekstremiste uit die noorde van Mali te verdryf, het Jean-Yves Le Drian, die minister van verdediging, gesê.

“Hierdie is groepe wat gehoor gee aan dieselfde fundamentalisme, wat dieselfde metodes het, van Mali tot in Somalië en Nigerië… Hulle wil ‘n wettelose sone tussen die Golf van Guinee en Soedan skep,” het LeDrian gesê.

Altesaam 15 Franse burgers is reeds in Afrika ontvoer. Sewe mense word in die Sahel-streek aangehou deur militante groepe wat bande met Al-Kaïda het en een is deur Ansaru, wat in Nigerië opereer, ontvoer.

Die drie volwassenes en vier kinders is vroeg Dinsdag ontvoer terwyl hulle op ‘n reis in die Waza Nasionale Park in die verre noorde van Kameroen was. Hulle is daarna oor die grens geneem.

Eskom-verhogings sal landbou knou

Die staatsbeheerde Eskom se voorgestelde tariefverhoging sal ‘n negatiewe uitwerking hê op die landboubedryf, het die Food and Allied Workers’ Union (Fawu) in ‘n verklaring gesê.

“Ons het vasgestel dat die reuse-styging in elektrisiteitspryse ‘n negatiewe uitwerking sal hê op die kostestruktuur, nie net vir vervaardigers nie, maar ook vir boere,” lui die verklaring.

Die vakbond het gesê boere het dus geen keuse om werkers af te lê om kostes te besnoei nie.

“Ons doen ‘n beroep op die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) om nie Eskom se belaglike versoek toe te staan nie.”

Nersa het vroeër vandeesmaand openbare verhore gehou oor die voorgestelde tariefverhogings.

Eskom het gevra vir ‘n jaarlikse tariefverhoging van 16% oor die volgende vyf jaar.

Die Minister van Openbare Ondernemings, Malusi Gigaba, het met rolspelers in Eskom se Medupi-kragstasie gesprek gevoer om ‘n ooreenkoms te bereik sodat die konstruksiewerk op Lephalale hervat kan word.

Gigaba se woordvoerder, Richard Mantu, sê die minister is van mening dat dit van die uiterste belang is om die situasie by Medupi te stabiliseer en te verseker dat konstruksiewerk onmiddellik hervat kan word.

Hy sê nog vertragings sal ‘n nadelige invloed op die ekonomie hê. Ses-en-veertig werkers is Vrydag by die kragstasie in hegtenis geneem na gewelddadige betogings.

Eskom het die kragstasie verlede maand gesluit toe kontrakwerkers begin staak het. Konstruksiewerk is ook ontwrig toe werkers in September verlede jaar ophou werk het.