Die Tsjeggiese Republiek het die jongste land geword waar perdevleis in voedselprodukte wat as beesvleis gemerk is, gevind is.
Die ontdekking, wat deur die staatbeheerde Tsjeggiese Landbou- en Voedselinspeksie-owerheid gemaak is, is die eerste in dié land sedert soortgelyke gevalle in ander lande aangemeld is.
Die owerheid het Woensdag gesê DNS-toetse het bewys dat daar perdevleis in lasagne-bolognaise is wat deur die maatskappy Tavola S.A. Comigel vervaardig is en by ‘n Tesco-winkel in die westelike stad Plzen verkoop is.
Tesco is beveel om die kos te herroep en toetse duur voort.
Perdevleis is in verskeie voedselprodukte in Europa gevind, soos in burgers, lasagne, pastasous, op spyskaarte van restaurante, in skooletes en selfs in hospitaaletes.
