Anton van Niekerk tokkel weer sy een snaar

Soos die nie-intellektueel Desmond Tutu wil Anton van Niekerk graag in die kalklig wees, maar as intellektueel. Albei is hoogs ingenome met die sogenaamde demokratiese rewolusie wat ons beleef het. Onlangs (13 April, p 9) het Van Niekerk ‘n forum-artikel in Die Burger onder die opskrif, “Uit die DNS van geloof”, gepubliseer. In hoe ‘n mate hy eerder teoloog as wysgeer is, blyk uit die teks. Dit gaan om die deur hom reeds snuifgetrapte onderwerp van die verskil tussen religieuse en wetenskaplike kennis. Nêrens kom die rol van die wysbegeerte ter sprake nie.

Wat hinder, is die hoogte vanwaar Van Niekerk met die koerantlesers praat. Hy is ‘n orakel in volle swang. Hy begin met sy geliefkoosde belediging, naamlik dat “die Afrikaners” met hulle idees 200 tot 250 jaar agter die Europeërs se denke is. Heel voorspelbaar wyt hy dit aan “die outoritêre onderdrukking van die oop gesprek in die apartheidsjare en daarvóór in Suid-Afrika,” dus toe wittes aan die bewind was.

Hy betoog voorts dat gelowiges hulle godsdiens moet aanpas, dit “laat resoneer met die tydgees.” Die Bybel moet hervertolk word. Tutu en ander bevrydingsteoloë, soos van Van Niekerk se kampuskollegas, is klaarblyklik in die kol met hulle verpolitiseerde geloof. Fundamentalisme is volgens Van Niekerk ‘n onding, want geloof word tot bygeloof verwater. As by wetenskaplike waarheid gesweer word, word dit ook ‘n fundamentalistiese ideologie. Van Niekerk dink blykbaar dat hy en die bevrydingsteoloë bo hierdie fundamentalisme verhewe is.

Van Niekerk kan homself egter nie daartoe beweeg om sy vooroordele teen sy eie etniese groep, die wittes en veral die Afrikaners, af te skud nie. Nog minder kan hy krities oor die destuktiewe gevolge van die bevrydingsteoloë se gedrag besin. Hy soek die sondebokke elders, naamlik by die wittes en by voorkeur by die Afrikaners.

Teen die einde van sy artikel vind Van Niekerk, soos gebruiklik, sy uitvlug in “die misterie”. Nêrens toon hy aan dat naas enersyds religieuse geloof, waarvoor die nie-ontwikkeldes intuïtief vatbaar is, en andersyds wetenskaplike kennis, waartoe ontwikkelde, rasionele mense aangetrokke voel, laasgenoemdes ook by wysgerige insigte kan baat op die terreine waar die wetenskap hom nie kan laat geld nie.

Les bes noem Van Niekerk, by implikasie, die Universiteit Stellenbosch in sy huidige gedaante ‘n universiteit en die nuwe Suid-Afrika ‘n ware demokrasie. Albei aannames is aanvegbaar.

Volgens Van Niekerk is nie alle Afrikaners twee eeue en langer agtergeblewe nie. In ‘n verdere forum-artikel in Die Burger (17 April, p 13) skryf hy tot lof van Sampie Terreblanche: “‘n stem teen ongeregtigheid,” “dié herout van die Afrikaner se sosiale gewete,” “the trumpeter of his time.” Terreblanche se “kompromislose stem van protes teen die diepgewortelde skreiende institusionele ongeregtigheid van Suid-Afrika se sosiaal-politieke en veral ekonomiese orde het oor die jare getrompetter in die verhaal van ons uiteindelike wegdraai van die waarsin van apartheid en in die rigting van ‘n regverdiger samelewing.” Hier is Van Niekerk in sy element. Hy stapel sy woorde op teen apartheid, wat ‘n metoniem vir veral die Afrikaner is (soos Dan Roodt onlangs uitgewys het), op ‘n wyse wat hy nooit teen nie-wittes en veral swartes en die nuwe Suid-Afrika sal doen nie.

Armoede word “die speerpunt van die immoraliteit van apartheid” genoem. Apartheid het na bewering die bruines “sosiaal gekondisioneer om arm te wees.” Die Bybel noem egter dat die armes altyd met ons sal wees. Sou dit altyd (net) vanweë apartheid wees? Het die veelgeroemde demokratiese rewolusie in die nuwe Suid-Afrika armoede noemenswaardig verlig? Terreblanche het ‘n broertjie dood aan kapitalisme omdat dit glo die herverdeling van rykdom verhinder. Impliseer dít ongeregtigheid of is dit veeleerder onregverdig as mense sonder teenprestasie hulle geregtig op allerhande voordele uit die staatskas ag?

Ten slotte loof Van Niekerk Terreblanche se “ensiklopediese kennis van die geskiedenis.” Maar die voorbeeld wat hy ter illustrasie uitsonder, wek twyfel. Jan Smuts se denke oor raspolitiek is volgens Terreblanche glo soortgelyk aan dié van FW de Klerk, naamlik daardie mooi klinkende vaagheid: “‘Kom ons soek die dinge wat ons verbind, en nie wat ons skei nie … ‘Ja,’ sê Terreblanche dan, ‘sê nou net Smuts het in 1948 gewen. Hoe sou Suid-Afrika vandag gelyk het?'” Dit is die ou, ou tyding: Alles sou beter gewees het as die Afrikaners nie aan die bewind gekom het nie. Maar as hier werklik van ensiklopediese historiese kennis sprake was, sou Terreblanche en Van Niekerk geweet het dat daar groot eenstemmingheid in gesaghebbende historiese bronne is dat Smuts, veral wat raspolitiek betref, geen raad met Suid-Afrika gehad het nie.

Polisie registreer nie Kovsie-verkragting nie

Die Kovsie-student wat verkrag is, is nie behoorlik behandel by die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein nie. Haar vriend is intussen ontslaan. Die kapers en verkragters is nog op vrye voet, berig Volksblad.

Volksblad het navrae per e-pos gestuur aan die woordvoerder van die Vrystaatse gesondheidsdepartement, Mondli Mvambi, oor beweerde swak diens wat die student by die Tshepong Thuthuzela-sentrum vir onder meer verkragtingslagoffers by die Nasionale Hospitaal gekry het.

Volgens haar is die nodige toetse om forensiese bewyse te versamel eers gedoen nadat sy en haar familie daarop aangedring het. In die proses het heelwat tyd verloop en kon bewysmateriaal verlore gegaan het.

‘n Kapmes is opgetel op die plek waar sy en haar vriend gekaap is, maar polisiebeamptes wou dit nie aanvaar nie.

Die polisie het slegs die kaping geregistreer, maar nog steeds nie die verkragting nie.

Die bende wat vir hulle nagmerrie verantwoordelik is, het na bewering intussen ‘n tweede en derde keer toegeslaan kort nadat die twee gekaap is en die jong vrou daarna verskeie kere verkrag is.

Die polisie het gister bevestig hulle ondersoek ‘n moontlike verband tussen die kaping en verkragting van die student en twee soortgelyke voorvalle van kaping en verkragting wat oor die naweek plaasgevind het.

Die 18-jarige Kovsie se 22-jarige vriend, albei van Bloemfontein, is Donderdagaand in die Bloemfonteinse woonbuurt Vistapark gekaap, en die man vir dood agtergelaat.

Die kapers met die meisie in die gekaapte bakkie gevlug en haar tot Vrydag in die vroeë oggendure verskeie kere verkrag.

 

 

BP wil groot in SA belê

BP sal nagenoeg R5 miljard in Suid-Afrika belê as ‘n gebaar van vertroue in die rigting waarin die land beweeg, het dié energiemaatskappy Dinsdag gesê.

“Met die verbeterende klimaat vir beleggers, veral die stabiliteit in beleid… wat in Suid-Afrika gesien word, het BP besluit om ‘n noemenswaardige belegging te maak tot die voordeel van al die belanghebbendes,” het British Petroleum (BP) se uitvoerende hoof, Iain Conn, aan verslaggewers in Johannesburg gesê.

“Dis vir my ‘n groot plesier om aan te kondig dat BP meer as R5 miljard in Mosambiek en Suid-Afrika gaan belê oor die volgende vyf jaar, beginnende in 2013, wat nuwe aanlegte en infrastruktuuropgradering sal insluit.”

Die belegging sal uit BP se kontantreserwes befonds word. Conn het gesê R800 miljoen sal belê word in Mosambiek, en R4,7 miljard in Suid-Afrika.

Altesaam R2,5 miljard sal belê word in die opgradering van infrastruktuur by die Sapref-raffinadery, die maatskappy se projek saam met Shell in KwaZulu-Natal.

Meer as R1 miljard sal ook belê word in aanlegte in Suid-Afrika en Mosambiek.

Die res van die geld sal in die “kleinhandelnetwerk” belê word.

“Ons vind die vooruitgang bemoedigend wat in Suid-Afrika en Mosambiek gemaak word om ‘n omgewing van sekerheid oor beleid en kontinuïteit vir alle ekonomiese aktiwiteite te skep,” het Conn gesê.

Stakings kry momentum

‘n Geraamde 25 000 lede van die onderwysvakbond Sadou sal vandag aan betogings in Pretoria en Kaapstad deelneem. Die vakbond sê hy wil die druk verskerp op die minister van Basiese Onderwys, Angie Motshekga en haar direkteur-generaal Bobby Soobrayan om te bedank.

Die departement en die vakbond kon vroeër nie ooreenstemming bereik oor die wettigheid al dan nie, van die staking nie. Die departement sê onderwysers wat aan die staking deelneem, kan tugstappe in die gesig staar en die reël van geen werk- geen betaling sal geld.

Die Wes-Kaapse minister van Onderwys, Donald Grant het vroeër Sadou se oproep op leerlinge om aan die betoging deel te neem, ten sterkste veroordeel.

Grant sê dit is onverantwoordelik van onderwysers om leerlinge aan te moedig om aan die betoging deel te neem. Hy het gesê leerlinge moet dié oproep ignoreer en skool toe gaan. Grant sê sy departement het maatreëls ingestel om die belange van leerlinge te beskerm.

Die landwye busbestuurderstaking gaan vandag verdere momentum kry. In Kaapstad word verskeie betogings regdeur die Skiereiland beplan waar bestuurders op ‘n verhoging van 18 persent aandring.

Lede van SATAWU en geaffileërde vakbonde het Vrydag ophou werk nadat ‘n dooiepunt in die salaris-onderhandelings bereik is.

Die bestuur bied 6,5 persent aan. Die voorsitter van SATAWU in die Wes-Kaap – Wayne Louw – sê hulle sal met die staking voortgaan totdat daar aan al hul eise voldoen is.

Herkapitalisering dui op grondhervorming-mislukking

Die mislukking van die regering se herverdelingsprogram van plase aan swart eienaars is opnuut onderstreep met die aankondiging van die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming dat hy beoog om vanjaar 730 van die plase te herkapitaliseer.

Die minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, Gugile Nkwinti, het verlede jaar reeds erken dat 90% van die herverdeelde plase mislukkings is.

Tot dusver het die regering die skuld vir die mislukte program op die boere gepak deur te sê plase is in ‘n swak toestand wanneer swart boere dit oorneem aangesien wit eienaars ophou om daaraan aandag te gee wanneer ‘n geldige grondeis ingestel word.

Mnr. Pieter Groenewald, die Vryheidsfront Plus se woordvoerder oor landelike ontwikkeling en grondhervorming, sê die realiteit is dat die regering weens onbeholpenheid die oordragtydperk laat sloer, en dat banke nie geld aan boere wil leen terwyl daar ‘n eis op die plaas is nie.

“Dit sal noodwendig daartoe lei dat die plaas agteruit sal gaan. Daar is van staatskant ook nie genoeg ondersteuning vir nuwe swart boere om ‘n sukses van hul onderneming te maak nie,” sê mnr. Groenewald.

Die regering het die afgelope twee jaar sowat R826 miljoen uitbetaal aan die herkapitalisering van plase wat misluk het.

Verlede jaar is sowat R550 miljoen bestee teenoor die R276 miljoen van die vorige boekjaar.

‘Ons steel krag!’

“Ja ons steel krag!” Dit was die openlike reaksie van inwoners van die Tswaing gemeenskap tydens ‘n sitting van die Tshwane metroraad se petisiekomitee die afgelope week.

Drie mans wat ‘n petisie namens die gemeenskap aan die raad oorhandig het oor krag en water wat nie aan hulle voorsien word nie, het tydens hierdie sitting openlik aan die petisie komitee erken dat hulle krag onwettig aangelê het en die krag steel.

Die streeksleier van die VF Plus in Pretoria en leier in die raad, Raadslid Philip Van Staden, het in hierdie komitee daarop aangedring dat die metropolisie dadelik hierdie mans in hegtenis moet neem en dat hulle van kriminele oortredings aangekla moet word. “Mnr die voorsitter, raadslede is daar om die eiendom en belange van die stad te beskerm. Krag diefstal is ‘n kriminele oortreding en die VF plus verwag dat hierdie drie mans nou dadelik gearresteer moet word”.

Die ANC voorsitter van die komitee het egter net die drie mans gewaarsku om dadelik die krag te ontkoppel en dat hulle dit nie weer moet waag om met so ‘n petisie voor die raad se komitee te verskyn nie. Hy het genoem dat die komitee weer na die saak sal kyk sodra die krag ontkoppel is.

“Hierdie waarskuwing wat die ANC voorsitter aan die mans gerig het, dui daarop dat diefstal en kriminele aktiwiteite nie ernstig genoeg opgeneem word nie en dat ‘n hou op die hand al straf is wat hulle ooit gaan kry. Dit is jammer dat die ANC so ‘n houding inneem want dit gaan die boodskap regdeur die stad uitstuur dat kragdiefstal en ander kriminele oortredings toegelaat word”, sê Raadslid Philip Van Staden.

Merkel waarsku EU om in te val by Duitsland

Duitse kanselier Angela Merkel het Maandag gesê Eurosonelidlande moet bereid wees om beheer oor sekere beleidskwessies te sedeer aan die EU sodat die blok werklik sy skuldkrisis te bowe kan kom en buitelandse beleggers kan teruglok.

Merkel het ook haar benadering tot die krisis teen kritici verdedig wat beweer sy het te veel klem geplaas op soberheid, en gesê Europa moet ‘n manier vind om groei en soliede finansies te kweek.

Die kommentaar het gekom twee maande voor die Europese leiers in Brussel ‘n sogenaamde “fiskale unie” sal bespreek.

“Ons moet gemeenskaplike oplossings vind wanneer ons oor die afgrond staar,” het Merkel gesê. “Maar so gou as die druk verlig, sê mense weer hulle wil hul eie gang gaan.

“Ons moet bereid wees om te aanvaar dat Europa die laaste woord oor sekere aangeleenthede is. Anders sal ons nie in staat wees om voort te gaan om Europa te bou nie,” het sy bygevoeg.

“Ons hoef nie ons nasionale praktyke op te gee nie, maar ons moet versoenbaar wees,” het Merkel gesê. “Dit is nou chaos.”

“Ons moet bereid wees om te breek met die verlede om vorentoe te beweeg en ek is gereed om dit te doen,”hetsy afgelsuit.

Swart provinsies verkies Engels as onderrigtaal

Byna tweederdes van leerlinge in die land verkies Engels as onderrigtaal, maar die taal het maar die vierde meeste sprekers. Engels is ook al lankal nie meer ‘n wit taal nie, sê die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhouding.

‘n Navorser aan die SAIRV het gesê 64% van die skoolbevolking van 11,5 miljoen het in 2010 verkies om in Engels onderrig te word, maar dit is slegs 7% van leerlinge (859 896) se huistaal.

Engels word veral verkies in KwaZulu-Natal (1,5 miljoen), Gauteng (1,3 miljoen), die Oos-Kaap (1,3 miljoen) en Limpopo (1,1 miljoen), waar groot konsentrasies swart leerlinge is.

Volgens hom weerspieël dit die globale neiging na Engels as voorkeurtaal.

Lees meer hier:

Diensleweringsopstand in Soweto eis een

In oproer dié naweek in Soweto is ‘n KFC oorkant die Elias Mo­tsoaledi-plakkerskamp afgebrand en een mens dood. Inwoners sê die munisipaliteit skeep hulle af, terwyl ander gebiede voorkeur kry.

Die betogings het Saterdagaand in geweld ontaard. Twee minibustaxi’s en ‘n bakkie is ook aan die brand gesteek.

‘n Groot polisieteenwoordigheid in die omgewing is ontplooi om hernude onluste te voorkom.

‘n Woordvoerder van die JMPD, Edna Mamonyane, het bevestig dat die Metropolisie die gebied monitor.

Die hele Gautengse polisiediens is gemobiliseer, het Beeld berig. Die onrus­gebied word deur gewapende lede van die polisie se taktiese reaksie-eenheid, polisielede in gepantserde voertuie en metropolisielede gepatrolleer.

Inwoners van die plakkerskamp is ontevrede oor ‘n gebrek aan lopende water en elektrisiteit asook huisvesting.