BP sal nagenoeg R5 miljard in Suid-Afrika belê as ‘n gebaar van vertroue in die rigting waarin die land beweeg, het dié energiemaatskappy Dinsdag gesê.
“Met die verbeterende klimaat vir beleggers, veral die stabiliteit in beleid… wat in Suid-Afrika gesien word, het BP besluit om ‘n noemenswaardige belegging te maak tot die voordeel van al die belanghebbendes,” het British Petroleum (BP) se uitvoerende hoof, Iain Conn, aan verslaggewers in Johannesburg gesê.
“Dis vir my ‘n groot plesier om aan te kondig dat BP meer as R5 miljard in Mosambiek en Suid-Afrika gaan belê oor die volgende vyf jaar, beginnende in 2013, wat nuwe aanlegte en infrastruktuuropgradering sal insluit.”
Die belegging sal uit BP se kontantreserwes befonds word. Conn het gesê R800 miljoen sal belê word in Mosambiek, en R4,7 miljard in Suid-Afrika.
Altesaam R2,5 miljard sal belê word in die opgradering van infrastruktuur by die Sapref-raffinadery, die maatskappy se projek saam met Shell in KwaZulu-Natal.
Meer as R1 miljard sal ook belê word in aanlegte in Suid-Afrika en Mosambiek.
Die res van die geld sal in die “kleinhandelnetwerk” belê word.
“Ons vind die vooruitgang bemoedigend wat in Suid-Afrika en Mosambiek gemaak word om ‘n omgewing van sekerheid oor beleid en kontinuïteit vir alle ekonomiese aktiwiteite te skep,” het Conn gesê.
