‘n Geraamde 25 000 lede van die onderwysvakbond Sadou sal vandag aan betogings in Pretoria en Kaapstad deelneem. Die vakbond sê hy wil die druk verskerp op die minister van Basiese Onderwys, Angie Motshekga en haar direkteur-generaal Bobby Soobrayan om te bedank.
Die departement en die vakbond kon vroeër nie ooreenstemming bereik oor die wettigheid al dan nie, van die staking nie. Die departement sê onderwysers wat aan die staking deelneem, kan tugstappe in die gesig staar en die reël van geen werk- geen betaling sal geld.
Die Wes-Kaapse minister van Onderwys, Donald Grant het vroeër Sadou se oproep op leerlinge om aan die betoging deel te neem, ten sterkste veroordeel.
Grant sê dit is onverantwoordelik van onderwysers om leerlinge aan te moedig om aan die betoging deel te neem. Hy het gesê leerlinge moet dié oproep ignoreer en skool toe gaan. Grant sê sy departement het maatreëls ingestel om die belange van leerlinge te beskerm.
Die landwye busbestuurderstaking gaan vandag verdere momentum kry. In Kaapstad word verskeie betogings regdeur die Skiereiland beplan waar bestuurders op ‘n verhoging van 18 persent aandring.
Lede van SATAWU en geaffileërde vakbonde het Vrydag ophou werk nadat ‘n dooiepunt in die salaris-onderhandelings bereik is.
Die bestuur bied 6,5 persent aan. Die voorsitter van SATAWU in die Wes-Kaap – Wayne Louw – sê hulle sal met die staking voortgaan totdat daar aan al hul eise voldoen is.
