Herkapitalisering dui op grondhervorming-mislukking

Die mislukking van die regering se herverdelingsprogram van plase aan swart eienaars is opnuut onderstreep met die aankondiging van die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming dat hy beoog om vanjaar 730 van die plase te herkapitaliseer.

Die minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, Gugile Nkwinti, het verlede jaar reeds erken dat 90% van die herverdeelde plase mislukkings is.

Tot dusver het die regering die skuld vir die mislukte program op die boere gepak deur te sê plase is in ‘n swak toestand wanneer swart boere dit oorneem aangesien wit eienaars ophou om daaraan aandag te gee wanneer ‘n geldige grondeis ingestel word.

Mnr. Pieter Groenewald, die Vryheidsfront Plus se woordvoerder oor landelike ontwikkeling en grondhervorming, sê die realiteit is dat die regering weens onbeholpenheid die oordragtydperk laat sloer, en dat banke nie geld aan boere wil leen terwyl daar ‘n eis op die plaas is nie.

“Dit sal noodwendig daartoe lei dat die plaas agteruit sal gaan. Daar is van staatskant ook nie genoeg ondersteuning vir nuwe swart boere om ‘n sukses van hul onderneming te maak nie,” sê mnr. Groenewald.

Die regering het die afgelope twee jaar sowat R826 miljoen uitbetaal aan die herkapitalisering van plase wat misluk het.

Verlede jaar is sowat R550 miljoen bestee teenoor die R276 miljoen van die vorige boekjaar.

Maak 'n opvolg-bydrae