Polisie registreer nie Kovsie-verkragting nie

Die Kovsie-student wat verkrag is, is nie behoorlik behandel by die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein nie. Haar vriend is intussen ontslaan. Die kapers en verkragters is nog op vrye voet, berig Volksblad.

Volksblad het navrae per e-pos gestuur aan die woordvoerder van die Vrystaatse gesondheidsdepartement, Mondli Mvambi, oor beweerde swak diens wat die student by die Tshepong Thuthuzela-sentrum vir onder meer verkragtingslagoffers by die Nasionale Hospitaal gekry het.

Volgens haar is die nodige toetse om forensiese bewyse te versamel eers gedoen nadat sy en haar familie daarop aangedring het. In die proses het heelwat tyd verloop en kon bewysmateriaal verlore gegaan het.

‘n Kapmes is opgetel op die plek waar sy en haar vriend gekaap is, maar polisiebeamptes wou dit nie aanvaar nie.

Die polisie het slegs die kaping geregistreer, maar nog steeds nie die verkragting nie.

Die bende wat vir hulle nagmerrie verantwoordelik is, het na bewering intussen ‘n tweede en derde keer toegeslaan kort nadat die twee gekaap is en die jong vrou daarna verskeie kere verkrag is.

Die polisie het gister bevestig hulle ondersoek ‘n moontlike verband tussen die kaping en verkragting van die student en twee soortgelyke voorvalle van kaping en verkragting wat oor die naweek plaasgevind het.

Die 18-jarige Kovsie se 22-jarige vriend, albei van Bloemfontein, is Donderdagaand in die Bloemfonteinse woonbuurt Vistapark gekaap, en die man vir dood agtergelaat.

Die kapers met die meisie in die gekaapte bakkie gevlug en haar tot Vrydag in die vroeë oggendure verskeie kere verkrag.

 

 

Maak 'n opvolg-bydrae