Botswana se president in onderonsie met jagluiperd

Ian Khama, president van Botswana, moes twee steke aan sy gesig kry nadat ‘n jagluiperd hom gekrap het, het ‘n regeringswoordvoerder Maandag gesê.

Die voorval het verlede week by ‘n weermagbasis plaasgevind, het Jeff Ramsay aan AFP gesê.

“Hy is verlede week deur ‘n jagluiperd gekrap, maar is nie aangeval nie,” het Ramsay gesê.

Bewaarders was besig om die jagluiperd in ‘n omheinde kamp naby Khama te voer. Die dier het daarna die president aan sy gesig gekrap.

Khama is nie in ‘n hospitaal opgeneem nie, maar het behandeling ontvang.

Ramsay het bygevoeg dat die presidensie nie onmiddellik ‘n verklaring uitgereik het nie omdat dit ‘n geringe besering was.

Polisie vas wat koperkabels steel

Twee polisiebeamptes is in Noordwes in hegtenis geneem nadat hulle met koperkabels wat na bewering gesteel is, betrap is het OFM berig.

Polisiewoordvoerder Thulani Ngubane het gesê die twee beamptes is in Stilfontein naby Klerksdorp in hegtenis geneem.

Solomon Nkoe en Johan Dunhin het glo 28,4 kilogram koperkabel aan ‘n skrootwerf verkoop.

Die eienaar van die skrootwerf begin bekommer toe sy werkers hom vertel dat die kabels van polisiebeamptes gekoop is. Hy het die polisie in kennis gestel.

Die twee het laat Saterdagmiddag in die landdroshof op Stilfontein verskyn, en is borgtog van R500 elk toegestaan.

Hulle sal na verwagting volgende maand weer in die hof verskyn.

Eis teen Transnet namens pensioenarisse

‘n Jare-lange stryd wat die Vryheidsfront Plus (VF Plus) namens pensioenarisse van Transnet voer om vergoed te word vir skade wat lede van die pensioenfondse oor die laaste twintig jaar gely het weens vermeende wanadministrasie van die fondse, het nou gelei tot die indien van die grootste siviele eis in Suid-Afrika se regsgeskiedenis teen Transnet en die regering.

Die VF Plus het na talle navrae en vergaderings met Transnet-pensioenarisse die afgelope jare onderneem om die onreg wat hulle aangedoen is, polities en juridies te behandel en te probeer oplos.

Die VF Plus het die eerste deel van die onderneming nagekom, naamlik om Transnet en die regering hof toe te neem vir die skade wat sy pensioenarisse gely het. ‘n Siviele eis is op Vrydag (26 April 2013) by die hooggeregshof in Pretoria ingedien.

Wat die saak soveel meer geskiedkundig maak, word onderstreep deur die volgende:

1. Die eis beloop bykans R90 miljard. Dit is die grootste regseis in die geskiedenis van Suid-Afrika en natuurlik ook die grootste klasaksie ooit;

2. Die omvang van die saak is duidelik as in ag geneem word dat dit ‘n eis is met twee keer die waarde van die wapentransaksie;

3. Die eis kan Transnet finansieel knak en net die indien daarvan kan lei tot ‘n ernstige afwaartse afgradering van Transnet se kredietstatus en bes moontlik ook die van die staat self;

4. Die eis spruit voort uit waarskynlik die grootste vermeende bedrog nog gepleeg in ‘n pensioenfonds;

5. Die eis raak 66 000 pensioentrekkers en hulle afhanklikes waarvan 62% tans minder as R2 500 ‘n maand kry.

Die VF Plus gaan aankondig wat die binne-parlementêre strategie sal wees aanvullend tot die juridiese noudat die saak by die hooggeregshof aanhangig gemaak is.

Bedreiging vir eiendomsreg

‘n Wet wat sal toelaat dat die staat op privaateiendom beslag kan lê is nader as wat talle besef.

Môre is die sperdatum vir openbare kommentaar op die Wetsontwerp op Onteiening, wat aan die minister van Openbare Werke verreikende magte gee om privaateiendom te onteien. Dit mag wissel van huise tot sakepersele, en selfs aandele en ander beleggings – “in die openbare belang”.

Kritici van die voorgestelde wetgewing sê dit is vaag en kan die land se beleggingsvertroue erg knou.

Maar gister het die adjunk-minister van Openbare Werke Jeremy Cronin aan The Times gesê dat die wetsontwerp “sin maak” in die konteks van Suid-Afrika se “historiese werklikheid”.

Deel van daardie werklikheid is Saterdag herbesoek toe tienduisende lede van die Zion Christian Church in Pretoria vergader het om die inwerkingtreding van die Onteieningswet van 1913 te herdenk.

Die wet word allerweë beskou as die sneller van ‘n reeks wette van onteiening wat later tot die apartheid-stelsel gelei het, en wat swart Suid-Afrikaners se vaste eiendomsbates “geskeduleer het vir swart gebiede”.

Cronin het gesê die wetsontwerp sou beter geskik gewees het vir grondhervorming as die huidige Onteieningswet, wat terug dateer na 1975.

Hy het gesê die regering sal nie “sommer” onteien nadat die wetsontwerp ingestel is nie.

Maar Manus Booysen, ‘n vennoot by die prokureursfirma Webber Wentzel, het gewaarsku dat die wetsontwerp, indien dit in sy huidige vorm bly, “ernstige gevolge vir eiendomsreg” inhou.

Respek vir eiendom en die beskerming van intellektuele eiendom is gelys onder die land se sterk punte in die Wêreld Ekonomiese Forum se Global Competitiveness Report vir 2013.

Suid-Afrika het 26 onder 144 lande gekom vir die beskerming van eiendomsreg en 20ste op die beskerming van intellektuele eiendom, het die verslag getoon.

Eiendom, sê Booysen, is so wyd gedefinieer in die wetsontwerp dat dit roerende bates soos voertuie en kunswerke sal insluit. Dit verwys ook na “‘n reg in, en op eiendom”.

“Dit beteken dat die aandele in ‘n maatskappy, sowel as eiendom – insluitende intellektuele eiendom en nie-vaste bates – onteien kan word onder die wetsontwerp,” het Booysen gesê.

Oor vergoeding, het Booysen gesê: “Daar is geen waarborg dat jy markwaarde sal kry nie”.

Die wetsontwerp lys verskeie faktore wat ‘n hof in ag moet neem by die oorweging van die geldigheid van ‘n onteiening – en markwaarde is maar net een van hulle.

Die lys is nie volledig nie, wat beteken dat “enige ander faktor” ook in ag geneem kan word.

Maar Cronin het besware afgemaak, en gesê onteiening kan nog steeds uitgedaag word in die hof “as [die onteiening] net is om iemand se neef te verryk.”

 

De Lille ontken bewering oor baantjies vir boeties

Die ANC het die openbare beskermer gevra om die aanstelling van ‘n vertroueling van die burgemeester Patricia de Lille te ondersoek nadat dié ‘n pos in Kaapstad se administrasie bekom het wat ‘n yslike salaris betaal.

Die ANC-leier in die metroraad, Tony Ehrenreich het ook geskryf aan die SA Vereniging vir Plaaslike Regering, die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake Richard Baloyi en die Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering Anton Bredell oor die aanstelling van Gerhard Ras.

Verlede week is Ras aanbeveel vir die pos van waarnemende direkteur van prestasie en evaluering in die burgemeester se kantoor.

Ras, tans Kaapstad se waarnemende uitvoerende direkteur van maatskaplike ontwikkeling, het voorheen gewerk as waarnemende munisipale bestuurder in George en by Matzikamma-munisipaliteit.

Ehrenreich beweer die paneel wat hom aanbeveel het, was nie onbevange nie.

Ehrenreich het gesê die DA het sy meerderheid misbruik om die aanstelling goed te keur en vrae oor Ras se bevoegdheid beperk.

In sy brief aan Bredell, het Ehrenreich gesê die verhouding tussen De Lille en Ras is “onvanpas” en dat sommige van Ras se familielede aangestel is op die raad sedert De Lille burgemeester geword het in Junie 2011.

“Daar is ook kommer uitgespreek oor Ras se skeidingspaket van R2 miljoen, omdat dit ongemagtig was.”

Die R2-miljoen was sy skeidingspakket van die Matzikamma-munisipaliteit in 2005. Dit is later bevestig dat dit ongemagtig was, want daar was nie daarvoor begroot nie

De Lille het gesê die regte Vraeproses is gevolg in alle aanstellings en daar was geen stof vir Ehrenreich se “wilde bewerings” nie.

Zille pas skadebeheer toe oor omstrede plakkaat

Helen Zille, DA-leier, het Saterdag op ‘n Vryheidsdag-saamtrek in Inanda, KwaZulu-Natal probeer om skadebeheer toe te pas na ‘n onlangse omstrede DA-plakkaat. Die DA wil swart stemme trek vir die 2014-verkiesing, en dié plakkaat het swart kiesers oortuig dat die DA apartheid wil terugbring.

“Demokrasie is oor die vryheid van keuse; die vryheid om van gedagte te verander,” het sy gesê. Die ANC is woedend oor die pamflet waarop Mandela en Suzman mekaar omhels.

Baie is oor die afgelope paar weke geskryf oor die “Know Your DA”-veldtog, wat daarop gemik is om die ware storie van die party se teenkanting teen apartheid te vertel, het Zille gesê.

“Dit het omstredenheid ontlok uit sommige oorde. Ons is daarvan beskuldig dat ons oudpres. Nelson Mandela se nalatenskap misbruik, en die ou gunsteling, politieke opportunisme.”

Zille het verwys na die DA-pamflet waarop Mandela en die aktivis Helen Suzman verskyn.

Marius Fransman, Wes-Kaapse ANC-leier, het gesê die pamflet is ‘n “siniese en opportunistiese oefening in propaganda”.

Hy het gesê die party moes nie een van die leiers gebruik het nie.

Zille het Saterdag ontken dat die kritiek die party kwel.

“Ons kan nie net agteroorsit en die ANC se propaganda toelaat om die DA valslik as die party van apartheid te skets nie.

“Die ANC probeer om bangmaaktaktiek en emosionele afpersing te gebruik om keuse in Suid-Afrikaanse politiek weg te neem. Ons kan nie toelaat dat dit gebeur nie en dit is hoekom ons ‘n landwye poging aanwend om die waarheid aan Suid-Afrikaners te vertel.”

Zille het verder gesê baie mense aanvaar die reg om te stem as vanselfsprekend.

“Ek is dikwels geskok wanneer ek met mense praat, veral jongmense, en hulle sê hulle stem nie. Dit lyk nie asof hulle verstaan watter opofferinge gemaak is vir hulle om die kosbare reg uit te oefen, of die mag wat ‘n stem aan hulle gee om hul lewens te verander nie.”

Duisende daag op vir Vryheidsparkvieringe

Duisende mense het die jaarlikse herdenking van Vryheidsdag in Pretoria bygewoon ten spyte van die hitte.

Pres. Jacob Zuma het in ‘n wit tent langs adj.pres. Kgalema Motlanthe, hoofregter Mogoeng Mogoeng en Max Sisulu, speaker van die parlement, gesit.

Zuma kort ná 12:00 ‘n toespraak gelewer.

Die president het later Saterdag nasionale ordes aan verskeie “uitsonderlike Suid-Afrikaners en buitelanders” toeken. Die geleentheid is by die nabygeleë Sefako M Makgatho presidensiële gastehuis gehou.

Die Olimpiese swemheld Chad le Clos, die sokkerlegende Kaizer Motaung en die Lead SA-aktivis Yusuf Abramjee is op ‘n lang lys van ontvangers.

Die Amerikaanse burgerregteleier eerw. Jesse Jackson is ook op die lys van politici, musikante en wetenskaplikes wat vereer sal word.

Die US het lankal die laer verlaat

In Die Burger (25 April, p 10) het Elsabé Brits berig oor ‘n mensskedel, ‘n stel glasoë en ‘n haarkleurkaart wat na bewering voorheen in die ontbinde departement volkekunde van die Universiteit Stellenbosch (US) was. Die skedel is glo “van ‘n vrou van gemengde herkoms.”

Ons weet dat dit in die nuwe Suid-Afrika heiligskennis is as ‘n nie-witte en daarby ‘n vrou so onteer word. Dink aan die geval Saartjie Baartman. Maar skedels en hele geraamtes word, sonder dat ‘n haan daaroor kraai, vryelik in mediese fakulteite dwarsoor die wêreld aangetref. Hulle word vir bona fide onderrig- en navorsingsdoeleindes gebruik. Hulle moet noodwendig dié van mans of vroue en van wittes of nie-wittes wees. Omdat daar meer vroue as mans was en daar meer nie-wittes as wittes was, is die kanse goed dat baie, indien nie die meeste nie, van hierdie skedels en geraamtes dié van nie-wit vroue is.

In die berig word genoem dat dr Eugen Fischer se naam op die houer met haarmonsters gegraveer is. Dít en die glasoë word in die teks met die Nazi’s se eugenetika geassosieer. Wat nie gesê word nie, is dat die onderliggende motief van die Nazi-rasverbeteringsleer was om die Duitsers, na hulle vernederende nederlaag in die Tweede Wêreldoorlog, beter vir die toekoms toe te rus. Om mense te verbeter, kan in beginsel tog nie verkeerd wees nie. Hoeveel beter kon die nuwe Suid-Afrika nie gewees het as daar by die meerderheid van die bevolking ‘n opregte stewe na verbetering was nie? Pleks daarvan is daar ‘n oorvloed van selfvergenoegdheid.

Wat ook nie genoem word nie, is dat Fischer bona fide wetenskaplike navorsing in Namibië gedoen het en dat hy eers teen die einde van 1939, dus baie laat, ‘n Nazi geword het. Sy hoofmotief vir aansluiting by die party was blykbaar om beter owerheidsbefondsing vir sy navorsing te bekom. Wat wetenskaplik ondersoek word, behoort nie deur ideologiese voorskrifte beperk te word nie. Enige empiriese verskynsel kan en behoort vir wetenskaplike ondersoek toeganklik te wees. Dit is bv akademies heeltemal onaanvaarbaar dat indiwidue se intelligensie nie wetenskaplik (dus objektief en so foutvry moontlik) gemeet en daar dan oor groepe se intelligensie veralgemenende gevolgtrekkings gemaak mag word nie. Vergelyk die diskoers oor die Bell-kurwe.

Veralgemening op grond van ‘n verteenwoordigende monster is normale wetenskaplike praktyk. Sulke resultate kan onderwysers en dosente in staat stel om skoliere en studente ten beste te onderrig, bv deur spesiale en intensiewer onderrig aan leergestremdes te bied. As die intelligensieverskynsel nie wetenskaplik ondersoek mag word nie, kan die motiewe wat agter so ‘n verbod skuil, bevraagteken word. Die uitkoms van wetenskaplike ondersoek kan die populêre opvatting óf gestaaf óf verwerp. Waarom dan by voorbaat beswaar teen so ‘n ondersoek maak? Dit kan wees dat die beswaarmakers by voorbaat weet dat hulle nie van die uitslag sal hou nie.

Eugenetika word in die berig beskryf as “‘n studieveld wat mense volgens ras, kultuur en fisieke eienskappe geklassifiseer het.” Dit is dus ‘n wetenskaplike manier om mense op grond van kenmerke in groepe te verdeel. Om sodanige onderskeide te maak, hoef nie diskriminerrend (in die sin van benadelend) te wees nie. Mense verskil indiwidueel en ook groepgewys, bv volgens etnisiteit of kultuur. In die nuwe Suid-Afrika word sulke groepverdelings (bv tussen wittes en nie-wittes en tussen mans en vroue) voortdurend toegepas en daarby op so ‘n wyse dat dit diskriminerend (bv teen mans en veral wittes) en nie bloot onderskeidend is nie. Selfs nie-wittes word van owerheidsweë nie almal oor dieselfde kam geskeer nie. Aan swartes word op suiwer kwantitatiewe, dus demografiese, gronde voorkeur bo bruines en Asiate gegee. Universiteite doen lustig hieraan mee.

‘n US-dekaan, Johan Hattingh, bekommer hom oor die moontlikheid dat hierdie artefakte dalk in die onderrig van volkekunde gebruik is. Waarom die kommer? Daar is so iets soos mensgroepe of volke en die artefakte het wetenskaplikes in staat gestel om onderskeide te maak, dus feite te versamel. Waarom sou ‘n verbod daarop nodig wees? Waarom kennis sensureer? Waarom studente in die duister probeer hou? Moet Hattingh homself nie eerder afvra of die afskaffing van die departement volkekunde, waar eens uitstekende wetenskaplike onderrig en navorsing gedoen is, akademies geregverdig kan word nie? Was die vernietiging van hierdie departement nie dalk ‘n geval van die slaafse navolging van ‘n modeverskynsel, naamlik politieke korrektheid, nie? Moet universiteite (soos dié in Nazi-Duitsland) toelaat dat hulle deur die ideologie van die bewindhebbers van die oomblik geïntimideer word?

‘n Vise-rektor, Eugene Cloete, verwys na ‘n US-navorsingsprojek oor rassisme in die wetenskap. Die departement volkekunde en ook geskiedenis is in die aanvangsvisier, maar die ondersoek (heksejag?) kan ook na ander departemente uitgebrei word. Daar gaan kritiese vrae oor die nalatenskap van die US se wetenskaplike aktiwiteite gestel word. Dit lyk asof hier ruim ruimte vir die diskreditering van die US van weleer geskep word. Sou dit nie van veel groter wetenskaplike en akademiese belang wees as eerder nie-ideologies en krities besin word oor wat die US vandag is en wat van hom as akademiese inrigting gaan word as op hierdie transformasiekoers voortgegaan word nie?

Mandisa Mbali is die leier van hierdie navorsingsprojek. Hy noem dat hy die uitstalling in die US se Sasol-museum wil verander “omdat verskillende groepe as so verskillend van mekaar uitgebeeld word, maar eintlik vanweë die uitruiling van kultuur nader aan mekaar is.” Dus, beweerde eendersheid is in die mode, gevolglik word verskille al hoe meer ontken; natuurlik behalwe wanneer dit by studentetoelating, beurstoekennings en die aanstelling en bevordering van US-personeel kom.

So ‘n koerantberig en daarby een wat oor die US handel, sal nie onbenut by die rektor, Russel Botman, verbygaan nie. As ANC-aktivis het hy dadelik op die propagandawa gespring in die vorm van ‘n artikel in vandag (28 April) se Rapport. Die berig in Die Burger bied immers ruim geleentheid aan Botman om te improviseer teen die wit, Afrikaanse US in die vorige eeu en om apartheid en by implikasie wittes en veral Afrikaners te verguis.

Heel aan die begin verwys hy na ons “ongemaklike … verlede.” Hy vermoed dat die bogenoemde artefakte as “onderrighulpmiddels in die departement van volkekunde gebruik is om mense se ras te bepaal.” Let op hoe impliseer Botman dat sodanige rasbepaling vermoedelik in daardie departement gedoen is; dus nie dat die artefakte moontlik bloot ter verduideliking in onderrig gebruik is nie. Dan borduur Botman voort: “Die ontdekking pas in by die idee dat die US in die apartheidsjare – en in die aanloop daartoe – noue bande gehad het met die owerheid en die destydse Nasionale Party.” Nou is Botman waar hy wil wees, by Afrikaners en apartheid, maar hy reik tot voor 1948 na segregasie, waarmee hy dan ook ander wittes betrek.

“Die argument dat die navorsing aan die US die intellektuele onderbou verskaf het van wat later regeringsbeleid oor afsonderlike ontwikkeling, segregasie en apartheid sou word, word deur die vonds in die museum versterk.” Nou is Botman al by die intellektuele onderbou van nie net onderrig aan die US van weleer nie, maar sommer ook van die rasbeleid (segregasie en apartheid) van wit regerings.

Botman noem dat die voorlopige hipotese is dat die artefakte in onderrig gebruik is om rasseklassifikasie te demonstreer, dus om etniese verskille uit te wys. Waarom mag sulke verskille nie wetenskaplik vasgestel en uitgewys word nie? Is daar iets bedenkliks aan die feit dat sommige mense bv ‘n ligter en ander ‘n donkerder velkleur het? As aktivis verwys Botman na “die berugte potloodtoets,” hoewel potlode nie in die museum gevind is nie.

Hierna bring Botman die artefakte in verband met Nazisme. Hy verwys na Fischer se navorsing onder die Rehoboth-basters. Wat Botman nie doen nie, is om te noem dat die Rehobothers trots daarop is om basters genoem te word en dat hulle lojaal teenoor hulle moedertaal, Afrikaans, is. Dit is in skrille kontras met Botman en ander ontwikkelde bruines wat hulleself deesdae swart verklaar en hoogs dislojaal teenoor Afrikaans is deur hulle kinders in Engels te laat onderrig.

Dan kom Botman uit by “rassisme in die wetenskap,” met spesifieke verwysing na die US. “Die navorsers sê hulle beskou dit as hul morele plig om kritiese vrae oor die konteks, fokus, relevansie en nalatenskap van wetenskapbeoefening aan hul instelling te stel.” Soos die ANC, reken Botman dus dat hy en hulle op moreel hoë grond is. In die nuwe Suid-Afrika moet die wetenskap klaarblyklik ‘n ander ideologie as in die ou Suid-Afrika dien.

Botman wil die verlede en toekoms vierkant in die oë kyk. Hy kyk vas in die selektiewe verpligting wat hy universiteite oplê: “om ongelykheid en diskriminasie in die hoëronderwysstelsel weg te werk.” Hy noem dit nie, maar paradoksaal word ongelykheid en diskriminasie aan die US en ander Suid-Afrikaanse universiteite weggewerk deur blatant teen wittes te diskrimineer.

Dan die opmerking wat Botman nie kan en nie wil en nooit sal ontgroei nie: “Sedert die US 13 jaar gelede ons aandeel aan die onregte van Suid-Afrika erken het, het dit tyd geword dat ons opnuut op transformasie fokus.” Vervolgens sing Botman sy oorbekende deuntjie van die US toeganklik maak (bv Afrikaans afskaal en die Engelse aanbod verhoog) en natuurlik sy ideale van gelykheid, diversiteit, inklusiwiteit, relevansie, saamgevat in transformasie.

“Wat die samelewing betref, is blootstelling aan ‘n wye verskeidenheid mense in terme van etnisiteit, taal, geslag, ouderdom, idees, plek van herkoms, godsdiens, seksuele oriëntasie en gestremdheid bevorderlik vir die uitnemendheid wat Maties nastreef.” Dit is myns insiens duidelik dat dit vir Botman primêr om politieke, spesifiek ANC-, uitnemendheid gaan en nie om akademiese of wetenskaplike uitnemendheid nie. Die US mag nie ‘n Afrikaanse universiteit wees nie, al is die meeste universiteite plaaslik en elders eentalig wat onderrigmedium betref. Die US mag ook nie die uitdrukking van ‘n kulturele fokus, naamlik van wittes of spesifiek Afrikaners, wees nie. Iemand wat trots op sy kultuur en moedertaal is, verkies ‘n universiteit wat uitdrukking aan sy kultuur en taal gee. Botman se identiteitlose ideaal is om van Maties globale burgers te maak.

Dan veroorloof Botman hom hierdie bedenklike stekie: “Ons het lankal die laer verlaat.” Dit open volgens hom die weg na gelykberegtiging. Les bes, die US word nie ‘n Suid-Afrikaanse universiteit genoem nie, maar ‘n “universiteit in Afrika.” Botman se ideaal is duidelik: die US moet so swart moontlik word. Dit moet minstens die demografie weerspieël. Dit beteken op sy beurt dat daar op die lange duur geen plek vir Afrikaans, die laertaal, sal wees nie. Die ANC behoort hoogs tevrede met Botman en transformasie aan die US te wees.

Ounuweland: onderweg na ‘n Afrikaanse toekoms

Op skool by die atletiekbyeenkomste – ek was op Helpmekaar – het ons altyd gesing: “Dis lekker om ‘n Helpie te is, te is.” Dis natuurlik nie korrekte Afrikaans nie, maar daardie “is” klink soveel sterker as “wees”.

Net so sou ‘n mens kon sing: “Dis lekker om ‘n Afrikaner te is!” Terwyl die mengelmoes mense in die res van die land daarop bedag is om soveel geld as moontlik op bedenklike maniere te verkry en dit op duur motors, klere en huise uit te gee, hou ons onsself met interessanter dinge besig.

Ons debatteer oor ons kultuur, ons geskiedenis en ‘n toekoms wanneer ons nie meer aan ander ondergeskik sal wees nie, maar waarlik vry en vooruitstrewend. Ons kinders sal weer op die pawiljoene uit volle bors kan sing en ons sal selfs ‘n Afrikaanse atletiekspan na die Olimpiese Spele kan stuur wat onder die oranje-blanje-blou sal gaan deelneem en medaljes huis toe bring.

Vergesog? Onrealisties? Glad nie. Die Oostenryks-Joodse skrywer Theodor Herzl het in die 1890s so ‘n vergesig oor ‘n Israel iewers in die toekoms gehad, ‘n “Ounuweland”. Dit was dan ook die titel van die roman wat hy in Duits daaroor geskryf het: Altneuland. ‘n Beroemde sinsnede in die boek lui: “As jy dit wil, is dit geen feëverhaal nie.”

Omdat ons dit wíl, sal ons vir seker iewers in die toekoms weer vry en outonoom wees. Of dit nou ‘n tiende provinsie van Suid-Afrika, ‘n volkstaat of ‘n volwaardige onafhanklike Afrikanerrepubliek sal wees, weet ons nie. Maar vir die oomblik is dit ook nie so belangrik nie. Al waarop ons hoef te konsentreer, is om die vlam van vryheid brandend te hou.

Vir Beeld, die Kaapse koerant wat hier in Johannesburg uitgegee word, is die gedagte van Afrikanervryheid so onvoorstelbaar dat ‘n mens net daaroor kan spot. Selfs die woorde, “Die Republiek”, vind Beeld skreeusnaaks, want sedert 1994 ons is mos ‘n Statebondsland met die koningin van Brittanje as verre simboliese keiserin wat oor ons korrupte Klein Engeland waak. By Beeld sing hulle seker elke dag die Britse volkslied soos in die bioskope van die 1930s.

Ook tydens patriotiese volksfeeste in Paul Kruger se tyd, het luidrugtige, dronk Kapenaars die ou president en sy staat bespot en lawwe Britse liedjies gesing. Hoe meer dinge verander, hoe meer bly hulle dieselfde, lui die Franse spreekwoord mos.

Natuurlik is daar patriotiese Afrikaners in die Kaap ook; ek dink net nie hulle skryf rubrieke in Beeld of ander Nasperskoerante nie. Daardie selfde koerante is egter nou raadop om die nuwe bedeling se varkwagters te wees, soos Izak de Villiers iewers gesê het. Die varkplaas raak nou te veel soos George Orwell se Animal Farm waarin “sommige diere meer gelyk as ander is”.

Lood van Beeld lag dus lekker vir die volkstaatkaart, ‘n skermdruk van OASE se Google-kaart wat ek vandeesweek op my Facebookprofiel geplaas het, en sê: “Die deel in geel wat soos ‘n swewende spokie lyk, is Die Republiek.” Wie laaste lag, lag egter die lekkerste, sê ek altyd. (Kaart hiernaas; klik om te vergroot.)

Die “geel spokie” is groter as Oostenryk en net-net kleiner as Portugal. Drie miljoen Afrikaners en so een of twee miljoen “allochtone” bestaande uit Engelse en swartes, sal baie lekker in so ‘n Afrikaanse of Afrikanerrepubliek bly, dankie. Ons sal ‘n volle 85 000 vierkante kilometer in ons Oostenryk hê waarin ons ons kan uitleef, sonder misdaad, korrupsie of Engelse kitsch.

As jy dit wíl, is dit geen feëverhaal nie, sê Theodor Herzl. Die naam van Tel Aviv, die ekonomiese sentrum van teenswoordige Israel, is die Hebreeuse vertaling van “Ounuweland”. Aanvanklik in 1909 het slegs 70 baie idealistiese gesinne hulle daar gevestig, ‘n bietjie soos in Orania, en vandag woon daar 3,2 miljoen mense in die groot, moderne stad met ‘n polsende naglewe en duisende hoëtegnologiebedrywe.

Steve Jobs, wat die Apple-maatskappy gestig het, het gesê:

“Kom ons drink ‘n heildronk op die malles, die wanaangepastes, die rebelle, die moeilikheidmakers, diegene wat nie mooi inpas nie… hulle wat dinge anders sien — wat nie lief vir reëls is nie. Jy kan hulle aanhaal, jy kan van hulle verskil, hulle ophemel of verguis, maar die een ding wat jy nie kan doen nie, is om hulle te ignoreer want hulle verander dinge… Hulle stoot die mensdom vorentoe, en terwyl sommige hulle as die malles sien, sien ons hul genialiteit raak, want dis juis diegene wat mal genoeg is om te dink dat hulle die wêreld kan verander wat dit regkry.”

Dwarsdeur ons geskiedenis was daar mense wat skynbaar onmoontlike drome gedroom het en hulle net so dikwels verwesenlik het: die Groot Trek oor die Drakensberge, om van ons Wes-Germaanse dialek ‘n eie inheemse kultuurtaal te maak, ‘n nywerheidsland in Afrika te vestig, selfs die atoombom by Pelindaba te maak. Ons het die Afrikaanse letterkunde, Krygkor, Yskor, Eskom en wat nog geskep. Waarom sal ons nie ons bevolking binne ‘n bepaalde gebied kan konsolideer, slim ekonomiese planne maak en sodoende weer vry en vooruitstrewend raak nie?

Die Vlaminge van België, Québecois van Kanada en Katalane van Spanje het reeds gewys hoe dit gedoen kan word. Dit begin altyd met ‘n taalstryd. As ‘n mens jou eie taal in ‘n gebied kan handhaaf, kan jy jouself as volk ook daar handhaaf. Dis só eenvoudig.

Ek begin dink dat die magsverlies van 1994 ‘n goeie ding was. Dit het Afrikaners van staatsosialisme en daardie leef-vir-‘n-verre-pensioen-mentaliteit bevry. Carpe diem, sê die Latynse spreekwoord: Gryp die dag, gryp die oomblik.

‘n Boer maak ‘n plan.

Eendag, waarskynlik gouer as wat meeste mense dink, sal ons in ‘n eie republiek leef met ‘n minimale staat wat net reëls maak en standaarde stel, terwyl die mense self hul skole, ondernemings en kultuur bedryf, ‘n bietjie soos ons reeds onder die huidige Engelse of Afro-Engelse oorheersing doen.

Die verskil sal egter wees dat ons nie meer 40% bloedgeld aan ‘n parasitiese staat wat jou boonop aan bande lê, jou taal en kultuur onderdruk, sal hoef te betaal nie. As daardie geld losgemaak word, sal ons ekonomies soos ‘n vuurpyl opstyg. Ons sal groeikoerse behaal soos laas hier in die 1960s onder Verwoerd gesien is.

Ons hoef ook nie te wag nie. Ons kan sommer nóú begin. Kyk na daardie volkstaatkaart waar die meeste Afrikaners reeds woon. Dink aan hoe ons daardie gebied beter kan beset, hoe ons meer werk vir ons mense kan skep, Afrikaans en Afrikaanse skole sterker kan maak.

Pas die twee beginsels toe wat op Orania geld: eie arbeid, eie taal. In die ekonomie praat hulle van ‘n “nie-tariefhindernis”. As dit nie vir Duits was nie, het die Chinese lankal die Duitse ekonomie oorgeneem. Maar om in Duitsland te funksioneer, moet jy Duits kan praat en Duitsers verstaan. Afrikaans is die beste hindernis om teen ons mededingers op te werp; dis die skans waaragter ‘n nuwe ekonomie en ‘n nuwe land, ons Ounuweland, stil-stil tot stand kan kom.

Kortom, waag dit om van ‘n beter wêreld te droom. Soos Theodor Herzl. Of soos Steve Jobs dit gestel het: wees kranksinnig genoeg om te dink jy kan die wêreld verander.

Russel Botman oor skuld en hoop

Ons leef in ‘n tyd waarin bevrydingsteoloë vergoed word vir die meesal nadelige gevolge wat hulle politieke dade het. Aan Desmond Tutu is onlangs die Templeton-prys ter waarde van $1.7 miljoen toegeken. Die rektor van die Universiteit Stellenbosch (US), Russel Botman, het pas die Abraham Kuyper-prys vir uitnemendheid in gereformeerde teologie en openbare lewe aan die Princetonse teologiese seminarium ontvang.

Die Kuyper-prysgeld is ‘n vulletjie in vergelyking met wat Tutu in sy sak steek, maar die simboliek is nie minder betreurenswaardig nie. Die Suid-Afrikaanse bevrydingsteoloog, Charles Villa-Vicencio, het die Kuyper-prys in 2005 ontvang en die Amerikaanse swartmag-aktivis, Andrew Young, in 2003. Op die US-webwerf word Botman geloof met onder andere ‘n aanhaling van Martin Luther King jr, die swartmag-aktivis wat weens blatante plagiaat ‘n doktorsgraad ontvang het. Dit is duidelik in watter geselskap Botman hom bevind. Dít is die mens wat na inperkings as UDF/ANC-aktivis in 2007 as US-rektor aangestel en in 2012 vir nog vyf jaar heraangestel is.

Die Boston-bomontploffing het op 15 April verwoesting gesaai. Botman het op 18 April sy rede in Princeton, glad nie ver van Boston af nie, gelewer. Op 25 April het Die Burger (p 17) die teks van Botman se toespraak gepubliseer, met nie ‘n woord oor die bomontploffing nie. Dit herinner sekerlik te veel aan die ANC se verlede, wat in die geweldskultuur van die hede voortgesit word.

Toe op die US-webwerf aangekondig is dat Botman die Kuyper-prys gaan ontvang, het hy hom as ‘n African beskryf en heel onbeskeie gereken dat sy “multi-dimensional leadership” bekroon word. Hy is immers in sowel die politiek as die akademie betrokke, met die klem op eersgenoemde. Daarom verklaar hy dat dit vir ‘n universiteit nie net om (akademiese) uitnemendheid gaan nie, maar ook (in die US se geval, veral) om (politieke) relevansie.

ANC-gedienstigheid maak deure vir die US oop. Nadat Jakes Gerwel vroeër vanjaar oorlede is, het Botman vertel hoe hy dit geniet het toe die kommunis, Gerwel, die marxis, Antonio Gramsci, in ‘n direksievergadering aangehaal het. Botman se transformasiestrategie is musiek in die ore van die plaaslike hoofkommunis en minister van hoër onderwys, Blade Nzimande, wat daarvoor bekend is dat hy universiteite met die terughouding of vermindering van staatsubsidies afdreig as hulle nie maak soos hy voorskryf nie. Botman noem nooit akademiese kernbeginsels soos universitêre outonomie, akademiese vryheid en ideologiese neutraliteit (in die sin dat enige ideologie op die kampus geduld word) nie. Dit is vir Botman voldoende as hy die US ideologies aan die sorg van die ANC toevertrou.

As rektor het Gerwel, met die hartlike samewerking van sy visie-rektor, Jaap Durand, die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) van ‘n tweetalige maar oorwegend Afrikaanse inrigting spesifiek vir bruin studente tot ‘n eentalige Engelse inrigting vir hoofsaaklik swart studente getransformeer. Daarby het Gerwel en Durand die UWK tot die tuiste van linkse, spesifiek ANC-, politiek verklaar. Dit het Gerwel met staatsgeld afkomstig van die “apartheidsregime” gedoen. Daarvoor is Gerwel in sy persoonlike hoedanigheid deur die ANC en Naspers met hoogs lonende poste vergoed. Hieruit spreek daar myns insiens nie net ‘n anti-akademiese gesindheid nie, maar ook ‘n onetiese ingesteldheid. Kader Asmal het as minister van onderwys sonder omhaal van woorde gesê dat hy die UWK en die Universiteit Fort Hare vergoed vir die pro-ANC-rol wat hulle gespeel het, gevolglik het hy hulle nie belas met sy (sotlike) beleid waarvolgens universiteite en technikons moet saamsmelt nie.

Botman se beleid van totale transformasie het die UWK, waar hy student en dosent was, as model. Hiervolgens sal die blanke teenwoordigheid op die US-kampus myns insiens tot die demografiese minimum afgeskaal en Afrikaans as onderrig- en administratiewe taal mettertyd afgeskaf word. Na sy ampstermyn as rektor sal Botman sekerlik soortgelyke persoonlike vergoeding as Gerwel van die ANC en sy meelopers verwag.

In die jongste uitgawe van die alumnitydskrif Matieland (somer 2012/2013) is daar ‘n foto (p 8-9) wat die fotograaf Anton Jordaan in opdrag van die US in 2012 van Matiestudente geneem het. Dit vul glo die hele muur van die AmaMaties-gebou (let op die Afronaam). In sy kommentaar spreek Botman sy ontevredenheid oor die foto uit; daar is te veel wittes en te min swartes. Botman kan klaarblyklik nie suiwer akademies na ‘n student kyk nie. Hy sit altyd sy ras- of kleurbril op: “Oor vier jaar [dus wanneer sy huidige termyn as rektor verstryk] wil ons nog meer divers wees” (p 9). Botman se transformasiebeleid word deur die US-studenteraad gesteun. Eintlik wil hulle vinniger “vordering” hê. Daardie uitgawe van Matieland het my finaal moed vir die US as respektabele akademiese inrigting laat opgee.

Botman se Kuyper-toespraak word in die koerant onder die opskrif, “Ons skuld die jeug hoop”, aangebied. “Skuld” en “hoop” is woorde wat telkens deur die bevrydingsteoloog Botman gebruik word. Die wittes het skuld en diegene wat deur die wittes veronreg of agtergestel is, moet hoop gegee word. Heel aan die begin word in swart druk na die Soweto-opstand in 1976 verwys. In ANC-geledere word dit as ‘n spontane opstand deur skoolkinders teen Afrikaans voorgestel. In werklikheid was dit fyn georkestreerde onrusstoking deur volwassenes wat die propagandavoordeel wat die PAC met Sharpeville behaal het, wou uitwis. Dit is waarom die pers vooraf ingelig en verderflike berigte en foto’s wêreldwyd versprei is.

Afrika word deur die Afro-optimis Botman as een van die snelgroeiendste streke voorgestel. Hy noem nie die lae basis vanwaar daardie groei gemeet word nie. Daar is diegene wat droom van ‘n beter, ryker en gelukkiger lewe vir Afrikane, maar Botman wil nie net materiële welvaart vir hulle hê nie. Globalisering bedreig na bewering die morele welstand van die mensdom en armes word glo deur globalisering uitgesluit en gemarginaliseer. In hierdie proses is dit die rykes wat oorleef en selfsugtige indiwidualisme wat floreer. Botman bepleit solidariteit; ongetwyfeld van die nie-wit, nie-Westerse elemente.

Die 1976-opstand is volgens Botman deur die jeug onderneem en teen onderdrukking en ongeregtigheid gemik. By die na-geskiedenis hiervan sluit Botman die Belhar-belydenis en die Kairos-dokument in. Laasgenoemde het tot gevolg gehad dat enige geweldadige gedrag deur die “bevryders” goedgepraat en enige teenoptrede deur die “apartheidsregime” verdoem is. Botma het ‘n aandeel aan sowel Belhar as Kairos gehad. Hy klop homself op die skouer: “Ons [het] namens die moedelose jeug van ons land gedroom, gehoop en opgetree.” Vorentoe moet ons “eties en hoopvol” leef.

Dit is nie meriete of ander kwalitatiewe oorwegings wat vir Botman as spoorslag vir die toekoms dien nie, maar die demografie. Hy waarsku teen ekstreme regse en fanatiese linkse groepe. Hy onderskei tussen groei en ontwikkeling. Ek lei af dat groei deur die ontwikkeldes bewerkstellig word en dat hulle moet sorg vir ontwikkeling by die onderontwikkeldes. Dit werk myns insiens soos ubuntu: die een groep gee (na eie inspanning) en die ander groep ontvang (dikwels/meesal sonder teenprestasie). In die retoriek oor versoening doen ‘n soortgelyke situasie hom voor: die een groep moet met versoeningsgebare vorendag kom, terwyl die ander groep onophoudelik verwyte mag slinger.

Ontwikkeling sluit in “om in … ander se behoeftes en begeertes te voorsien.” Let op Botman se opportunistiese insluiting van nie-lewensnoodsaaklike begeertes. Dit gee stukrag aan swartes wat sonder meer begeer en selfs eis wat die wittes het. Botman noem dit “etiese verantwoordelikheid”, terwyl daar myns insiens heelwat in sy standpunt is wat eties onverantwoordelik is. Sy standpunt is ongetwyfeld sosialisties en kan dikwels kwalik van kommunisme onderskei word.

Dan haal Botman kerkleiers aan wat in 1995 in Kitwe besluit het dat dit tyd is om “ons mense se drome van maatskaplike gelykheid, politieke vryheid en ekonomiese geregtigheid” ‘n werklikheid te maak. Botman: “Tensy ons die bande van ons menswees erken, gaan ons ‘n toekoms van toenemende marginalisering en ongelykheid tegemoet.” Pleks van op industrialisasie en indiwidualisme te konsentreer, moet ons glo eerder onthou dat alle mense “ekonomiese geregtigheid verdien.” Verdien?

Hierna pas Botman sy geringskatting van presterende indiwidue en groepe op die universiteitswese toe. “Universiteite moenie net [akademiese] uitnemendheid najaag nie, maar ook [politieke] relevansie. Deur hul kundigheid tot voordeel van die samelewing te gebruik, kan universiteite die wêreld ‘n beter plek help maak.” Dit is daardie relevansie wat onderliggend aan Botman se transformasiemanie is. Dit weeg so swaar dat akademiese gehalte by studentetoelating en by die aanstelling en bevordering van personeel opgeoffer word.

In die ou Suid-Afrika het universiteite twee funksies gehad, naamlik onderrig en navorsing. In die nuwe Suid-Afrika het gemeenskapsdiens as ‘n derde funksie bygekom; dermate dat dit onderrig en navorsing nie net deursuur nie, maar ondergrawe en aan bande lê. In werklikheid is gemeenskapsdiens die verpligting van die staat. Aanvullende hulp word tradisioneel deur vrywilligers verleen, wat hulle dikwels in ondernemings sonder winsbejag organiseer.

‘n Ware akademikus behoort geen beginselbeswaar teen ‘n universiteit te hê wat hom by sy onderrig- en navorsingfunksie bepaal nie. Nie een van die twee hoef sosiaal relevant te wees nie. Dit mag maar suiwer om die kultivering en ontwikkeling van die vermoëns van indiwidue gaan. Dit is sulke begaafde indiwidue wat in sommige gevalle positiewe rigting vir hulle groep of selfs die mensdom in sy geheel aandui, maar nie uit hoofde van ‘n verpligting nie. Die sosialistiese Botman dink anders: “Die samelewing behoort van hoëronderwys-instellings te eis dat hulle tot die openbare welstand bydra.”

Ten slotte lei dit Botman na sy gewildste verwyt teen en verdoeming van wittes en spesifiek Afrikaners en die US van weleer: “My eie instelling, die Universiteit Stellenbosch (US), het hierdie uitdaging [‘n gewilde ANC-woord] in die jaar 2000 aanvaar toe hy sy aandeel aan die ongeregtigheid van ons apartheidsverlede erken het, en hom tot regstelling en ontwikkeling verbind het. Dié verbintenis is sedertdien uitgebou tot die US se HOOP-projek, waardeur ons personeel en studente oplossings vir vername maatskaplike uitdagings [!] in Suid-Afrika én die res van Afrika [!] nastreef.”

In die ou Suid-Afrika is die histories beproefde waarheid lank aanvaar dat nie met geweldenaars onderhandel word nie. Toe van hierdie gesonde beginsel afgesien is, het die beloofde politieke magsdeling in algehele magsoorgawe ontaard en daardie seëvierende geweldskultuur word tot op hede voortgesit. Ek wil ‘n soortgelyke onomstootlike akademiese waarheid in die midde laat: ‘n Mens stel nie ‘n aktivis, van watter ideologiese aard ook al, as rektor van ‘n universiteit aan nie.