Ian Khama, president van Botswana, moes twee steke aan sy gesig kry nadat ‘n jagluiperd hom gekrap het, het ‘n regeringswoordvoerder Maandag gesê.
Die voorval het verlede week by ‘n weermagbasis plaasgevind, het Jeff Ramsay aan AFP gesê.
“Hy is verlede week deur ‘n jagluiperd gekrap, maar is nie aangeval nie,” het Ramsay gesê.
Bewaarders was besig om die jagluiperd in ‘n omheinde kamp naby Khama te voer. Die dier het daarna die president aan sy gesig gekrap.
Khama is nie in ‘n hospitaal opgeneem nie, maar het behandeling ontvang.
Ramsay het bygevoeg dat die presidensie nie onmiddellik ‘n verklaring uitgereik het nie omdat dit ‘n geringe besering was.
