Oudpres. Nelson Mandela is Maandag deur senior ANC-amptenare in sy huis in Houghton, Johannesburg, besoek nadat die DA gesê het Mandela se nalentskap word deur die ANC in gevaar gestel.
Mandela het uitdrukkingloos voor hom uitgestaar terwyl pres. Jacob Zuma, Cyril Rama-phosa en Baleka Mbete laggend om hom gesels het. Pres. Zuma het sy hand beskermend oor dié van Mandela gehou, terwyl hy neffens hom gesit het.
Die ses top ANC-leiers was Zuma, Ramaphosa en Mbete, Gwede Mantashe, Jessie Duarte en dr. Zweli Mkhize.
Jackson Mthembu, nasionale ANC-woordvoerder, het na afloop van die besoek gesê Mandela is “gesond” en hy was “in ‘n uitstekende bui”. Hy het bygevoeg dat die oudpresident bewus was sy besoekers.
Daar was glo merke op Mandela se wange sigbaar waar ‘n suurstofmasker gedruk het.
Op die beeldmateriaal van die besoek wat op die SAUK uitgesaai is, het Mandela strak voor hom uitgekyk en sy oë teen die kameraflitse toegemaak terwyl almal om hom gelag en gesels het.
DA-ondersteuners op Twitter wat Mandela as hul eie ikoon beskou, was ontstoke en het Mandela se toestand as haglik beskryf, en ‘n aantasting van sy waardigheid.
