Staat kan nie kospakkies vir stakers uitdeel nie

Dit is nie die staat of die departement van landbou se taak om kospakkies te midde van ‘n staking soos in De Doorns uit te deel of om burgerlike organisasies soos past. Nosey Pieterse se Bawsi finansieel te help as die geld vir stakings aangewend word nie. Ek is ernstig hierteen gekant.

Om te staak is ‘n onderhandelingsmetode waardeur partye wat ernstig van mekaar verskil, beding in die soeke na ‘n aanvaarbare oplossing. Die regering se taak is om deur wetgewing hierdie prosesse te reguleer. Om finansieel daarby betrokke te raak te midde van ‘n staking, soos in De Doorns, versteur op ‘n berekende wyse die onderhandelingsposisies van die betrokke partye. Dit is nie die staat se taak nie.

Die departement van landbou is verantwoordelik om die belange van kommersiële landbouers, kleinboere, bestaansboere en plaaswerkers te behartig. Waar hierdie finansiële betrokkenheid op die korttermyn moontlik plaaswerkers gehelp het, gaan die onvoorsiene langer termyn gevolge ernstig tot hulle nadeel wees. As gevolg van die gebeure in De Doorns word verwag dat die Suid-Afrikaanse landbou in die volgende paar jaar ‘n totale herstrukturering sal ondergaan. Landbouers gaan na minder arbeidsintensiewe produkte oorslaan, hulle gaan meganiseer en landbou gaan meer en meer beoefen word soos in lande soos Australië en die VSA. As die gevolge hiervan bereken word, beteken dit dat tot meer as 100 000 plaaswerkers oor die volgende twee jaar hulle werk gaan verloor en na stede sal skuif.

As die boikot van Suid-Afrikaanse produkte in die buiteland, soos deur Cosatu tydens die stakings gevra, en grootskaalse werksverliese op die platteland die resultaat van al hierdie gebeure gaan wees, dan het die landbou en Suid-Afrika agteruit gevorder.

 

Maak 'n opvolg-bydrae