DA eis dat Pieter Mulder bedank

Die DA het die VF+ Maandag in die parlement getakel oor ‘n verklaring teen die stakers in De Doorns.

In ‘n verklaring wat uitgereik is oor onthullings dat die departement van landbou in 2012, kort voor grootskaalse landbou-onrus in die Wes-Kaap, sowat R4,1miljoen aan die plaaswerker-vakbond Bawsi gegee het.

“Dis nie die staat óf die departement van landbou se taak om kospakkies te midde van ‘n staking soos in De Doorns uit te deel óf om burgerlike organisasies soos Nosey Pieterse se Bawsi geldelik te help as die geld vir stakings aangewend word nie,” het Mulder gesê.

Pieterse was ‘n leidende figuur in die landbou-onrus. Mulder is tans adjunkminister in die departement van landbou.

Annette Steyn, DA-LP vir landbou, het gesê Mulderbehoort dadelik te bedank uit die regering as hy die betalings so onaanvaarbaar vind.

“Sy veroordeling is hol woorde, gegewe dat hy as adjunkminister, in werklikheid deel is van die einste stelsel wat die geld aan Bawsi gegee het,” het Steyn gesê.

Sy het gesê Mulder reik verklarings uit teen die regering, maar sit in die ANC-kabinet.

Mulder het in reaksie gesê Steyn verstaan “duidelik steeds nie hoe die ooreenkoms tussen die president en my werk nie”.

Hy het gesê hy is nie van plan om saam met die DA “opportunistiese propaganda-speletjies te speel tot nadeel van landbou en van Suid-Afrika nie”.

“Wat is tans in die beste belang van landbou en die kommersiële boere in Suid-Afrika? Om soos Steyn op die paviljoen te sit en skree en geen verskil te maak nie, of om in die skrum, daar waar besluit word, te sak?” het hy gesê.

Maak 'n opvolg-bydrae