‘n Wet wat sal toelaat dat die staat op privaateiendom beslag kan lê is nader as wat talle besef.
Môre is die sperdatum vir openbare kommentaar op die Wetsontwerp op Onteiening, wat aan die minister van Openbare Werke verreikende magte gee om privaateiendom te onteien. Dit mag wissel van huise tot sakepersele, en selfs aandele en ander beleggings – “in die openbare belang”.
Kritici van die voorgestelde wetgewing sê dit is vaag en kan die land se beleggingsvertroue erg knou.
Maar gister het die adjunk-minister van Openbare Werke Jeremy Cronin aan The Times gesê dat die wetsontwerp “sin maak” in die konteks van Suid-Afrika se “historiese werklikheid”.
Deel van daardie werklikheid is Saterdag herbesoek toe tienduisende lede van die Zion Christian Church in Pretoria vergader het om die inwerkingtreding van die Onteieningswet van 1913 te herdenk.
Die wet word allerweë beskou as die sneller van ‘n reeks wette van onteiening wat later tot die apartheid-stelsel gelei het, en wat swart Suid-Afrikaners se vaste eiendomsbates “geskeduleer het vir swart gebiede”.
Cronin het gesê die wetsontwerp sou beter geskik gewees het vir grondhervorming as die huidige Onteieningswet, wat terug dateer na 1975.
Hy het gesê die regering sal nie “sommer” onteien nadat die wetsontwerp ingestel is nie.
Maar Manus Booysen, ‘n vennoot by die prokureursfirma Webber Wentzel, het gewaarsku dat die wetsontwerp, indien dit in sy huidige vorm bly, “ernstige gevolge vir eiendomsreg” inhou.
Respek vir eiendom en die beskerming van intellektuele eiendom is gelys onder die land se sterk punte in die Wêreld Ekonomiese Forum se Global Competitiveness Report vir 2013.
Suid-Afrika het 26 onder 144 lande gekom vir die beskerming van eiendomsreg en 20ste op die beskerming van intellektuele eiendom, het die verslag getoon.
Eiendom, sê Booysen, is so wyd gedefinieer in die wetsontwerp dat dit roerende bates soos voertuie en kunswerke sal insluit. Dit verwys ook na “‘n reg in, en op eiendom”.
“Dit beteken dat die aandele in ‘n maatskappy, sowel as eiendom – insluitende intellektuele eiendom en nie-vaste bates – onteien kan word onder die wetsontwerp,” het Booysen gesê.
Oor vergoeding, het Booysen gesê: “Daar is geen waarborg dat jy markwaarde sal kry nie”.
Die wetsontwerp lys verskeie faktore wat ‘n hof in ag moet neem by die oorweging van die geldigheid van ‘n onteiening – en markwaarde is maar net een van hulle.
Die lys is nie volledig nie, wat beteken dat “enige ander faktor” ook in ag geneem kan word.
Maar Cronin het besware afgemaak, en gesê onteiening kan nog steeds uitgedaag word in die hof “as [die onteiening] net is om iemand se neef te verryk.”
