Die ANC het die openbare beskermer gevra om die aanstelling van ‘n vertroueling van die burgemeester Patricia de Lille te ondersoek nadat dié ‘n pos in Kaapstad se administrasie bekom het wat ‘n yslike salaris betaal.
Die ANC-leier in die metroraad, Tony Ehrenreich het ook geskryf aan die SA Vereniging vir Plaaslike Regering, die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake Richard Baloyi en die Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering Anton Bredell oor die aanstelling van Gerhard Ras.
Verlede week is Ras aanbeveel vir die pos van waarnemende direkteur van prestasie en evaluering in die burgemeester se kantoor.
Ras, tans Kaapstad se waarnemende uitvoerende direkteur van maatskaplike ontwikkeling, het voorheen gewerk as waarnemende munisipale bestuurder in George en by Matzikamma-munisipaliteit.
Ehrenreich beweer die paneel wat hom aanbeveel het, was nie onbevange nie.
Ehrenreich het gesê die DA het sy meerderheid misbruik om die aanstelling goed te keur en vrae oor Ras se bevoegdheid beperk.
In sy brief aan Bredell, het Ehrenreich gesê die verhouding tussen De Lille en Ras is “onvanpas” en dat sommige van Ras se familielede aangestel is op die raad sedert De Lille burgemeester geword het in Junie 2011.
“Daar is ook kommer uitgespreek oor Ras se skeidingspaket van R2 miljoen, omdat dit ongemagtig was.”
Die R2-miljoen was sy skeidingspakket van die Matzikamma-munisipaliteit in 2005. Dit is later bevestig dat dit ongemagtig was, want daar was nie daarvoor begroot nie
De Lille het gesê die regte Vraeproses is gevolg in alle aanstellings en daar was geen stof vir Ehrenreich se “wilde bewerings” nie.
