Swart verdagte aangekeer vir New Orleans-skietery

Die polisie het ‘n 19-jarige swartman as ‘n verdagte geïdentifiseer in die skietery tydens ‘n Moedersdagparade in New Orleans, in die VSA.

Die polisie sê verskeie mense hom as die gewapende man geïdentifiseer wat op kringtelevisie-beeldmateriaal gesien kan word.

Altesaam 19 mense is gewond in die skietery Sondag.

Supt. Ronal Serpas het laat Maandag gesê beamptes is op soek na Akein Scott van New Orleans. Hy het bygevoeg dat dit nog te vroeg is om te sê of hy die enigste skieter was.

“Ons wil die gemeenskap en Akein Scott herinner dat die tyd vir hom gekom het om homself oor te gee,” het Serpas tydens ‘n mediakonferensie buite die polisie se hoofkwartier gesê.

‘n Foto van Scott het aan ‘n podium voor die polisiehoof gehang.

“Ons weet meer van jou as wat jy dink ons weet,” het hy gesê.

Die polisie het vroeër aangekondig dat ‘n beloning van $10 000 uitgereik sal word vir inligting oor die skieter. Hulle het ‘n dowwe foto wat van kringtelevisie-beeldmateriaal bekom is, uitgereik en dit het tot verskeie wenke deur die gemeenskap gelei.

“Die mense het vandag gekies om aan die jong, onskuldige kinders wat geskiet is se kant te wees en nie aan die kant van die lafaard wat geskiet het nie,” het Serpas gesê.

Menseregteorganisasie veroordeel Siriese rebelle vir kannibalisme

Human Rights Watch sê die man in ‘n video wat ‘n Siriese soldaat se hart uitsny en eet, is ‘n lid van ‘n rebellegroep in die sentrale Homs-provinsie.

“Dit is nie genoeg vir Sirië se opposisie om sulke gedrag te veroordeel of dit op geweld deur die regering te blameer nie,” het Nadim Houry, adjunk-direkteur van Human Rights Watch in die Midde-Ooste, gesê.

“Die opposisiemagte moet streng optree om sulke gedrag te beëindig.”

Die man, wat geïdentifiseer is as Abu Sakkar, glo ‘n bevelvoerder van die Omar al-Farouq al-Mustakila-rebellegroep, staan in die video by ‘n soldaat in uniform se lyk.

“Ons sweer ons sal julle harte en lewers eet, julle soldate van Bashar die hond,” sê hy dan, terwyl hy die man se hart uitsny.

“Ons is die helde van Baba Amr,” voeg hy dan by. Dit is ‘n verwysing na ‘n rebelle-vesting in Homs wat deur pres. Bashar al-Assad se magte verwoes is.

Die man staan gevolglik op, lig sy mes in sy een hand en die hart in die ander en sit ‘n deel van die orgaan in sy mond voordat die video skielik eindig.

“Die Siriese Koalisie wil weer beklemtoon dat hy so ‘n daad veroordeel en wil beklemtoon dat dit ‘n misdaad is, ongeag van die oortreder,” het die groep gesê.

“Die skuldige sal uiteindelik verhoor word in ‘n hof vol eerlike en regverdige regslui.”

Britse pedofiel kry lewenslank

‘n Britse man is Dinsdag tot lewenslange tronkstraf gevonnis nadat hy ‘n 12-jarige meisie seksueel aangerand en vermoor het. Hy het haar lyk daarna in die solder van die huis wat hy met haar ouma gedeel het weggesteek.

Stuart Hazell (37) is in Londen se Old Bailey-hof tot ‘n minimum van 38 jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op Tia Sharp in Augustus verlede jaar.

Hazell, die gewese kêrel van Sharp se ouma, het Maandag op die vyfde dag van sy verhoor erken dat hy die skoolmeisie vermoor het. Hy het voorheen gesê sy is dood nadat sy by die trappe afgeval het.

Tia se familie moes dae lank die afskuwelike bewyse in die hof trotseer, insluitend ‘n naak foto van die skoolmeisie wat glo geneem is nadat sy dood is.

“Sy was ‘n vrolike meisie wat vol lewe was, maar jy het dit van haar geneem,” het regter Andrew Nicol aan Hazell gesê.

“Alles wat vir haar voorgelê het – ‘n loopbaan, liefde en haar eie familie – sal nou nooit ‘n werklikheid word nie. En die verlies is verskriklik vir haar ma, pa en al haar familie en vriende.”

Sharp het waarskynlik weens versmoring gesterf, het die regter gesê, maar haar oorskot het reeds ontbind teen die tyd wat dit gevind is.

Londen se Metropolitaanse Polisie is gedwing om verskoning te vra ná twee onsuksesvolle soektogte van Hazell se huis in Croydon, ‘n woonbuurt in die suide van Londen.

Sy is uiteindelik agt dae ná die moord gevind. Scotland Yard het 80 beamptes beveel om kringtelevisie-beeldmateriaal na te gaan om enige teken van Sharp te vind.

Die hof het gehoor dat Hazell, ‘n vensterskoonmaker en veroordeelde dwelmhandelaar, ‘n seksuele aantrekking tot Sharp ontwikkel het in die vyf jaar wat hy saam met haar ouma gewoon het.

Hy het voorheen glo ook ‘n verhouding met Sharp se ma gehad.

Hazell het Sharp vermoor terwyl haar ouma ‘n aandskof gewerk het.

Haar bloed was op ‘n seksuele speelding in die huis en op Hazell se gordel gevind. Sy semen was ook op haar lakens, het die hof gehoor. Hy het haar lyk glo in ‘n laken en plastiek toegedraai, waarna hy dit in die solder versteek het.

Nadat haar lyk gevind is, het die polisie Hazell se foon deursoek en hulle het gevind dat hy ‘n belangstelling in kinderpornografie gehad het. Hy het Sharp ook in die geheim afgeneem waar sy sonskerm op haar bene gesmeer het en terwyl sy geslaap het.

Bruin woonbuurt beleef dwelmkrisis

Die dwelmprobleem in Eldoradopark, ‘n bruin woonbuurt suid van Johannesburg, het “abnormaliteit” bereik, het pres. Jacob Zuma Dinsdag gesê.

“Ek het die brief gelees en ek was geskok. Die graad van die probleem en die beskrywing is ongehoord… hierdie is ‘n krisis, ‘n abnormaliteit,” het Zuma aan inwoners gesê tydens ‘n besoek aan die gebied.

Bekommerde ouers het in April aan Zuma geskryf en gevra dat hy moet help. Verskeie kabinetsministers het hom vergesel tydens sy besoek.

Zuma het aan inwoners gesê dat hy persoonlik beheer sal neem oor die geveg teen dwelms in die gebied.

“Ek gaan ‘n punt daarvan maak om hierdie program self te dryf… die regering moet vinniger beweeg om dit te hanteer.”

Wetgewing rondom wetstoepassing kan moontlik aangepas word sodat kriminele nie agter tegniese aspekte van die wet kan wegkruip nie, het hy gesê.

“Ons kan nie toelaat dat hierdie dwelmbase beheer oor ons gemeenskappe neem en agter tegniese aspekte van die wet wegkruip nie.”

Twee mans is intussen in hegtenis geneem nadat die polisie Dinsdagaand toegeslaan het op ‘n dwelmlaboratorium in Boksburg aan die Oos-Rand, het die Valke gesê.

Kapt. Paul Ramaloko, woordvoerder van die Valke, het gesê beamptes het beslag gelê op toerusting waarmee dwelms vervaardig word en 150 000 Mandrax-tablette met ‘n geraamde straatwaarde van R10,5 miljoen.

Een van die mans in die laboratorium het gevlug.

Die twee mans wat in hegtenis geneem is sal Donderdag in die Boksburg-landdroshof verskyn.

Aanranding op fietsryer ondersoek

Aanklagte van aanranding en roekelose en nalatige bestuur wat deur die Pretoriase fietsryer Hein van der Merwe aanhangig gemaak is, word ondersoek, het die polisie Dinsdagaand gesê.

Die fietsryer het die aanklagte aanhangig gemaak teen ‘n onbekende buitelandse diplomaat se motorbestuurder ná ‘n struweling op 8 Mei.

Brig. Phuti Setati het Dinsdag gesê die diplomaat se motorbestuurder het aanklagte van crimen injuria en intimidasie by die Brooklyn-polisiekantoor in Pretoria aanhangig gemaak.

Setati het gesê die polisie ondersoek al die aanklagte.

‘n Video van die aanranding is op YouTube gelaai.

Van der Merwe het aan die eNCA-nuuskanaal gesê die diplomaat se voertuig het ‘n stopteken op die hoek van Brooks- en Roperstraat verontagsaam en voor hom ingesny.

“In my poging om die bestuurder se aandag te kry deur langs sy venster te skree, het ek herhaaldelik geskree en in ‘n laaste poging het ek twee keer op sy kantspieël geslaan. Die voertuig het probeer om my raak te ry deur in my rigting te swenk.”

‘n Struweling het ontstaan nadat die bestuurder die diplomaat se swart Mercedes Benz langs die pad stilgehou het. In die video kan gesien word hoe die diplomaat se motorbestuurder en lyfwag die fietsryer rondpluk en op die grond vasdruk.

Setati het gesê bewerings dat polisiebeamptes wat op die toneel opgedaag het, nie vir Van der Merwe gehelp het nie, word ook ondersoek.

Hy het gesê diplomate in Suid-Afrika word beskerm deur privaat sekuriteitswagte, nie deur polisiebeamptes nie.

Setati het gesê verklarings is afgeneem en die dossiere is na die direkteur van openbare vervolging gestuur vir verdere instruksies.

Bobby: Regte slang, verkeerde plaas

Die Afrikaanse sanger Bobby van Jaarsveld het groot reaksie ontlok na hy ‘n foto van ‘n reuse-luislang langs ‘n dooie vlakvark op sy Facebook-blad gepubliseer het.

“My vrou se ouers het dit op hulle plaas buite Brits op Sandrif gekry! Hy het dood geskok teen die hek… toe hulle hom oop sny toe kry hulle die vark in hom!” het Van Jaarsveld by die foto geskryf.

Meer as 2 500 mense het die foto al op Facebook gedeel, en honderde mense het kommentaar op die foto gelewer.

Party mense het selfs die foto se egtheid in twyfel getrek.

Die sanger het Maandag op die herrie oor sy inskrywing reageer.

“Hoekom sal ek nou my tyd wil gaan mors om n foto te edit en te jok daaroor? Dit was ‘n 4,1m luislang wat dood geskok het teen die heining en toe hulle hom oopsny was daar ‘n groot vlakvark in sy lyf. So dis die storie. Glo dit of nie. Dit bly erg! Lekker dag!”

Hy het erken dat die slang op sy skoonouers se buurplaas gevind is.

Te veel Afrikaners in Sharks-span, kla kaptein

Die kaptein van die Sharks, Keegan Daniel, hou nie van die feit dat daar so baie Afrikaners in sy span is nie.

Sport24 het Dinsdag berig dat Daniel glo gekla het dat daar te veel Afrikaners in die Sharks-span is. Volgens bronne voel Daniel glo “geïsoleerd”.

Die Afrikaners in die span is natuurlik ontstoke oor sy etniese bekrompenheid en dit het tot verdere verdeeldheid in die span gelei.

Die Sharks het die laaste vyf agtereenvolgende wedstryde verloor. Die span sukkel tans met die elfde plek op die Superrugby-punteleer.

Net ses spelers in die groep van 22 wat teen die Reds in Brisbane verloor het, is nie Afrikaans nie. Hulle is Daniel, Lwazi Mvovo, Patrick Lambie, Kyle Cooper, Odwa Ndungane en Monde Hadebe.

Operasie Skoonmaak gaan ook eersdaags maai onder die Sharks se bestuur. Brian van Zyl, uitvoerende hoof van die Sharks, was glo die eerste slagoffer. Van Zyl word op 1 Julie vervang deur die voormalige Springbokkaptein, John Smit.

Die volgende wat gaan waai is blykbaar die afrigter, John Plumtree, en die kommersiële bestuurder, Rudolf Straeuli.

Afrikaners voer ‘teleurstellende’ gesprek met Menseregtekommissie oor selfbeskikking

Die Afrikanervolksraad onder voorsitterskap van mnr. Andries Breytenbach het eergister samesprekings met die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie oor selfbeskikking gevoer. Die Volksraad is in 2011 verkies, met ongeveer 22 000 mense wat aan die stemming deelgeneem het. PRAAG het die volgende verslag oor die vergadering ontvang.

Die Volksraad het gister ‘n gesprek gevoer met die SA Menseregtekommissie na aanleiding van die klag wat die Volksraad op 3 Desember by die Kommissie teen die SA Regering gelê het weens laasgenoemde se versuim om uitvoering te gee aan sy konstitusionele en volkeregtelike verpligtinge met betrekking tot selfbeskikking van volkere, en spesifiek die Boere-Afrikanervolk.

Die gesprek was teleurstellend. Die Hoof Bedryfsbeampte (Chief Operations Officer) met wie die gesprek aangevra is, het nie opgedaag nie en ook geen verskoning is vir haar gemaak nie (nie dat haar teenwoordigheid enige verskil sou gemaak het nie). Van haar mindere beamptes en die deeltydse kommissaris wat die klag beoordeel, dr. Danny Titus*, het die Kommissie verteenwoordig. Die Voorsitster was me. Chantal Kisoon, die Provinsiale Bestuurder vir Gauteng.

Ter aanvang het die Voorsitter van die Volksraad die vergadering meegedeel dat dit óns mense se gebruik is om vergaderings met gebed te open, en het hy ons Ondervoorsitter, Abel Malan gevra om die gebed te doen. Die Kommissielede het dit oënskynlik vreemd gevind, dog die nodige respek getoon, terwyl die Kommissaris sigbaar geïrriteer voorgekom het.

Daarna het die Voorsitter van die Volksraad die redes verstrek vir die versoek tot gesprek en daartoe oorgegaan om ‘n kort beskrywing te gee oor die ontstaan en doel van die Volksraad, pogings om met die Regering te skakel, die redes vir die klag en die uitkoms wat die Volksraad verlang.

Vervolgens het hy aan die hand van die kommunikasie wat met die Kommissie gevoer is sedert die klag aanhangig gemaak is, aangetoon hoe navrae met onwaarhede oor die stand van die ondersoek beantwoord is. Hy wou voorts weet hoekom dit die Kommissie 5 maande neem om te bepaal of hulle jurisdiksie het om die klag te hanteer, terwyl die betrokke verdrae deur die VN as menseregteverdrae geklassifiseer is en die S.A. Regering by ondertekening daarvan die Internasionale Menseregtekomitee aanvaar het as beslegter van klagtes oor die uitvoering daarvan.

Kisoon het ontken dat daar voete gesleep word met die klag, en haar Kommissie se proses om klagtes te hanteer, verduidelik. Die ongewone aard van die klag en die implikasies wat dit vir die land kan inhou, dra glo by tot die tydsduur wat vereis word om ‘n besluit oor hul jurisdiksie te neem. Die wanvoorstellings oor die vordering is eenvoudig afgemaak en weggepraat.

Daarna het die Kommissaris wat die ondersoek uitvoer, Danny Titus, die woord geneem. Ofskoon hy toegegee het dat volke se reg op selfbeskikking in die Volkereg erken word, en dat die regime gebind is tot onderhouding van die internasionale ooreenkomste wat hy onderteken het, het Titus se vooroordeel en vyandigheid uit die staanspoor geblyk toe hy, soos ons verwag het, die hele aangeleentheid oor die boeg van rassisme en ‘n terugkeer na “apartheid” probeer gooi het — ‘n tema wat hy herhaaldelik gedurende die gesprek na vore gehaal het. Die Voorsitter van die Volksraad het daarop aan hom ‘n omvattende navorsingstuk oor die erkenning van volke se reg op selfbeskikking in die Volkereg, oorhandig, wat deur ‘n medewerkende prokureur nagevors en opgestel is.

Voorts het hy die Volksraad se aanspraak op verteenwoordiging betwis weens die feit dat daar nie méér geregistreerde kiesers op die VVK se kieserslys geregistreer is nie. Hy wou weet hoeveel Swartes en Kleurlinge aan die verkiesing deelgeneem het, waarop die Volksraad hom daarop gewys het dat dit ‘n volksverkiesing was vir lede van óns volk wat die verklaring op die registrasievorm kon en wou onderskryf. Hy het trouens beweer dat die aantal vryheidsgesinde Afrikaners daal en ‘n stelling wat in The Economist gemaak word, as bron vir die bewering aangehaal. Die Voorsitter van die Volksraad het voorgestel dat as ‘n billike bepaling van die aantal volksgenote wat vryheid begeer, verlang word, die Kommissie by die Regering moet aanbeveel dat ‘n landwye meningsopname in die vorm van ‘n referendum, wat uit die Staatskas (d.w.s met ons belasting) befonds word, onder Afrikaners gehou moet word.

Die ander vraag (wat ook te wagte was), was wáár die Volksraad ‘n eie gebied vir selfbeskikking in die oog het. Die Kommissie is daarop gewys dat die Volksraad in sy skrywes en vryheidseis vermy het om grense te trek, aangesien dit nou om die erkenning van die beginsel gaan. Daarna moet oorgegaan word tot die bepaling van die praktiese aspekte. Sou die selfbeskikkingsbeginsel aanvaar word, kan aan bestaande volksnedersettings soos Orania en Kleinfontein reeds ‘n hoë mate van selfbeskikking toegeken word, en voorsiening gemaak word vir die geografiese uitbreiding daarvan, terwyl volwaardige eie departemente vir terreine soos byvoorbeeld onderwys daargestel kan word. Sodoende kan selfbeskikking ‘n evolusionêre proses wees wat kan uitbrei totdat die eindideaal, te wete geografiese onafhanklikheid, bereik word.

Titus het beweer dat die beginsel van selfbeskikking reeds in artikel 235 van die Grondwet erken word. Die Volksraad se antwoord was dat dit sonder praktiese uitvoering ‘n dooie letter is. Ons dring aan op praktiese uitvoering daarvan.

Die vraag is gevra waarom ‘n regime wat die Afrikaner sigbaar haat, ons volk steeds onder sy gesag wil hou en nie bereid is om uitvoering te gee aan ons aanspraak op selfbeskikking nie. Ons afleiding is dat hulle ons slegs beskou as ‘n belastingbron wat getap kan word.

Vele ander vrae is gevra en argumente gevoer, waaruit die Kommissaris se kwade gesindheid, onbegrip en selfs moedswilligheid duidelik geblyk het. Daaraan geoordeel, is die Kommissie se bevinding en finale antwoord voorspelbaar. Hy erken enersyds dat die bevolking van Suid-Afrika uit verskillende volke (peoples) bestaan, nogtans gaan dit vir hulle om slegs één ding, naamlik die gelykskakeling en eendersheid van alle mense in Suid-Afrika kragtens die Grondwet. Voor die oppergesag van die mensgemaakte Grondwet — waaraan ons geen deel gehad het nie — moet die harde feite van ons eie volkskap, geskiedenis en identiteit wyk. Volgens Titus sal die Kommissie dieselfde standpunte voor die Internasionale Menseregtekomitee stel, sou die Volksraad hom tot dié liggaam wend.

Die gesprek en die benadering van die Kommissaris het opnuut die onbeskryflike yslikheid van De Klerk en sy meelopers se verraad teen ons volk onderstreep, waardeur ons in ‘n posisie geplaas is dat mense wat self geen volksidentiteit, volksgeskiedenis en volkstrewe het en daarom niks daarvan verstaan nie, oor die Boere-Afrikanervolk en ons nasionale aspirasies uitspraak kan lewer. Dit oortref die gekombineerde verraad van al die joiners in die Tweede Vryheidsoorlog omdat die gevolge daarvan vir ons volksbestaan soveel groter is.

Die Volksraad sal voortgaan om die opdrag wat hy met sy verkiesing gekry het, onverbiddelik uit te voer en roep volksgenote op om laer te trek ter beskerming van ons volkskap en om ons strydvaardig te maak teen die aanslae wat daarteen gerig word.

Andries Breytenbach

Voorsitter

14 Mei 2013

* Danny Titus is ook die Uitvoerende Direkteur: Kultuur van die ATKV! Behoede ons kultuur!

Eet ‘n gogga!

Die VN is besig om maniere te ondersoek honger in die wêreld te beëindig, maar hul nuutste idee behels nie ekonomie, politiek, of selfs kos nie: Die organisasie adviseer mense om meer insekte te eet.

Insekboerdery is “een van die talle maniere om voedsel en voersekuriteit aan te spreek,” het die agentskap gesê in ‘n 200-bladsy verslag wat vrygestel is op ‘n nuuskonferensie by die VN se hoofkwartier Rome. Die verslag sê insekte is “uiters doeltreffend” in die omskakeling van voer in eetbare vleis vir die mens. Dit het bygevoeg dat insekte “veral belangrik is as ‘n voedselaanvulling vir kinders wat ondervoed is.”

Bioloë stem saam dat sekere soorte kewers, miere, krieke en sprinkane so baie proteïen per gram as maer rooi vleis of gebraaide vis bied. Krieke moet 12 keer minder voer kry as beeste om dieselfde hoeveelheid proteïen te produseer.

Insekte kan ook ryk aan koper, yster, magnesium, mangaan, fosfor, selenium en sink wees. Hulle is ook ‘n bron van vesel.

Die verslag beweer dat die eet van insekte ook beter vir die omgewing is – volgens die agentskap, is die meeste insekte geneig om minder omgewingskadelike kweekhuisgasse as ander diere te produseer.

Die verslag het ook die idee van insekboerdery ondersoek:

“Insekte is oral en hulle kan vinnig voortplant.” Tans word die meeste eetbare insekte versamel in die bosse, en die klein aantal insekboerderye dien as nismarkte soos vir die visaasbedryf.

Die VN stel ook voor dat die restaurantbedryf help.

“Die verhoging van die status van insekte” op hul spyskaarte, sal help.

Hoewel die idee van die eet van insekte vreemd mag lyk, word hulle beskou as lekkernye in baie lande. Byvoorbeeld, mopaniwurms in Suider-Afrika word gesien as luukshede en is baie duur om te koop.

Rassespanning tussen swart en Indiër weens Guptas

Die Gupta-debakel het rassespanning tussen swartes en Indiërs verhoog.

‘n Klag van crimen injuria deur Newcastle se burgemeester Afzul Rehman, omdat hy ‘n “Gupta” genoem is, is nou opgevolg deur ‘n hete konfrontasie in Durban met die ANC oor sy “noue bande met Indiërs”.

Phumlani Mfeka, die woordvoerder van die Mazibuye Africa Forum – met meer as 1500 lede – het ‘n reeks rassebeledigings op provinsiale ANC-sekretaris Sihle Zikalala se  Facebookbladsy gelaat, en hom gewaarsku om nie “te probeer om betrokke te raak met [‘n ] samoesa in jou mond nie”.

Mfeka beweer dat die Guptas onder die talle Indiese sakemanne is, soos Schabir Shaik en Vivian Reddy, wat rykdom geniet ver bokant dié van die swart meerderheid, te danke aan hul bande met President Jacob Zuma.

“Die verhouding tussen sommige Indiese sake-individue en ons president is een wat veel te wense oorlaat.

“Hierdie sake-individue mishandel en misbruik die president se naam om hul eie selfsugtige belange te bevorder.

“[Dit] het ‘n ernstige en slegte beeld van ons president en die land as ‘n geheel geskep, in ag genome dat die ANC ingestem word deur swartes.”

ANC-woordvoerder Keith Khoza het gesê dit is verkeerd om te bepaal wie Zuma moet bevriend.

Die SA Minority Rights Equality Movement het gister gesê die Guptas is ‘n familie, nie ‘n ras nie.

“Ons sal nie om verskoning vra vir die feit dat ons Indiërs is nie,” het die beweging gesê.

Die SA Instituut vir Rasseverhoudinge se navorsingsbestuurder Lucy Holborn het gesê kompetisie vir hulpbronne het al dikwels gelei tot rassespanning, insluitend die xenofobiese geweld van 2008.

“Dit is die rede waarom die instituut teen enige beleid is wat nadeel of meriete suiwer gebaseer op ras meet.”